Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus sê dat 'n mens nie 'n maaltyd vir vriende moet aanbied net sodat jy weer genooi kan word nie. Dít, sê Hy, is 'n ruiltransaksie. Maar om mense wat niks kan teruggee nie, te nooi, is egte nederigheid, liefde en diens, en het ewige waarde. God sal omsien na iemand met so 'n gesindheid – Luk 14
BROKKIES UIT DIE BOEK – ROBYN (2)
)
Niemand begroot dat hulle appelkar omgegooi gaan word nie. Tensy ‘n man baie oud is en op genadetyd leef, gediagnoseer is met ‘n terminale siekte, bloot moeg is vir die lewe, of iets dergliks, dink baie min mense aan die dood. Mense begroot vir ongelukskade, medies fondse of versekering, en selfs spaargeld vir die maer jare, maar dis selde dat mense hulleself sien as die slagoffer van moord, aanranding, huisbraak of gewapende roof. Dis goed wat met ander mense gebeur. Jy hoor daarvan, maar dit sal nie met jou gebeur nie.
Op dieselfde manier is die meeste mense van mening dat die staat nie ineen kan stort nie. Tog is daar geen ryk wat te magtig is nie (vra maar die Romeinse burgers), geen demokrasie wat te sterk is nie (kyk na 95% Afrika-state – alhoewel “demokrasie” hier maar bra informeel gebruik word), geen ekonomie wat te kragtig is nie (selfs Amerika het in 2008 baie naby daaraan gekom) en geen leër wat onoorwinbaar is nie – kyk maar na die magtige Derde Ryk van Duitsland, die Engelse met hulle 450 000 teenoor die Transvaalse en Vrystaatse burgers met minder as 60 000, en die Kubaans-Russiese magte van 42 000 teen die skrale 3500 van die ou SAW in Angola, was nie te sterk om te verslaan nie.
Geen staat is beskerm teen ‘n opstandige burgery nie, soos bewys is in 2021 in Natal en Gauteng, en geen organisasie te groot en populêr om nie verslaan te word nie, soos die ANC uitgevind het by die munisipale verkiesings in November dieselfde jaar. Ten spyte van sterk protes tot die teendeel, is geen staatsinstelling te belangrik, magtig of te sterk gesteun dat dit nie kan val nie. Eskom en SAL, Prasa, die Poskantoor, Denel en vele ander is bewyse daarvan.
Robyn het in haar wildste nagmerries nooit hierdie scenario kon voorstel nie. Sy was geborge in Reiner se liefde, sorg, en beskerming. Hulle was nooit ryk nie, maar het gemaklik geleef. Sy was altyd veilig en het veilig gevoel. As sy nou egter deur sy notas en instruksies lees, kan sy sien hoe noukeurig hy elke ding wat sy nodig kon kry voorsien het. In die pakkamer is daar letterlik honderde blikkies kos, vanaf groente, boontjies, vleis en ingemaakte vrugte. Daar is ook meel; mieliemeel vir pap en koekmeel, rys en bottels en bottels water. Sy wonder onwillekeurig hoeveel dit gekos het en waar hy die geld afgeknyp het elke maand om dit te koop. Sy ervaar ‘n groot verlange, ‘n gevoel van magtelose eensaamheid en sy moet haarself tot orde roep om nie in selfbejammering te verval nie.
Buitekant is daar ‘n gerumoer. Die honde begin blaf en Saar staan teen die vensterbank in die voorhuis op, knor en grom, met ‘n blaf hier en daar. Haar hare staan teen haar skof en rug op, soos ‘n borsel en haar tande ontbloot sy in woede.
Vlekkie lyk asof hy ‘n epilepsie gaan ervaar so woedend is hy. Buitekant die hek, aan beide kante van die huis se hoek, loop ‘n stroom mense verby. Sommige ruk aan die hekke en loop dan aan, ander bly ‘n paar minute en kyk of hulle iets kan sien om te vat, hetsy om te verkoop of eet.
Robyn, wat vir drie dae nou al nie uit die erf was nie, wat geen verdere kommunikasie per selfoon gehad het, of enige ander manier nie, al laai sy die ding se battery wanneer sy die gennie aanskakel, het geen manier om te weet hoe haglik die situasie is nie.
Miskien het Eskom bloot net moed opgegee en gestaak weens ouderdom, swak onderhouding, swak gehalte steenkool, of wat ookal. Miskien as gevolg van sabotasie of so iets. Wat ookal die oorsaak of oorsake is, die hele land het soos ‘n massiewe masjien gestop en gaan lê.
SASSA kon nie uitbetaal word nie (as daar nog geld sou wees). Water en riool, kos, alles, maar alles het binne ‘n paar dae opgeraak en miljoene hongeres het die strate ingevaar op soek na iets om te eet.
Die huis waarin Robyn bly, is netjies en versorg en dit alleen is genoeg teken dat daar iemand binnekant is. Waar iets te ete gekry kan word, moet dit gevat word en die stroom mense gaan nie sommer weggaan nie.
Die nare waarheid tref haar – as daar soveel mense is en hulle sou die hek afbreek en inkom, hoe gaan sy hulle met net die ses rondtes weghou? Ja, dis ‘n fris kaliber en sy sien kans om dit weer te gebruik, maar wat nou as haar koeëls opraak? Hoeveel kans gaan sy hê om dit te herlaai?
Vasberade loop sy weer kluis toe en haal die haelgeweer uit. Dis ‘n ouerige Mossberg model 90 pompaksie geweer en sy weet absoluut niks daarvan af nie. In genoeg aksie-flieks het sy al gesien hoe ‘n mens die voorste handgreep agtertoe en vorentoe pluk, maar behalwe om dan die sneller te trek, weet sy niks nie. Het die ding ooit patrone in? Aan die linkerkant van die aksie is ‘n plaat vasgeskroef met ses rondtes in plastiekhouers, maar sy weet uit die staanspoor dat hulle nie in die geweer gelaai is nie.
Sy trek versigtig die handgreep agtertoe en ‘n rondte pop uit die kamer van die geweer. Wat nou? Sy druk dit vorentoe en sien hier langs die kant, waar die ander een uitgeval het, word ‘n ander een in die kamer gedruk. As sy die aksie weer wil werk, kom sy agter hy beweeg nie. Met die wapen omgedraai, kan sy sien daar is ‘n ronde koper agterkant van ‘n rondte wat sigbaar is. Agter dit is ‘n plaatjie en as sy hard genoeg daarteen druk, beweeg dit opwaarts en sy kan die plek onder die loop sien waar dit ingelaai kan word. Of so dink sy. Hoekom het sy nooit geluister as Reiner haar wou leer om te skiet nie?
Sy tel die vet, plastiek en brons, gevalle rondte op, druk dit agter die een in die magasyn in, maar nie ver genoeg nie en dit spring weer uit. Met die tweede probeerslag klik dit in plek. Ja! Maar nou, as die aksie nie wil werk nie, wat het fout gegaan?
Sy karring hier en daar met ‘n knoppie, sien ‘n knippie aan die bokant van die kolf, met ‘n rooi en wit kolletjie, wat sy vorentoe en agtertoe kan druk. Nou goed, wat nou? Gaan die ding baie skop, soos sy al gehoor het? Met al die gewerkery aan die wapen, druk sy per ongeluk die sneller en ‘n geweldige slag vul die kamer. Die geweer skop uit haar greep uit en val op die bed, maar dis nie al nie. Die tromp van die loop was minder as ‘n meter en ‘n half van die slaapkamer se muur af en nou is daar ‘n gat ingeskiet, deur die verf en pleister, en ‘n ent in die baksteen in. Dis kleinerig, minder as sestig millimeter in deursnee, en sowat vyftig diep, asof iemand ‘n halfmaan daaruit gekap het.
Terwyl haar ore nog tuit, sit sy haar regterhand se wysvinger in die gat. As dit is wat die ding aan ‘n muur kan doen, wat gaan hy aan ‘n mens se lyf maak? Eers oorweeg sy om die geweer weer terug te sit in die kluis, maar byt dan op haar tande, stoot haar ken effens uit en tel dit weer op.
Die aksie is nou los en sy kan ‘n nuwe rondte in die loop laai. Met ‘n ander een in die magasyn, sien sy langs die sneller is ‘n pennetjie, so ses millimeter wyd en drie dik, en as sy hom indruk, kan die aksie weer werk. Yes!
Nog steeds ‘n bietjie benoud en met ‘n groot sekermaak dat die loop weer na die muur wys, werk sy die aksie, weer en weer, totdat al die rondtes in die geweer op die vloer lê. Daar is ses altesaam. Versigtig, maar hierdie keer besef sy die ding aan die bokant van die geweer is die veiligheidsknippie en as sy hom agtertoe trek, is hy veilig en laai sy weer al die rondtes, selfs die een in die loop.
Sy druk die kolf teen haar skouer, sien daar is nie ‘n agterste visier soos die rewolwer nie en maak asof sy skiet. Die kolf is ietwat te lank vir haar, maar sy is seker sy sal dit kan hanteer. Of dit haar ook onderstebo gaan skop, weet sy nie, maar sy hou van die gevoel van die wapen en natuurlik van daardie intimiderende “klik-klak” geluid. Nou maar goed, sy weet nou hoe hierdie een werk – wat van die geweer met die teleskoop op? Nee, sy sal anderdag daarna kyk.
Met die rewolwer in haar gordel en die haelgeweer in die arms, loop sy deur die huis, kyk waar die veiligste plek is en besluit dis in die bad. Sy gooi ‘n paar komberse onder in, met ‘n laken bo-op, haar kussings en duvet, klim sy in die bad. Dis lank genoeg, net omdat sy ‘n klein vroutjie is, maar as sy wil uitklim, besef sy hoe moeilik dit gaan wees in ‘n noodsituasie en besluit om dit net as ‘n laaste uitweg te gebruik.
Skielik besef sy hoe sleg die huis gebou is as dit by veiligheid kom. Daar is amper geen plek in die huis waar sy nie onder skoot kan kom hetsy deur ‘n deur of venster nie, behalwe op net een plek in die sitkamer. Daar is sy blootgestel aan binnedeure, maar nie aan ‘n venster of buitedeur nie. die ander plek is in die opwaskamer, langs die wasmasjien.
Sy sleep Reiner se gemakstoel met die uitskop beenrus na die plek in die sitkamer, kry vier ekstra pakke haelgeweer-rondtes en ‘n vyftig-rondte pak vir die rewolwer, ‘n pak beskuit, koekies, en tien vyf honderd milliliter waterbottels, sit dit waar sy dit maklik kan bereik en uiteindelik maak sy haarself gemaklik op die stoel.
Dis al laatmiddag en word koeler. Met ‘n kombers oor haar, die voetstuk uitgeskop en die dag se opgewondenheid, inspanning en stres agter haar, raak sy aan die slaap, net om ‘n uur later wakker te skrik. Dis nou donker, pikdonker, sonder die straatligte, die bure se buitelig en die maan is nog nie op nie.
Sy loop versigtig en nie ‘n bietjie bang nie, deur die huis. Skielik besef sy sy het van ‘n flits vergeet en kry die sterk drie-sel LED Sniper-flits wat Reiner altyd langs sy bed gehou het. Sy trek die gordyne toe en gaan sit weer op die stoel.
Iets in haar onderbewussyn pla. Wat van brand? Sê nou net iemand gooi ‘n petrolbom deur een van die vensters? Sodra sy weer gaan sit, hierdie keer met die groot brandblusser byderhand, besef sy die diere het nog nie geëet nie. Uiteindelik sit sy weer en hoor die honde knaag aan die pille wat sy vir hulle uitgesit het, die drinkwater naby in ‘n bak, en probeer ontspan.
Reiner het vir alles gesorg. Hy het haar versigtig voorberei vir alle gebeurlikhede, ook vir ‘n anargietoestand soos tans, met al die kos, water en skietgoed wat hy kon kry, met die kragopwekker, dik diefwerings aan die vensters en stewige veiligheidshekke, medisyne en noodhulpsakke, ja alles wat hy aan kon dink. Maar hy het haar nie voorberei vir die een ding wat sy nou die nodigste het nie: rus. Sy is tot in haar siel toe moeg en sy weet instinktief dat sy vir ‘n baie lang tyd nie weer deur ‘n volle nag sal kan slaap nie, sy sal altyd op haar hoede moet bly en nooit ‘n oomblik kan skietgee nie. Sy is moeg.