Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Aan die einde van jou lewe sal die vraag nie wees hoeveel jy hét nie, maar hoeveel jy gegee het; nie hoeveel jy gespaar het nie, maar hoeveel jy opgeoffer het; hoeveel jy liefgehad en gedien het, nie hoeveel jý geëer is nie.
AFRIKANER- NASIONALISME (8)
T B Floyd
Lees reeks by Afrikaner-nasionalisme
Die toepassing van Christelik-nasionalisme
Die toepassing van die beginsels en ideale van nasionalisme stel soveel eise aan die mens dat sy natuurlike selfsugtigheid en strewe na eiebelang dit vir hom uiters moeilik maak om dit gedurig te doen en sodoende nasionalisme ten volle uit te leef. Baie strewe daarna, maar net ’n klein getal kan ooit as goeie voorbeelde beskou word. Min kan onder alle omstandighede soos generaal C.R. de Wet sê: „Liewer met my eie Volk op die mishoop”, of soos generaal Koos de la Rey optree waar hy ’n rebellie wou lei, ’n republiek stig en dan generaal Botha, d.w.s. ’n ander persoon, president maak. So het hy bewys dat hy besiel was met die gedagte om sy nasie te dien sonder om eer vir homself te soek.
Min kan ook sê soos Padraic Pearse, die Ierse leier van Ierland, gesê het: „a love and a service so excessive as to annihilate all thought of self, a recognition that one must give all, must be willing always to make the ultimate sacrifice.” Aan die ander kant is daar min mense te vinde wat glad nie iets van nasionalisme of sy basis, patriotisme, in hulle het nie.
As ’n nasie eenmaal vry en baas in sy eie land is, dan kom daar ander groot versoekings en moet die selfdissipline soms sterker wees as in die geval waar ’n nasie nog nie sy volle regte besit nie. In laasgenoemde kan patriotisme op ’n georganiseerde wyse hom alleen deur nasionalisme laat geld, terwyl in eersgenoemde geval dit ook in die meer primitiewe imperialisme kan verval.
Die stryd van die Afrikaner is dié van ’n verowerde nasie en sy patriotisme vind dus uiting deur Christelik-nasionalisme. Ten eerste is dit ’n stryd teen die veroweraar om die verowering ongedaan te maak. Dit het tyd geneem want die vyand het dit teengestaan en hom beywerom dit te verhoed deur die verengelsing van die Afrikaner. Hierdie pogings van die vyand bring dan die tweede deel van die stryd. Dit dwing die Afrikaner om verdedigend op te tree en om sy taal, kultuur, lewensbeskouing, gewoontes en sy landstreek as sy eie te beskerm. Die Afrikaner raak dus in ’n stryd gewikkel waar hy verdedigend sowel as aanvallend moet optree.
Deur net verdedigend op te tree, kan moontlik die identiteit van die nasie behou word, maar dit behou nie die gedagte dat Suid-Afrika die land van die Afrikanernasie is, nie. Dat dit Afrikanerland is, om dit te kan doen, word ’n aanvallende optrede vereis. Verder, om verdedigend op te tree, beteken ’n nimmer-eindigende stryd, waar die gevaar van ondergang altyd aanwesig is. Alleen deur aanvallend op te tree, kan die stryd eindig met oorwinning. Dit verkort die stryd.
Nasionalisme kan alleen in ’n nasie tot uiting kom deur individuele lede of deur groepe wat georganiseerd werk. Vandag is ongeorganiseerde optrede amper hopeloos en moderne omstandighede vereis goed georganiseerde optrede, want die vyand sal wel net so goed georganiseerd wees. Persone wat sterk besiel is met nasionalisme, werk soos suurdeeg met woord, daad en voorbeeld in die verskillende kringe van ’n nasie om die vlam van nasionalisme aan die brand te hou. Terence MacSwiney, wat met die laaste opstand in ’n Engelse tronk op hongerstaking gegaan het en daar gesterf het, moedig aan met die woorde: „ A true thing is a good thing and from a good thing rightly pursued can follow no bad consequences . .. For one armed man cannot resist a multitude, nor one army conquer countless legions; but not all the armies of all the empires on earth can crush the spirit of one true man, and that one will prevail.”[1]
Die organisasies wat nasionalisme kan bevorder, is soos volg:
(a) Taal- en kultuurorganisasies; (b) Politieke organisasies.
Wat die kerk betref, kan dit nie ’n organisasie wees wat nasionalisme gebruik of wat onder nasionalisme of enige van sy organisasies staan nie. Die Afrikaanse kerke het in die verlede, behalwe waar hulle die kant van die vyande van die Afrikaanse nasie gekies het, altyd as ’n bindende faktor opgetree. Die kerke se bestaan hang af van die Afrikanernasie. Verdwyn die Afrikanernasie, of deur verengelsing of andersins, dan verdwyn die Afrikaanse kerke. Verswak die Afrikaner in die land op enige wyse, dan verswak die Afrikaanse kerke en hulle invloed.
Die Afrikaanse kerke dra heelwat by om die Afrikaner se lewensbeskouing te vorm. Hierdeur speel die kerke ’n rol om die aparte identiteit van die Afrikanernasie te vorm en te behou. Op taal- en kultuurterrein sowel as op die terrein van die vorming van die Afrikaner se sedelike karakter is die invloede van die kerke onmisbaar. Dit is die plig van die kerke om te sorg dat die klem altyd op die Christelike godsdiens val. Die Afrikaner se lewenshouding is die van Christelik-nasionalisme en die plig van die kerke is om die Christelik suiwer te hou, nie deur aktiewe deelname in die stryd van Christelik-nasionalisme op die politieke terrein nie, maar om te sorg dat die Afrikanernasie so Christelik in karakter is dat sy nasionalisme niks anders as ’n Christelike karakter kan dra nie.
Vervolg...
[1] The Principles of Freedom deur Terence MacSwiney, p. 29, 30.