Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Soos ons ouer word verwyt ons onsself dikwels vir tyd wat nie reg gebruik was nie, verlore gegaan het omdat ons onbelangrike dinge gedoen het – baie mense sal eendag by God hoor dat hulle baie dinge goed gedoen het waarvan hulle nooit eers bewus was nie.
BROKKIES UIT DIE BOEK – OUMANSLAND (6)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Ten spyte van voorbereiding, kennis van die landsomstandighde, gesprekke daaroor, objektiewe waarneming van die situasie en alles wat daarmee gepaard gaan, het die aanslag heeltemal onverwags gekom.
Hoe dikwels het hy nie die moontlike scenario in sy kop laat afspeel nie, hoe hy homself en sy vrou en kinders sou beskerm met vaardigheid en paraatheid. Hoe hy sy wapen outomaties en instinktief sou laat geld. Waar hy sal staan, hoe sy waarneming van die situasie sou wees en hoe hy sy pad daaruit kon losveg. Hy kon homself sien omring deur lyke van die vyand, terwyl die nege millimeter skoot na skoot tussen hulle instuur; hoe hy magasyne ruil en koel en kalm baklei.
Die probleem met ‘n denkbeeldige en selfs ‘n situasie wat in jy in jou fantasieë laat afspeel, is dat daar ‘n groot verskil tussen dit en die werklikheid is. In realiteit is daar bewuswees. Daar is geluide, reuke, dinge wat beweeg en onvoorsiene gewaarwordings.
Dis maklik om altyd die held in jou fantasie te wees, maar in die hier-en–nou is dit nie so maklik nie. Daar is nie ‘n reset opsie in hierdie speletjie nie en die besluite wat jy in ‘n breukdeel van ‘n sekonde moet maak, sal gevolge dra wat die res van jou lewe aan jou gehaak is.
Petrus het feitlik elke opleidingsgeleentheid, braai, gesprek en debat meegemaak. Hy beskou homself as in beheer van elke moontlike situasie. Hy weet wat die reg sê en bepaal in die geval van noodweer en hoeveel hy mag en nie mag nie. Hy is nie grootpraterig nie, maar baie selfversekerd. Sy CZ 75 aan sy regterkant is skoon en ge-olie, met die drie ekstra magasyne aan sy linkerkant. Sy Fortuner se bande is nuut en hy het ‘n nuwe, sterk buffer laat aanbring om vir hom die geleentheid te gee om voertuie wat sy pad blokkeer weg te stoot, indien nodig.
Vandag is hy tussen Rustenburg en Kroondal, op die Ikemelengweg. Hy en sy vrou, Tracie, is op pad om haar ma te gaan haal vir die maand en, alhoewel hy nie daarna uitsien nie, geniet hy die rit.
Hy is op hoogte van die onlussituasie in die omgewing, maar is nie bang nie. Om die waarheid te sê, (en hy sal dit met niemand deel nie) is daar ‘n deel van hom wat oorgretig is om dit té naby aan gevaar te waag. Hy sal nie eens teenoor homself erken dat hy moeilikheid soek nie, maar dis eintlik deel van sy optrede.
Hy ry nie vinnig nie, sowat sewentig kilometer per uur en wanneer hy die rook voor hom sien, bereken hy die gevaar en besluit dat hy nie sal wegdraai nie. Hy hoor Tracie se gedempte uitroep en oomblikke later is hy tussen die groot klippe wat op die pad uitgepak is, met brandende buitebande langs die kant.
Waar die skare vandaan gekom het, sou hy nooit uitvind nie. Hy het stadiger gery om tussen die klippe deur te ry en bo-oor die kleineres, toe die eerste halwe baksteen sy agterste kantruit tref. Dit spinnerak en fyn splinters tref hom effens. Dit trek sy aandag ver genoeg van die pad af, dat hy oor ‘n te groot klip ry en die Toyota tot stilstand bring.
Die skielike besef dat dit nou dít is, die oomblik van waarheid, is te veel om te verwerk. Al die besluite, wat maklik is om in ‘n debat te bespreek, in jou gemakstoel as jy dagdroom, in jou sekerheid as jy die situasie in jou denkbeeld voorstel, is skielik te veel vir Petrus.
Hy besef die gevolge van skote op mense aftrek maar terdeë en dit laat hom die fatale fout maak om te huiwer. In terugskouing sou hy by sy volle reg wees om te skiet: sy lewe en diè van sy vrou is aktueel bedreig, hy het nie ‘n ander opsie nie, en alles wat daarmee gepaard gaan.
Hy het sy pistool uitgetrek, die venster laat sak, die veiligheidsknip afgehaal, sy visiere op die naaste aanvaller opgelyn – en toe huiwer hy. Hy dink aan die gevolge, die onherroepelikheid van die skoot aftrek, die nadraai in die howe en hy trek nie die sneller nie. Die gesiglose vyand het skielik een. Dis welliswaar ‘n gesig vertrek van haat en woede, met siedende, nydvervulde oë, maar ‘n gesig nietemin.
Die naaste man aan hom slaan met ‘n stuk pyp na die pistool, tref vir Petrus teen die gewrig en die wapen val uit sy hand uit. Die oopruk van die kardeur, die uitsleep van hyself en Tracie geskied in ‘n waas. Hy weet nie of hy gepleit het nie, probeer terugveg met sy kaal hande teen ‘n oormag nie. Die laaste ding waarvan hy bewus was, is die vreeslike pyn op die bokant van sy kop waar die pyp hom getref het.
Petrus en Tracie Knoetse word ‘n stukkie statistiek, waar onluste, brandende motors en verkoolde liggame ‘n bylyn in die media is.
*
Dae word weke en weke maande. Die padda waarvan Ramaphosa in 1994 gepraat het, kom vireers nie agter hoe die pot nou begin kook nie. Dis ‘n luilekker gevoel vir party mense om maar net doelloos in die pot te swem, die warm water te geniet en dink alles gaan mettertyd regkom. Die oorgrote meerderheid dink steeds alles gaan goed uitdraai.
Al meer en meer is daar egter groepe onder die blankes wat skielik begin besef iets is meer as net nie pluis nie. Dis soos ‘n man wat ‘n blou-aap van kleins af grootmaak en alewig dink die dingetjie is skadeloos. Al vertel sy vrou en kinders hom dat die aap hulle soms byt, glo hy dis omdat hulle nie weet hoe om met hom te werk nie. Totdat hy eendag die apie streel en vertroetel en self gebyt word. Dan ruk hy sy hand terug en besef hy kan nie makgemaak word nie. Dat agter die oënskynlike makheid en welwillendheid daar iets gemeen en wild skuil.
Ramaphosa se paddas begin een-een uit die kookpot spring. Verwilderd, bang, ontnugter, kwaad. Die sielkundiges sal vertel dat hierdie emosies dikwels gepaard gaan met afkeur en haat.
En ongelukkig is daar sommige mense wat nou begin kies tussen die Christelike wang-draai en vergelding, in plaas daarvan om te sien dat die Here ook hiermee ‘n plan het en dat jy nie vir die een of ander hoef te kies nie.
En in die middel van hierdie gemors sit mense wat dit lankal reeds verwerk het; mense wat al van voor 1992 gesien het dat die nadraai van die hele politiese oorgawe onmin, ongedurigheid, wetteloosheid en ongebreidelde hebsug gaan wees.
Sommiges is radeloos gepleit, gewaarsku en keelvol vir praat. Ander besef dat die enigste oplossing gaan wees om hulle eie mense te probeer wakker maak en, sonder om van Bybelse beginsels af te wyk, hulle aan te spoor om gereed te maak. Gereed waarvoor? Miskien kan ‘n ligte struweling en orde herstel word, maar dis ook moontlik dat algehele chaos, wanorde, en geweld die rewolusie waarvan politieke leiers so graag praat, sal vergesel.
*
Die somerreëns het ongemak gebring vir die mense in die berg, maar wonder bo wonder het niemand siek geword nie. Natuurlik is Riëtte en Die Man nog jonk en die ontbering van hier bo bly, maak hulle gehard en sterk. Die skoon lug en gesonde lewensstyl, gepaardgaande met baie oefening, help natuurlik ook.
Maans en Johnnie is egter nie wat ‘n mens “jonk” sou noem nie, maar die lewenspatroon dra nou vrug. Waar elkeen van die vier ‘n paar maande gelede nog ‘n bietjie sagtheid om die middelrif gehad het en spiere wat nie oefening gewoond was nie, is hulle nou skraal, sterk en fiks. Party dae loop hulle kilometers en ander kere sal hulle vir ‘n paar dae op die selfde plek oorbly, maar nooit meer as ‘n week nie.
‘n Swerwersbestaan is nou ‘n oorlewingswyse. Natuurlik is die kos wat hulle aanvanklik gehad het, lankal op en hulle leef uit die veld. Maans het in die tyd wat hy amptelik ‘n soldaat was, heelwat geleer by die ervare Spesmagte se oumanne. Johnnie Theron was ‘n infanteris, maar hy staan nie ‘n treë agteruit vir Maans wat fiksheid, vasbyt en paraatheid betref nie. Tussen die twee het hulle ‘n magdom kennis wat oorlewing in die veld betref.
Johnnie was ook lankal weg van die beskawing, voordat hy hom by die klompie aangesluit het en weet meer van die ligging en gevare van die berg. Hulle weet wat eetbaar is tussen die talle plante en bome van die bosveld en berg. Hulle weet watter kruie en bas vir medisinale gebruik aangewend kan word. Hulle weet hoe ver die menslike liggaam in staat is. En bo alles, weet hulle hoe om die natuur te gebruik om weg te kruip, stil en ongesiens te beweeg; ja, om uiteindelik amper onsigbaar met die omgewing saam te smelt.
Die vier mense respekteer mekaar, vul mekaar aan, help as dit nodig word, bemoedig indien moedeloosheid sy nare kop uitsteek.
Vanoggend loop hulle teen een van die steiler hellings van die berg uit. Voor loop Maans met sy rewolwer en nuut-aangeskafte .270 Musgrave. Agter hom is Riëtte met ‘n .243 Mannlicher, dan volg Johnnie met ‘n R4 en nege millimeter en heel agter Die Man met sy .308. Tussendeur beweeg Joe, die rooikat soos ‘n skim.
Hierdie vyf wesens is een van die gevaarlikste groepe ter wêreld. En die vyand sal dit weldra agterkom.
*
“Dawie, jy het laas vir my gevra waarvoor moet daar betaal word. Nou is Petrus en Tracie-hulle ook vermoor. Moet ons dan nou sit en wag dat ons een-een uitgemoor word?”
“Ek het dit mos nie gesê nie Pokkel. My hart is net so seer soos joune oor hulle.”
“Nee, Dawie. Ek meen dis nou genoeg! Ons moet iets begin doen.”
“Pokkel, sit hier, ja op die drom. Dan praat ons nou soos grootmense. Jy sê hulle moet betaal. Die vraag is nou: wie is ‘hulle’? Is dit al die swartmense? Kyk nou maar daar vir Amos. Hy werk al by my vandat ek my eerste shop oopgemaak het, dertig jaar gelede. Hy het werktoe gekom toe daar ‘n strike was en ‘hulle’ het hom uitmekaar gebliksem toe ‘hulle’ dit uitvind. En weet jy wat? Hy was die volgende dag weer hier, stukkende plekke, uittande, geswelde oë en al. So, hy het ook onder ‘hulle’ deurgeloop. Volgende vraag: waarvoor moet ‘hulle’ betaal? Is dit omdat jy hartseer is oor Petrus en Tracie? Of is dit net omdat dit weer te naby aan die huis gekom het? Ek vra weer – hoe betaal iemand vir ‘n ander se lewe? Jy kan nie. En dan nou die ding waarmee ek rondloop. Voel ons mense moet betaal omdat Perus-hulle dood is, of moet hulle betaal vir ons, wat kwaad is. Verstaan jy? Moet ‘hulle’ betaal vir ander se lewens, of vir ons vrees en woede en hartseer?”
“Dawie, ek dink sommer vir alles. En as julle te slapgat is, sal ek self begin payback vra.”
“Hoe? Gaan jy die huisbediende skiet? Of gaan jy die hele vyftig miljoen swartmense doodmaak? Dink man!”
“Nou wat dan! Moet ons net op ons agterente sit en wag?”
“Nee. Dis nie wat ek sê nie. Ons maak reg vir die tyd waneer dit op ons afgedwing word, en glo my, dis nie ver weg nie. Sê my bietjie, Pokkel, wanneer laas het jy ‘n bietjie geoefen? Is jy fiks? Het jy opgehou rook? Drink jy nog so baie Coke? Ons het jou lanklaas op die skietbaan gesien.”
“Nou wat daarvan?”
Dawie sug.
“Pokkel, as daar nou ‘n krisis uitbreek, is jy ‘n las vir ons, in plaas daarvan dat jy die ‘hulle’ kan laat betaal. Kry jou huis eers in orde, voordat jy jouself in die moeilikheid kry.”
*
Die krans weerkaats die hitte van die vuurtjie terug na hulle toe. Agter hulle is ‘n ruie boskasie, wat maak dat die gloed nie verder as vyftien meter gesien kan word nie. Die oorhang van die kransvy se blare keer dat die rook in ‘n kolom boontoe gaan, maar sprei dit uit tussen die takke.
Hulle het vandag ver geloop en elkeen voel die moegheid van die loop, klim en teen laatmiddag struikel oor die los klippe teen die helling op. Riëtte het mieliepap gemaak en Maans het ‘n stuk baie droë biltong fyngemaak, wat hulle daarin gemeng het. Hulle sluk die laaste van die maal af met ‘n bietjie Oros, aangemaak met vars fonteinwater. Vir ‘n hele ruk sê niemand iets nie. Elkeen is besig met sy eie gedagtes. Dan maak Johnnie sy keel skoon.
“Riëtte, ons het gepraat.”
“Wie is die ‘ons’?”
“Ek en Maans en Die Man.”
“As julle sonder my gepraat het, veronderstel ek dat julle oor my gepraat het?”
“Ons het.”
“En…?”
“Ons is nie meer ver van die Dorp af nie. Miskien nog so twee dae se loop. Dan wil ons hê jy moet daar bly. Die Man se pa is nogal half in beheer daar en hy sal sorg dat jy ‘n plekkie kry.”
“Is dit so? En wie sê ek wil daar bly?”
“Ons sê so. Jy is nou al vir weke, nee, maande by ons. Die winter kom aan en jy moet versorg word.”
“Hoe bedoel jy: ‘versorg word’? Is ek vir julle ‘n las?”
“Nee, maar…”
“Word ek gouer moeg? Moet julle my abba of saamsleep? Dra ek nie my eie toerusting nie?”
“Ja, maar dis onbetaamlik vir ‘n mooi jong vrou om saam met drie manne in die berg te wees.”
“Hoe so? Loer julle my af as ek was of bad? Gaan een van julle my dalk een aand misbruik?”
“Glad nie! Hoe kan jy so dink?”
“Nou goed. Het ek weggehardloop as daar geveg word? Ek skiet beter as jy of Maans. Dis net Die Man wat beter is.”
“Asseblief, Riëtte! Dis vir jou eie beswil.”
“Nee, dit is nie. Vir die eerste keer vandat Die Moeilikheid begin het, voel ek veilig. Ek het vriende, ek het ‘n rigting en doel. En julle wil dit wegvat?”
Daar is ‘n hele paar minute stilte. Riëtte kyk stip na die krans oorkant die vuur. Daar is ‘n effense blink in haar oë soos sy die trane terughou.
“Jy is reg, Riëtte. Ons is selfsugtig. Jammer,” sê Maans. Die Man sê niks, maar knik effens sy kop instemmend.