Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe langer mens leef, hoe meer besef mens dat ons keuse in die lewe nooit tussen pyn en geen pyn is nie, maar wel 'n keuse tussen om slegs jou pyn te verduur of om dit positief te gebruik. En God met sy groot geduld en liefde, wys ons hoe om dit reg te kry.
AFRIKANER-LIBERALISME (3)
Lees reeks by Afrikaner-liberalisme
'n Volk wat sy geskiedenis vergeet en die waarde en ideale wat hom deur die geskiedenis gedra het, afsweer, is geen volk meer nie maar het geblus tot 'n massa individue.
DIE LIBERALISME (3)
Prof. P.S. Dreyer
Suid-Afrika, Afrikaners en liberalisme
Op hierdie stadium kan ons ons nou tot Suid-Afrika wend.
Soos reeds opgemerk is, het die term liberalisme hoofsaaklik 'n negatiewe betekenis onder behoudende Afrikaners. Desondanks moet ons onthou dat die Blankes in Suid-Afrika 'n deel van die Westerse wêreld is en kultureel in die Weste gewortel is. Net soos enige ander Westerse land het ons van ons kosbaarste erfgoed van die liberalisme ontvang. Die Republikeinse staatsvorm – die ideaal van die Afrikaner vandat ons van onsself as volk bewus geword het; die demokrasie (soos ons dit onder Blanke bewind ervaar het); 'n kapitalistiese ekonomie; die "Rule of Law"; vryheid van denke, spraak, geloof en die pers; en 'n diepgewortelde sin in die vryheid van die individu en die volk (voor 1994), is van die hoogste waardes wat vir ons geld en wat ons private, sosiale, ekonomiese, politieke, intellektuele en sedelik-godsdienstige lewe grootliks bepaal.
Aan die ander kant moet ons tog ook baie versigtig wees wanneer ons van die Afrikaner as erfgenaam van die liberalisme praat. Bogenoemde waardes is wel die vrugte van die liberalisme en individualisme, maar dit is ook nie sonder grond dat die liberalisme in ons politieke geskiedenis nog altyd as Engelse of Britse liberalisme bekend gestaan het nie. Hierna moet ons 'n bietjie kyk.
Die volksplanting aan die Kaap vind in 1652 plaas. Teen hierdie tyd was die liberalisme en individualisme alreeds lankal aan die opkom, maar nog ver van oorwinning af. In 1652 was John Locke, na wie hierbo verwys is, twintig jaar oud en die "Glorious Revolution" sou eers ses-en-dertig jaar later plaasvind. Holland het sy eie liberale tradisie opgebou, onafhanklik van Engeland; Holland het die grootste leier van die liberalisme in die sestiende eeu opgelewer nl. Desiderius Erasmus van Rotterdam. René Descartes (1596 – 1650) het weens sy nuwe verligte idees onveilig in sy vaderland (Frankryk) gevoel en 'n toevlugsoord in Holland gevind en so ook vyftig jaar later nog 'n Fransman, Pierre Bayle (1647 – 1706). Spinosa (1632 – 1677) een van die groot pleitbesorgers van 'n verdraagsame, liberale individualisme, was uit 'n Portugees-Joodse familie wie se voorgeslagte 'n veilige toevlugsoord in Holland gevind het. Die reeds genoemde John Locke het vir 'n tyd lank in Holland gewoon toe Engeland vir hom te warm geword het. Desondanks het die liberalisme nog nie in Holland tot die gewone man deurgewerk nie en was dit op verre na nog nie die gewone man se lewensopvatting nie. Al het Holland 'n oor vir al die bg voorstanders van die liberalisme gebied, was die amptelike beleid van die Hollandse Oos-Indiese Kompanje (wat die verversingspos aan die Kaap gestig het) nie liberaal nie, soos 'n mens kan sien byvoorbeeld aan die wette ten opsigte van die godsdiens wat aan die Kaap geldig was.
In 1688 het die Franse Hugenote hulle aan die Kaap gevestig. Hulle het gevlug uit Frankryk omdat hulle daar oor hulle geloof vervolg is en omdat die godsdiensoorloë nog aan die gang was. Die Frankryk waaruit hulle gevlug het, het hier en daar figure opgelewer wat 'n mens voorstanders van die liberalisme kan noem, maar die liberalisme sou eers byna 'n honderd jaar later in Frankryk deurbreek. Die Hugenote was uiteraard voorstanders van 'n vryheid van geloof, maar alles behalwe liberaliste in die sin wat ons dit hierbo uiteengesit het.
Uit hierdie Hollanders en Franse het die Afrikanervolk sy eerste begin gehad. Die eerste nedersetters en hulle afstammelinge het stadigaan die binneland ingetrek en in die loop van die volgende eeu die grootste deel van die binneland van die Kaapprovinsie ingeneem. In die loop van hierdie tyd het die liberalisme Europa ingeneem en 'n mate van invloed ook op Kaapstad en sy onmiddellike omgewing gehad, maar haas geen invloed op die geïsoleerde bewoners van die binneland gehad nie.
Vanaf die begin van die negentiende eeu het die liberale idees in 'n groot mate onder die binnelandse bevolking deurgewerk. Die Kaap het onder Britse bewind gekom, baie Britte het hulle aan die Kaap (veral in die Oostelike Provinsie) gevestig, die Londense Sendinggenootskap met sy sterk steun in Engeland het baie aktief geword en so meer. Hieruit vloei allerlei maatreëls wat kenmerkend van die liberalisme is, oa die vrystelling van die slawe, gelykstelling in baie opsigte van Wit en Swart, die beleid van die Britse Owerheid op die Oosgrens en so meer. Dit is reeds uit hierdie tyd dat die liberalisme met die Britte verbind word en in ons politieke geskiedenis as Britse liberalisme bekend word het en as 'n gevaar vir die Afrikaner gevoel is.
In 1836 het die Groot Trek begin. Die oorweldigende meerderheid van die Trekkers was grensboere wat die mees konserwatiewe gedeelte van die bevolking was. Weer het die uitwyking na die binneland ons voorvaders bewaar van die liberalisme. Ook hulle het egter nie heeltemal sonder enige kontak met die liberalisme gebly nie omdat die Transvaalse Republiek baie Hollanders as immigrante ontvang het en hierdie Hollanders ook in baie opsigte invloedryk was. Omdat die boere so konserwatief was, was dit egter net Hollanders wat self konserwatief was (konserwatief veral in vergelyking met die posisie in Holland) wat werklik invloed uitgeoefen het. Desondanks het liberale idees tog in 'n mate ook in die binneland ingedring.
Wanneer ons die posisie van die Afrikaner in die negentiende eeu in oënskou neem, moet ons nie vergeet dat die Afrikaner 'n totaal ander agtergrond as die Europeër het nie. Ons mense het geen Middeleeue geken nie; ons het nie van 'n feodale ekonomie geweet nie; ons het niks van konings, landhere, aristokrate en sulke goed geweet nie; en van 'n Roomse Kerk het die meeste van ons mense net deur die Heidelbergse Kategismus of die Kort Begrip iets geweet. Waarvan ons mense wel geweet en baie goed geken het, was die eensaamheid van die boereplaas waar elke man s eie baas was en waar hy net deur sy eie moed en vernuf staande kon bly; ons het die Engelsman geken – 'n vreemdeling met 'n vreemde taal, vreemde idees, gewoontes en godsdiens; bloot weens hierdie vreemdheid het ons mense die Engelsman soms as 'n bedreiging aangevoel, maar veral het ons die Engelse geken as die mense wat gedreig het om progeressief meer en meer van ons land in besit te neem en dit ook gedoen het. Verder het ons mense die Swartmense geken – in alle opsigte behalwe een, baie minder van 'n gevaar as die Engelse. Hierdie een opsig waarin die Swartes die grootste bedreiding was, was hulle massale, brute biologiese teenwoordigheid, waarin die handjievol Blankes kon verdwyn sonder om 'n teken agter te laat. Hoewel 'n mens dus sekere idees onder die Republikeinse Afrikaners van die binndeland kan aantoon wat jou aan die Europese liberalisme herinner of wat selfs daarvandaan afkomstig was, was die werklike bepalende faktor vir die Afrikaner die harde werklikheid van Afrika self – die eensaamheid en die stryd van 'n pioniersbestaan in die ongetemde binneland, die bedreiging van die vreemde Engelse kultuur wat deur 'n oorweldigende militêre mag gesteun is, en die bedreiging van die Swart massas.
Van 'n ander kant gesien kan ons sê dat twee gevare die Afrikaner bedreig het – albei groot genoeg om hom uit te wis. Op persoonlik, individuele vlak is hy deur sedelike en godsdienstige verval bedreig. Hierop het die Afrikaner geantwoord met 'n byna strak, wettiese dissipline in sy sedelike lewe, wat op 'n letterlike interpretasie van die Bybel gegrond is. As volk is die Afrikaner bedreig deur die oorwig in getalle van die Swartes en die militêre mag van Brittanje. hierop het die Afrikaner geantwoord deur laer te trek – sy geledere as volk te sluit en enige vorm van ondermyning van die eenheid en eendragtigheid van die volk as 'n doodsgevaar te sien.
As ons dan in die geskiedenis terugkyk, sien ons by die Afrikaner 'n baie sterk sin vir vryheid en dan juis 'n vryheid van die individu. Dit is die grond van tallose twiste en dwarstrekkery onder die Voortrekkers en ons die Boerevegters tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Hierdie vryheidsin is egter nie die vryheidsin wat in die Europese situasie – in die stryd van die Europeër teen sy Middeleeuse erfenis – ontstaan het nie, maar die vryheidsin van die selfgenoegsame pionier. Saam met die vryheidsin was die besef van die noodsaaklikheid van die eenheid van die volk ook lewendig, soos ons kan sien in die oproepe van Afrikaanse leiers vanaf die Groot Trek tot in die Tweede Vryheidsoorlog. In die Transvaalse grondwet van 1858 kan 'n mens dit ook sien. Die grondwet is eintlik deur 'n Hollander, Jacobus Stuart, opgestel en toon baie groter Franse as Engelse of Amerikaanse idees. In die grondwet val al die klem op die volk en die wil van die volk. Dit is so uiters demokraties dat 'n mens duidelik die Franse filosowe se gedagtes daarin kan herken. Desondanks is dit 'n egte Transvaalse dokument: tekens van 'n individualisme in Europese sin ontbreek, die gelykheidskreet van die Europese liberalisme word verwerp (Artikel 9 van die grondwet lui so: "Het volk wil geen gelijkstelling van gekleurden met blanke ingezetenen noch in Kerk noch in staat:) en die band met godsdiens en kerk word baie styf gebind, soos 'n mens kan sien in die betreklik groot aantal artikels wat hieroor handel. Artikel 25 van die grondwet laat godsdiensvryheid toe, maar 'n staatskerk word aanvaar (soos in Holland), Roomses word verkieslik nie toegelaat nie en ook nie Protestante wat van die Heidelbergse Kategismes verskil nie (Artikel 21).
Britse invloed: vervolg...