Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Satan is die een wat depressie by mense misbruik totdat hulle glo hulle is hopeloos en ongered. Die teenoorgestelde is egter waar: iemand wat deur die donker van depressie geloop het, het 'n bepaalde innerlike krag ontwikkel wat van hom 'n wyser en sterker mens gemaak het. Moenie na die duiwel luister wanneer jy op jou swakste voel nie – weet daar kom 'n tyd hierna wat jy as kind van God baie sterk sal wees met 'n wysheid wat jou verder deur jou lewe sal dra, want in die donkerste dieptes het jy vir God weer gevind.
TAALPRAATJIES VIR DIE WAKKERES (2)
S.P.E. Boshoff
Lees reeks by Taalpraatjies vir die wakkeres
DIE GEMEENSKAP EN SY TAAL
In die vorige aflewering het ek die vraag aanhangig gemaak hoe dit moontlik is dat ons, ondanks alle persoonlike taalverskille, ons medemense tog nog betreklik goed kan verstaan. Laat my toelig: hoe herken ek my medemense? My buurman dra op sy plaas 'n ou afgeslete werkspak, trek vir 'n sakebesoek na die stad 'n gewone pak aan, verskyn by 'n voetbalwedstryd in 'n sportbaadjie en Sondag by die kerk in sy beste pak, en tog herken ek hom elke slag sonder die minste moeite. Die een dag het hy 'n baard en die volgende keer is hy glad geskeer, maar al hierdie vermommings van sy uiterlike is nie voldoende om hom onherkenbaar te maak nie.
So gaan dit ongeveer ook met 'n mens se taalgebruik: by alle verskille bly jy ten slotte jouself en verraai jou taal jou identiteit. 'n Mens moet jou stem en jou taal al baie bewus en opsetlik verander om jouself nie daaraan te laat eien nie, maar 'n mens verander jou taal gewoonlik onbewus en nie so opsetlik soos jou kleredrag nie. Maar daarby kom nog iets anders: 'n mens moet in sy taal, miskien nog meer as in sy kleredrag, met sy medemense rekening hou. Die enkeling is lid van 'n gemeenskap, van 'n samelewing, en dit lê nou eenmaal in sy aard om met ander mense te wil praat en deur hulle verstaan te wil word. As hy verlang dat hulle hom moet begryp – en dit wil hy uiteraard meestal – dan moet hy hom verstaanbaar maak en kan hy met sy taaleienaardighede nie te buitensporig wees nie ander loop dit op 'n Babelse spraakverwarring uit. Of hy nou bv van sy kin of van sy ken praat, maak vir die verstaanbaarheid daarvan weinig verskil, maar as hy van sy kind of sy kend, van sy kan of sy kon gepraat het en daarmee die voorpunt van sy onderkaak bedoel het, sou sy aanhoorder hom nie begryp het nie en homself afgevra het of die kêrel goed wys is. Die enkeling is deur die eis van die verstaanbaarheid van sy eie taal en die taalgebruik van sy medemense enigsins gebond: hy het slegs speelruimte binne sekere perke. Daarby is hy nie slegs lid van 'n bepaalde beroep of vakunie nie; hy is boer en prokureur of geneesheer tegelyk, advokaat en politikus, onderwyser en ouderling, en veral lid van die hele Afrikaanssprekende gemeenskap waarmee hy deur die boek, die pers en die radio in gedurige verbinding staan. Hy moet met allerlei soorte mense omgaan, hulle aanhoor en verstaan, hulle toespreek en verstaan word.
Van al die doodgewone handelings wat die mens daagliks verrig soos loop, eet, drink, aan- en uittrek, is daar min wat die mens so dikwels verrig as praat; dit is nie slegs 'n gewoontehandeling nie, maar 'n soort gedragsmode aan die eise waarvan hy moet voldoen, of hy wil of nie. Die kenmerkende daarvan kom aan die lig wanneer ons dit vergelyk met die manier waarop mense loop. Loop en praat kom albei voort uit 'n natuurlike menslike drang, word op ongeveer dieselfde leeftyd geleer en word deur persoonlike eienaardighede gekenmerk, maar daarmee hou die ooreenkoms ook op. As 'n mens leer loop, dan aap hy daarby nie juis ander mense na nie, en dan kom dit ook nie baie daarop aan hoe hy loop nie mits hy dit maar regkry om te loop en sy doel daarmee te bereik. By die aanleer van taal is die verhouding anders; in hierdie geval boots die kind werklik die mense in sy omgewing na – sy ouers, sy broers en susters, sy vriende, kennisse en speelmaats. Hy probeer nie alleen praat soos hulle praat nie; hy moet dit doen , want anders verstaan hulle hom nie en kry hy nie wat hy wil hê nie. Hy moet hierdie bedrywigheid altyd in geselskap verrig, dws hy moet altyd 'n ander persoon of ander persone hê om mee te praat, en hulle bepaal grotendeels sy handelswyse, dws sy manier van praat, dus sy taal. Die mens hoef hom, wat sy kleredrag betref, nie te veel aan die heersende mode te steur nie maar by sy taalgebruik moet hy die mode volg, anders word hy misverstaan. Die taal is dus nie alleen 'n gewoontehandeling en 'n gedragsmode nie; dit is in die eerste plek 'n nabootsingshandeling, hoewel die nabootsing grotendeels onbewus geskied. In hierdie sin is elke spreker wel 'n toneelspeler, dws vir sover hy ander mense na-aap. Die gemeenskap, die samelewing, is die gelykmakende mag wat die toon aangee, en die enkeling moet sy persoonlike taalneigings beteuel om nie te ver van die baan af te wyk wat die gemeenskap vasgelê het nie.
'n Mens vra jou af of die gemeenskap self dan so gelykvorming is dat dit in staat is om 'n eenvormige maatstaf of standaard te skep. Elke gemeenskap is tog in 'n hele aantal groepe, elkeen met 'n eie taal, ingedeel: daar is bv die gesinsgroep (ouers en kinders), die familiegroep (naaste bloedverwante), leeftyds- en beroepsgroepe, streekgroepe, ens. Soos die enkeling hom egter steeds by sy medemense moet aanpas, so moet ook die groepe hulle voortdurend by mekaar aanpas. Daardeur slyt enersyds die persoonlike en andersyds die groepeienaardighede mettertyd af. Ook dit kan iedereen maklik self waarneem. Ons merk dat klein kindertjies dikwels woord en uitdrukkings gebruik of klanke op 'n manier uitspreek wat slegs hulle ouers, boeties en sussies verstaan, maar wat geleidelik uit hulle taal verdwyn namate hulle ouer word en met ander kinders in aanraking kom. Skoolkinders en studente praat soms 'n eie soort taal wat hulle maats in die eerste plek en hulle famililede miskien gedeeltelik begryp, maar wat op later leeftyd weer afslyt en hoogstens enkele spore in hulle taal nalaat. Vakmanne (bv regsgeleerdes en geneeshere) gebruik teenoor vakgenote meestal besondere vakterme, terwyl hulle teenoor hulle tiksters, verpleegster, kliënte en pasiënte meer algemeen bekende woorde en uitdrukkings vir dieselfde begrippe gebruik. Namate sulke beroepsmense ouer word en bv ophou praktiseer, raak hulle gewoonlik ook heelwat van die vroeër deur hulle gebruikte vakterminologie kwyt. Daarby is 'n mens nie net lid van 'n beroep of vakunie nie maar kom hy met allerlei groepe en kringe in aanraking en bly hy ten slotte nog mens, dws hy is lid van 'n hele samelewing wat sy persoonlike taalneigings en die taaleienaardighede van sy beroep aan bande lê. Bejaarde mense hou soms in hulle taal nog enkele verouderde woorde en uitdrukkings oor maar ook by hulle raak baie daarvan afgeslyt en in onbruik deurdat hulle ondervind dat hulle deur die gebruik daarvan vir die jonger geslag soms onverstaan word. Daar is, kortweg, 'n gedurige uitwisseling, afslyting en wedersydse aanpassing by verskillende leeftyds- en beroepsgroepe, met die gevolg dat oupagrootjie en sy agterkleinkind, ondanks die verskil in leeftyd en die feit dat die eerste 'n boer en die tweede 'n ingenieur is, mekaar tog nog taamlik goed kan verstaan. Wat die taalgeleerdes gewestelike taalvorme, streeksprake of dialekte noem, dsw die taaleienaardighede van bepaalde gebiede of streke van 'n land, bied gewoonlik die taaiste weerstand teen die gelykmakingsproses van die gemeenskap. As die omstanders bv (in Markus 14:70) vir Petrus sê: "
Waarlik, jy behoort by hulle, want jy is ook 'n Galiléër en jou spraak is net so", dan doel hulle daarmee dat Petrus nie sy Galilese streekspraak kwytgeraak het nie. Hoewel sulke taalverskille in Afrikaans nog nie tot volledige dialekte uitgegroei het nie, kan ons tog in die algemeen die Bolander en die Ondervelder aan hulle taal onderskei. Ons moet sulke gewestelike eienaardighede egter nie verwar met afwykende taalverskynsels wat niks daarmee te doen het nie. Die enkeling gebruik soms taal wat ander nie goed begryp nie, wat hy trouens self nie goed verstaan nie, omdat hy dit napraat sonder 'n goeie begrip daarvan of omdat hy nie presies kan uitdruk wat hy wil sê nie en hom gevolglik onbeholpe, slordig of selfs verkeerd uitdruk. Andersyds bestaan daar in die taal van die gemeenskap waartoe hy behoort, 'n massa woorde en uitdrukkings wat hy nog nooit gehoor het en derhalwe ook nie ken of begryp nie, en ten slotte weer ander wat hy wel gehoor en begryp het, maar wat hy self nog nooit in sy gesprekke of in sy skryftaal nodig gekry het nie.
Op grond van oorwegings soos hierdie maak taalgeleerdes soms 'n onderskeid tussen spraak en taal. Onder die eerste verstaan hulle dan wat die enkeling gebruik, met of sonder afwyking van die gemeengoed van die samelewing. Onder die tweede verstaan hulle alles wat tot die taal van die gemeenskap as 'n geheel behoort. Spraak is dan min of meer gelyk te stel met taalgebruik en taal met taalmateriaal, taaleie of taalstelsel. Die eerste word deur 'n middelpuntvliedende en die tweede deur 'n middelpuntsoekende neiging gekenmerk; die eerste wil maw maar gedurig afwyk, die tweede streef na gelykvormigheid en ooreenstemming. Hierdie twee teenoorgestelde neigings hou mekaar min of meer in ewewig. As die eerste te ver gaan, word die taal onverstaanbaar; as die tweede te ver gaan, word dit 'n dooie taal sonder lewenskrag. Ek kom later weer na hierdie belangrike gesigspunt terug.
Ek het tevore met opset 'n stelling gemaak wat vir die taalonderwys en die algemene taalbeoefening nogal van belang is. As daar soveel mense en soveel groepe is, elk met 'n eie taal, hoe kan ons dan ten opsigte van die taal beoordeel wat reg en wat verkeerd is? Waar kry ons 'n maatstaf, en waaraan ontleen dit sy gesag? Ek gaan hierdie vrae nog nie in die volgende aflewering beantwoord nie maar wil u vra om intussen daaroor na te dink. Volgende keer behandel ons gesigspunte wat ons 'n ruimer agtergrond vir die beantwoording van hierdie vrae sal verskaf, en die verhouding tussen volk en taal.