Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dis duidelik waarom daar deesdae so min wysheid rondom ons te bespeur is; wysheid kom net uit een bron: uit kennis van die HERE en sy opdragte aan ons. Daar is baie meer sotte as wyse mense vandag omdat hulle daardie kennis en tug verag en verwerp – Spreuke 1:7
AFRIKANER-LIBERALISME (7)
Lees reeks by Afrikaner-liberalisme
'n Volk wat sy geskiedenis vergeet en die waarde en ideale wat hom deur die geskiedenis gedra het, afsweer, is geen volk meer nie maar het geblus tot 'n massa individue.
LIBERALISME IN DIE PERSWESE (1)
G.D. SCHOLTZ
Ons is in 'n era waar dit opmerklik is dat koerante wat opgerig is om die saak van Afrikanernasionalisme te propageer, die arsenaal van liberalisme uitbraak. Tevore het die liberalisme wat die merkteken "made in Britain" gedra het, en die nasionalisme wat in Suid-Afrika ontstaan het, mekaar volkome uitgesluit. Wat deur die een as beginsel aanvaar is, is deur die ander verwerp. Tussen die liberalisme en die nasionalisme kan daar nooit versoening kom nie. Die stryd tussen die draers van die liberale gedagte aan die een kant en die draers van die nasionalisme aan die ander kant sal, so ver 'n mens in staat is om die toekoms in te sien, voortduur totdat die oorwinning van die een volkome is en die nederlaag van die ander net so volkome is.
Dit is juis omdat die liberalisme en die nasionalisme in so 'n onversoenlike stryd met mekaar betroke is, dat die aanvaarding van sekere beginsels van eersgenoemde deur sekere van die Afrikaanse koerante so opvallend is; aanvaarding van die beginsels van die liberalisme beteken vanselfsprekend verwerping van die beginsels van die nasionalisme. Geen mens kan sowel liberaal as nasionaal wees nie. Dit moet eenvoudig as 'n onomstootlike feit aanvaar word.
Die vraag ontstaan dus onvermydelik: Hoe het dit moontlik geword dat koerante en tydskrifte wat met die doel opgerig is om die beginsels van die nasionalisme te verkondig, later beginsels van die liberalisme begin verkondig het? Die antwoord verg 'n kort oorsig oor die geskiedenis.
Die liberalisme en die pers het hul verskyning in Suid-Afrika op dieselfde moment gemaak. In 1824 is in Kaapstad The South African Commercial Advertiser begin waarvan John Fairbairn die redakteur was. Hy was die skoonseun van die welbekende sendling dr John Philip wat die vader van die liberalisme in Suid-Afrika genoem kan word. So het eintlik 'n dubbele huwelik tot stand gekom – dié van Fairbairn met die dogter van dr Philip en dié van die pers met die liberalisme. Tussen die Engelse pers en die oorgrote meerderheid van die Afrikaners het daar onmiddellik 'n groot geestelike kloof ontstaan. Die rede hiervoor was die benadering van die rasseverhoudinge. Die aanhangers van die liberalisme het reeds vroeg daarop begin aandring dat daar tussen Blank en Nie-Blank volkome gelykstelling sou wees. Daarvan wou die Afrikaners niks weet nie. So is in 1830 die eerste Afrikaanse koerant, De Zuid-Afrikaan, gestig om onder meer die propagering van die liberalisme te bestry. Adv. Christoffel Brand het hierin aanvanklik die leiding geneem. Tiperend vir die afstand tussen die Britse liberalisme aan die een kant en die Afrikaanse konserwatisme aan die ander kant is die mening wat Fairbairn oor die Voortrekkers gehuldig het. Hy het die mening uitgespreek dat hul verhuising uit die Kaapkolonie "no loss" was.
Hierdie stryd het dwarsdeur die res van die negentiende eeu voortgeduur. Die liberaliste het wel 'n belangrike oorwinning oor die konserwatiewes behaal toe in 1854 met die verlening van 'n konstitusie aan die Kaapkolonie, Blank en Nie-Blank op die politieke terrein gelyk gestel is. Vir die Afrikaners was dit 'n grief wat hulle besonder diep sou voel. Die band tussen die liberalisme en die pers het voortgeduur. Ná die dood van Fairbairn het Saul Solomon in sy plek getree. In sy koerant The Cape Argus het die liberalisme sy grootste ondersteuner gehad. Net soos Faribairn dit gedoen het, het Solomon die groot pleitbesorger van die Nie-Blankes geword. Hy het selfs die Zoeloe-koning Ketswajo verdedig. So het hy teen die werklikheid in gesê: " I think there should be some forbearance; for although this great military power has lasted so long, there is no frontier which has been more peaceful or undisturbed than the frontier of Natal bordering on Zululand... I fail to discover ... the slightest evidence of an intention on the part of Cetewayo to invade or otherwise interfere with Natal."
Omdat alles wat die klok in die Kaapkolonie geslaan het, volkome Brits was, het die Afrikaanse pers nie aan die invloed van die liberalisme op die duur kon ontsnap nie. Dit kon gesien word in die optrede van J.H. (Onze Jan) Hofmeyr wat na 1880 al hoe meer as die leier van die Afrikaners begin optree het. Hy het heel duidelik 'n klap van die liberalisme weg gehad. Dit het ook tot uiting gekom in die nuwe koerant Ons Land wat in 1892 gestig is. Hierdie koerant het onder die redakteurskap van adv. F.S. Malan op die gebied van die rasseverhoudinge 'n gematigde liberale standpunt ingeneem.
In die twee republieke, die Transvaal en die Vrystaat, het die liberalisme nooit enige ingang kon vind nie. Hier het onder dwang van omstandighede ook Afrikaanse koerante ontstaan – in die Vrystaat eers De Tijd en daarna De Express en in die Transvaal De Volkstem. Hierdie koerante het alle vorme van die liberalisme afgewys. Hulle het 'n onvervalste Afrikaanse nasionalisme verkondig.
As gevolg van die Tweede Vryheidsoorlog aan die begin van die twintigste eeu het die nasionalisme hom vir goed in die harte van die meerderheid van die Afrikaners ingewortel. Hulle was vasbeslote om hul identiteit as volk te handhaaf, hoe moeilik die omstandighede ook mog wees. Hierdie identiteit moes ook teenoor die Nie-Blanke meerderheid gehandhaaf word.
Die politieke eenwording van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 het saamgeval met die bereiking van 'n uiterste laagtepunt in die posisie van die liberalisme. Onder die aanhangers van die liberalisme was daar geen groot leiersfiguur wat na vore kon tree nie. Dit het veroorsaak dat die beginsels van die liberalisme nog slegs deur 'n handjievol mense in en rondom Kaapstad verkondig is. Dit het ook die twee Engelse dagblaaie ingesluit. In die Transvaal waarheen die politieke swaartepunt besig was om te verskuif, het selfs die Engelse koerante die beginsels van die liberalisme verwerp. So was hulle bv. teen die verlening van die kiesreg aan die Nie-Blankes.
'n Enkele voorbeeld van die standpunt van die Engelse pers in die Transvaal kan aangehaal word. Nog in 1930 het die Rand Daily Mail onder die opskrif "The White Man must rule" geskryf: "White rule must predominate in Africa. European interests cannot be subordinated to those of the natives. It is not for the good of the natives themselves that white settlement should be checked or that the settlers should be made to feel that they occupy an inferior position... It is European administration that will bring about the gradual civilisation of the native races, and nothing must be done to undermine it."
Dit is daarom interessant om daarop te let dat, toe hierdie gedagtes deur 'n Engelse blad uitgespreek is, dit juis die moment was dat die liberalisme op Suid-Afrikaanse bodem nuwe lewe ontvang het. Slegs enkele weke ná die artikel in die Rand Daily Mail, het J.H. Hofmeyr met 'n toespraak wat hy in Johannesburg gehou het, na vore getree as die groot leier van die liberalisme. Hy het verwys na die skool wat hy in Kaapstad as leerling bygewoon het, die South African College. Dié skool het hom gekenmerk deur "...the way in which the men whom it has inspired and trained had played their part in upholding the banner of what one might call liberalism in public life and South African politics. Liberalism is merely the projection into public life of what most of us have come to regard as the finest flower of sportmanship. We have become accustomed in this coutry to appeal to prejudice and privilege naked and unashamed, but there is a rising tide of liberalism in our country especially in the universities today."
Tot sy dood op 4 Desember 1949 was Hofmeyr die onbetwiste leier van alle aanhangers van die liberalisme. As sodanig is hy deur alle aanhangers van die Afrikaanse nasionalisme teengestaan. 'n Enkele voorbeeld hier aangehaal. In 1937 het Die Burger geskryf: "Mnr Hofmeyr is geen vertolker van die suiwer liberalisme wat die vryheid van die individu ten grondslag het nie. Aangevuur deur die Kleurling- en K.....boeties en deur sy verdraagsaamheid teenoor die sogenaamde onderdruktes en minderhede, het sy filosofie ontaard tot niks minder as kosmopolitisme nie. Ons weet wat die praktiese uitwerking is van hierdie kosmopolitisme wat lei tot saam werk, saam dans en saam trou."
Die blad het voortgegaan: " Die kosmopolitisme lê ten grondslag van die kommunisme in Suid-Afrika. Die kommunisme met sy anti-godsdienstige leerstellings ken geen kleurskeidslyn nie; rasseverskil is vir hom uit die bose. Die Hofmeyr-liberalisme met al sy logiese konsekwensies en sy kreet van sogenaamde verdraagsaamheid, is in Suid-Afrika met al sy kleurvraagstukke 'n verderflike ideologie en 'n groot stap in die rigting van kommunisme. Hierdie kreet van verdraagsaamheid, soos dit deur Hofmeyr vertolk word, lei tot 'n kreet van gelykstelling, die kreet van die kommunis. Die Hofmeyr-kosmopolitisme is 'n magtige wapen in die hande van die vyande van die Afrikanerdom; dis 'n groot gevaar vir die Blanke beskawing in Suid-Afrika."
Met die algemene verkiesing van 26 Mei 1948 het die Afrikaanse nasionalisme hierdie liberalisme van Hofmeyr 'n swaar nederlaag toegedien. Toe hy enkele maande daarna oorlede is, het hy waarskynlik gewanhoop aan die toekoms van die liberalisme. En as Hofmeyr na net dertig jaar sou kon opstaan uit sy graf, wat sou hy sien? Tot sy verrassing sou hy sien dat daar 'n nuwe party, byna suiwer Engelssprekend in sy samestelling, gevorm is wat die beginsels van die liberalisme volledig aanvaar het. Vir Hofmeyr sou beslis die grootste verrassing die feit wees dat in sekere van die Afrikaanse koerante sommige van die liberalistiese beginsels wat hy so voorgestaan het, openlik verkondig is – en vandaar van erg na erger.
'n Mens het hier inderdaad met 'n uiters eienaardige feit te doen. Die koerante wat opgerig is met die doel om die beginsels van die Afrikaanse nasionalisme te verkondig en te propageer – dié beginsels wat in die Nasionale Party beliggaam is (voordat die NP ook uitverkoop is) – het die pad van 'n Hertzog, 'n Malan, 'n Strijdom en 'n Verwoerd verlaat en die pad van 'n Hofmeyr begin stap.
Aanvanklik het hulle op 'n vernuftige plan besluit om die feit dat hulle die liberalisme begin verkondig, kon verbloem. Daarom het hulle hulself die etiket van "verlig" omgehang en die mense wat voortgegaan het om die beginsels van die liberalisme te verwerp, die etiket "verkramp". Die "verligtes" was die 'goeie' Nasionaliste en die "verkramptes" is uitgemaak as geen Nasionaliste meer nie. Voormalige lid van die Transvaalse Provinsiale Raad, mnr Andries Beyers, het hieroor gesê:" Die Nasionale Party word baie dikwels misbruik deur liberales met snaakse idees. Dis veral Afrikaanse koerantredakteurs wat op hierdie manier agter die party probeer skuil terwyl hulle vuurwerke los op konserwatiewe Nasionaliste. Hulle progeer agter mnr. John Vorster skuil en voorgee sy idees en hulle s'n stem ooreen."
By "verkramptes" is dit ook nie gelaat nie: hulle is ook die etiket van "hensoppers" omgehang omdat hulle nie bereid was om van hul beginsels afstand te doen nie. Mense wat bereid is om vir hulle beginsels te stry, word "hensoppers" genoem!!
Of die "verligte" koerantskrywers dit wou erken of nie: wat hulle in die sewentigerjare begin verkondig het, is gedagtes wat dertig jaar tevore uit die mond van Hofmeyr gekom het. Hofmeyr was 'n besliste teenstander van die segregasiebeleid van Hertzog. Die doel wat met die beleid van skeiding tussen Blank en Nie-Blank nagestreef is, was territoriale of gebiedskeiding.
Vervolg...