Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ronald Reagan het oumense teen huigelaars gewaarsku en gesê: As mense jou begin vertel hoe jonk jy lyk, is dit maar net ‘n ander manier om te sê dat jy deksels oud word!
BROKKIES UIT DIE BOEK – OUMANSLAND (4)
)
Dis asof die afgelope dertig jaar van hom afgegly het. Maans Bredell is weer ‘n spesmagte-lid. Hy is ‘n operateur, wat in die geheim beweeg, min of geen spore laat nie, van die veld leef en vir die owerhede hoofbrekens besorg.
Die stewels wat hy van Dawie gekry het, het hy sporadies ingeloop en die eerste twee weke dit afgewissel met sy ou, ingeloopte tekkies. Hy het na die tweede dag ‘n waterblaas ontwikkel op sy linker hakskeen en het laag gelê totdat dit gesond was. Nou beweeg hy met beide stelle skoene vinnig en amper geluidloos. Hy het in die berg ingesmelt, die omgewing so ver as vyftien kilometer na alle rigtings verken en skuilplekke gaan uitsoek. Hy is verbaas oor die hoeveelheid bosbokke, bosvarke, tarentale en ander kleinwild wat in die berg bly.
Hy het nog niks geskiet nie, want sy enigste wapen, die rewolwer, het ‘n knal wat sal dawer teen die klowe en kranse. Hy leef van die biltong, beskuit, eetbare plante en knolle, bessies, vis wat hy met ‘n stuk kabel en ‘n gebuigde haakspeld vang. Hy drink uitsluitlik water. Maans was nog altyd redelik skraal en fiks, maar nou, op drie en vyftig, is hy gehard, fiks en hy het die laaste paar onse vet afgegooi.
Lank gelede was SWAPO, FAPLA en die ANC-insypelaars Maans se vyande. Gedurende daardie tyd het hy deur die digte bosse en savannas van die Grens en vir ‘n wyle tussen Alldays en Messina geopereer. Toe was hy natuurlik jonger en het uitgesien na ‘n vrou en kinders, ‘n loopbaan, ‘n huis en ‘n kar of twee van sy eie.
Dis nou van hom af weggeneem en die vyand is nou nie meer die mense wat van buite die grense af ingekom het nie, maar diegene wat sy vrou en kinders van hom af weggevat het. Hy glo in vergewe, maar nie vergeet nie. Lankal was sy ekskursies in die bos tydelik en daar was logistieke steun vanaf die regering. Nou is dit permanent en die regering kan hulle steun maar los.
“Forgive your enemy, but remember the bastard’s name.”
Met die verkenning en voorbereiding afgehandel, is Maans besig om terug te beweeg dorp toe.
“En vanaand moet hulle rondkyk!”
*
Basie Froneman staan in die polisiestasie. Hy is jonk, stewig – amper geset - met ‘n baard wat tussen yl en vol wissel. Sy arms is bruingebrand, hy dra groen bosklere en die onderkant van ‘n rewolwerloop steek onder sy moulose baadjie uit. ‘n Verveelde polisiesersant kom uiteindelik na hom toe.
“Yes, how may I help you?”
Basie kyk met afkeer na die pet wat hoog bokant haar kop sit. Sy het ‘n hooggestapelde bolla van kunshare op haar kop. Haar oë is donkerblou gegrimeer, lippe helderrooi en sy is baie stewig gebou.
“Hulle moes seker vir haar ‘n uniform laat maak,” dink hy. Dan antwoord hy in sy beste Engels.
“Captain, I would like to make a case of burglary and theft from my store at the farm Spuitfontein.”
“Hokei. Fill this form in.”
Nadat Basie sy naam en ID nommer ingevul het, skryf sy stadig en met groot, ronde letters sy klagte in.
“Is something broken or stolen?”
“Yes, the lock is broken.”
“What kind of lock?”
“Does it matter? A hanging lock.”
“You mean a ‘padlock’?”
“Yes, okay, a padlock.”
Sy gaan aan met skryf. Uiteindelik kyk sy op.
“What is stolen, and what is it worth?”
“A twenty five kilogram bag of fertilizer. I don’t know what is it worth.”
“Hokei. We will look into your complaint as soon as a vehicle is available.”
Nie een polisieman het ooit opgedaag nie.
*
“Phineas, waar is die ekstra kan diesel, wat daar in die klein stoor moet wees?”
“Die een van die trekker?”
“Ja, man. Ek het hom nog gister daar gesien. Net ek en jy het ‘n sleutel vir die slot en ek het hom nie gevat nie.”
“Hau. Ek weet hy was daar. Nou vandag ek soek hom ook, ek soek hom, ek kry hom – hy is weg! En, meneer, die nuwe groot draadtang en die handbyltjie – ook nie daar nie.”
“Gaan soek totdat jy hom kry.”
Maar in sy hart weet hy die kan sal nooit weer gevind word nie. Wie het werk vir twintig liter diesel, ‘n handbyltjie en ‘n tang, en sal soveel moeite doen om net dit te steel as daar soveel ander waardevolle gereedskap beskikbaar is?
*
“Nee, hel man! Jy kan nie ernstig wees nie.”
Dawid staan met verbasing en ‘n stukkie afgryse en kyk na die voertuig wat Joe aangebring het. Dis ‘n laat sestig model MAN ses-by-ses lorrie waarop ‘n waterboor gemonteer was. Dit het nie ‘n enjin of ratkas in nie, maar wel die aste, bakwerk en selfs die sitplekke. Hy het dit met sy Isuzu aangesleep en op ‘n ander bakkie se agterkant lê ‘n nuwerige geel enjin en ratkas.
“Ek is, boet. Ek het ‘n Cat V8 diesel wat uit ‘n slootgrawer kom en ‘n agtspoed-ratkas. Die oordrakaste is nog daar, so dis nie ‘n ondoenbare projek nie.”
“Weet jy hoeveel dit gaan kos om klaar te maak? Waarom gaan koop jy nie vir jou ‘n Samil 100 by Wallmanstal nie. Dit loop klaar en sal jou helfte minder kos.”
“Luister, Dawid. Ek het jou nie gevra om afslag te gee nie. Al wat ek wil hê, is dat die ding moet loop. Het ek genoem dit het klaar nuwe remme op en ‘n kragstuur?”
“Wat wil jy met hom maak?”
“Jy weet mos Maggie is bang vir die veld. Nou het ek gereken as ek my karavaan agter-op kan vasmaak, dan hoef sy nie bang te wees nie. Ons kan ons huis amper saamvat bos toe.”
“Joe, ek wil nie op jou parade reën nie, maar jou karavaan sal nie hou tot deur die drif nie. Dit sal nie werk nie.”
“Nou wat dan?”
“As jy geld het, laat Dirk vir jou ‘n ding agter op bou. Hy kan hier werk, terwyl ek die meganiese goed doen, dan vat dit nie so lank nie. Maar waar gaan jy al die geld vandaan kry?”
“Ek en Maggie het ons commit hiervoor. As niks gebeur nie, dan het ons ‘n wa om die land mee te gaan toer en al die kos wat ons opgegaar het, gebruik ons dan. Ons kan van skietbaan tot die volgende ry en al die ammo uitskiet. Sien dit as die kinders se erfporsie, alhoewel hulle dit nie sal wou gebruik nie. Hulle is mos almal al in Kanada of Nieu Zeeland.”
“Jy antwoord my nie – waar kry jy die geld?”
“Soos ek gesê het, ons is hart, long, pankreas, lewer, bekkenbeen en tong in dié ding in. Ons het ‘n lewenspolis of twee afgekoop. Daar is oorgenoeg geld.”
Hy loop die werkswinkel in.
“Hel, dis mooi! Wat is dit?”
“Dis Nick se jeep. Dis ‘n 1964 Jeep Gladiator J3000. Vandat hy daardie lelike ding van Deon gesien het, daardie geel-bruin een, wou hy ook amper so-iets hê. Hierdie een het ons korter gemaak, die bak aan die kajuit vasgesweis, met ‘n GM 6,5 Turbo V8. Dit het nou ‘n wielbasis van twee komma vyf vier meter, of soos in die ou dae: een honderd duim. Behoort lekker te loop.”
“Maar daardie kleur? Boggelblou?”
“Nee, ons sal hom ook maar bruin of groen maak. Gee tyd.”
“Dawid – hoeveel tyd het ons?”
“Nee, man, ek weet nie. Miskien ‘n jaar - miskien ‘n week. Ek weet nie. Miskien gebeur dit nooit. Ek is nie ‘n profeet of politikus nie.”
“Dawid, weet jy, ek voel bloot simpel oor die hele ding. Die fiksword, skiet, reg eet, karre bou… en heel moontlik is daar niks erg aan die kom nie.”
“Soos jy sê Joe. Miskien gebeur niks. Dan het ons baie opgegaarde kos, kan lekker gaan skyfskiet en jag, het lekker karre om mee te gaan rondry. En die ander bonus is natuurlik dat ons almal maerder en gesonder is. Maar my eie gevoel? Ek dink ons is in vir iets. Iets baie onaangenaam.