BROKKIES UIT DIE BOEK - GEBROKE LAND (7)

 083 444 7672)

Die winter is vroeg vanjaar, veral waar hulle hier, aan die voetheuwels van die Drakensberge sit. Na die skietvoorval meer as ‘n week gelede, is dit rustig. Boesman het die swaarloop R1 (eintlik ‘n FN) skoongemaak en al nege die magasyne gelaai. Die wapen is goed opgepas, ten spyte van Afrika se manier om maar hard met een om te gaan.

Onder die skut se toerusting is ‘n skoonmaakstel en ‘n rompdeksel gevind wat ‘n teleskoop kan vat, maar sonder die visier. Vanaand sit die groepie beskut in ‘n klein leegtetjie, onder ‘n groot rots. Die afgelope seisoen het reënwater laat opdam in ‘n diep rotspoel, net ‘n paar meter buite die kampie.

Die Land Cruiser het van die koeëlreën gate in die ruite en bakwerk, maar met blote geluk is dit nie meganies beskadig nie. Een van die rondtes het die klepdeksel aan die bokant gesny, maar hulle kon dit met ‘n ‘n dosis Q-Bond regmaak. Dit lek ‘n klein bietjie olie, maar nie te erg nie. Die stukkende ruite is uitgehaal en dis feitlik net so koud binne die voertuig as buite.

Die maaltyd is maar karig, met sousboontjies, blikworsies en roosterkoek. Die kitskoffie is lankal op, maar die ou ketel wat op die vuur hang, met ‘n skoon kous en ‘n paar lepels koffiemoer in, maak darem dat hulle iets warm het om te drink.

“Wanneer gaan ons daar aankom, oom Juda?”

Juda dink ‘n rukkie voordat hy antwoord.

“Daar is eintlik nie ‘n ‘daar’ nie, Fanie. Daar is ook nie regtig ‘n ‘wanneer’ nie. Daar is eintlik net vier plekke wat ‘n mens as ‘daar’ kan beskryf, indien jy sou vra na ‘n plek waar ‘n mens veilig sou wees. Die eerste een is miskien in die buiteland, waar daar nie siekte of ’n virus is, of mense wat jou wil doodmaak vir ‘n paar slukke drinkgoed of ‘n paar happies kos nie. Miskien is daar nog so ‘n plek, ek weet nie. Hier in ons eie land? Miskien as jy ‘n plek sou kry om weg te kruip, diep in ‘n berg, waar daar baie plante sou wees en digte bome. Ons sal uitkyk vir so ‘n plek. Maar selfs daar sou jy op die rondkyk moet wees vir elkeen wat jou wil seermaak. Derdens by ‘n groot groep mense wat goed gewapen is. Nie net met gewere en handwapens nie, maar met grofgeskut ook, dit wil sê kanonne en mortiere. Maar dit sal ook ‘n plek moet wees wat goed beskut is en selfs daar is moontlikheid van aanvalle groot. Die vierde een is waar ons nou is.”

“Bedoel Oom hier, in die berg? Is ons veilig hier?”

“Nee, ek bedoel aan die beweeg. As ‘n mens voortdurend aan die beweeg is, is dit natuurlik moontlik dat jy, soos ons nou-die dag gekry het, in mense vasry wat jou vyande is. Maar iemand wat aan die beweeg bly, wat voortdurend op hulle hoede is, wat nie lank by een plek bly nie, is nie maklik om vas te pen nie. Ons probleem is natuurlik dat ons sonder brandstof kan raak, en nie ‘n plek kry waar ons nog in die hande kry nie. Maar dis nie vandag se probleem nie.”

“Maar as ons petrol opraak, wat maak ons dan?”

“Dan loop ons verder. Deur die eeue het baie mense dit gedoen. Op die oomblik, hier in ons land, is daar baie meer mense wat op die oomblik aan die loop is, op soek na ‘n plek waar hulle veilig kan wees en kos en water kan kry, as wat iewers by die huis sit.”

“Dis reg, oom Juda. Eintlik gee ek nie baie om nie. Ek hou daarvan om in die kar te ry, ek en Jessica. Ek wil net nie graag nog mense skiet nie.”

“Ja. Dis sleg om iemand te skiet. ‘n Mens kom nooit daaroor nie. Maar jy en Jessica het anderdag goed gedoen. En ek het gesien jou vingers bewe nie meer as jy nuwe patrone laai nie.”

As Juda opkyk, na waar Jessica sit, is sy hart swaar as hy sien sy vertrek nie ‘n spier nie, waar haar groot bruin oë nat word van die emosie en twee trane loop oor haar wange. Maar haar geweertjie lê dwars oor haar bobene, gereed om gebruik te word.

Hy wonder wat van hulle gaan word. Uit ondervinding kan hy en Johan getuig dat ‘n mens selfs jare later nog met die middernagtelike spoke worstel van mense wie se dood jy veroorsaak het. Die gesigte bly by jou. Die vrae en die verwyte knaag aan jou, maak nie saak hoe hard jy jouself probeer oortuig dat dit uit noodweer of ter wille van ander is nie. Hy het lankal geleer om nooit ‘n ou soldaat te berispe oor sy ongewone gedrag of drankprobleem nie. Dis ook so dat niemand anders jou spoke kan veg nie, behalwe jyself.

“Nog iemand vir ‘n bietjie koffie?”

*

Korff Röhm is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Nadat hy as prokureur gekwalifiseer het, is hy weermag toe, waar hy nie net as regsoffisier gewerk het nie, maar ook gekwalifiseer het as valskermsoldaat. Nadat hy twintig jaar vir die SAW en Seuns gewerk het, het hy gesien dinge gaan nie verloop soos hy gehoop het nie en het hy bedank. Hy het die twee groot liefdes in sy lewe (dis nou behalwe Mara, wat tien jaar gelede aan kanker oorlede is), naamlik die reg en vuurwapens, vertroetel en daarin belê. Veral in die vuurwapens. Dis nie dat hy bakleierig is nie – hy het immers sy oorlog gehad – maar die fassinering vir die vernuf wat in die ontstaan en ontwikkeling daarvan ingegaan het. Vanaf die hand-kanonne, die ontsteking deur gloeinde toutjies, die snaphane, vuurwiel ontsteking, doppiesgewere en uiteindelik die nuwe wapens wat eintlik begin het toe Westley-Richards ‘n rondte gemaak het waarin die hele boksendaais in papier toegedraai is en van agter in ‘n geweer gelaai is. Daarna het die brons doppe in enkelskootgewere soos Sharps en Martini-Henri gekom. Die ontwikkeling van wapens met magasyne soos Winchesters en Spencers en Kolonel Samuel Colt se rewolwers was net ‘n treetjie verder (alhoewel sy eerste rewolwers voorlaaiers as).

Korff het aanvanklik net wapens bymekaargemaak. Dit wil sê, hy het alles gevat wat hy in die hande kon kry – vanaf swakvervaardigde .22 rewolwers, tot Norinco .22 gewere en alles tussen-in. Eers daarna het hy behoorlike wapens begin versamel, en die swakker goed verkoop of weggegee. Die wapens wat hy hou, sluit ‘n Erfurt P08 pistool in, wat in 1911 vervaardig is, verskeie Colt, Ruger en Mausers. Daar is ‘n M1 Springfield, CZ gewere en pistole en nog vele ander.

Hy het die skuiwe gesien wat die regering maak en, geplaas op die geskiedenis-paradigma van soveel ander lande in die verlede, insluitende Rusland, China, Kuba, Sarajevo en Bosnië, het hy gesien wat kom.

Die afkondiging van krygswet was nie vir hom ‘n verrassing nie, maar wel effens van ‘n skok, aangesien hy gehoop het hy het die tekens verkeerd gelees. Immers was daar nou amper ‘n honderd duisend soldate landwyd ontplooi, waarvan meer as sewentig persent feitlik geen opleiding ondergaan het nie. Ou FAPA, APLA, MK, FNLA en ander magte se oud-soldate is ontplooi onder die vaandel van die SANW. Beeldmateriaal wys egter dat ‘n groot persentasie van “oorlogsveterane” nie veel ouer as twintig is nie. Saam met die ontplooiïng het ook ongekende magte gekom. Vergrype van die “soldate” is alledaags en uiteindelik word dit nie eens ondersoek nie.

Skuins na middag hou ‘n Nyala, drie polisie-bakkies en ‘n Casspir voor sy huis stil. Die insittendes ontplooi in ‘n halfmaan om sy huis se voorste heining. Baie van die manne het taakmag-uniforms aan, met lyfpantser, swart knie en elmboog beskermers en hoofdeksels. Die meeste van hulle hou R5 gewere in gereedheidsposisies.

‘n Oorgewig kolonel in weermag uniform lui die voordeurklokkie met ‘n perderuiter se karwats in die hand. Sy Z88 pistool is in ‘n swart nylon bo-been holster vas en die kolf hang kant toe, soos ‘n sherriff uit die cowboy-tyd. Sy maroon beret is styf oor sy kop getrek, soos dit die gewoonte onder huisbediendes was jare gelede. Die spesmagte-kenteken daarop wys amper na bo. Korff merk op dat daar nie valskermvlerkies op sy bors is nie.

“Mister Korff, I presume?” groet hy. Die aangeplakte Engelse aksent beur swaar uit die Zulu agtergrond.

“You presume correctly. How can I help you?”

“In persuance of a warrant issued by the minister of police, I hereby inform you that we are instructed to remove all weapons and ammunition from your premises, for safekeeping at the local station.”

“May I see the warrant?”

‘n Stuk verkreukelde papier word onder Korff se neus gedruk. As hy dit probeer vat, slaan die kolonel hom met die karwats ’n skuins hou oor die neus.

“Keep your hands to yourself sir!”

‘n Bloederige streep lê oor Korff se wang en neus, maar hy onderdruk die impuls om daaraan te vat.

“Follow me.”

Hy loop vooruit, met die kolonel en nog ‘n paar wat hom die huis-in volg. Hy loop na sy slaapkamer toe, waar sy ingeboude kluis, sowat ‘n meter en ‘n half diep en breed, in die verkant van die vertrek staan. Die kluis staan so ‘n bietjie meer as twee meter hoog, en aan die linkerkantse boonste punt, steek die blink van ‘n sleutel uit. Dis te hoog vir die korterige kolonel om by te kom.

“There is the key, Colonel. You may take it.”

Korff maak asof hy eenkant wil staan, maar die man keer hom. Dis darem te veel gevra om van hom te verwag om ‘n stoel of tafel nader te trek om op te staan.

“Take it down, mister. Then open the safe. After that you may leave.”

Langs die sleutel, maar hoog genoeg om onsigbaar te wees, het Korff ‘n gewone koöperasie kapmes gebêre. Dis nie baie goeie staal nie en het ‘n gegote plastiek handvatsel.

Korff trek die sleutel van bo af en laat dit val. Die kolonel buk instinktief af om die sleutel op te tel en in dieselfde beweging haal Korff die kapmes af, kap die man op die dikspier tussen sy nek en skouer. Dis ‘n diep wond, wat onmiddellik die ou se arm lam maak. Een van die ander beweeg vinnig nader, en Korff kap hom met die agterkant oor die gesig en daarna op die gewrig. Hy laat val sy wapen, wat Korff opraap, die veiligheidsknip afhaal en daarmee na die deur mik.

Twee manne storm amper gelyk by die deur in, en Korff skiet hulle; hy het die veiligheidsknip nie al die pad afgedruk nie en die R5 skiet op vol-outomaties. Hy het met opset hoog gevat en die rondtes tref die manne in die gesig.

Daarna hardloop Korf tot by die gang en skiet die wapen leeg op die manne wat daarin bondel. Aan die verkant van die gang is ‘n veiligheidshek, wat hy toeklap en dan buk hy af, gryp al die magasyne wat hy van die manne kan afkry, ook die Z88 pistool met twee spaarmagasyne.

Dan beweeg hy so vinnig moontlik by die sydeur van die slaapkamer uit, spring bo-oor die muur en hardloop agter-om die bure se huis, wat na die inperking leegstaan. Sy voertuig wat in die oprit geparkeer staan, is nie gesluit nie. Hy spring in, gooi die R5 op die sitplek langs hom en jaag dan uit, draai regs en dan pad af. Niemand volg hom nie.

Korff Röhm is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Maar nou is die spies gewerp en hy is ‘n voortvlugtige.