Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons dan verleë staan met dié gebed: 'vergeef ons soos ons vergeef', hou dan met blydskap vas aan die vredevolle versekering: "Ek, Ek is dít wat jou oortredinge uitdelg, om my ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie" – Jes 43:25. God vergeef en vergeet...
BROKKIES UIT DIE BOEK HELDELAND (9)
083 444 7672)
Vanaf die middel tagtigerjare het seerowery weer begin kop uitsteek.
Hierdie praktyk, wat vir meer as ‘n honderd jaar beperk was tot enkele gevalle in die Verre-Ooste, het momentum gekry met die burgeroorlog in Somalië. Natuurlik was daar hongersnood in die land, waar die oorlog nou reeds vanaf 1988 woed. Dit het meegebring dat die kuswag verslap het en dat skepe die geleentheid gebruik het om toksiese afval naby die kus te stort.
Dit het op sy beurt meegebring dat die vislewe uitgesterf het en die vissermanne het begin honger ly. Uit wraak het die vissermanne van hierdie skepe aangeval, wat dit te naby die kuslyn gewaag het. Natuurlik was daar buit op die skepe; dit het mettertyd ‘n groot en georganiseerde skeepsrowery tot gevolg gehad, waar hele skepe soms selfs gekaap is en die skip met vrag en bemannig as losprys aangehou is. Die aanvanklike vissersbootjies en ou, uitgediende gewere het plek gemaak vir die alombeskikbare AK 47’s en mettertyd selfs swaarkaliber masjiengewere, voor op die boeg van die boor gemonteer.
Stadige hout vissersbote is vervang met opblaas rubberbote, toegerus met kragtige Johnson, Evinrude en Yamaha buiteboord-enjins. Streng optrede deur Westerse lande het meegebring dat hierdie operasies suidwaarts geskuif het, selfs tot by die Mosambiekse kus.
Die Suid-Afrikaanse regering het inderdaad op ‘n stadium die SAS Mendi beskikbaar gestel om hierdie seerowers te jag. Dit het beperkte sukses behaal en die rowers het bloot hulle basisse verskuif. So het ‘n vyftiental hulle tuisgemaak tussen die bosse by die duine van Cabo de Correntes, Suid van Inhambane Provinsie.
Omdat hulle van die gevaar bewus is, sou meeste kapteins van skepe en plesierbote hulle ver van die kuslyn af hou, ver genoeg om buite bereik van die rubberbote met beperkte brandstof te hou.
Basjan en Jona kon dit nie weet nie.
*
Na amper dertig uur sonder slaap is Basjan en Jona albei uitgeput. Hulle kan nie waag om die outoloods aan te skakel en te gaan slaap nie. Basjan het vir Jona gestuur om eerste te gaan rus, maar hy vang hom dat hy self sit en dut.
Jona sien nie kans vir die ruim van die boot nie, al is daar kajuite met heerlike, duur matrasse. Hy kruip onder die seil van een van die reddingsbootjies in en raak aan die slaap.
Die sonar (wat hy nou al leer ken het) wys uiteindelik dat die bodem nie te diep is nie, en al is die kus sigbaar, besluit Basjan om anker te gooi en net vir ‘n uur of twee ook te slaap, sommer in die gemaklike stoel eenkant op die brug. Hy het nie vir twee minute gesit nie, sy voete op ‘n tafeltjie gerus, of ‘n diepe slaap oorval hom.
Amper regoor hulle, op die duine, kan Darius Nyenye amper nie sy geluk glo nie. Nadat hy die vaartuig vir ‘n halfuur deur die verkyker dopgehou het, en besluit het die ding gaan nie dadelik vaar nie, is daar bevele uitgedeel, die bote strand toe gesleep en die tenks, wat reeds gevul is, nagegaan.
Die twee masjiengewere is gemonteer, gelaai en die manne pak die bote vol lywe. Hulle verspil nie tyd nie en pyl regoor die skip op hom af.
In ‘n geoefende beweging swaai die een boot na die stuurboordkant van die skip af en die ander een aan die agter, lae kant van die agterstewe. Die jag se agterstewe is net sowat ‘n meter en ‘n half bokant die wateroppervlakte en dit bied nie ‘n probleem vir die rowers nie. Vyf van hulle omsirkel die brug, vyf gaan die onderste dek binne en deursoek dit vir mense en bruikbare goedere. Sonder vrees loop drie van hulle die brug binne.
Basjan skrik wakker wanneer Bella begin gil. Sy het sopas ‘n traumatiese ervaring gehad met dieselfde soort mense en hierdie is vir haar te veel. Sy skreeu histeries op die manne om pad te gee.
Basjan gryp na sy pistool aan sy sy, maar die leier van die trop, Darius, rig sy verchroomde Beretta op Basjan en klik die veiligheidsknip af met groot melodrama. Dan lig hy die oorgehaalde wapen en slaan vir Basjan met die agterkant deur die gesig. Die skerp voorste visier sny sy gesig oop, nie diep nie, maar deur die vel en dit maak dadelik ‘n bloedstreep.
Bella skreeu nog harder. Een van die drie klap haar deur die mond met ‘n waarskuwing om stil te bly, maar dit maak, indien moontlik, dat sy haarself net verder aan die histerie oorgee. Uiteindelik los hulle haar maar. Daar is tog niemand wat haar kan hoor nie, of so dink hulle.
Die geskreeu is egter so hard, dat Jona, wat nog in die bootjie lê, daarvan wakker word. Hy loer by die seil se punt uit en sien die manne wat die brug omsingel. Hy kan vier van hulle van hier af tel, maar reken dat daar nog een aan die anderkant van die brug kan wees. Hy gaan sit op sy hurke, tel Basjan se MP5 op en skiet op vol outomaties na die spul. Sy eerste sarsie tref die drie naaste aan hom, en die volgende skote tref die vierde een. Onmiddellik kom een van die manne op die brug uitgehardloop en Jona skiet ook na hom, maar dis oorhaastig en hy tref die reling langs hom.
Darius Nyenye het oorgebuk om Basjan se pistool van sy gordel af weg te vat toe die eerste skote klap. Hy vertrou die manne by hom om vir hom dekking te gee en dink nie vir ‘n oomblik die witman sal iets probeer nie. Die skote het egter die twee ander se aandag afgetrek en die een hardloop buitentoe.
Basjan gryp met dié Darius Nyenye se hand, gebruik die momentum waarmee hy vorentoe kom, pluk hom nader en slaan hom met ‘n halwe vuis, maar met die vingers geknak by die eerste kneukel, reg op die strot. Darius kan nie asem kry nie, verloor die greep op sy eie en Basjan se pistool, gryp dan sy keel vas en gaan staan roggelend op sy knieë. Sy wit oë word groot op sy swart gesig en dit lyk of hulle wil uitpop.
Darius is ook tussen Basjan en die ander man in die brug en vir ‘n oomblik kan hy nie sy wapen op Basjan rig nie. Hy is onkant gevang en dan het Basjan sy CZ uitgetrek en hy skiet die ou twee skote op die bors en een in die kop. Hy bring die pistool in dieselfde beweging af en slaan vir Darius daarmee bo-op sy kroeskop. Hy skop hom in amper dieselfde beweging deur die gesig en dan is hy op sy voete en hardloop buitentoe.
Hy kyk na die oop deur na die boonste dek toe en skiet die eerste twee manne wanneer hulle uitkom. Buite beide Basjan en Jona se gesigveld het die een wat agter die brug was, omgesluip en hy rig sy AK direk op Basjan se agterkop. Skielik is daar ‘n geweldige knal en hy val agteroor, die see in.
Die ander drie verskyn nou ook in die deur, maar die opening is smal en die voorste een versper die ander twee se uitsig. Basjan skiet hom en daarna die ander twee soos hulle die trappe opkom. Een van hulle het ‘n arm vol, wat hy meen waardevolle items is, uit die een slaapkajuit en hy kan nie besluit of hy moet laat val en sy geweer van sy skouer moet afhaal nie. Daar word vir hom besluit. Die skoot tref hom deur die armvol goed en hy val die trappe af.
Dan hardloop Basjan weer die brug binne om te sien of Darius bygekom het. Hy is egter te laat en die seerower het versmoor – sy gorrel het ingeduik en sy lugpyp toegdruk. Bella sit-lê teen die oorkant se muur, die .416 nog in haar hande geklem. Die terugskop van die grootkaliber jaggeweer het haar bo van haar voetjies afgeskop.
Agter Basjan verskyn Jona.
“Ek hoop nie Oom is kwaad nie. Ek was gou netnou hierin om te sien of Oom slaap. Oom het die masjiengeweer op die stoel vergeet. Ek wou Oom nie wakker maak nie, toe vat ek hom maar saam?”
Die man wat Jona mis geskiet het, duik van die skip af en swem om na die rubberboot toe. Die enjin vat dadelik en as Basjan met die .416 uitgestorm kom, is die boot reeds amper ‘n honderd meter weg. Hy trek die tweede loop in die rigting van die man af, maar die skoot is laag en tref die buiteboord enjin. Die enjin staak dadelik en die boot dryf ‘n paar minute. Daarna vat die Mosambiekstroom hom see-in.
Basjan en Jona het ‘n ruk gesukkel om die terugrolmeganisme van die anker aan die werk te kry. Uiteindelik is die anker gelig en die enjins aan die gang. Hulle vaar ‘n entjie verder van die kus af diepsee in en dan draai hulle weer Noord.
“Oom weet, ek hou nie baie van boot-ry nie”.