AS 'N ENGEL VERVEER (6)

Ds AE van den Berg

Lees reeks by As 'n engel verveer

SAUL VERBREEK SY BELOFTE

"Ek kom net kyk hoe dit met Israel se nuwe leëroffisier gaan" skerts Jonatan wanneer hy inloer.

"Jy is glad nie snaaks nie!" sê Dawid vies.

"Sjoe, jy kan nie hier bly nie, die plek is so onpersoonlik soos 'n grafkelder!" sê Jonatan.

"Het ek dalk ‘n keuse?” antwoord Dawid. “Jou pa het my so pas as siterspeler afgedank en gedwing om 'n pos te aanvaar waarvoor ek nie opgewasse is nie, nog minder nog lus het!"

"As ek jy is, sal ek nie hier bly nie.  Dit sal selfs beter onder ‘n boom wees” sê Jonatan en kyk na die groot kraak in die muur.

"Makliker gesê as gedaan" sê Dawid neerslagtig.

"Ek gaan beslis hieroor kla.  My pa kan dit nie aan jou doen nie!" sê Jonatan veronwaardig.

"Los dit liewer, netnou maak jy hom net kwaad, dan sit ek nie net sonder blyplek nie, maar ook nog sonder werk” sê Dawid suur.

"Dan moet jy maar sê waarmee ek kan help" sê Jonatan simpatiek.

"Ek sal graag wil weet waarom jou pa my uit die paleis wou hê?  Het ek dalk iets verkeerds gedoen?  Het ek hom miskien terleurgestel met my siterspel?" soek Dawid antwoord.

"Ek dink my pa is bang vir jou" sê Jonatan prontuit. .

"Waarom sou hy vir my bang wees?  Ek is mos nie 'n bedreiging vir hom nie?" vra Dawid verbaas.

"Jy is inderdaad vir hom ‘n bedreiging!  Hy is bang jy bekom die koningskap. Daarom stuur hy jou oorlog toe.  Hy hoop dat jy sal sneuwel", kom dit reguit van Jonatan.

"Hoe op aarde kan ek koning word?  Ek is mos nie sy seun nie! Daardie voorreg kom jou toe”, stribbel Dawid teen.

"Nee, ek sal nie koning word nie.  Ek weet dit al lankal.  Noem dit maar ‘n kropgevoel.  Jy, my vriend, sal Israel se volgende koning wees.  God berei jou alreeds daartoe voor", antwoord Jonatan.

Dawid wil kapsie maak, maar Jonatan maak hom met 'n handgebaar stil.

"Dit sal vir my 'n voorreg wees om onder jou te dien.  Geen koningskap sal ons vriendskap skei nie", sê Jonatan en kyk na die sterk jongman voor hom.  Hy is gelukkig om ‘n vriend soos Dawid te hê.

0o0

Dawid se aanstelling het hom vir meer as twee jaar op die landsgrense besig gehou waar hy as militaris uitgeblink het.  Selfs sy vyande het agting vir hom gehad.   Sy oorwinnings het hom so gewild gemaak dat Saul spyt gekry het dat hy hom nie as siterspeler behou het nie.  Alles wat hy gedoen het, was suksesvol.

Ná sy terugkeer na Gibea, het Saul hom na die paleis ontbied en na sy wedervaringe uitgevra.  Dawid het kort en saaklik verslag gedoen.

"Die eintlike rede waarom ek jou laat kom het, is oor 'n belofte wat ek aan jou gemaak het" sê Saul en neem 'n lang teug wyn.

"Behalwe vir die som geld wat jy vir die oorwinning oor die Filistynse reus ontvang het, het ek ook Merab aan jou beloof “ sê Saul.

“Ek onthou, my heer” antwoord Dawid.

"Omdat jy lank weg was, het ek Merab aan 'n ander man gegee.  Ek kan die huwelik nie ongedaan maak nie.  Sy is buitendien ook swanger met haar eersteling.  Jy sal dit maar so moet aanvaar.  Desnieteenstaande het ek 'n ander voorstel wat ek later aan jou sal voorlê.  Ek glo dat jy dit aanvaarbaar sal vind” sê Saul en verskoon homself.

Saul was nooit van plan om Merab aan Dawid te gee nie, al moes hy ook sy belofte verbreek.  Merab was sy oogappel.  Toe Adriël, die seun van 'n gebiedsvoog, hom later om Merab se hand vra, het hy dadelik ingestem en die huwelik laat voltrek.

Hieroor was Jonatan baie terleurgesteld.  'n Koning verbreek net nie sy beloftes nie.  Jonatan se beswaar teen sy suster se huwelik met Adriël het egter op dowe ore geval.  Saul het sy eie kop gevolg.

Dawid is twee dae later weer na die paleis ontbied.  Saul het geweet dat Migal, sy tweede oudste dogter, baie van Dawid gehou het.  Gevolglik het hy met haar daaroor gepraat, waarna sy ingewillig het om Dawid se vrou te word.

"Ek voel sleg dat ek my belofte aan jou verbreek het.  Dis nie my manier van dinge doen nie" maak Saul flou verskoning.

"Ek aanvaar dit so, my heer, u is immers die koning" antwoord Dawid gedienstig.

"Ek het 'n ander voorstel.  As Migal jou geval, kan jy haar as vrou neem" bied Saul sy tweede dogter aan.

"Dit sal vir my ‘n eer wees, my heer!" antwoord Dawid opgewonde.

"Dan is dit afgespreek.  Ek sal sorg dat daar dadelik met die huweliksreëlings begin word!" sê Saul verlig dat dawid ingestem het.

"Ek is maar 'n arm man in vergelyking met Adriël; wat verlang my heer as bruidsprys?" vra Dawid.

"Die voorhuide van honderd Filistyne" sê Saul uitdagend.

"Ek sal dit vir u bring" beloof Dawid sonder huiwering.

Dawid het vroeg die volgende oggend met sy leërafdeling na die suidwestelike grens vertrek.  Die vorige dag het die verspieders 'n opbouing van vyandelike magte daar gewaar.  In 'n kort en kragtige skermutseling is meer as 'n duisend Filistyne verslaan, sonder ongevalle aan Israel se kant.

"Wat se goed is dit dié?" vra Saul toe Jaben 'n kleihouer aan hom oorhandig.

"Ek is nie seker nie, my heer" maak Jaben of hy dom is.

"Dit lyk amper soos gedroogde vye!  Waar kom dit vandaan?" vra Saul as hy die deksel oplig.

"Dawid het dit met 'n boodskapper vir u gestuur.  Dis glo die bruidskat wat u verlang.  Hy het laat weet dat daar 200 van die items is" antwoord Jaben met 'n glimlag om die mondhoeke.

Saul staar na die bruidskat voor hom.  Hy kan nie glo wat hy sien nie.  Hy het vir ‘n honderd Filisynse voorhuide gevra en Dawid stuur vir hom 200!  Hy het so gehoop dat Dawid in die geveg sou sneuwel en dit nie vir hom nodig sou wees om Migal aan hom af te staan nie.

"Vat die verdomde goed onmiddellik hier weg!" skreeu Saul en snork van verontwaardiging.

Nou haat hy Dawid meer as ooit!  Hy sal sy belofte egter moet nakom.  Hy kan dit nie vir ‘n tweede keer verbreek nie.

Vervolg...