CE Latsky
Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky
Verwagtende Geloof
WAT sal julle dink van 'n kind wat sy ouers om hulp vra, en dan tog op sy eie voortgaan sonder om van daardie hulp gebruik te maak? Dom en onverstandig, natuurlik!
Maar op geestelike gebied gebeur dit elke dag. Die Here Jesus het gesê: "Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind ...." m.a.w., Hy het hulp belowe. En tog, baiemaal nadat ons die Here om hulp gevra het, gaan ons maar op ons ou gewone manier voort; ons vergeet dat as ons ons hemelse Vader om hulp gevra het, Hy ons nie in die steek sal laat nie.
Ons dink aan die onwrikbare geloof van 'n Skotse seuntjie in Edinburg baie jare gelede.
Hy het gereeld die bidure bygewoon en eendag sê hy vir sy onderwyser: "Meneer, ek wens my suster kon sover kom om die Bybel te lees. Sy lees dit nooit nie."
"Johnny, waarom wil jy hê sy moet dit lees?" was die vraag.
"Want ek is seker daarvan dat as sy dit een maal lees, sy tot bekering sal kom en gered word."
"Dink jy werklik so, Johnny?"
"Meneer. Sal u nie by ons volgende biduur die mense vra om vir my suster te bid dat sy die Bybel moet begin lees nie?"
"Goed, Johnny, ons sal dit sekerlik doen."
By die volgende biduur het die leraar aan die gehoor bekend gemaak dat 'n sekere seuntjie onder hulle baie begerig is dat hulle vir sy suster sou bid, dat sy die Bybel moet lees. Die aanwesiges was diep geraak oor hierdie versoek en wou net oorgaan tot die gebed toe hulle bemerk dat Johnny haastig die kamer verlaat!
Toe die leraar die volgende dag vir Johnny in die straat teëkom, berispe hy hom: "Jy was darem 'n bietjie onbeleef, my kind", êhy, "om die biduur te verlaat net nadat ek jou versoek bekend gemaak het. Waarom het jy so gehandel?"
Die kind kyk verwonderd op.
"Maar, meneer," protesteer hy, "ek het gevra dat hulle moes bid dat my suster haar Bybel moes begin lees en ek moes natuurlik gaan kyk hoe sy dit doen!"
Let op dat hy nie gesê het "òf sy dit doen" nie, maar "hoé sy dit doen." Dit het nooit eens in sy gedagte gekom dat daar enige twyfel daaromtrent kon wees nie!
Gods Woord leer ons dat Hy die gelowige gebed nie onbeantwoord sal laat nie.