Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe bly mense staande teen die aanslae van Satan? Soms voel dit onmoontlik om hom te weerstaan, en daar moet tog 'n manier wees? Efesiërs 6 leer ons daardie geheim: "Soek julle krag in die HERE en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel."
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (4)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 4
DIE SONDVLOED
Gen 6-8
1. Die ou wêreld
Al die aartsvaders van Adam tot Lameg het seuns en dogters gehad. Die goeie Lameg het egter net seuns gehad. Destyds het die mensdom aansienlik vermeerder. Daarom word die geboorte van dogters duidelik vermeld. Hulle het ʼn baie belangrike rol vervul nl. om kinders te baar. Die seuns van God was mense wat deur hul opregtheid in ʼn besondere verhouding tot God gestaan het. Hulle was uit die nageslag van Set. Henog was die beste voorbeeld van hulle vroomheid en opregtheid voor God. Die Bybel noem vromes elders ook seuns van God (Deutr.32:5, Hos.1:10; Ps.73:15; Joh.1:12).
Die term 'Seuns van God' word ook vir engele gebruik (Job.1:6). Ons weet egter dat Gen.6 nie op engele dui nie omdat hulle met vroue getrou het. Engele trou nie (Mt.22:30) maar voer uitsluitlik ʼn geestelike bestaan. As hier van engele sprake was, moes hulle tydens die sondvloed gestraf gewees het. Gevolglik is hier van mense sprake.
Die dogters wat van Kain afgestam het, was skynbaar uitsonderlik mooi sodat die nasate van Set hulle as vroue geneem het. Uit vers 3 blyk dat God dit afgekeur het. Hy wou hulle straf omdat hulle hul huwelikskeuse op grond van vleeslike aanskoue geneem het en nie op grond van die geloof nie. Van toe af is veelwywery algemeen beoefen. God het hulle gestraf deur sy Gees aan hulle te onttrek en hulle lewensjare tot 120 jaar te verminder. Gen.6:4 dui op die krag van die mense uit die ou wêreld. Hulle was uitsonderlik groot en sterk en het weens hul krag en magsmisbruik gewelddadig opgetree.
2. Noag bou ‘n ark
Die Bybel sê dat God spyt gekry het dat Hy mense gemaak het. Is dit moontlik dat God berou kan hê? (Num.23:19; Jak.1:17). Hierdie spyt beteken dat Hy vir die sonde kwaad geword het. As Hy medelye met mense het, kan Hy sekerlik ook vir hulle kwaad word. Ons lees van eersgenoemde in Ex.32:14; Rigt.2:18; Amos 7:6 en van laasgenoemde in Jes.63:10; Efes.4:30.
Huweliksvermenging het mense van God vervreem. Dit het Israel in die tyd van Salomo selfs in twee laat skeur! God het ʼn gewigte besluit geneem om ʼn einde aan alles (mens en dier) te maak. Slegs Noag het genade in God se oë gevind. Hy was regverdig en opreg soos Henog. Daarom het hy van God opdrag gekry om 'n groot skip te bou waarin hy en sy naaste familie – agt mense - gered sou word (2 Petr.2:5).
God het met Noag ʼn verbond gesluit. Dit was die eerste ooreenkoms wat God met ʼn mens aangegaan het. Hierdie ooreenkoms was nie ʼn gewone verbond tussen twee gelykstaande partye nie, maar eerder ʼn besluit en genadige optrede van God. God sou Noag en sy mense bewaar en hy moes net bly glo en aanhou bou (Hebr.11:7). Intussen het Noag die mense van sy tyd gewaarsku dat daar ʼn oordeelsvloed gaan kom. Die bou van die ark het sy erns uitgespel. Hulle het hom egter nie geglo nie en met hul sondige lewens aangegaan totdat dit begin reën het (Luk.17:27).
Noag het die skip gebou soos God hom beveel het. Hy het nie in sy hart lekker gekry oor die straf wat vir die goddeloses voorgelê het nie. Hulle wou dan nie hoor nie! Toe die ark gereed was, het God beskik dat die diere wat gered moes word ingegaan het. Van die rein diere het sewe paar en van onreines net een paar ingegaan. So ook voëls waarna daar genoeg voedsel vir almal ingeneem is. Op ʼn bepaalde dag het God self die ark gesluit. Dieselfde Hand wat dit toegesluit het, het dit vir ʼn jaar lank bewaar.
3. Die ondergang van die ou wêreld
Toe die sluise van die hemel oopgegaan het, het dit vir 40 dae aaneen gereën waarna die ark begin dryf het. Alles is deur water oordek; 15 el bokant die hoogste piek op aarde. Dis geweldig baie water gedagtig dat die berg Everest meer as 8,500 meter hoog is! Die feit dat alle vlees gesterf het, het ʼn einde aan die ou wêreld gebring.
4. Noag uit die ark
Die vloedwater het vir 180 dae die oorhand gehad. Daarna het God Hom oor Noag en die diere ontferm en ʼn wind gestuur nadat dit ophou reën het. Toe die water sak, het die ark op die berg Ararat tot stilstand gekom. Die Bybel maak later weer van Ararat melding (2 Kon.19:37; Jer.51:27). Hierdie berg was in Assirië (Urartu) vandag Armenië. Dis ʼn klein landjie in Wes-Asië (30,000vk km) naby Turkye en grens in die suide aan Iran. Op watter piek die ark tot stilstand gekom het, weet ons nie. Ararat is ʼn lang bergreeks.
Toe die bergtoppe sigbaar word, het Noag voëls uitgestuur waarna ʼn duif later met ʼn olyfblaar teruggekeer het. ʼn Jaar ná die vloed was die aarde droog waarna Noag op God se bevel uitgegaan en ʼn altaar vir Hom gebou het. Dis die eerste sprake van ʼn altaar in die Bybel. Van Kain en Abel word nie spesifiek gesê dat hulle ʼn altaar vir hul offers gebruik het nie.
Noag het van die rein diere op sy altaar geoffer. Dit was ʼn kosbare offer omdat daar ná die vloed slegs sewe paar van elk oor was. Noag het dit as ʼn blykie van dankbaarheid vir verlossing geoffer. God het hierdie offer aangeneem en Noag beloof om die aarde nooit weer so te vervloek dat alle mense omkom nie. Hy sou mense, nasies en volke op ander maniere straf.
Die sondvloed getuig van straf sowel as redding. God wil red. Hy het ʼn behae in geredde siele. Dis soos in ʼn lieflike geur vir Hom (Eseg.20:41; 2 Kor.2:15). Christus is vir God ook soos ʼn lieflike geur (Efes.5:2). Deur Hom bring gelowiges geestelike offers aan God (1 Petr.2:5).
Die verhaal van die sondvloed is nie net in Israel se geskiedenis opgeneem nie, maar ook in dié van ander volke. Al hierdie verhale vertel ook van ʼn baie groot vloed en ʼn paar mense wat gered is. Alleenlik die Bybel verstrek die rede vir die vloed nl. sonde. Die bekendste buite-Bybelse sondvloed-verhaal kom uit Babilon en word die Gilgamesh-epos genoem. Soortgelyke verhale kom ook in die Sumeriese, Indiese, Griekse en selfs Mexikaanse literatuur voor.