Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die moderne mens praat deesdae baie meer openlik oor vroeëre taboes – seksualiteit, hartsgeheime ens. Maar praat oor die dood en oor sterwe, dan droog die geselskap op – is dood vir mense 'n verskrikking? Dit hoef nie te wees nie! Ons gaan in die wonderlikste harmonie in nuutopgestane liggame saam met God en Jesus en ál ons geredde geliefdes vir ewig kuier!
BROKKIES UIT DIE BOEK PANIEKLAND (10)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Demas moet teenoor homself erken dat elke konfrontasie wat hy tot dusver gehad het in ‘n mate toevallig was. Hy het geensins beplan toe hy uit die dorp gevlug het, toe hy die manne in die berg ontmoet het, die aanval by die plaas of enigiets daarna nie. Hy het half instinktief opgetree en na regte behoort hy teen hierdie tyd al dood wees. Selfs waar hy die manne gevolg het, waar hy op geskiet is en teruggeskiet het, was geluk aan sy kant. Die twee koeëlgatjies in sy broek en die bloederige streep oor sy been sal altyd daarvan getuig.
Hy weet ook dat hy nooit sal terugkeer na sy ou lewe toe nie. Nie net sal Suid-Afrika nooit weer dieselfde wees en hy na Henning, Vogel en Malherbe Ing. kan terugkeer nie, maar die ou Demas is verby en ‘n nuwe is in sy plek. Dis soos ‘n seisoen wat gekom en gegaan het, nee, eerder soos ‘n wurm en mot wat gemetamorfiseer het.
Hy kan skaars glo ‘n paar maande gelede nog het hy in sy Toyota Corola werk toe gery, die dag met syfers en kolomme deurgebring, saans sy kat gevoer en met tannie Soekie van Breda oor koffiesoorte gesels. Dis nie asof hy ‘n afkeer in sy ou lewe het nie, maar as hy teenoor homself eerlik wil wees, hou hy van wie hy nou is. En nog belangriker, ten spyte van die swaarkry, koud en warm, nat en ongemaklik, in gevaar en deur geweld, die onsekerheid oor wat die toekoms inhou, vrae oor sy kat en sy bure, sy familie en vriende – die paartjies wat hy gehad het – geniet hy hierdie asof dit ‘n duurgekoopte avontuur is.
En hy is nou klaar met geluk en toeval. Hy gaan nou die leisels in eie hande neem.
*
“Pa, kom! Hier is groot moeilikheid!”.
Die ou man word wakker, waar hy op die gemakstoel ingedut het, vat sy haelgeweer en hardloop langs die kant van die huis uit agter sy seuns aan. Die gedreun van ‘n groot diesel wat hard gery word, is hoorbaar en ‘n stofwolk jaag ‘n groot vragmotor op die grondpad.
Die lorrie blyk ‘n tien-ton platbak Mercedes ses-by-ses voertuig te wees, wat gebruik word om pale uit die berg te ry. Die hoë 100 millimeter-dik pale wat regop staan om die vrag op sy plek te hou, is verbind met dunner vertikaal-gelaste pale, om ‘n soort reling te bied vir die klomp manne wat agter-op sit.
Dis moeilik om te skat hoeveel mense daar is, maar die bak sit styfgepak en, sover as die ou man kan sien, steek daar by elkeen se hande ‘n geweer uit, die meeste van hulle die ou staatmakers van al die rewolusies wat Afrika vanaf die verkryging van die eerste lande wat onafhanklikheid gekry het, en wat jaarliks nog plaasvind, AK 47’s.
Die ou man en sy drie jonger makkers beweeg uit op die sypaadjie en rig hulle wapens in die rigting van die aankomende gevaarte. Sowat ‘n honderd meter van hulle af is ‘n uitdraaipad na die voertuig se regterkant en hy draai daarin met ‘n gevaarlike spoed, wat gille van vrees by die passasiers aan die agterkant ontlok. Dit verdwyn tussen die huise aan die voet van die berg in en net die enjingeraas dui aan waar dit nou is.
“Maak julleself maar reg, hy gaan nou terugkom!”
Die gedreun word stiller soos dit wegbeweeg en dan weer harder, soos dit oor die kruisings aan die Noorde verby ry. Dit word stil. Na ‘n minuut of twee kan elkeen hoor dat die enjin deur die ratte skreeu, eerste, tweede, derde, vierde…
Die ou man trek die spangreep van die haelgeweer ‘n paar millimeter agtertoe om seker te maak hy sien die rooi plastiek van die rondte in die kamer. Hy laat gaan die spangreep, druk die veiligheidsknip voor die sneller na die linkerkant toe, staan effens wydsbeen om die skop van die wapen te absorbeer en druk die kolf hoog teen sy skouer, sy oë albei oop en die regter een op die voorvisier gefokus.
Hy sien uit die hoek van sy oë die ander drie ook gereed staan. Hy probeer om vinnige berekeninge in sy kop te maak. Die voertuig self weeg seker omgeveer tien ton, met sê maar sestig manne agter op, elkeen ‘n gemiddeld van sewentig kilogram. Dit werk uit op sowat veertien na vyftien ton, wat teen ‘n bekwame spoed aangejaag kom.
Skielik is daar die geluid van ‘n veel kleiner diesel wat van die ander kant, die suide, aangejaag kom. Is dit ‘n aandagafleier, of wat? Die ou man loop na die punt van die hoek toe, laat sak die wapen effens en kyk verbaas na die ouerige dubbelkajuit Ford 2.5 diesel 4x4, met ‘n bokspringende sleepwa, wat aangejaag kom.
“Ek kan sweer dis…”
Dis inderdaad. Die bakkie verminder net genoeg spoed om om die draai te kan gaan en stop met skreeuende bande en ewe gillende remskoene op die oorkantse sypaadjie. Graspolle en gruis spat kante toe.
Die bestuurderskant se deur vlieg oop en ‘n korterige man met ’n siviele baadjie, gekamoefleer soos jagters dit verkies en ‘n ewe gekamoefleerde slaprand boshoed strompel daaruit, hardloop die paar treë tot ‘n entjie voor die bakkie, kniel op die teerpad en lê met sy geweer aan op die vragmotor, wat nou nie meer as twee honderd meter ver nie in die pad aankom.
Die knal van die geweer is oorverdowend. Baie harder as die 7,62mm’s wat die seuns het en die .303 van die buurman. Die loop klim die lug in, die man trek die slot oop en klap dit toe nog voordat die loop horisontaal af as. Die volgende skoot bulder straat-af.
Die vragmotor lyk onstuitbaar vir nog ‘n sekonde en skielik is dit asof die regter voorwiel onder die ding invou, die hele gevaarte dwars draai in die straat, omval en aangeskuur kom op sy sy. Dit beweeg nog ‘n goeie vyftien meter onder momentum en kom dan tot stilstand.
Langs hom tot op die sypaadjie, is mense gestrooi. Sommiges staan wankelrig op, ander bly lê. Een van hulle kry sy aanvalswapen gespan en vol-outomatiese skote knetter deur die lug. Dis duidelik dat die skut nie behoorlik opgelei is nie, of nog half verward, want die skote tref alles behalwe die teiken.
Die man met die swaar-kaliber wapen trek weer los en hierdie skut lyk asof hy agteroor geruk word as die projektiel hom tref. Die ou man en sy seuns hardloop die ent na die bakkie en sy skut wat weereens op die bondel lostrek.
Die vier van hulle begin gelyktydig losbrand op die aanvallers. Die hele aanval is egter van die baan af, met die lorrie wat, in plaas van deur die heining bars en manne wat op die inwoners lostrek in die blitsaanval, soos beplan, elkeen beseer het en die knalle van die vyf wapens wat nou hulle getalle afmaai, is genoeg om paniek onder die spul te laat losbreek.
Hulle vlieg soos een man om en begin weghardloop. Van hulle skiet vol outomaties agtertoe, oor hulle skouers, na die plek waar die bakkie staan.
Die nuweling vlieg op, hardloop na sy bakkie, skakel aan en jaag agter die vlugtelende manne aan. Hy jaag om die gevalle lorrie, op die sypaadjie, totdat hy amper tussen hulle in is. Skote klap uit ‘n handwapen en nog ‘n paar slaan neer. Die remligte kom aan, die bakkie maak ‘n wilde draai en kom teruggejaag. By hulle rem hy en die deur gaan weer oop.
“Yes, Ouman!”
“Ouman jouself, Len Groenewald!”
Hy draai na sy seuns toe.
“Ontmoet vir Majoor (doktor), Len Groenewald, een van my ou vriende van 116 Bataljon.”
Die drie jongmanne is nog half oorbluf. Een van hulle laat sak sy geweer, steek sy hand uit en groet.
“Aangename kennis, Oom.”
“Ek het die lorrie al ver sien aankom, Ouman. Ek was in elk geval op pad hierheen, ek en my ma. Sy sit nog in die bakkie. Sy is drie-en-negentig-jaar oud, half doof en heeltemal blind. Ons soek slaapplek.”
“En jy het gedink jy kan ongenooid hier uitval, Len?”
“Ah! Maar raai wat bring ek na die paartie toe, behalwe kos, beddegoed en twee honderd liter diesel? Sewe lang gewere, nege handwapens en meer as nege duisend rondtes ammunisie. Lyk asof julle my nodig gaan hê.”
“Dis goed. Jou ma is welkom en jy ook, solank jou kos en ammo hou. Dan moet jy ongelukkig gaan.”
Len glimlag breed, asof hy nou-net die lekkerste en wildste oomblikke van sy lewe gehad het – en heel moontlik was dit - haal sy hoedjie af, staan op sy tone en maak asof hy die ou man wil soengroet.
“Jy het sopas jouself beperk tot die stoepkamer, Len. Sies man! Terloops, waarmee het jy op die lorrie geskiet?”
“Met ou Staatmaker hier. CZ vyf-vyftig in vier-vyf-agt Winchester Magnum.”
“Ook maar goed die lorrie is so groot, dat jy hom met ‘n gelukskoot kon raakskiet.”
“Is julle pa altyd so vriendelik?” vra hy vir die seuns.
“Nee, Oom. Die meeste van die tyd is hy heelwat erger.”