Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom is ons bang vir die dood as ons weet dat ons geliefdes op ons wag? Om met hierdie wete te sterf, is in werklikheid ʼn wonderlike avontuur!
BROKKIES UIT DIE BOEK – OUMANSLAND. (8*)
)
Die vier het die skote van ver af gehoor. Dit klink dof en onwerklik, amper soos springmielies in ‘n pot. Maans het dit ‘n fraksie van ‘n sekonde voor die ander gehoor en hy staan stil en luister. Die wind draai in hulle rigting en die skote is nou meer hoorbaar.
“Luister!”
“Wat is dit?” vra Riëtte.
“Geweerskote, baie en vinnig op mekaar. Semi- en voloutomatiese geweervuur.”
“Van waar af?”
Sonder om te antwoord, loop Maans vinniger. Die ander hou by en na enkele minute is die geluide duideliker en harder.
“As ek sou moes raai, sou ek sê dit kom van Hanglip, of daar naby af.”
“Waar is Hanglip?”
“Dis die krans bokant die Dorp. Ons is nie baie ver daarvandaan nie.”
Hulle versnel hulle pas. Nie een van hulle weet regtig wat aangaan nie, maar instinktief weet hulle daar is moeilikheid en hulle moet nader kom.
Die vier is skraal, fiks en sterk. Johnnie bied aan om Riëtte se sak of geweer te dra, maar sy weier. Sy is al moeg, maar wil nie hê iemand moet later kan sê sy kon nie byhou nie. Hulle kom by die laaste hoogtetjie net bokant die N1 afgedraf en die geluid van die skote is nou duidelik en hulle kan selfs die swaarder knal van gewere nader aan hulle hoor.
“Iemand skiet terug.”
‘Ja, dit klink asof dit vanaf die piekniekplek onderkant Hanglip kom.”
“Moet ons soontoe gaan?”
“Nee. Dit sal nie help nie. Ons moet eerder verbygaan. As ek reg is, kom die skote van die lugmag se radarstasie bokant hulle.”
Die vier is nou op die Bluegumspoortpad en hulle loop vinnig en gemaklik. ‘n Ent verder kan hulle na hulle linkerkant sien dat ‘n klomp mense bo-op die kruin van die eerste berghelling bly. Hulle kan ook nou duidelik uitmaak dat die skote inderdaad van die kranse by die radarstasie kom. Maans wys dat hulle moet stilstaan.
“Ons kan probeer om met die sementpad op te hardoop. Ek dink nie iemand sal dit dophou nie. Hulle aandag is op die mense daar onder.”
Die diep gebrul van ‘n V8 diesel is skielik hoorbaar en ‘n wit Land Cruiser dubbelkajuit jaag by hulle verby en ‘n paar honderd meter verder draai dit links teen die berg op.
“Wie de…”
“Dis selfmoord om so oop en bloot teen die pad op te jaag! Wie sou so iets simpel doen?”
“Kom! Ons moet gou maak.”
Die gebrul van die groot enjin kom en gaan, soos dit agter bosse en om draaie buite hulle sig en gehoor verdwyn. ‘n Halfminuut later is daar ‘n slag, gevolg deur nog een en dan ‘n effense stilte. ‘n Harde slag, as die voertuig die onderkant van die krans tref, is duidelik in hulle ore.
“Soos ek gesê het!”
Waar hulle buite sig van die mense aan die bokant van die pad is, loop en draf die vier berg uit. Sodra die dekking egter minder is, loop hulle deur die bosse en bome langs die kant. Dis verder as wat hulle gedink het en hulle is uitasem, met bene wat wankel as hulle die hek binne sig het.
“Kyk, daardie rotse aan ons regterkant. Hulle is teenaan die heining by die geboue!”
Wie ookal die heining in stand moes hou, het ‘n hele ruk gelede al opgehou om sy werk te doen en hulle kom maklik deur. By die geboue verby, aan die westekant, is hulle skaars twee honderd meter van die dertigtal skuts by die bokant van die krans. Een van die figure lê plat op die grond en Flip kan deur sy teleskoop sien hy is dood. Daar is baie bloed by sy kop.
Op Maans se bevel lê die viertal aan en begin skiet. Behalwe vir Riëtte, wat maar onlangs begin skiet het, is hulle uitnemende skuts.
Natuurlik het die manne by die krans feitlik dadelik omgedraai en begin terugskiet, maar die bordjies is nou verhang en moet hulle sonder enige doenbare skuiling terugveg teen mense wat van ‘n hoër punt af en met akkurater gewere op hulle skiet.
R5’s is puik gewere en vir hulle doel is daar skaars beter, maar die korter lope en die feit dat die soldate nie behoorlik opgelei is in wapenhantering nie, die feit dat hulle nie in hulle wese aan gewapende magte sou behoort het as hulle ‘n ander werk kon kry nie, maak dat hulle feitlik onmiddellik die onderspit delf. Dis lekker om soldaat te wees as jy op weerlose mense van ‘n krans af kan skiet, maar geheel en al ‘n ander saak as daar met akkuraatheid en venynige doelgerigtheid teruggeskiet word.
Johnnie het met sy eerste skoot die kaptein in bevel platgeskiet. Daarna het Maans ‘n adjudant-offisier en Flip ‘n sersant geskiet. Sonder enigiemand in bevel, het die chaos begin posvat onder hulle. Met minder as helfte van hulle aanvanklike getal oor, gooi die ander hulle wapens neer en steek hande hoog in die lug.
“Loop vyf treë vorentoe en lê plat op julle mae!”
“We don’t understand Afrikaans sir!”
“Nou leer vinnig of vrek, oudste!”
Dis asof elkeen van die magte skielik ‘n blitskursus in linguistiek gevolg het. Hulle loop vinnig presies vyf meter vorentoe en val op die maag neer, hande agter die kop gevleg.
Maans het sy geweer geskouer en loop vorentoe met sy rewolwer oorgehaal. Hy onthou die liggame van sy vrou en kind en moet alles in sy vermoë doen om sy woede onder beheer te bring.
Johnnie en Flip loop om die manne, versigtig om nie tussen hulle en Maans te kom nie en deursoek elkeen vinnig. ‘n Paar messe, ‘n bajonet en ‘n knuppel word afgevat en eenkant gesit. Die klomp se oë is groot en vol angs. Hulle weet wat sou met die ander gebeur het, as die stoele geruil was.
“Okay. Uit met die skoene.”
“Maar, meneer…”
Die groot gat voor in die tromp van die .44 rewolwer is genoeg om die stewels uit te laat trek, amper sonder om die veters los te maak.
“Nou, op julle voete. Rig op die linkerflank – voorwaarts, mars!”
Met voete wat sag geword het van jare se skoene en stewels dra, is dit maar ‘n pynvolle tog berg-af. Wanneer een wil begin kla of uitval, is Maans by om hom aan te spoor met die rewolwer.
“Gee my rede om jou te skiet, asseblief, ek pleit jou!”
*
Die skote het opgehou klap. Een vir een kom elke oorlewende uit sy of haar skuiling. Die onverwagtheid van die aanval, die erge realiteit van die situasie en die besef dat nie een regtig veilig is nie, is baie demoraliserend.
Die magteloosheid, die gebrek aan duidelike teikens, aan duidelike en beplande bevel en beheer het lewens gekos. Dis met hierdie gemoedere en ‘n gevoel van radelose moedeloosheid wat die groep skade-inspeksie doen.
Behalwe drie sterfgevalle is daar nege minder-ernstige wonde, deur koeëls, stukke glas en selfs klippe wat opskram. Drie voertuie is erg beskadig, waarvan twee onherstelbaar is. Net Dawie het enigiemand raak geskiet. Frustrasie wel op en gemoedere begin hoog loop. Dan is daar beweging aan die onderkant van die pad wat teen die hoogte afloop. Wapens word oorgehaal en mense soek skuiling.
“Moenie skiet nie!” kom dit van Dawie af. “Dit lyk soos ons mense wat agterna kom.”
Dis inderdaad die oorblywende vyand en agter hulle kom Maans, Johnnie en Flip aan. Die soldate loop met seer voete en hande wat agter hulle koppe is, die vingers inmekaar gevleg. Oor hulle skouers hang gewere – R4’s en R5’s, sonder magasyne en sluitstukke, wat Maans en Johnnie verwyder het. Rugsakke met honderde rondtes ammunisie is op hulle rugge.
Een van Basie en Joan Martins se boesemvriende, Ryno Claassens, loop hulle tegemoet en voordat enigiemand bewus kon wees van sy voorneme, rig hy sy .38 rewolwer op die soldate en sonder waarskuwing begin hy te skiet. Hy tref op kort afstand twee van die soldate met doodskote en nog twee verwond hy. Die laaste twee skote is mis, soos die manne dekking slaan.
Dan pluk hy die rol oop en begin herlaai. Flip gebruik die geleentheid om hom met die agterkant van sy geweerkolf teen die voorkop te slaan. Hy is nie bewusteloos van die hou nie, maar vir ‘n oomblik verward. Maans gryp die rewolwer uit sy hand en slaan hom met die vuis teen die neus. Ryno gaan sit plat op sy boude, met ‘n verdwaasde uitdrukking in sy oë.
“Wat de hel…!”
‘Is jy gek man!”
“Hulle het vir Joan en Basie en Robert vermoor!”
“Ja, en daarvoor sal hulle moet betaal, maar jy kan hulle nie koelbloedig skiet nie.”
“Dis wat hulle met ons gedoen het.”
“Dit is so. Maar dit is ook die verskil tussen ons en hulle. En jy gaan nie maak dat ons tot op hulle vlak afdaal nie.”
Die ander mense het ook nou bygekom en daar is onmiddellik ‘n tweespalt. Party wil die soldate voor die voet skiet en ander is onseker. Niemand stel voor dat hulle vrygelaat of verhoor word, of selfs as soort krygsgevangenes aangehou word nie.
Riëtte gaan staan voor die oorblywende soldate, wat nou almal op die grond sit, party van hulle met hulle arms om hulle koppe en gesigte. Sy is duidelik nie gegrimmeer of selfs gebad nie, maar haar gesig en hare is min of meer skoon. Sy het die té groot bruinklere aan en sterk skoene. Maar daar is niks fout met die feit dat sy ‘n baie mooi en jong vrou is nie. En die geweer wat sy in albei hande hou spreek boekdele. Daar is nog vir ‘n paar sekondes duidelike woede in van die lede se oë, maar niemand waag dit om haar teë te gaan nie.
“Hierdie skuim is my gevangenes. Hulle is sleg en lafhartig, hulle het op julle geskiet terwyl julle weerloos was. Dit is so. Ek is jammer oor julle oorlede vriende. Maar hierdie is ons drie se prisoniers. Ons sal sê wat met hulle gedoen sal word. En as enigiemand met my daaroor wil stry, loop dan net so ‘n entjie saam met my, dan praat ons dinge uit.”
Daar is nie emosie in haar stem nie, en sy praat stadig en afgemete, asof sy elke woord fyn uitkies, met neutrale intonasie. Haar stem is nie hoog òf skor nie, maar op gelyke toonhoogte. Haar helder blou oë, wat ‘n teenstelling met haar amper-swart hare maak, is egter deurdringend en ernstig.
“Magtag, Flip, wie is hierdie kwaai tannie? Is dit iemand wat ons ken?” vra Johnnie gedemp aan Die Man langs hom.
Flip antwoord nie, maar ‘n groot glimlag trek diep kuiltjies langs sy mondhoeke en daar is ‘n bietjie verrasde bewondering in sy oë. Dis die eerste keer dat Maans of Johnnie hierdie gesigsuitdrukking by hom sien. Hulle wonder of dit oor die meisie se vurige optrede is, of oor die vonds van die dag: in een van die bunkers was ‘n swaarloop R1, kompleet met tien volgelaaide magasyne, ‘n groot Swarovski teleskoop en twee ekstra sakkies ammunisie, wat Flip eenvoudig vir homself toegeëien het.