KINDERVERHALE (12)

CE Latsky

Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky

'n Kragdadige Bekering

IN die oorlog het 'n mens baie gehoor en gelees van die Rühr-rivier in Duitsland. Die vallei waardeur daardie rivier vloei, is die groot steenkoolgebied van Duitsland en groot vragte steenkool word met trekskuite op die rivier afgebring. Soos julle weet, word matrose gewoonlik as ru en roekeloos beskou, en die matrose op hierdie trekskuite was geen uitsondering nie.

Een van hulle met die naam van Wolff was 'n besonder ruwe karakter. Hy het sy vrou en kinders wreed mishandel, en selfs die ander sterk, ruwe trekskuit-manskappe het twee maal gedink voordat hulle woorde met hom gewissel het — want dit het nooit by woorde alleen gebly nie, en as hulle begin vuisslaan, dan het Wolff maar altyd geseëvier.

Maar die mag van die Here God is onbeperk, en op 'n goeie dag het 'n geestelike opwekking onder hierdie ruwe manne ontstaan wat meer en meer uitgebrei het totdat dit die Christene in die land verstom en verbaas het. Alhoewel Wolff heeltemal ongeletterd was en geen woord kon lees of skryf nie, het hy ook, wonderlik genoeg, sterk onder indrukke gekom. Toe het sy gewete begin ontwaak en dae en weke lank was hy uiters ellendig en ongelukkig, want hy het dag en nag aan sy sondes gedink en hy kon geen vrede in sy gemoed kry nie. Hy was later so wanhopig dat hy nie geweet het hoe hy dit het nie.

Toe kry hy die gedagte aan 'n bloedverwant van hom wat 'n Christen is en hy gaan praat sy hart by hom uit.

"Ek ken 'n Geneesheer wat vir jou kan help, Wolff," sê die man.

"Waar woon hy? Ek sal tien myl loop om by hom te kom as hy maar net vir my kan regmaak," roep Wolff hartstogtelik uit.

Toe verduidelik sy neef dat dit alleen Jesus is wat die sondige siel kan genees.

Wolff gaan later weer huistoe en daar val hy op sy knieë en worstel lank en ernstig in die gebed met die Here. Eindelik het daar vrede in sy gemoed gekom en hy staan daar op, 'n verloste en juigende siel.

Dit was 'n kragdadige bekering, want sy maters het sommer dadelik gemerk dat daar 'n verandering by hom was Die drank waaraan hy verslaaf was, het hy laat staan. Hy, het nie alleen opgehou om sy arme vrou dag vir dag te slaan nie, maar hy het nie gerus voordat hy vir haar ook die weg tot die saligheid aangedui het en sy ook tot bekering gekom het nie.

Maar 'dit was nie al nie. Hy het aan sy maters begin arbei, en die erns waarmee hy die Here Jesus aan hierdie roekelose trekskuit-manskappe verkondig het kon geeneen van hulle weerstaan nie en het heerlike vrugte afgewerp vir die ewigheid. Want nie een nie, maar tientalle, ja, later honderdtalle van hulle het tot sondebesef gekom en met trane van berou het hulle verlossing by Jesus gesoek. Dronkaards, diewe, manne wat as hopeloos beskou was, het onder sy ernstige prediking kinders van die Here geword.

Niemand sal ooit kan vasstel wat die kragdadige bekering van hierdie een man vir die bevordering van die koninkryk van God beteken het nie. Huise wat voorbeen vuil krotte was, het tuistes van liefde en vrede geword en skoon en aantreklik daar uitgesien.

Wat die Here vir daardie man gedoen het, kan Hy vir elke onbekeerde mens doen