Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy kan die Here kwalik genoeg dank vir wat Hy gedoen het deur jou van die oordeel van God te verlos deur God se toorn op die sonde te dra en dood en hel te oorwin. Daarom behoort jy elke Christelike feesdag daaraan herinner te word wanneer jy sy opdrag nakom: "Ses dae lank kan werk gedoen word maar op die sewende dag is dit 'n dag van volkome rus, 'n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie – dit is die sabbat van die HERE in julle woonplekke." Lev 23:2
AFRIKANER-LIBERALISME (4)
Lees reeks by Afrikaner-liberalisme
'n Volk wat sy geskiedenis vergeet en die waarde en ideale wat hom deur die geskiedenis gedra het, afsweer, is geen volk meer nie maar het geblus tot 'n massa individue.
DIE LIBERALISME (4)
Prof. P.S. Dreyer
Op hierdie stadium moet ons ons aandag by die Britse invloed bepaal.
Vanaf 1806 het die Britte die bewind aan die Kaap in hulle hande en gee hulle die toon aan. In die begin van die veertigerjare neem Engeland ook Natal en die Oranje-Vrystaat in besit. Hoewel die Vrystaat weer onafhanklik geword het, is die Britse invloed tog in 'n groter mate gevestig as in Transvaal. Veral deur die werk van Rhodes is die gebiede ten Weste en ten Noorde van Transvaal ook in besit geneem sodat die twee Boererepublieke deur Engelse gebied byna heeltemal omring is.
Hierdie ontwikkeling vind dus plaas vanaf die begin van die negentiende eeu wanneer die liberalisme sy hoogepunt in Engeland bereik en die vanselfsprekende lewensopvatting van die Brit geword het. Soos reeds aangedui is, het dit op elke terrein van die lewe uitdrukking gevind.
'n Liberalistiese samelewing soos dit in Europa tot stand gekom het, is egter net onder bepaalde voorwaardes moontlik. Die belangrikste van hierdie voorwaardes is:
- 'n Homogene samelewing soos wat die Engelse of Hollandse of Franse samelewings was. In so 'n samelewing kan verskille van rykdom, klas, geleerdheid, sodiale status en so meer wees sonder dat dit die eenheid van die samelewing verbreek, omdat die samebindende faktore baie groter en sterker as die verdelende faktore is. Trouens, juis die verskille binne die samelewing is deel van die besondere kenmerke van die bepaalde samelewing. Selfs 'n betreklike groot aantal vreemdelinge kan binne so 'n samelewing toegelaat word, solank daardie vreemdelinge nie 'n wesenlike verskil aan die aard van die samelewing maak nie.
- 'n Betreklik hoë peil van ontwikkeling van die samelewing omdat dit 'n absolute voorvereiste is vir die behoorlike funksionering van die demokratiese regeringstelsel, vrye spraak en pers en 'n vry kapitalistiese ekonomie.
- 'n Lewensopvatting wat in sy fundamentele trekke en in die geldigheid van die fundamentele waardes en norme gemeenskaplik aan die oorweldigende meerderheid van die lede van die samelewing is. So 'n gemeenskaplike lewensopvatting en waardesisteem maak die funksionering van 'n vry samelewing moontlik. Dit bring ook 'n verantwoordelikheidsbesef wat maak dat elke lid van die samelewing sy plek daar kan inneem en sy verantwoordelikheid teenoor die samelewing nakom.
In die Britse kolonies waarvan die Kaap een was, het hierdie voorwaardes gegeld sover dit die Britse bewoners van die kolonies betref het. Aan die Kaap het dit in 'n mate ook vir die Afrikaners gegeld, omdat die Afrikaners ook Westerlinge en Christene was. Dit was egter nie van toepassing op die Nie-Blanke inwoners van die Kaap nie. Deel van die liberale lewensopvatting, veral in die negentiende eeu, was egter die geloof in die fundamentele goedheid en die moontlikheid van 'n onbegrensde vooruitgang van die mens. Saam met die liberalisme het ook die individualisme gegaan. In die praktyk het dit beteken dat die Blanke en Nie-Blanke samelewings bitter min met mekaar vermeng het en dat die Nie-Blankes nie deel aan die regering gegee is nie. Met Nie-Blanke volke is egter op Westerse wyse verdrae gesluit; die Nie-Blankes is veral deur sending en onderwys op die pad van vooruitgang probeer help; aan die vryheid van die individu en die samelewing kon geen bande gelê word nie, sodat beweging, arbeid vermenging (sosiaal en biologies) en ekonomiese onderneming vry gelaat is. Primêr het die vryheid van die individu gestaan en die samelewing moes sonder staatsinmenging sy eie lewenswyse vind – natuurlik onder die voorwaarde dat hierdie lewenswyse nie sommiges mag benadeel nie. Wanneer individuele Nie-Blankes in so 'n mate ontwikkel het, is hulle in die Blanke samelewing opgeneem en toe die Kaap 'n mate van selfregering gekry het, is stemreg aan Kleurlinge en Swartes gegee (1853), onderhewing aan presies dieselfde kieskwalifikasies as die Blankes. Dit is hierdie houding en beleid wat onder die Afrikaners as Britse of Engelse liberalisme bekend gestaan het, wat ons ou mense gelykstelling van Blank en Nie-Blank genoem het en waarin hulle 'n bedreiging van hulle voortbestaan gesien het. Dit was die grootste enkele rede vir die Groot Trek en in die noordelike Republieke het die Afrikaners die geleentheid gesien om die samelewing te orden volgens Afrikaanse oortuigings en beginsels.
Die Afrikaner het die Groot Trek en die Republieke nie net as 'n politieke vrywording aangevoel nie maar as die moontlikheid vir die voortbestaan van 'n Blanke Afrikanervolk. Teen hierdie agtergrond gesien kan ons begryp dat die Vrede van Vereniging van 1902 vir die Afrikaner meer as net 'n militêre vernedering beteken het. In minagting vir die Afrikaner en sy pogings om die Afrikaner te verengels, was lord Milner 'n tweede lord Charles Somerset, maar dit was nog nie die ergste nie. Die ergste was dat saam met die Engelse oorheersing die vermenging van Wit en Swart weer 'n bedreiging geword het omdat die liberale beleid van die Britse oewerheid in die Kaap nou ook na Transvaal en Vrystaat uitgebrei kon word.
Transvaal en Vrystaat het betreklik gou weer 'n mate van selfbestuur ontvang en in 1910 het die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom. Die Unie is deur 'n verkose parlement regeer en tot in 1948 was die Eerste Ministers van die Unie die drie Boeregeneraals van die Tweede Vryheidsoorlog, nl generaals Botha, Smuts en Hertzog. Dit sou 'n mens laat verwag dat die Afrikaanse idees en beleidsrigtings van voor die Tweede Vryheidsoorlog voortgesit sou word en inderdaad het dit in sommige opsigte vir die Afrikaner baie beteken: die Unie byvoorbeeld het vir die eerste keer sedert 1836 al die Afrikaners binne een land verenig, genl. Smuts se onderwyswette het 'n geringe mate van Hollands as voertaal op skool moontlik gemaak, genl Hertzog se stigting van die naionale Party het geweldig baie gedoen om die Afrikaner meer moed vir die toekoms te gee, in 1925 is Afrikaans as amptelike taal erken en so meer. Wat die periode 1910 – 1948 betref, is daar egter 'n aantal sake van wesenlike belang wat 'n mens nie buite rekening mag laat nie:
Die eerste is dat dit die periode van twee wêreldoorloë en die Rebellie van 1914 was – gebeurtenisse wat aanleiding tot geweldige emosionele spanninge, skerp politieke verdelings en onvoorwaardelike vereenselwiging met een of ander kant gegee het.
Dit is ook die tyd waarin die depressie van 1933 val. Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog was die Afrikaner byna uitsluitlik boere en die verwoesting van die Oorlog het die Afrikaner meer as enigiemand anders arm agtergelaat. In 1933 het die Afrikaner die na-effekte van hierdie verarming nog nie heeltemal te bowe gekom nie. Die ekonomiese verwoesting van 1933 het die Boerebevolking die hardste getref. Daardeur is die Afrikaner verarm en het as armblankes 'n heenkome in die stede probeer vind. Dit bring mee dat die verstedeliking van die Afrikaner nie geleidelik soos in ander Westerse lande plaasgevind het nie maar skielik op die Afrikaner afgedwing is, en daarom soveel te meer ontwrigtend gewerk het. Die stede is heeltemal deur die Britse kultuur oorheers en die verstedeliking van die Afrikaner het hom direk aan invloede onderwerp wat hy tot op daardie stadium vir die grootste gedeelte kom ontkom. Daarby is die Afrikaner aan hierdie invloede blootgestel op 'n tydstip toe hy die kwesbaarse was.
Van 1910 tot 1948 was die Boeregeneraals weliswaar aan bewind en ons mag nie wat hulle vir die Afrikaner beteken het, geringskat nie. Desnieteenstaande is die teenkant hiervan belangriker. Generaals Botha en Smuts was aan bewind van 1910t ot 1924. Die grondslag van albei se beleid was konsiliasie, soos die genoem is – versoening tussen Engels en Afrikaans. Daarmee het hulle die Britse liberale individualisme as hulle basiese politieke filosofie aanvaar. Daarteenoor was genl Hertzog die voortsetting van die Afrikaanse gedagte. Genl Hertzog was aan bewind van 1924 tot 1933. In hierdie tyd het hy wondere verrig as ons dink aan die erkenning van Afrikaans as amptelike taal, die begin ondernemings soos Yskor, wetgewing om die verhouding tussen Blank en Nie-Blank te order, en so meer. Genl Hertzog was egter verlam deur die feit dat sy Nasionale Party moes regeer in samewerking met die Arbeidersparty van kol. Creswell (die sogenaamde Pakt-ooreenkoms). In 1933, as gevolg van die ekonomiese probleme, is 'n koalisie tussen die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party van genl Smuts gevorm. Hierdie koalisie het in 1934 tot smelting oorgegaan en het die Verenigde Party tot stand gekom en regeer tot 1948. Tot 1939 met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog was genl Hertzog ook Eerste Minister, maar vanselfsprekend nog baie meer gekortwiek as tydens die Pakt-regering. Sonder twyfel was genl Hertzog die voortsetting van die Afrikaanse gedagtelyn, maar hy het nie die geleentheid gehad om dit tot behoorlike ontplooiing te bring nie.
Periode 1910 – 1948 – vervolg...