Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Voel jy dat jou laste te swaar druk? Kniel dan neer! Want met elke neerkniel sal jou las ligter word! Vertel God alles. As jy Hom al die stukke gee, wil Hy jou gebroke hart heelmaak!
AFRIKANER-LIBERALISME (5)
Lees reeks by Afrikaner-liberalisme
Individuele vryheid was vir die Afrikaner altyd 'n vryheid binne volksverband. Dit beteken dat die Afrikaner bereid was om beperkinge op die vryheid van die individu (bv. beperkinge op die gebied waar hy mag woon of werk of eiendom besit) te aanvaar ter wille van die voortbestaan en die welsyn van die volk. Op grond hiervan het die Afrikaner dit as logies, konsekwent en moreel geregverdig beskou dat daar skeiding gemaak word tussen rasse en volke. Hierdie skeiding was nie net vir die voortbestaan en welsyn van die Afrikaner lewensbelangrik nie, maar ook vir die voortbestaan en welsyn van ander volke.
DIE LIBERALISME (5)
Prof. P.S. Dreyer
Die belangrikste aspek van die periode 1910 tot 1948 is egter die feit dat die Britse en Afrikaanse beskouing van die samelewing in hierdie tyd mekaar direk die stryd aangesê het. Tot aan die einde van die negentiende eeu was die Afrikaner bereid om die stryd teen Engeland aan te knoop maar het wegtrek altyd as 'n oplossing van die probleme beskou. So het die Voortrekkers die Kolonie verlaat en hulle in Natal gaan vestig maar toe Engeland Natal annekseer, het hulle weer getrek, terug na die Transvaal. Benewens die Groot Trek was daar ook die Dorslandtrek en veral na die Tweede Vryheidsoorlog trekke na Kenia, Tanganyika, Suidwes-Afrika en selfs Argentinië.
Die oorweldigende meerderheid Afrikaners het egter ná die Tweede Vryheidsoorlog besef dat daar nie meer werklik geleentheid was om te trek nie.
Engeland het Suid-Afrika feilik geheel en al omring en gebiede wat nie Britse kolonies was nie, was kolonies van ander lande (veral Portugal en Duitsland). 'n Geleentheid om 'n eie, onafhanklike Boererepubliek op te bou, het nie meer bestaan nie; dit was vir goed verby. Daarom was daar net een keuse: òf die Britse oorheerser die stryd aansê òf ondergaan en verdwyn.
Twee beskouings gewortel in twee lewensopvattings het vanaf die Britse besetting van die Kaap teenoor mekaar gestaan en was ná 1910 in die finale doodstryd met mekaar gewikkel. Omdat twee lewensopvattings teenoor mekaar gestaan het, kan die verskille en die botsings op haas elke terrein van ons bestaan aangetoon word. Dit is agter nie die doel van hierdie artikel nie. Ons beperk ons tot die begrippe 'nasie' en 'volk' omdat dit in die opset van hierdie artikel die fundamentele botsing die beste na vore bring.
Die begrippe 'nasie' en 'volk' is nog altyd deur sommige mense deurmekaar gebruik. Daar is ook historiese veranderinge wat 'n mens kan waarneem; so word gedurende die eerste dekades van ons eeu voorkeur gegee aan 'nasie' terwyl daarna liefs van 'volk' gepraat word. Genls Botha, Smuts en Hertzog het voorkeur gegee aan 'nasie' terwyl die eerste ministers van dr Malan af, die term 'volk' verkies het.
'n Volk is 'n menslike samelewing van betreklik wye omvang. Die lede van 'n volk word aan mekaar verbind deur gesamentlike afstamming wat familieverwantskap impliseer sodat 'n relatief groot persentasie van die volk weet dat ander lede van die volk sy familie is en hy sy afstamming in die volk na die verlede kan terugvoer. Verder het 'n volk 'n gemeenskaplike taal wat sy moedertaal is, dws saam met die volk geword het. Daar is ook 'n gesamentlike kultuur, gemeenskaplike waardes en norme, gedra deur 'n gemeenskaplike lewensopvatting en wêreldbeskouing. Die lede van 'n volk is lotsverbonde, wat beteken dat hulle deur dieselfde geskiedenis gesmee is, dat hulle in die hede bymekaar hoort en in die toekoms saam sal leef of onder gaan. 'n Volk kan 'n vreemdeling aanvaar en hy kan die volk aanvaar, wanneer die vreemdeling die taal, sedes en gewoontes, lewensnorme, ens, van die volk aanvaar. Desondanks word 'n vreemdeling eintlik nooit heeltemaal deel van 'n volk nie; deurdat die vreemdeling introu in die volk word sy nageslag deur die volk absorbeer.
'n Volk wil graag 'n eie grondgebied hê en 'n soewerein onafhanklike staat vorm. Dit is vir 'n volk baie belangrik, maar hy kan daarsonder bestaan. Dit beteken dat as 'n volk van een land na 'n ander moet swerf en ondergeskik aan ander volke is, die volk nie noodwendig ophou om te bestaan nie.
'n Nasie is 'n juridiese begrip en nie 'n organiese begrip soos 'n volk nie. 'n Nasie is die totaliteit van die burgers van 'n bepaalde staat. Wesenlik van die staat is 'n bepaalde gesagsordening wat op 'n bepaalde regsorde gebaseer is. Verder moet 'n staat 'n bepaalde grondgebied hê waaroor hy die gesag voer. Sonder grondgebied bestaan daar geen staat nie. Die wyse waarop 'n mens lid van 'n bepaalde nasie of burger van 'n bepaalde staat word, word deur die wet bepaal en wie aan die vereistes van die wet voldoen, is burger van die staat. Waar ons dus by die volk met organiese gehele te doen het, het ons by die nasie met individue te make. Die begrip volk is glad nie ter sprake nie; slegs individue kan lid van 'n nasie word (deur geboorte of naturalisasie) en hoe hy dit word, word deur die wet bepaal. 'n Nasie kan uit een volk of verskillende volke plus nog 'n onbeperkte aantal los individue bestaan. Teoreties kan 'n nasie bestaan sonder dat ons van 'n volk kan praat.
As ons nou na Suid-Afrika kyk, dan blyk dit dat daar in Suid-Afrika verskillende volke bestaan het en nog steeds bestaan, naamlik die Afrikanervolk en verskeie Swart volke. Wat die Nie-Blanke inwoners betref, laat ons die Kleurlinge buite rekening as 'n volk omdat dit 'n omstrede saak is of hulle 'n volk is en omdat hulle blykbaar geen volk wil wees nie. Wat die Blankes betref, het die Afrikaners 'n volk geword en 'n volksgevoel ontwikkel omdat hulle van die begin af 'n gevoel van eie identiteit ontwikkel het en omdat hulle vroeg van die Europese moederland afgesny is, eers deur die trek na die binneland en dan ook deur die Engelse bewind. Die Engelssprekendes het nooit tot 'n volk in Suid-Afrika geword nie. Die belangrikste redes hiervoor is dat die liberalistiese lewensopvatting die volk as van mindere belang as die individu beskou. Verder was die Engelssprekendes sover dit hulle volksgevoel betref, aan Brittanje verbonde en het hulle hul nooit met Suid-Afrika identifiseer nie. Hoewel baie individue van Britse afkoms in die Afrikanervolk absorbeer is, wou die Engelssprekendes hulle nooit met die Afrikanervolk identifiseer nie.
Vanaf 1806 tot 1948 het Brittanje, Engelssprekende Suid-Afrikaners en Britsgesindes in Suid-Afrika die grootste gedeelte van Suid-Afika regeer. Die enigste uitsondering was die twee noordelike Republieke tot 1902. Selfs die bewind van die Nasionale Party van 1924 tot 1933 was aan Engelssprekendes gekoppel. Daarby is die Engelse taal en kultuur oud en magtig en het dit invloed uitgeoefen ook daar waar die Britte nie aan bewind was nie. Verder is die band met Engeland nooti verbreek nie. Al hierdie faktore maak dat die Britse liberalisme as deel van die Britse lewensopvatting, lewenswyse en praktiese politiek 'n geweldige invloed op Suid- Afrika gehad het.
In terme van hierdie liberalisme het Suid-Afrika in 1910 'n staat geword. (Vir die doel van die redenasie neem ek hier nie die ontwikkeling ná 1910 in aanmerking nie.) Die staat het sy eie grondgebied gehad, hoofsaaklik die vier provinsies van die Unie. Die Suid-Afrikaanse nasie het Engels- en Afrikaanssprekendes, Blankes en Nie-Blankes omvat, wat almal burgers van Suid-Afrika was. Verskille tussen mense is nie ontken nie: Die hoofgroepe was "Europeans" en "natives". Laasgenoemde is in Afrikaans aangedui as naturelle of inboorlinge. Tussen die een Swart volk en die ander is op amptelike vlak geen verskil gemaak nie en Swart volke het in hierdie beskouing geen plek gehad nie. Die Kleurlinge is in ietwat ander lig beskou deurdat byvoorbeeld aan kwalifiserende individue stemreg gegee is. Wat die Blankes betref, toon die terminologie baie duidelik dat die Blankes eintlik as vreemdelinge beskou is – Europieërs teenoor inboorlinge. Tussen die Europeërs is wel deeglik onderskei, soos byvoorbeeld te sien is in die feit dat ná 1902 net Engels as medium van onderrig in die skool aanvaar is en Afrikaans eers in 1926 amptelik as taal erken is. Die onderskeiding het egter nie impliseer dat 'n Afrikaner erken is nie. Juis die teendeel is waar. Om die Afrikaner van die Engelssprekende te onderskei is hy as 'Dutch' (met of sonder iets daarby) aangedui en oor 'the volk' is net met minagting gepraat.
In hierdie liberaal-individualistiese benadering het belangrike politieke, ekonomiese en sosiale gevolge vir die Suid-Afrikaanse samelewing opgesluit gelê. Onderskeidings is gemaak op grond van onderwyspeil, inkomste en so meer, en leiers soos Botha en Smuts het gepraat van 'segregasie' tussen Wit en Swart, terwyl genl Hertzog belangrike beginpunte vir die verwerkliking van die segregasie tot stand gebring het. In terme van die liberalisme mag egter so min moontlik beperkings op die individu gelê word en die samelewing moet toegelaat word om sy eie vorme te vind. In die praktyk het dit daarop uitgeloop dat in die Kaap stemreg aan Kleurlinge gegee is en in meer beperkte mate ook aan Swartes in die Kaap en Natal. Sosiaal het die skakeringe gewissel van die ryk Blankes aan die een kant in hulle suiwer Wit woonbuurte tot by die Swart lokasies aan die ander kant. Tussenin was daar in haas elke dorp en stad 'n strook van mindere of meerdere omvang waar Wit en Swart en Gekleurd deurmekaar gewoon het. Beperkinge op die omgang tussen Blank en Nie-Blank was feitlik uitsluitlik 'n saak van tradisie, sedes en gewoontes en sosiale status. Die vrye onderneming wat wesenlik deel van die kapitalistiese ekonomie van die liberalisme is, het onder andere meegebring dat, met uitsondering van die Vrystaat waar Indiërs nie toegelaat is nie, Indiërs-sakeondernemings dwarsdeur Suid-Afrika binne Blanke gebiede tot stand gekom het en die Indiër-sakeman met sy hele familie by sy sakeonderneming gewoon het.
Die Afrikaanse lewensopvatting het 'n sienswyse impliseer wat radikaal hiervan verskil het. Soos ons reeds aangetoon het, het die Afrikaner reeds baie vroeg 'n volksbewussyn ontwikkel en hom met die Suid-Afrikaanse grondgebied as vaderland identifiseer. Van Britse en Nie-Blanke kant het die Afrikanervolk hom tot in sy naakte bestaansmoontlikheid bedreig gevoel. Sowel die Afrikaanse onbewuste aanvoeling as sy bewuste nadenke op politieke en sosiale gebied, geskied in terme van die volk en dit het ewe belangrike implikasies as die liberalistiese klem op die individu. Die ekonomiese terrein was vir die Afrikaner van uiterste belang omdat die Afrikaner deur die Tweede Vryheidsoorlog, die Rebellie en die depressie van 1933 verarm is en die ekonomiese opheffing van die Afrikaner het baie aandag gekry. Desondanks het die Afrikaner die kapitalistiese ekonomie feitlik as vanselfsprekend aanvaar en is baie min oorspronkliks op hierdie gebied gelewer. Die Afrikaanse sienswyse het veral op sosiale en politieke gebied sy duidelikste, belangrikste en effektiefste implikasies gehad. Ons beklemtoon die volgende punte:
Die Afrikaanse volksbewussyn het meegebring dat ook ander – in praktyk Swart – volke in Suid-Afrika erken is. Dit het impliseer dat die Afrikaner aanvaar het dat ander volke ewe goed as die Afrikaner aan sy volkseie waarde heg en vryheid verlang.
Die Afrikaner het 'n vryheidsbewussyn wat nie swakker is as dié van enige ander volk nie. Hierdie vryheidsbewussyn impliseer ook die vryheid van die individu. Primêr is egter die vryheid van die volk. Individuele vryheid, losgemaak van die volk, het vir die Afrikaner altyd ingehou dat die individu op die lang duur opgaan in die Engelse amelewing of die Nie-Blankes – wat ook inderdaad met baie gebeur het. Individuele vryheid was vir die Afrikaner altyd 'n vryheid binne volksverband. Dit beteken dat die Afrikaner bereid was om beperkinge op die vryheid van die individu (bv. beperkinge op die gebied waar hy mag woon of werk of eiendom besit) te aanvaar ter wille van die voortbestaan en die welsyn van die volk. Op grond hiervan het die Afrikaner dit as logies, konsekwent en moreel geregverdig beskou dat daar skeiding gemaak word tussen rasse en volke. Hierdie skeiding was nie net vir die voortbestaan en welsyn van die Afrikaner lewensbelangrik nie, maar ook vir die voortbestaan en welsyn van ander volke. Ewe konsekwent en geregverdig was dit dan ook dat ander volke en individuele lede van ander volke beperkings sal aanvaar ewe goed as wat die Afrikaner bereid was om dit te doen. In die Afrikaanse sienswyse het onbeperkte regte en vryhede dus geen plek nie. Regte en vryhede is aan die volksverband ondergeskik gestel.
Die feit dat daar soveel mense in Suid-Afrika was wat buite 'n volksverband gestaan het, het vir die Afrikaanse sienswyse 'n ernstige probleem opgelewer. Hierdie probleem is op tweërlei wyse benader: Aan die een kant is die liberalistiese beskouing van burgerskap naas die volksgedagte aanvaar. Dit beteken dat op juridies-bepaalde gronde 'n inwoner van Suid-Afrika 'n staatsburger kan wees en ook regte as burger kan geniet bv die gebruik van 'n SA-paspoort sonder dat hy lid van 'n Suid-Afrikaanse volk is. Aan die ander kant is 'n soort van 'n breë klassifikasie aanvaar in die hoop dat dit in die loop van tyd volksvorming sou meebring. Dit beteken dat Engelssprekendes en ander Blankes by die Afrikanervolk gereken is – nie in die sin dat hulle Afrikaners was of wou wees nie, maar in die sin dat regte en voorregte wat die Afrikaner vir homself opgeëis het, ook aan hierdie mense toegeken is (bv. woongebiede, eiendomsreg, stemreg, en so meer). Kleurlinge en ontstamde Swartes is by die geheel van Nie-Blankes gereken in die hoop dat die Kleurlinge tot volk sou ontwikkel en die ontstamde Swarte weer in Swart volke opgeneem wou word.
In die Afrikaanse siening is geïmpliseer dat die Afrikaner nie die liberalistiese gedagte van 'n vrye samelewing wat sy eie lewensvorme moet vind, kon aanvaar nie. In die plek hiervan het die Afrikaner 'n beheerde samelewing aanvaar. Deur wette en deur gebruik van die gesagsmiddele van die staat moes plaaslike samelewings en volke van mekaar geskei word en elk op sy eie pad tot selfverwesenliking en soewereine en onafhanklikheid geplaas word.
Wat in die Afrikanersiening van baie groot belang is, is dat die Afrikaner nie net gemotiveer is deur selfbehoud of volksbehoud nie, maar deur 'n roepingsbesef. Die Afrikaner het homself gevoel as 'n instrument in die hand van God waardeur God sy raadsplan ten uitvoer bring.
Dit is teen hierdie agtergrond wat 26 Mei 1948 gesien moet word. Die oorwinning van die Nasionale Party was formeel die oorwinning van een party oor al die ander in 'n demokratiese verkiesing. Vir die Afrikaner het dit egter veel meer beteken: dit was die eerste keer in sy hele geskiedenis dat die Afrikaner sonder die hulp van on-Afrikaanse elemente aan die bewind gekom het en daarmee die politieke mag bekom het. 'n Negatiewe element in die Afrikaner se vreugde was dat hy koning kon kraai ná die hoon en spot, vernedering, minagting en opsetlike wanvoorstelling wat hy gedurende die Tweede Wêreldoorlog moes verduur. Baie belangriker was egter die besef dat die kans hom gegee is om sy toekoms as Afrikaner en as Blanke Westerling te beveilig, om die staatkundige vorm aan Suid-Afrika te gee en die volkere-verhoudings in Suid-Afrika te reël in ooreenstemming met Afrikaner-ideale – dieselfde ideale wat die Afrikaner uit die Kaap na die noorde laat trek het. Onder die beskikkende hand van God het die geskiedenis ontplooi om die Afrikaner hierdie geleentheid te gee. Dit was nie net 'n party-oorwinning nie – dit was 'n volksoorwinning, maar baie belangriker as die vreugde van oorwinning was die besef van verantwoordelikheid in 'n uur waarin die lotsbeslissing van Suid-Afrika in die hande van die Afrikaner gegee is.
Hierdie besef bring 'n energie-ontploffing in die geledere van die Afrikanervolk soos weininge volke in die geskiedenis van die wêreld meegemaak het. Om alles op te noem wat aangepak en gedoen is, sal ons te ver voer. Ek wil net twee dinge noem. In 1961 is die Republiek van Suid-Afrika buite die Statebond tot stand gebring, die vervulling van die staatkundige ideaal wat die Afrikaner eeulank gehuldig het. En tweedens: wat gedoen is en spandeer is in die vorming van die Suid-Afrikaanse samelewing, in die selfbewusmaking van die Swart volke van die land, in die opheffing, rehabilitasie van die Swart mense en in die leiding van die Swart volke tot 'n eie bestemming, laat die hulpprogramme van die VVO en die buitelandse hulp van Westerse volke na kinderspeletjies lyk.
Die Republiek van SA – vervolg...