Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy kan die Here kwalik genoeg dank vir wat Hy gedoen het deur jou van die oordeel van God te verlos deur God se toorn op die sonde te dra en dood en hel te oorwin. Daarom behoort jy elke Christelike feesdag daaraan herinner te word wanneer jy sy opdrag nakom: "Ses dae lank kan werk gedoen word maar op die sewende dag is dit 'n dag van volkome rus, 'n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie – dit is die sabbat van die HERE in julle woonplekke." Lev 23:2
VOLKSHOOP (16)
Adv PJ Pretorius
Lees volledig by Volkshoop - die boek
Monetêre beheer
Ons voorsien dat die Reserwebank onder staatsbeheer die monetêre gebied van die land sal manipuleer. Ons verwag dat die land se Reserwebank ook die monopolie in die land se bankwese sal hê. Die monetêre ekonomie sal na alle waarskynlikheid ondergeskik wees aan die reële ekonomie met die doel om as katalisator te dien in die welvaartskeppende proses. Derhalwe sal die agterliggende oogmerk wees om produktiwiteit te stimuleer en om spaar eerder as verbruik te bevorder.
Die bestaande geldstelsel sal na alle waarskynlikheid met ’n nuwe munt en nootstelsel vervang word. Omrede die ontwikkeling van ’n nasionale staat met ’n soewereine owerheid een van die groot oorsake is wat aanleiding gee tot Merkantilisme, is dit tog belangrik om na die kern van Merkantilisme te kyk. “Dit was slegs ’n proses van praktiese denke wat ingestel was op die versameling van edelmetaal omdat edelmetaal aanvaar was as die basis van nasionale sterkte en die bron van nasionale welvaart....Die mag en welvaart van die staat word weerskaats op die individu."
Veral beoordeel teen die agtergrond daarvan dat die Boere ’n land sou oorneem wat ryk is aan onontginde edelmetale voorsien ons dat die regering mettertyd oorweging kan skenk om selfs weer ’n goue muntstuk in sirkulasie te bring. In soverre dit note betref, voorsien ons dat die land sy eie goudstandaard sal implimenteer. Oënskynlik sal die note ten volle verteenwoordigend wees op die voorwaarde dat dit slegs binne die jurisdiksie van die landsgrense op aanvraag by die land se reserwebank uitbetaal sal kan word met voorbehoud van die skriftelike toestemming van die staat.
Daar sal in hierdie stadium ’n regsplig op die Reserwebank rus om toe te sien dat die bank oor voldoende goudreserwes beskik ten opsigte van die note in sirkulasie. Ignoreer ons die goudfaktor voorlopig, moet ons ook in berekening bring dat die staat eiendomme gaan nasionaliseer. Dit opsigself sal vir die staat omvangryke sekuriteite (welvaart) gee, wat hy as waarborg by die reserwebank kan aanwend om geld te skep. Geld sal juridies gesproke ekonomiese waarde kan hê: iets wat vandag vreemd is in die wêreld — geld is welvaart nie omdat die wet so sê nie, maar omdat dit ekonomies gewaarborg kan word. Weereens bied dit ’n lokaas vir geleerde mense regoor die wêreld om in hul miljoene na die Boererepubliek hier te lande te stroom — veral beoordeel teen die agtergrond van die komende Wêreldoorlog.
Ons voorsien dat geld weer ’n permanente waardedraer sal wees, waarvan die waarde slegs deur die staat gemanipuleer sal word. Net soos die prys- en loonstelsel word daar voorgestel dat die nuwe geldstelsel in terme van die bestaande met 100 persent gedepresieer word. Die huidige R200-noot word byvoorbeeld met ’n nuwe R2-noot vervang, die RI00-noot met ’n Rl.00-noot, die R50-noot met ’n 50 sent-munt ensomeer. Dit sal na verwagting weer die reële waarde in die ekonomiese basis/onderbou herstel.
Die regering sal self moet besluit of hy inderdaad die voortbestaan van die effektebeurs gaan duld. Dit is egter te betwyfel of Johannesburg sy historiese belangrikheid gaan behou. Die Siener voorspel dat die vark (kapitalis) in Johannesburg geslag word. Vaagweg blyk dit dat ons kan verwag dat die effektebeurs minstens in sy huidige vorm, tot niet sal gaan. Miskien sou ’n rekenaarsentrum vorentoe so ’n funksie kan oorneem. Die vraag is of die nuwe regering maatskappye as ’n ondernemingsvorm gaan erken. Gaan die nuwe regering slegs terugval op die gemeneregtelike ondernemingsvorme soos eenmansake en vennootskappe wat persoonlike aanspreeklikheid erken? Gegewe dat die vertrouestelsel in die onmiddellike verlede tot ’n groot mate geskend is deurdat aanspreeklikhede na ’n regspersoon (maatskappy) afgewend is en nie na die persoon wat direk vir die skade aanspreeklik is nie, sou ons minstens vir die eerste tien jaar van ’n nuwe regering kon verwag dat hy in die privaatsektor slegs die gemeneregtelike ondernemingsvorme sou toelaat. Hoe meer welvarend die gemeenskap sou raak hoe meer kan daar verwag word dat die regering met nuwe oë sal moet kyk na die maatskappy as ’n ondernemingsvorm. Die staat sal dalk strenger vereistes daarop plaas as in die verlede.
Versekeringswese
Ons het reeds vroeër gesien dat Siener van Rensburg voorspel dat die pensioenfondse in duie gaan stort. Ná republiekwording sal die staat moet omsien na die pensioenarisse en in dié verband sal die regering genoop word om weer ’n pensioenfonds op die been te bring. Die versekeringswese sal derhalwe onder staatsbeheer kom. Versekering bied ’n sterk instrument in die hande van die staat om investering te bevorder. Minstens oor die kort- tot meduimtermyn sal die staat self fondse moet vind om inkomste aan die afgetredenes (of gesinne waar die broodwinner gesterf het of vanweë gesondheid ongeskik geraak het om te werk) te verskaf. Aanvanklik sal die regering in hierdie opsigte finansiële druk ondervind totdat hy die nuwe fonds in die lewe geroep het en uit die aard van die saak bydraes van die publiek ontvang het. Naas uitbetalings aan diesulkes wat sou kwalifiseer, moet die staat ook toesien dat die versekeringsbydrae op langtermynversekering bevorder word om die ekonomie te stimuleer. Die klem moet op werkskepping geplaas word. Afgesien van langtermynversekering, voorsien ons ook dat die staat die korttermynversekeringswese sal bedryf. Die winste wat uit laasgenoemde versekering gemaak word sal klaarblyklik na die staatskas terugval.
Handel
Die handel sal na alle waarskynlikheid deel wees van ’n geslote ekonomie. Indien die plaaslike ekonomie dit nie self kan produseer nie, sal die beginsel skynbaar geld dat die plaaslike gemeenskap daarsonder moet klaar kom. Plaaslike innovasie sal die grondslag van die binnelandse mark wees. Die handel sal die hoeksteen wees om goedere en dienste by die produsent en verbruiker te kry. Ons voorsien dat daar wel handel tussen die Boere en die Duitsers van Duitswes en Duitsoos sal wees.
Voorts word voorsien dat die informele sektor sal verdwyn. Ons verwag ook dat die nood van die omstandighede waaronder die nuwe republiek totstand sal kom skynbaar patentereg sal afskaf. Die regering sal moontlik na tien jaar die posisie met betrekking tot patente in heroorweging neem. Ons moet hier goed begryp dat dit reëls is wat die regering noodwendig sal moet neem in “a state of siege” Ons aanvaar dat buite die vasteland van Afrika, die Westerse Wêreld grootliks vernietiging sal wees ná die oorlog. Hierdie verarmde posisie word vir minstens twee dekades voorsien. Buitelandse handel sal feitlik tot stilstand kom.
Die ekonomiese potensiaal en die ekonomiese ontwikkelingstrategie
In so verre dit die nuwe republiek se ekonomiese potensiaal betref, wys ons graag daarop dat die land ryk is aan natuurlike hulpbronne soos seevissery langs die kusgebied, landbougrond vir ’n verskeidenheid van landbouprodukte (koffie, graansoortes, beesvleis, skaapvleis, groentesoortes, suiker, tabak en kruie) bosbou, water vir hidro-elektriese krag, ontginbare olie, ystererts en diamante in Angola, koper en diamante in Botswana, steenkool in Mosambiek, platinum en chroom in Zimbabwe, koper en kobalt in Zambië. Omdat dit relatief wyd bekend is dat Suidelike Afrika oor ’n ryk landbou- en seevissery potensiaal beskik, behandel ons nie die streek se landbou- en seevissery-potensiaal nie.
Ons het inligting bekom oor die land se onontginde minerale rykdom wat tot op hede deur die internasionale geldmag verberg is. Enorme minerale neerslae word deur die groot mynhuise geheim gehou, om eendag as dit hulle pas, ontgin te word. Die mynhuise boor voortdurend op boere se plase maar die uitslag daarvan bly die bes bewaarde geheim. Die groot mynhuise se geoloë sê self dat daar onderlinge ooreenkomste tussen die mynhuise bestaan waarkragtens hulle nie die bestaan van bepaalde minerale bekend sal maak nie.
Volgens beskikbare inligting dui dit daarop dat Afrika oor baie meer minerale beskik wat weens bogenoemde redes verswyg word. Ons sal u kortliks daarop wys dat Sub-Sahara Afrika geseënd is met die rykste minerale rykdomme ter wêreld. Toe die wêreldekonomie sy grootste ekonomiese oplewing in die 1980's ervaar het, het hierdie voorspoed Afrika verby gegaan. Die internasionale geldmag het elders anders as Afrika (soos Suid-Amerika) hulle grondstowwe ontgin.
Holisties beskou is Sub-Sahara Afrika ’n afsonderlike wêreld wat wel as gevolg van sy natuurlike rykdomme instaat is om ekonomies onafhanklik van die res van die wêreld te kan voortbestaan.
Omrede Volkshoop nie net deur Boere-Afrikaners gelees word nie, kan ’n volledige bespreking van die minerale rykdomme nie hierin gepubliseer word nie. Aangesien die Duitsers Duitswes en Duitsoos gaan beset, ignoreer ons die twee gebiede vir die doeleindes van Volkshoop. Ons lig enkele voorbeelde uit:
•Zaïre beskik oor twee massiewe goudvelde (oos en wes van sentraal Zaïre).
•Angola het naas verskeie olievelde, twee diamantpype en ’n goudveld.
•Botswana beskik oor ses diamantpype wat elk groter as Orapa (die wêreld se tweede grootste diamant) is.
•Rwanda beskik oor tungsten en ysterneerslae.
•Gaboen beskik naas olie ook oor goud.
•Kenia beskik oor ’n goudveld wat goed vergelyk met ons eie Witwatersrand.
•Madagaskar beskik oor ’n baie groot diamantpyp en goudveld.
•Mosambiek beskik oor ’n olieveld (noord), ’n goudveld (noord) en ’n diamantpyp (suid).
•Zimbabwe beskik oor ’n groot goud neerslag wat oos tot in Mosambiek en wes tot in Botswana loop.
Eenvoudig gestel sal die nuwe republiek dus oor genoegsame onontgonne goudreserwes beskik wat die land in staat sal stel om oorweging te skenk om ’n goue muntstuk in sirkulasie te bring.
Daar sal ook aan ’n nuwe gebruikswaarde vir diamante moet gedink moet word as ons dit vorentoe wil ontgin.
In soverre dit ’n ekonomiese ontwikkelingsprogram betref, voorsien ons dat die land in die begin die aksent sal plaas op die primêre sektor (landbou, akkerbou, vissery en bosbou) om minstens die Boere-gemeenskap se welvaart te help vestig. Eenvoudig gestel kan ons daarop wys dat die nuwe regering ’n nuwe land sal oorneem wat verskeie ou buurlande insluit. Hierdie regering sal klaarblyklik moet poog om beheer uit te oefen oor daar die land met Boere aan wie hy plase sal gee.
Wanneer Boere (veral in die meer afgeleë gebiede) gevestig word, sal dit die regering se onmiddelike verantwoordelikheid wees om toe te sien dat daardie Boere oor minstens die basiese infrastruktuur beskik (soos watervoorsiening, elektrisiteitsvoorsiening, markte, gesondheidsdienste, onderwys, posdienste, telekommunikasie, vervoer en regsdienste). Die besette gebiede moet nie alleen leefbaar gemaak word nie, maar dit moet ook beveilig word. Gevolglik voorsien ons dat die strategie eers sal wees om die nodige meganisme binne die landbousektor daar te stel sodat vraag en aanbod in ewewig sal wees.
Dit moet nie uit die oog verloor word nie dat die ekonomiese ontwikkelingstrategie ten alle tye die ideaal van ekonomiese selfversorging moet nastreef. Ons kan aanvaar dat ons vir minstens twee dekades byna niks sal kan invoer nie. Alles sal hier geproduseer moet word. Daarom sal dit vir ’n regering wys wees om eers ’n strategie te volg om net te konsentreer op die bevrediging van die basiese behoeftes van sy burgers. Namate die algemene welvaart groei kan die aandag op die ander behoeftes gekonsentreer word.
Omrede ons meen dat die ekonomiese ontwikkelingsstrategie aan die begin die gewig oorwegend op die landbousektor sal plaas, voorsien ons ook dat die mynbou, die nywerheids- en die dienswese dienooreenkomstig dienende tot die landbousektor sal staan. Klem sal dus geplaas word op die produksie van trekkers en ander landboutoerusting, die tegnologiese ontwikkeling sal ook landbougesentreerd wees. Selfs dienste moet sodanig gerig wees om landbouvriendelik te wees. Hier dink ons aan programme om ’n landboutermynmark te help skep, geskikte infrastruktuur om verspreiding van produkte oor ’n wye landsoppervlakte moontlik te maak soos paaie, treinspore, vliegvelde, satellietverbindings ensomeer. Naas die landbousektor, verwag ons dat die wapenindustrie ’n ekonomiese prioriteit vir die regering se beleid van oorlog-ekonomie sal bly.
Namate die Boer welvarend sou raak, sal dit wys wees om hom in ander produksieprosesse soos die van die nywerheidswese te betrek. Gemeet teen die agtergrond daarvan word voorgestel dat die kern van die ekonomiese ontwikkelingstrategie stelselmatig vanaf die landbousektor na die nywerheid- en dienssektore verskuif word. Hierdie strategie sal uiteraard met die regering se infrastrukturele (paaie, vliegvelde, spoorlyne, damme, dorpe en stede) strategie moet koördineer. Wat die nywerheidsontwikkeling betref, voorsien ons dat dit aanvanklik in Suid-Afrika gesentreerd sal wees, maar namate die landelike gebiede vooruitgang toon, kan ons verwag dat die nywerheidswese sal desentraliseer en nuwe nywerheidsones gevestig sal word.
Die opkoms van ’n Boere Empire (Ryk) in ekonomiese verband – vervolg...