Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Heilige Gees beheer jou lewe, maar jy dink dalk dat dit deur drome en gevoelens moet plaasvind. Nee, dit is so eenvoudig soos om die Bybel te lees asof dit net vir jou geskryf is – ja, die Heilige Gees beheer jou lewe deur God se Woord; daarom, ken dit van harte.
OM OUER TE WEES (2)
Dr Juanita Erasmus
Lees reeks by Om ouer te wees
OPVOEDING TOT ONAFHANKLIKHEID
Hoe voed ons ons kinders op en wat hoop ons om daarmee te bereik?
Die primêre doel van opvoeding is om die kind te lei en op sy pad na onafhanklike volwassenheid te vergesel. Ten einde volwassenheid te kan bereik moet die kind 'n duidelike begrip van sy eie indentiteit ontwikkel. Daarbenewens is 'n positiewe selfbeeld en onafhanklikheid binne sy bepaalde kultuur onontbeerlik.
Die belangrikste twee fasette van onafhanklikheid is ekonomiese onafhanklikheid, dit wil sê om finansieel selfversorgend te wees, en normatiewe onafhanklikheid, oftewel die vermoë om op grond van die eie waardestelsel tussen reg en verkeerd te kan onderskei.
Die stelling dat opvoeding beteken dat die ouer hom op die mees effektiewe wyse oorbodig maak, is dus baie waar.
Self-identifisering en selfbeeld speel 'n belangrikel rol in die kind se ontwikkeling. Terwyl self-identifisering 'n objektiewe kennis aangaande homself (feite) is, word selfbeeld gegrond op sy evaluasie van homself (gevoelens) en is dit dus subjektief. Een van die belangrikste doelstellings van opvoeding behoort te wees om die kind te help om 'n positiewe geheelbeeld van homself op te bou, wat beteken dat hy goed sal voel oor homself en dus selfversekerd sal optree.
Hoe word die selfbeeld gevorm?
- Die kind tree op 'n bepaalde wyse op.
- Sy ouers of ander persone reageer op sy gedrag en laat blyk wat hulle daarvan (en dus van die kind) dink.
- Die kind neem kennis van hul reaksie en hul evaluasie.
- Hy begin homself op dieselfde wyse evalueer, dit wil sê hy begin homself deur die oë van ander mense sien.
- Sy toekomstige gedrag word in groot mate bepaal deur sy idee van wat ander van hom dink.
Dit behoort duidelik te wees dat die selfbeeld reeds op 'n baie vroeë leeftyd vasgelê word. Die kind wie se ouers hom met warmte en liefde onderskraag en lei, sal heelwaarskynlik 'n positiewe selfbeeld ontwikkel en sal homself sien as 'n intelligente, aantreklike persoon met 'n goeie verantwoordelikheidsin en die vermoë om dinge reg te doen. Aan die ander kant sal die kind wie se ouers koud, vyandiggesind en aggressief is, 'n negatiewe selfbeeld ontwikkel omdat hy glo dat hulle houding veroorsaak word deur sy eie ontoereikendheid en onaanvaarbaarheid.
Wat die bou van 'n gesonde selfbeeld betref, kan ons heelwat leer van die dikwels bespotte 'Joodse Moeder' wat op haar manier 'n meester is in die bou van 'n goeie selfbeeld. Vir haar is selfs die doodgewone jong meisie 'pragtig, bekoorlik en wonderlik', en is die jong neef nooit net 'n dokter of prokureur nie maar word daar sonder uitsondering met liefde en trots na hom as 'briljant' verwys. Dit lyk asof hierdie soort liefdevolle aanmoediging en bewondering goeie vrugte afwerp: Navorsing dui daarop dat daar betreklik min alkoholiste in Joodse gemeenskappe is – en dit is skynbaar juis hierdie soort liefde en trots wat die kind help om 'n positiewe selfbeeld en 'n gevoel van onafhanklikheid te ontwikkel.
Hoewel sommige ouers op grond van hul aard en persoonlikheid beter as ander toegerus is vir die opvoedingstaak, bestaan daar tog duidelike riglyne oor die moets en moenies in kinderopvoeding wat aan almal beskikbaar gestel word.
Wat die ouer se persoonlikheid betref, blyk dit uit navorsing dat die selfversekerde ouer wat homself nie voortdurend hoef te verdedig of sy optrede moet regverdig nie, wat warmte uitstraal, met sy kind kan kommunikeer en 'n goeie sin vir humor het, waarskynlik meer sukses sal behaal as die een met presies die teenoorgestelde eienskappe. Eersgenoemde se kinders kan veel makliker met hul ouers identifiseer, is meer ontvanklik vir hul leiding en reageer beter op hul voorbeeld, leiding en dissipline. Hierdie kinders is ook minder aggressief, sosiaal meer aanvaarbaar, bedagsamer en meer altruïsties. Hulle het 'n beter selfbeeld en 'n beter begrip van wat moreel gesproke reg of verkeerd is. Verder openbaar hulle groter onafhanklikheid en kan hulle verantwoordelikheid hanteer.
Hierteenoor kan die koue, vyandiggesinde ouer 'n uiters negatiewe invloed op sy kind uitoefen. Daar bestaan oorgenoeg bewyse dat daar 'n noue verband is tussen ouerlike vyandiggesindheid (veral waar dit uiting vind in drastiese liggaamlike straf) en persoonlikheidsprobleme soos emosionele ontoereikenheid en aggressiewe misdadige gedrag by kinders.
Ongelukkig gebeur dit dikwels dat ouers verkeerd te werk gaan om hul kinders tot onafhanklikheid op te voed, sodat hul pogings presies die teenoorgestelde uitwerking het. So sal die pa wat sy seun 'taai' wil maak deur trane te verbied, die kind dwing om sy gevoelens te onderdruk, wat onnodige spanning veroorsaak. In die meeste gevalle word so 'n seun senuagtig en angstig en verloor hy sy selfvertroue heeltemal. Die ongenaakbare houding van so 'n vader kan ook daartoe lei dat die seun 'n renons in hom ontwikkel, wat identifisering en 'n normale vader/seun-verhouding onmoontlik maak. Sommige deskundiges beskou 'n negatiewe verhouding tussen 'n seun en sy vader as een van die belangrikste oorsake van ontoereikende geslagsidentifikasie en homoseksualiteit.
Kinderopvoeding, oftewel die begeleiding van die kind na volwassenheid, is 'n geleidelike proses waartydens onafhanklikheid toenemend aangemoedig word. Emosioneel gesien kan 'n mens sê dat dit begin deurdat die ouer die kind dra. Na 'n tyd stap die kind langs die ouer wat nog steeds sy hand vashou, maar namate die kind ontwikkel en toenemend sy eie besluite neem, kan 'n mens sê dat die ouer sy hand laat los maar nog steeds langs hom bly draf vir wanneer sy raad dalk benodig mag word. Uiteindelik word 'n punt bereik waar die jong volwassene sy reis alleen voortsit, gesteun deur sy ouers se geloof en vertroue in hom en in die wete dat dit vorentoe goed sal gaan.
Suksesvolle opvoeding tot onafhanklikheid lei dus tot 'n situasie waarin ouers en kinders ontmoet as medevolwassenes wat mekaar, wanneer dit nodig sou blyk te wees, emosioneel kan onderskraag.
Die kind en die wêreld daarbuite... vervolg