Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

O wederstrewige volk van God, luister nou na my onvervalste Woord! Julle het vir julle menige drêkgode bymekaar gemaak! Ek sal al hierdie sondes van julle eis. In die gloed van my toorn sal Ek dit eis van julle wat al julle geloftes aan My vergeet het...

WAARHEIDS- MEMORANDUM (10)

TEMA 3: MISDAAD

Lees reeks by Waarheidstryders

U word vriendelik versoek om hierdie memorandum aan soveel persone moontlik te versprei. U word ook hartlik uitgenooi om u mening oor die inhoud te lig. Stuur dit gerus aan die webmeester by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

DIE OPLOSSING VIR MISDAAD

Sedert Suid-Afrika sy Christen-grondwet met ’n godlose een vervang het, floreer misdaad in die land.   Dit het binne die eerste vyf jaar van sg. demokrasie met 717% gestyg en is meer as 40 nuwe misdade aangeteken wat voorheen onbekend was.   Die politieke klimaat het dit vir boosdoeners maklik gemaak om misdaad te pleeg. Daarom is niemand in die land meer seker van ʼn veilige aankoms of tuiskoms nie.

 

Die toename in misdaad is aan die verraderlike optrede van eertydse blanke politici en ontspoorde kerklui te wyte wat volksgenote verseker het dat die verfoeilike situasie wat sedert 1994 opgedis is, slegs die groeipyne van ʼn nuwe bedeling was wat spoedig sou verdwyn.   Dit het nie verdwyn nie. Volgens kenners is die misdaadvlak in Suid-Afrika die hoogste ter wêreld benewens ʼn oorlogsgebied.  

Misdaad neem egter ook wêreldwyd toe.   Amerikaanse statistiek toon aan dat besighede jaarliks $10 biljoen weens werknemer-diefstal verloor. Meer as $4 biljoen per jaar word weens geldverduistering en $3 biljoen weens inbraak verloor.   Daarbenewens word $2 biljoen aan winkeldiefstal en $1,3 biljoen weens brandstigting verloor.

Misdaad is duur.   Wetsgehoorsame burgers betaal daarvoor. Versekeringpremies skiet die hoogte in, winkels verhoog hul pryse om vir winkeldiefstal te begroot en veiligheidspersoneel moet gehuur word om oral diens te doen. En wetsgehoorsame burgers betaal indirek hiervoor. Misdaad maak ook booswigte ryk. Koerantberigte oor hooggeplaaste regeringsamptenare wat weens diefstal en korrupsie aangekeer word, is sedert 1994 algemene nuus.    

Daar word talle ingewikkelde redes vir die styging in misdaad aangevoer. Die oplossing daarenteen is eintlik baie eenvoudig – lees die Bybel: “Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Pred.8:11).  

Wie meer oor die regte van booswigte as dié van wetsgehoorsame burgers besorg is, is die grootste misdadiger. Slagoffers van misdaad word selfs vervolg net omdat hulle hul eiendom en lewens teen boosdieners wou beskerm.   Die Bybel sê wat die doel van ’n burgerlike regering is: “...want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede, maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen te straf” (Rom.13:4). Ps.101 sê die selfde. ʼn Eerbare regering moet sy wetsgehoorsame burgers beskerm en boosdoeners behoorlik aan die pen laat ry.

Petrus sê: “Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here – of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goeddoen, te prys” (1 Pet.2:13,14). Omdat ʼn regering namens God optree, moet dit soos God optree. Hy straf die kwaad en seën die goeie; nie anders om nie!

By misdade soos diefstal, brandstigting en kwaadwillige saakbeskadiging vereis die Bybel regstelling tot die oorspronklike staat. ’n Regering wat die Bybelse regstellingsproses toepas en slagoffers vergoed, sal verhoed dat misdaad lonend word. Daarbenewens moet die straf ook by die oortreding pas (Deut.19). ʼn Regering wat God se wet toepas, is feitlik misdaadvry.  

Die Bybel gee aan wetstoepassers ʼn paar duidelike reëls om misdaad mee te bekamp:

(i) Misdadigers moet volle verantwoordelikheid vir hul oortredings neem.  Die invloed van drank of dwelms is nie versagtende omstandighede nie (Num.35:16-21).

(ii) Jeugdiges moet net soos volwassenes gestraf word. As hy ʼn volwasse oortreding begaan, moet hy volwasse straf ontvang (Eseg.18).

(iii) Die Bybel eis die doodstraf vir halsmisdade en die regstelling vir alle diefstal en die eiendomskade (Ex.21,22). “Indien ’n dief betrap word terwyl hy inbreek en hy word geslaan, sodat hy sterwe, sal daardeur geen bloedskuld ontstaan nie” (Ex.22:2).    

Elke mens is egter vir sy eie beveiliging verantwoordelik. Nehemia was by geleentheid genoodsaak om sy volk teen die vyand te bewapen ”... Julle moenie bang wees vir hulle nie.; dink aan die grote en gedugte Here en veg vir julle julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise” (Neh.4:14).   Hulle wat die naaste aan jou is, moet eerste beskerm word: “Maar iemand wat vir sy eie mense en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige” (1 Tim.5:8).

Mag God ons spoedig met ʼn nuwe regering van gelowiges seën wat hierdie misdaad kan hokslaan: “O huis van Dawid! So spreek die Here: verskaf reg in die môre en red die beroofde uit die hand van die verdrukker, sodat my grimmigheid nie uitslaan en brand soos ’n vuur sonder dat iemand dit kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge” (Jer.21:12).

2.     DIE DOODSTRAF

ʼn Eerbare regering skuld sy burgers ʼn goeie bestaan.   Daarvoor moet dit wette instel en toepas. Ook die doodstraf. Dis nie liefdeloos en onmenslik soos wat onkundiges dit maak nie. Dis in lyn met die Skrif!    

Gen.9:6 gee die mees basiese uitspraak: “Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak” Wie daarmee verskil, kritiseer uiteraard die Skrif.  God motiveer selfs die doodstraf; iets wat geen ander godsdiens doen nie.

Die mens is na die beeld van God geskape. Gevolglik is moord ’n vergryp teen God. Hy het die mens aangestel om oor Sy skepping te heers en Sy heerlikheid te weerkaats: “Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword…. Hy wie sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh.2:5,6). .

Om die beeld van God te vertoon, het God aan die mens lewe gegee. Net Hy het die reg om dit te neem. Job sê: “… Die Here het gegee en die Here het geneem; die Naam van die Here sy geloof!” (Job.1:21). Geen mens durf dit wegneem nie.

Die bepaling van Gen.9:6 is lank voor die ontstaan van Israel gegee wat sê dat God die doodstraf vir alle mense van alle tye gebied het.   Toe Israel dit later as wetstoepassing aanvaar het, is dit slegs uitgebrei. Daar was 21 oortredings waarvoor die doodstraf opgelê kon word en in vier basiese groepe verdeel:

(i)      misdade waar mense gesterf het

(ii)     godsdienstige misdade

(iii)    etiese misdade en

(iv)    vormlike (seremoniële) misdade.

By misdade waar mense dood is, het die vergeldingsreg gegeld - soos wat jy aan ’n ander een doen, moet aan jou gedoen word; ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand en ’n lewe vir ’n lewe. Die Bybel eis dat moord vergeld moet word. Dis egter ’n taak wat God uitsluitlik aan die staat oplê. Dis nie vir enkelinge bedoel nie. Daar was destyds in Israel sekere plekke waar vermeende oortreders ’n regverdige verhoor kon verkry. Dis vrystede genoem. Indien die persoon wel aan moorde skuldig was, is hy daarna tereggestel.        

Mense wat destyds aan godsdienstige misdade soos Sataniese rituele skuldig was of selfs God gevloek het, is ook tereggestel.   Israel moes weet dat God ’n heilige God was. Sy heiligheid moes nie bespot, geminag of belaster word nie.

Onder etiese misdade word die slaan of vloek van ouers aangeteken (Ex.21:15,17). So ook ʼn koppige seun wat aan drank verslaaf was en met wie geen huis te hou was nie (Deut.21:18-21). Hierdie misdade het ook verskeie vorms van verbode geslagsomgang ingesluit (Deut.22:13-30).   God het aan Israel sekere heiligheidswette gegee om van die heidene te verskil. “En julle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Ex.19:6).

Om heiden elemente met die ware godsdiens te vermeng, het ook die doodstraf verdien. Lev.10:1,2 vertel van Nadab en Abihu, die seuns van Aaron, wat vreemde vuur (heidense reukwerk) geoffer het waarna God hulle met vuur uit die hemel verteer het. Sekere gevalle van die skending van die Sabbat kon met steniging gestraf word (Num.15:32-36).   Alles was nodig om die heiligheid van God by Israel in te skerp.

Desondanks lees ons ook in die Bybel van moordenaars wat nie tereggestel is nie. Kain het sy broer doodgeslaan en Moses ’n Egiptenaar. Dawid het Uria, die man van Batseba, laat ombring.   Daar word eter nie gesê waarom hulle nie aan die pen gery het nie.

Die doodstraf vir moord moet in gehoorsaamheid aan Gen.9:6 verstaan word. Hierdie opdrag is lank voor Israel se ontstaan gegee. Dit geld vir alle tye en is derhalwe vir die ganse mensdom bedoel.   Die rede vir die doodstraf vir ander oortredings is nie so voor die hand liggend nie. Dit was waarskynlik ʼn afskrikmiddel vir voornemende misdadigers en ʼn rigtingwyser na die waarde van lewe as ʼn gawe van God  

Nêrens in die NT word die doodstraf ooit opgehef nie.   Dit wat vir die OT gegeld het, het ook vir die NT gegeld. Die NT maak dit egter wel duidelik dat slegs die staat die doodstraf mag oplê en voltrek. Dis nie vir enkelinge beskore nie: Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte…. want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede, maar as jy kwaad dien, vrees dan, want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Rom.13:3,4).    

Teregstellings is in die NT gewoonlik met onthoofding uitgevoer. In Hand.12:2 skryf Lukas dat Herodes die apostel Jakobus met die swaard laat doodmaak het. Die swaardmag was sinoniem met die staat se reg om boosdoeners die lewe te ontneem.   En omdat God die staat opdrag gee om wet en orde te handhaaf, kan burgers van die staat eis/verwag om in hul basiese veiligheidsbehoeftes te voorsien.   Sonder die doodstraf kan wet en orde nie gehandhaaf word nie. Oral waar dit in die wêreld afgeskaf is, het wetteloosheid oorhand toegeneem.

Paulus stel dit duidelik dat die staat sy regeermag van God ontvang en derhalwe ’n dienaar van Hom is.   Wie dit nie gebruik nie, is ’n dienaar van die Satan.   Daar staan in Rom.13 geskryf dat die owerheid die swaard nie verniet dra nie.   Dis die staat se goddelike plig om diegene wat die doodstraf verdien, toepaslik te straf.   Wie dit nie doen nie, dien God nie.

Toe Pilatus vir Jesus sê: “…. Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?” (Joh.19:10) antwoord Hy: ” …U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie…” (:11). As Paulus voor Festus staan, sê hy: “…. Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word…. as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie…” (Hand.25:10,11). Paulus het die owerheid se reg op die doodstraf eerbiedig.

Die NT gee geen formele voorskrifte vir die oplegging van die doodstraf soos wat die OT doen nie. Ons weet egter van twee kwaaddoeners wat saam met Jesus gekruisig is.   In daardie tyd kon die Joodse Raad die doodstraf vir oortredings van godsdienstige, sedelike en vormlike aard oplê en by wyse van steniging laat voltrek. Dis hoe Stefanus gesterf het (Hand.7). Jesus het egter verhoed dat hulle Hom by geleentheid wou stenig. So ook die owerspelige vrou (Joh.8:3-7).  

Met laasgenoemde geval blyk dit tog dat Jesus in gevalle van godsdienstige en sedelike oortredings ’n ander weg as dié van doodstraf aangewys het – dié van sondeberou en bekering.   Die doodstraf vir godsdienstige, etiese en vormlike oortredings is wel geleidelik uitgefaseer.  

’n Owerheid wat booswigte doeltreffend straf, is ’n instrument in God se hand deur namens Hom boosheid te bekamp.  Niemand durf egter in persoonlike hoedanigheid wraak neem nie. Mense moet kan vergewe soos wat in die Onse Vader verwoord word. God het die alleenreg om te vergeld: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Rom.12:19).  

God oefen sy wraak en vergelding deur gehoorsame owerhede uit, Daarom word die owerheid in Rom.13 ’n wreker genoem. Die doodstraf moet booswigte afskrik. Daarom is die doodstraf ’n beskermingsmaatreël wat die samelewing ten goede is. Owerhede moet mense rustig laat leef.

Dis elke mens se reg om hom teen aanvallers te verdedig. Hy het die lewe as gawe van God ontvang en gevolglik sy plig om dit op te pas.   Indien hy in selfverdediging ’n aanvaller doodmaak, is hy nie aan moord skuldig nie.

’n Eerbare owerheid sal sy burgers teen booswigte beskerm, die doodstraf oplê en vinnig voltrek. “Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Pred.8:11).   Om moordenaars lang gevangenisstraf op te lê, is ʼn onreg. Hulle kan na vrylating weer moor, soos al dikwels gebeur het. Om vir baie lank deur die staat versorg te word is ook baie onbillik teenoor wetsgehoorsame belastingbetalers!

Baie mense sê dat die doodstraf nie ʼn afskrikmiddel vir misdaad is nie.  Die Bybel sê wel so.  Wie teen die doodstraf gekant is, glo dat die lewe heilig is en derhalwe beskerm moet word al is ander se lewens wederregtelik beëindig.   Die doodstraf is glo barbaars en hoort nie in ’n beskawing tuis nie. Nee, as God self opdrag tot die doodstraf gee, hoe durf mense sê dat dit barbaars is?!

As dit by verwarde denke kom, span die Bevrydingsteologie egter die kroon. Die ontspoorde teoloë staan die doodstraf teen omdat hulle glo dat die verkeerde party gestraf word.   Bose samelewingstrukture (soos apartheid!) moet eerder vir die kwaad in hul gemeenskappe verantwoordelik gehou word. Bose samelewings kweek bose burgers. Dis niks anderste as die filantropiese ideologie van die edel barbaar nie!

Dis onsinnig om moorde aan die invloed van bose samelewings toe te skryf.. Dis eerder regerings wat hul goddelike plig versaak. ’n Regering wat God se Woord gehoorsaam en die doodstraf oplê, maak dit vir wetsgehoorsames veilig om in so ’n land te bly. Daardie regering is nie skuldig aan die bloed van onskuldiges wat daarna nog vloei nie.   As ’n regering egter nie doelgerig teen misdadigers optree nie, is hulle aan die selfde misdaad aandadig (Deut.21:1-9).

Sedert die doodstraf in 1989 in Suid-Afrika afgeskaf is, is nagenoeg 500,000 mense in die land vermoor. Dit bewys dat as ’n regering nie aan booswigte die doodstraf oplê nie, lê booswigte dit aan wetsgehoorsames op!

  

3.   BURGERLIKE ONGEHOORSAAMHEID

Mense met baie name hou nie daarvan om vorms in te vul nie. Keiser Nero sou beslis nie daarvan gehou het nie - Nero Claudius Caesar Augustus Germanicus!   Hy was 12 jaar lank keiser van Rome (54-68nC) en ’n booswig wat gruwels bedryf het soos om met ʼn man getroud te wees! Toe ’n vernietigende brand ’n deel van Rome in 64nC verwoes het, het hy die Christene die skuld daarvoor gegee. In werklikheid het hy die brand laat stig om plek te maak vir nuwe geboue wat hy daar wou oprig.    

Paulus se brief aan die Romeine is tydens Nero se regering geskryf. ’n Mens sou kon verwag dat Paulus gelowiges tot opstand teen hierdie booswig sou aanvuur, maar hy het nie.  Selfs onder ’n goddelose keiser skryf Paulus om nie die regering van die dag teen te staan nie omdat alle regeermag van God af kom.   Regeerders dien God in hul politieke hoedanigheid.

Paulus stel dit in Rom.13 duidelik dat die staat sy mag van God ontvang en derhalwe ’n dienaar van God is.   Wie hierdie mag nie gebruik nie, word ’n dienaar van die Satan!   Daar staan geskryf dat die owerheid die swaard nie verniet dra nie.  

Toe Jesus voor Pilatus verskyn, sê Pilatus vir Hom: “…. Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?” (Joh.19:10). Hierop het Jesus hom geantwoord: ” …U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie…” (:11). Jesus het Pilatus tereggewys. Sy menslike gesag was ’n Godgegewe gesag.

Toe Paulus later voor Festus staan, sê hy: “…. Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word…. as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie…” (Hand.25:10,11). Paulus het die owerheid wat die reg het om die doodstraf op te lê, eerbiedig.

’n Paar jaar later het Petrus in sy eerste Sendbrief ook oor staatkundige gesag geskryf. Dit het soos Paulus se skrywe ’n paar vrae laat ontstaan.    Het Paulus en Petrus van gelowiges verwag om hulle altyd aan die gesag van regering van die dag te onderwerp ongeag die wette hulle uitvaardig? Mag gelowiges ooit burgerlik ongehoorsaam wees?    

Daar is drie vorms van burgerlike ongehoorsaamheid. Eerstens anargisme wat sê dat ’n persoon na goeddunke kies om ʼn regering te gehoorsaam. In die lig van Rom.13 het so ʼn standpunt geen Bybelse ondersteuning nie.   Ekstremisme is ʼn tweede vorm van burgerlike ongehoorsaamheid.   Dit sê dat ’n persoon die regering van die dag gehoorsaam moet word ongeag sy /opdragte.

Hierdie standpunt het ook geen Bybelse steun nie. Selfs die geskiedenis kom hierteen in opstand. Tydens die Nuremberg-verhore wou een van die Nazi prokureurs die verskoning gebruik dat sy kliënte net hoër opdragte uitgevoer het en dus nie vir hul gruwels aanspreeklik gehou kan word nie.   Een van die regters vra toe: “Meneer, is daar dan nie ’n hoër wet as menslike wette nie?” Met hierdie eenvoudige vraag het die opposisie se argument verkrummel.   Die Heilige Gees oortuig die mens wat reg of verkeerd is. Ongeag die Nazi-regering se bevele het die offisiere geweet dat hulle verkeerd doen.

Die derde en korrekte vorm van burgerlike ongehoorsaamheid is Bybelse onderdanigheid. Die Skrif leer gelowiges om aan ’n burgerlike regering onderdanig te wees mits dit nie gruwels wettig nie.   In so ’n geval durf ’n gelowige die owerheid nie gehoorsaam nie. Dit sal sonde wees. “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie…” (Ex.23:2).

Die Bybel het talle voorbeelde van gelowiges wat ter wille van God burgerlik ongehoorsaam was.  In Ex.1 het die Farao twee Hebreeuse vroedvroue opdrag gegee om alle manlike babas dood te maak.   Hulle het geweier: “Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning van Egipte aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe” (:17). En God het hulle geseën: ” Maar God het aan die vroedvroue weldadigheid bewys.… En omdat die vroedvroue God gevrees het, het Hy huisgesinne aan hulle geskenk” (:22,21).

Jos.2 vertel van Ragab wat die koning se opdrag veronagsaam het om die twee Israelitiese spioene uit te lewer en hulle laat ontsnap.   Alhoewel dit ’n opdrag van haar koning was wat met die dood gestraf kon word, het sy geweet dat sy dit nie kon doen nie. Die Israeliete het dan ook haar lewe gespaar toe hulle die stad geval het.  

In 1 Sam. gee Saul opdrag dat niemand moes eet voordat hy die geveg teen die Filistyne gewen het nie.   Toe Jonathan die opdrag veronagsaam en heuning eet om hom te versterk, het Saul opdrag gegee dat hy doodgemaak moes word.   Toe sê sy manskappe vir hom:” …. Moet Jonathan sterwe wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het? Volstrek nie!   Sowaar as die Here leef, geen haar van sy hoof sal op die aarde val nie!.... So het die volk dan Jonathan losgekoop, dat hy nie gesterf het nie” (1 Sam.14:45).  

1 Kon.18 vertel van ’n sekere Obadja wat God gevrees het. Toe sy koningin Isebel die profete van God begin vermoor, het hy 100 van hulle versteek en so aan die dood laat ontkom.   Sy optrede was direkte ongehoorsaamheid aan die regering van die dag, maar in ooreenstemming met God se wil. Daarom het Isebel se plan om al die profete van God dood te maak, nie geslaag nie.

2 Kon. 11 vertel van Atalia, koning Ahasia se moeder, wat na sy dood die hele koninklike geslag van Juda laat uitmoor het.   Die koning se dogter het egter vir Joas weggesteek om die bloedlyn te behou. Toe hy ses jaar later koning word, het hy sy ouma laat teregstel. En dit was reg in God se oë.

Die boek Daniel vertel van twee gevalle van burgerlike ongehoorsaamheid. Die eerste in hoofstuk 3 - die bekende verhaal van Sadrag, Mesag en Abednego wat nie voor die beeld van koning Nebukadneser wou buig en uit die brandende vuuroond verlos is. Die tweede verhaal is in hoofstuk 6 waar Daniel koning Darius se bevelskrif om niemand anderste as die koning te aanbid nie, veronagsaam het, waarna God hom uit die leeukuil verlos het.

Handelinge 4 vertel van Petrus en Johannes wat ’n verlamde man genees het en weens hul getuienis oor Christus in die tronk gegooi is. Die Joodse kerklui wou die Christendom probeer keer en die dissipels beveel om nooit weer van Jesus te praat nie:” Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis. ; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien of gehoor het nie” (Hand.4:19,20). Toe die kerklui hulle daarna weer aan die opdrag herinner, sê Petrus: “… Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Hand.5:29).          

Die laaste voorbeeld van burgerlike ongehoorsaamheid wat in die Bybel opgeteken is, is in Openb.13 waar die Antichris almal wat in die eindtyd leef, opdrag sal gee om die beelde wat van homself gemaak is, te aanbid.   Dis ’n soortgelyke geval as in die tyd van Daniel.   Johannes skryf dat die gelowiges van die eindtyd dit nie sal doen nie.  

Daniel is ’n baie belangrike boek vir die gelowiges van die eindtyd.   Soos wat gelowiges in die tyd van Daniel geleef het, sal dit ook aan die einde wees. Daar sal vervolging van staatsweë se kant wees. So ook goddelike ingrypings! God raap nie gelowiges weg soos wat dwaalleraars verkondig nie, maar staan hulle op ’n baie besondere wyse aan die einde by.

Burgerlike ongehoorsaamheid is nie sonder meer sonde nie. Die Bybel gee vir gelowiges duidelike riglyne. Hulle moet ʼn regering wat gruwels wettig en mense tot boosheid aanhits, teenstaan.   Dis die enigste toelaatbare burgerlike ongehoorsaamheid.

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1919 gaste aanlyn