KINDERVERHALE (9)

CE Latsky

Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky

Staaltjie Omtrent Napoleon

BAIE van julle het seker al in die geskiedenis geleer van Napoleon Bonaparte, die Korsikaanse korporaal wat later 'n wêreldveroweraar en keiser van Frankryk geword het. Hy is eindelik in 1815 verslaan en verban na die eiland van St. Helena, waar hy na 'n paar jaar aan maagkanker dood is. Soos dit gewoonlik gaan met so 'n groot historiese figuur, is die geskiedenis vol staaltjies omtrent hom. Party verduidelik sy edele karaktertrekke en andere bewys dat die grootste en magtigste persoon ook nog maar mens is, met al die gebreke en foute van 'n Adamskind.

Die verhaal wat ons nou weergee, skilder hierdie geskiedkundige figuur vir ons op sy beste:
Nadat hy tot volle mag gekom het in Frankryk, het hy baie manne tot hoë posisies in die land verhef. Party van sy familielede het hy konings gemaak oor die lande wat hy verower het, en baie van sy vriende het groot gunste en bevordering van hom ontvang. Onder meer was die hertog De Polignac een van sy gunstelinge.

Maar dit het nie lank geduur nie of De Polignac het 'n lelike gees van ondankbaarheid openbaar en met ander afgunstige mense 'n komplot teen die keiser gesmee. Sy planne het egter misluk en die komplot is aan die kaak gestel, met die gevolg dat De Polignac gearresteer is. Sy saak sou die volgende dag voorkom en daar was min twyfel dat hy tot die dood veroordeel sou word.

Intussen het De Polignac se vrou aansoek gedoen om 'n onderhoud met Napoleon. Haar versoek is toegestaan en sy is in staat gestel om haar man se saak vuriglik te bepleit. Haar groot pleidooi was dat haar man miskien minder skuld daaraan gehad het as wat die keiser reken.

"Onmoontlik, madame," roep Napoleon uit terwyl hy 'n brief uithaal met haar man se handtekening daaronder.

Hierdie brief was 'n onuitwisbare bewys van De Polignac se skuld. Madame De Polignac kyk net een maal daarna en sak bewusteloos neer op die grond.

Toe sy weer bykom, was sy heeltemal sonder hoop. Maar tot haar verbasing gee die keiser haar die brief en sê:

"Neem dit maar, madame. Dit is die enigste bewys van u man se skuld wat in die oë van die wet sal tel. Daar langs u brand 'n vuur. Gooi die brief daarin. As dit eenmaal vernietig is, dan is u man vry!"

Tot haar verbasing gee die keiser haar die brief.

Dus is De Polignac se lewe gered, alhoewel selfs hierdie groot keiser onmagtig was om De Polignac se karakter te verander. Napoleon, De Polignac se vrou en hyself sou nog altyd die herinnering aan sy skandelike gedrag behou.

Nou ja, die verskillende persone wat optree in hierdie lewensdrama het 'n boodskap vir ons. Die Here, die God van hemel en aarde, het ons ook bevorder tot koningskinders. Maar ons gedra ons net so skandelik teenoor Hom as De Polignac teenoor Napoleon, en gevolglik is ons die doodvonnis skuldig. Maar ons het ook 'n Voorspraak, nl. Jesus Christus, wat vir ons in die bresse tree net soos madame De Polignac vir haar man.

Soos Bonaparte bewoë was deur haar ernstige smekinge, so verhoor die Here ook die voorbidding van Jesus vir ons. Die skuldbewyse wat Hy van elkeen van ons het, word uitgewis in die bloed van Jesus, en as die Here vergewe dan vergeet Hy ook, so leer God's Woord ons. Jesus het ons vonnis voltooi deur vir ons te sterwe en as ons Hom aanneem as ons Verlosser en Saligmaker, word nie alleen ons sondes skoon gewas nie, maar ons kan selfs die gedagte daaraan vergeet.