Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; 'n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word." Spreuke 31:30
PETRUS: Hoofstuk 9
Slaags met die vyand
Ons groepie apostels het na die uitstorting van die Heilige Gees ondervind dat ou satan niks daarvan hou dat ons vir mense van die reddende genade en liefde van die Here Jesus vertel nie. Hy het voortdurend probeer om almal wat hom gehoorsaam, teen ons in die harnas te jaag, om ons te verhinder en te belet om enigiets in die Naam van Jesus te doen.
Wat ek het, gee ek vir jou
Ek en Johannes was een middag op pad na die tempel toe om te gaan bid. Net toe ons die gebou deur die Mooipoort binnegaan, steek ‘n ou bedelaar sy hand na ons uit on iets te vra. Hy was verlam en is elke dag daarheen gebring om daar te sit en bedel. Ek sê toe vir hom ons het nie geld nie, maar wat ek het, gee ek vir hom en beveel hom om in die Naam van Jesus Christus op te staan en te loop. Ek het hom aan die hand gegryp en opgehelp en toe hy staan, ontdek hy dat sy bene skielik sterk geword het en dat hy kon loop. Hy is al juigende en springende saam met ons die tempel in tot by die Pilaargang van Salomo, waar daar ‘n groot samedromming van mense was. Hulle het ons aangegaap en skoon verstom bly staar na ons juigende metgesel wat nog steeds al singende die Here gedank het dat hy weer kon loop.
Ek het vir Johannes gesê dis ‘n baie goeie geleentheid om die Woord van die Here aan hierdie klomp mense te verkondig. Toe het ek uitgeroep: “Israeliete, waarom is julle so verbaas om hierdie man wat so verlam was weer te sien loop? Hy doen dit deur die krag wat Jesus Christus aan hom gee om sy bene weer sterk te maak. Julle het mos gevra dat Jesus gekruisig moet word en ‘n misdadiger losgelaat moet word. So het julle die Leidsman na die lewe vermoor. Maar ek weet julle het dit uit onkunde gedoen. Maar as julle jul bekeer en tot inkeer kom, sal God julle sondes vergewe en aan julle verlossing skenk.”
Voordat ek die pad van saligheid deur geloof in ons Here Jesus verder vir hulle kon verduidelik, het daar ‘n klompie tempelwagte op my en Johannes afgestorm en ons gevange geneem. By hulle was ‘n paar priesters en ‘n aantal Sadduseërs wat kwaad was dat ons die mense vertel dat Jesus se opstanding, ons opstanding uit die dood moontlik gemaak het. Sien, die Sadduseërs glo mos in geen opstanding hoegenaamd nie.
Hulle wou ons direk voor die Sanhedrin laat verskyn, maar omdat dit al ‘n bietjie laat was, stop hulle ons toe sommer in die tronk.
Hou op om oor Jesus te praat !
Die volgende môre het hulle ons sommer vroeg-vroeg na die vergadersaal van die Sanhedrin gebring. Ek het vir Johannes gesê dit lyk of ons twee baie belangrik is, want al die raadslede, familiehoofde en skrifgeleerdes was daar, ook die hoëpriester Annas en Kajafas, Johannes, Aleksander en al die lede van die hoëpriesterlike familie.
Hulle wou weet wie se krag en wie se naam het ons gebruik om die lam man gesond te maak. Ek sê toe vir hulle hy staan hier gesond voor hulle in die Naam van Jesus van Nasaret, wat deur hulle gekruisig is, maar deur God uit die dood opgewek is. Ek neem toe sommer my kans waar en sê vir hulle dat ons en hulle net deur Jesus se Naam van ons sondes verlos kan word.
Jy moes gesien het hoe verander hulle onvriendelike gesigte toe in boosaardigheid. Johannes sê ‘n paar van hulle het vir hom skoon vreesbevange gelyk. Het hulle gewetens hulle aangekla? Hulle kon nie betwis dat daar ‘n wonderwerk plaasgevind het nie, want die gewese ou lamme het intussen weer die saal ingehuppel gekom en langs ons kom staan. Almal het hom in sy vroeëre toestand geken en die volk daar buite was besig om die Here te loof oor die wonder wat Hy deur ons gedoen het.
Die Raad was radeloos. Hulle wou ons nie straf nie uit vrees vir die volk en besluit toe om ons die dood voor oë te stel indien ons dit weer waag om vir die volk van Jesus te vertel. Ek was nie meer Simon, met die lafhartige vrees vir mense en trawante van die satan wat my bedreig het nie. Cefas die rots sê toe vir hulle: “Dit is onmoontlik om oor Jesus stil te bly. Ons kan julle nie gehoorsaam nie. Daarom sal ons praat oor alles wat ons by Hom gesien en gehoor en geleer het, want ons moet aan God gehoorsaam wees.”
Na nog ‘n klomp dreigemente het hulle ons laat loop. Toe ons by ons medegelowiges kom, het ons die Here gedank en gebid dat ons almal altyd met vrymoedigheid en onbevrees sy Woord sal verkondig en dat daar verdere genesings en tekens en wonders in Jesus se Naam sal plaasvind. Die gebou waar ons was, het geskud en die Here het ons almal met sy Gees vervul. Ons het voortgegaan om elke dag kragdadiglik te verkondig en te getuig dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat ons deur sy Naam alleen vergiffenis vir ons sondes kan ontvang.
Moenie vir God lieg nie !
Toe die sielevyand sien hy kan nie ons monde snoer en ons belet om oor die Here Jesus in die openbaar te getuig nie, het hy ‘n baie geslepe plan gesmee in ‘n poging om die hart van die Here se gemeente aan te tas en te besoedel. Ons lidmate was so gelukkig om mekaar te leer ken en mekaar te help en vir die Here te getuig en by ons gesamentlike byeenkomste Hom te dien en met ons lofsange te prys. Ons het dinge saam gedoen, baie kere saam geëet en ons voedsel en van ons ander lewensmiddele gedeel met gelowiges wat nie veel gehad het nie.
Daar was lidmate wat selfs hulle grond verkoop het en die volle koopsom daarvan vir ons apostels gebring het, om vir die behoeftes van die gemeente te gebruik. Ons sewe diakens het dan hierdie geld hanteer om veral in die behoeftes van die weduwees te voorsien.
Op ‘n dag bring een van ons lidmate by ‘n byeenkoms ‘n sakkie met geld en sit dit op die tafel voor my neer. Hy sê hy het ‘n stuk grond wat aan hom behoort het, verkoop en bring net die volle opbrengs daarvan vir die kerk om te gebruik. Die Heilige Gees het vir my gesê dat hierdie man, Ananias, ‘n leuen vertel; hy het ‘n groot deel van die geld vir homself, vir eie gebruik, agtergehou. Ek het vir hom gesê die Here het nie verwag dat hy alles moet gee nie, maar waarom het hy vir God gelieg? Hy het net daar neergeval en gesterf. ‘n Rukkie later het sy vrou, Saffira, daar aangekom en vir my dieselfde storie vertel. Ook sy het gesterf.
Julle sal hulle nie kan keer nie
Die ou sielevyand was met groot woede vervul toe hy waarneem hoeveel mense tot geloof kom by ons prediking oor die nuwe lewe deur die genade en liefde wat Jesus, as God se Gesalfde, Redder en Middelaar aan elke berouvolle sondaar aanbied. Toe het hy hom maar weer tot geweld as wapen gewend en die Joodse Raad aangesê om ‘n klompie tempelwagte te gebruik om ‘n paar van ons apostels te arresteer. Ons was dié middag weer besig om in die Pilaargang van Salomo met die mense wat daar saamgedrom het, te praat. Baie van hulle was reeds gelowig en gedoop, maar ‘n groot klomp het uit nuuskierigheid saamgekom om te hoor wat ons te sê het en te kyk of daar nie weer wonderwerke gaan plaasvind nie.
Die tempelwagte het sommer daar op ons afgestorm, ons geboei en feitlik hardhandig weggesleep en ons in die tronk gaan stop. Om middernag het ek nog wakkergelê, toe ek die ligglans van ‘n engel by ons gewaar. Ek het geweet Jesus het weer redding gestuur en sommer gou die ander apostels wakker gemaak. Toe sê die engel vir ons: “Jesus het my gestuur om julle uit die tronk uit te lei. Hy het gesê julle moet reguit na die tempel toe teruggaan en aan die volk wat vroeg vanmôre weer daar bymekaar kom, die volle boodskap van die nuwe lewe gaan verkondig.”
Die lieflike hemelse gesant is voor ons uit deur die gange en deure wat almal oopstaan, tot buite, voordat hy ons verlaat het. En ons is almal reguit terug tempel toe!
Die volgende môre het die hoëpriester en al sy ondersteuners die volle Raad bymekaar geroep om ons te veroordeel en tot verantwoording te roep. Hulle het wagte na die tronk gestuur om ons te laat haal en natuurlik ontdek dat ons nie daar was nie. Die onthutste Raad was dronkgeslaan totdat iemand vir hulle kom vertel het dat ons almal besig was om in die tempel vir die volk te preek. Hulle het toe weer wagte na ons gestuur wat met ons kom mooipraat het en gevra het ons moet tog asseblief saam met hulle na die raadsaal gaan; die hoëpriester wil graag met ons praat. Toe kom ek agter hierdie wagte is bang dat as hulle ons weer, soos die vorige keer, met geweld hier wegsleep, sal die volk vir wie ons hier preek, ons verdedig en hulle onder die klippe steek.
Met ons aankoms by die saal, het alle vriendelikheid verdwyn. Die ou hoëpriester het byna buite homself van woede teen ons getier: “Het ek julle nie uitdruklik belet om die mense in hierdie Naam te leer nie? Die hele Jerusalem lê al vol van al julle stories! En dan bly julle sê ons het daardie Man vermoor! Toe jy, hier heelvoor, Galilese visser, ek hoor jy is die leier van hierdie spul. Wat het jy te sê voor ons julle straf?”
Ek sê toe vir hom: “’n Mens moet aan God gehoorsaam wees en nie aan mense nie. God het vir Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het. Hy is Leidsman en Verlosser. Net Hy kan Israel tot bekering bring en hulle sondes vergewe. Ons is getuies van sy opstanding en van die Heilige Gees wat Hy gegee het aan dié wat Hom gehoorsaam is.”
Dit het min geskeel of hulle het ons, na die verwoede uitbarsting wat gevolg het, na buite gesleep en êrens gaan stenig, maar toe het die geëerde Gamaliël, Fariseër en leermeester oor die wette van Moses, hulle tot orde geroep en gevra dat ons apostels ‘n bietjie uitgestuur moet word. In ons afwesigheid het hy die Raad gewaarsku om versigtig met ons te werk te gaan. As die dinge wat ons verkondig deur mense uitgedink is, sal dit tot niet gaan, maar as dit van God af kom, sal hulle ons nie kan keer nie. Is hulle nie dalk besig om teen God self te stry nie?
Dit het hulle in ‘n mate tot besinning gebring. Hulle het ons weer ingeroep en weer belet om in die Naam van Jesus te preek en ons laat slaan. Ag, ek het hulle jammer gekry, hierdie klomp moordenaars van Jesus, met hulle skuldige gewetens. Sou hulle werklik gedink het dat hulle Hom en die Heilige Gees uit ons kan uitslaan?
Tekens en wonders
Ons sou ons nie laat stuit nie. Die ander elf apostels het saam met my onverskrokke voortgegaan om die reddende evangelie van die Here Jesus te verkondig. Ons sewe diakens het ons hierin trou bygestaan., nie net in die fisiese versorging van die armes nie, maar ook in die verkondiging van die Woord. Stefanus was een van hulle. Die Here het aan hom baie genade en krag gegee. Hy het saam met ons groot wonders en tekens in die Naam van die Here verrig.
Ou Satan sien altyd baie gou wie hom in die Naam van die Here weerstaan en hom verhinder om sy planne uit te voer. Hy het vir Stefanus raakgesien en besluit dat hy vernietig moet word en sy beproefde metodes van haat en leuens teen hom ingespan.
Hier in Jerusalem was daar ‘n groep wat die Sinagoge van die Vrygemaakte Slawe genoem is. Hulle het met Stefanus oor die ewige dinge begin redeneer, saam met Jode van Silisië en Asië. Toe hulle sien hulle is nie opgewasse teen die kennis en wysheid en waarheid wat hy van die Heilige Gees ontvang nie, het hulle boewe omgekoop om te sê hy het teen Moses en God gelaster. Hulle het die volk en die familiehoofde en die skrifgeleerdes opgesweep. Hulle het op Stefanus afgestorm, hom gegryp en voor die Joodse Raad gebring.
Julle is doof vir die Woord van God
Na nog ‘n klomp vals beskuldigings dat hy sou gesê het dat Jesus van Nasaret die tempel sou afbreek en Moses se wette verander, het Stefanus daar voor hulle gestaan terwyl sy gesig met die glans van ‘n engel straal. Hy het vir hulle die hele geskiedenis van Israel vertel vanaf Abraham tot by Moses en Dawid verby, om aan te toon dat hulle halsstarrige voorvaders die Here gedurig weerstaan het en selfs sy profete wat Hy na hulle gestuur het, doodgemaak het. Hy het vir hulle gesê: “Julle is net so hardkoppig soos julle voorvaders. Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die Woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Julle het die Regverdige, wie se koms deur God se boodskappers aangekondig is, verraai en vermoor!”
Here Jesus, ontvang my gees
Die hele Joodse Raad wat hom gesit en aangluur het, het letterlik op hulle tande gekners van woede, toe hy hulle so beskuldig. Maar Stefanus was só gevul met die Heilige Gees dat hy hulle skaars raakgesien het. Hy het opgekyk en uitgeroep: “Ek sien die hemel geopen! Daar staan die Here Jesus in sy heerlikheid aan die regterhand van God!”
Toe het hulle skreeuend op hom afgestorm en hom buitekant die stad gaan stenig. Hy het gebid dat die Here hulle tog nie hierdie sonde moet toereken nie en toe hy sterf, kon hy nog uitroep: “Here Jesus, ontvang my gees!”
Waarom vervolg jy My ?
Nadat my volksleiers vir Stefanus vermoor het, omdat hulle nie kon verdra dat hy hulle valsheid so aan die kaak stel nie, het hulle begin om ons gelowiges te vervolg. By sy teregstelling was daar ‘n jongman teenwoordig wat nou wel nie klippe na hom gegooi het nie, maar baie tevrede gesit en kyk het hoe Sefanus sterf. Sy naam was Saulus. Hy was een van die jong Fariseërs wat onder professor Gamaliël studeer het. Hy het ons verskriklik gehaat, want hy het net soos al die ander van hulle, geglo dat ‘n mens alleen in die koninkryk van God kan ingaan as jy elke jota en tittel van Moses se wette wat hy so goed geken het, gehoorsaam en nakom. En nou kom ons en vertel vir die volk dat ‘n mens nooit die ewige lewe kan beërwe deur wette na te kom nie, maar deur in Jesus Christus te glo as jou Verlosser en Saligmaker, wat met sy kruisdood ons sondeskuld voor God betaal het.
Saulus was die voorperd in die vervolging van ons gelowiges. Dit het die goedkeuring van die Sanhedrin ten volle weggedra. Hy het met hulle wagte en ander trawante wat hom gehelp het, sommer in huise ingebars waar gelowiges gewoon het, hulle oorrompel en in die tronk gaan smyt. Baie van ons mense het begin vlug, eers na die stede in ander provinsies soos Samaria en Galilea, maar later tot selfs in die buiteland.
Saulus het vasgestel dat baie gelowiges hulle in Damaskus gevestig het en hy het van die hoëpriester toestemming en ondersteuning gekry om met ‘n klompie tempelwagte wat hom vergesel het, daarheen te gaan en hulle te gaan vang en na Jerusalem terug te bring en hulle in die tronk te sit. Maar Jesus het op pad daarheen aan hom verskyn en vir hom gevra waarom hy Hom vervolg. Saulus se lewe het daar en in Damaskus totaal omgekeer. Ons was eers bang vir hom en wou nie glo dat hy tot bekering gekom het nie, maar toe hy later na Jerusalem toe kom en aan my voorgestel is, het ek geweet dat die Here hom geroep het om as ‘n mede-apostel sy Woord te verkondig. Hy het Paulus geword. Die Heilige Gees het hom gestuur om in verre lande die Woord aan die heidene te bring.
Tot in die uithoeke
Die Heilige Gees het die aanvalle van satan en sy trawante gebruik om die evangelie vanaf Jerusalem verder uitwaarts deur middel van vlugtende gelowiges te versprei tot in die buiteland. Ons apostels was getrou aan Jesus se laaste opdrag wat Hy daar op die Olyfberg voor sy hemelvaart aan ons gegee het, toe Hy gesê het: “Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
My mede-apostels het ons een-een verlaat om Jesus se opdrag in verre lande te gaan volbring. Naderhand was nog net ek en Johannes en sy broer Jakobus in Jerusalem oor om vir die gemeente te sorg, maar ons is kragtig bygestaan deur Jakobus, die Here Jesus se broer.
Die vyand het nou uit ‘n ander oord op ons toegesak. Herodus Antipas se seun, Herodus Agrippa I, is deur die Romeine aangestel om oor Judea en Samaria te regeer. Die satan het vir hom gesê hy moet ons haat. Daarom het hy vir Jakobus, Johannes se broer, laat vang en onthoof. So het ons driemanskap in diens van Jesus geëindig.
Agrippa het sy tande geslyp om ons paar wat oorgebly het, ook te vermoor, maar kon nie voor sy dood, ‘n paar jaar later daarin slaag nie. Ons het vir Jakobus, Jesus se broer, aangestel as hoof van die gemeente hier in Jerusalem, omdat ek graag soos die ander apostels geleentheid wou vind om as visser van mense vir Jesus te gaan sendingwerk doen.