Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy jou bekommernisse reeds by God afgelaai het, maak tog seker dat jy hulle nie dalk die volgende dag weer gaan oplaai nie – ons doen dit tog so graag, en dit is 'n blyk van liggelowigheid.
HULDEBLYK AAN HENDRIK VAN BLERK
Hendrik van Blerk, volksdigter en -skrywer
ʼn Huldeblyk
Deur dr Johan Pretorius
Kersfees 2010 was vir baie ʼn dag van vreugde, van weersien en van gesellige familie-samesyn.
Kersfees 2010 sal egter in die geskiedenis van die Boerevolk aangeteken word, as die dag waarop een van die Boerevolk se grootste seuns oorlede is.
Ek het die voorreg gehad om tydens sy laaste verjaardagviering, op 27 November 2010, saam met ʼn paar vriende en familie, die dag saam met Hendrik Stephanus Hertzog van Blerk te herdenk.
Hy is beter bekend as Oom Ha-Es of Oom Hendrik. Hy is gebore op 27 November 1915 in Johannesburg en gaan vir die eerste keer skool op Heidelberg (Transvaal). Daarna het hy 12 ander skole besoek voordat hy, na standerd ses, die skoolbanke finaal vaarwel toegeroep het.
Daarna was hy respektiewelik ’n spoeldiamantdelwer by Lichtenburg, “houtryer” (saam met sy Pa) in die Noordwes Transvaal), fabriekwerker, soldaat, padmaker, en mynwerker aan die Rand. Hy was ook graangradeerder en later skoolbuskontrakteur.
Hy was dus nie ʼn “boek-geleerde man” nie maar dit het hom nie daarvan weerhou om as joernalis sy lewenservaring en wysheid as nalatenskap vir die Boerevolk daar te stel nie.
Hierdie besondere talent “ontdek” hy in die tronk, nadat hy as ʼn lid van die Ossewabrandwag, in 1942 weens sabotasie tot die dood veroordeel is. Hierdie vonnis, nadat hy vir 28 dae in die dodesel op die galg gewag het, tot lewenslange gevangeskap verander is. Gedurende die tydperk in die tronk begin hy dig en skryf. Nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het en hy reeds ses jaar in die gevangenis was, is hy vrygelaat.
Na sy vrylating, begin hy in alle erns hom toespits op die nuutontdekte talent. Sy eerste boek, “Dit blom tans tussen bantoms”, het in 1948 verskyn. Daarna verskyn sy digbundel asook uiteindelik tweehonderd-en-dertig kortverhale, meer as sestig romans, jeugverhale en feitelike boeke oor die Slag van Majuba en ander volksgeskiedenis op sy kerfstok.
Prof. PD van der Walt van die Potchefstroomse Universiteit het tydens die viering van Oom Hendrik se 70ste verjaardag, oor die egtheid en opregtheid waarmee Oom Hendrik sy boeke skryf gesê dat Oom Hendrik as skrywer : ”.... ʼn egte en eerlike woordkunstenaar , totaal onpretensieuse storieverteller” is. En hy: “....skep eie ervaring, waarneming, lewensinsig om tot kuns, verhaalkuns wat besonder pakkend en toeganklik is.”
Hy brei verder oor sy skryfstyl uit en meld dat hy ʼn gebore verteller is, dat sy stories betroubare en interessante inligting verskaf, die leser se kennis verryk. Dat sy werke, meer as inligting gee, dat dit “dikwels ʼn probleemgebied betree, bv. ekonomies, sosiaal – dat só aan die verhaal ʼn algemeen geldige idiële dimensie gegee word.”
Sy werke sluit ʼn baie wye spektrum in. Hy skryf spannende fiksie verhale, hy skryf vir die jong kinders, vir die jeug, hy skryf oor die grensoorlog, oor die toestande in die myn. As patriot, skryf hy veral oor die geskiedenis van die Boerevolk. Dit ondervang onder andere die depressie, die Anglo-Boere oorlog, Majuba, die lewe op die delwerye, die Ossewa-Brandwag, en die lewe op ʼn Boereplaas. In kort, daar is aan sy vermoë en diversiteit, geen gelyke nie.
As oud-lid van die OB het hy hom voortdurend beywer om Majuba vir die Boerevolk te behou. Dit het behels dat hy enorme finansiële bydraes aan die Majuba-trust gemaak het.
Hy het ʼn vol lewe geleef. Hy het alles feil gehad vir sy God en vir die Boerevolk.
Die Boerevolk bring hulde aan een van ons grootste seuns. Ons wil ook aan Tannie Nel en sy ander familie ons innige simpatie en meegevoel oordra.
As ons hom in die helde akker (waar hy tuishoort) gaan neerlê, eer ons die nagedagtenis van ʼn Volksheld.