KINDERVERHALE (17)

CE Latsky

Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky

Die Storie van 'n Bekende Lied

HOEVEEL van julle ken die lied wat gebaseer is op ons Heiland se gelykenis van die verlore skaap? Dit kom nie voor in die Halleluja, sover soos ek kan vasstel nie, maar die Engelse lied is alombekend.

"There were ninety and nine that safely lay
In the shelter of the fold;
But one was out on the hills away,
Far off from the gates of gold;
Away on the mountains wild and bare,
Away from the tender Shepherd's care."

Hierdie lied is geskryf deur 'n Skotse dame in die jaar 1851, net voor sy haar een en twintigste verjaardag sou vier. Nege jaar vantevore is haar oudste broer, Andrew, na Kanada gestuur om te sien of hy nie daar 'n nuwe begin kon maak nie, want hy was verslaaf aan die drank, alhoewel hy maar 'n jong man was. Maar, helaas, hy kon sy swakheid nie te bowe kom nie, en in Mei 1851 is hy in Kanada oorlede as gevolg van sy roekelose lewe.

Sy sustertjie, Elizabeth Cecilia, het hom al daardie jare steeds liefgehad en sy het vir hom gebid, en toe die tyding van sy dood kom, kry sy die vaste oortuiging dat haar broer tog in sy sterwensuur deur Jesus se genade gered is. Onder leiding van die Heilige Gees het sy toe hierdie pragtige lied geskrywe en in haar lessenaar weggesluit.

Sy self het taamlik jonk gesterwe — sy was maar 39 — en ná haar dood het haar familie altesame agt sulke liedere in haar lessenaar gekry en uitgegee in boekvorm: The Family Treasury.

In 1874 het 'n koerant in Glasgow hierdie lied oorgedruk. Toevallig was die beroemde evangeliste, Moody en Sankey, juis op besoek in Glasgow, waar hulle 'n reeks spesiale dienste gehou het. Op die stasie koop Sankey 'n koerant en sy oog val op Elizabeth Clephane se gedig. Hy knip dit toe uit en plak dit in die boekie waar hy allerhande sulke uitknipsels bewaar het.

Die volgende dag was die onderwerp van die diens "Die Goeie Herder" en Moody was aan die woord. Toe hy klaar is, vra hy vir Sankey of hy nie 'n gepaste solo het om te sing nie. Sankey voel toe baie sleg omdat hy nie aan een kon dink nie. Meteens kom daardie gedig van Elizabeth Clephane in sy gedagte. Hy gaan sit voor die orrel en stuur 'n ernstige skietgebed op na die Here om hom 'n geskikte wysie te gee om by die lied te sing, en noot vir noot kom die ingewing van Bo, sodat hy die pragtige lied vir die groot gehoor kon sing volgens die eenvoudige en aantreklike wysie wat van daardie oomblik of tot vandag onveranderd na ons gekom het.