Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Nadat God sy eie taak as Skepper uitgevoer het, het Hy ook die rusdag geskep. Ons is veronderstel om heeltemal van ons werke te rus, nie net liggaamlik nie maar ook geestelik, sodat God ín ons kan werk.
ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (3)
Outobiografie van Robey Leibbrandt:
GEEN GENADE
Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self
Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ is, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.
My kinderjare
Geen van die kinders het oom John en sy gade egter soveel pyn, kommer, vermoeienis en verdriet besorg as juis die derde nie. By geboorte was hy baie klein en heelwat ondergewig, maar seer sekerlik nie kleiner en ligter as duisende ander babas nie. Hierdie seuntjie is op 25 Januarie 1913 op Potchefstroom gebore. Sy naam is Sidney Robey Leibbrandt.
Kort na my geboorte is my vader na Graaff-Reinet verplaas, waar ons tien jaar gewoon het. As gevolg van hierdie verskuiwing is ek in die Tweetoringkerk op Bloemfontein gedoop.
Toe Meyder skool toe moes gaan, het hy botweg geweier. Sonder sy jonger boetie wou hy om die dood nie gaan nie.
So het dit gebeur dat ek reeds op vyfjarige leeftyd kennis gemaak het met die skoolbanke. Skoolgaan was vir my 'n heerlike avontuur. Nou het ek nie meer "Jan Piet, Jan Pat, Jan Hawersak," geleer nie, maar volbloed-resitasies.
Saterdae het ek en Meyder dikwels saam met die ouer seuns gaan kampeer. Die Van Niekerks was reeds groot. Hulle het digby ons gewoon. Hulle kon al die rook deur hulle neuse uitblaas. Hulle kon goed skiet, het graag baklei en het net soos grootmense gevloek. Teenoor ons kleintjies was hulle ongenadig hard en brutaal. As ons sukkel om die steiltes uit te klouter, het hulle ons aangehelp met daardie wit kadetgordels. Die Van Niekerks het geen verskoning aanvaar nie. "Julle moet manne word," het hulle altyd aan ons gesê. Van die leergordel is goed gebruik gemaak in hierdie spartaanse opleiding.
Van spoke het ons later eers gehoor. Ons was toe al te groot om veel aandag daaraan te skenk. Oom John het sy kinders geleer dat elke mens sy eie spook is. "As jy skrik, moet jy slaan," het hy ons vertel, "maar weghardloop ... nooit!"
Op die hoek nie ver van ons woning nie, was die dorp se bioskoop geleë. Saans het ons dikwels daarheen gegaan. By die ingang het Meyder die praatwerk gedoen. "My pa sal kom betaal," het hy altyd gesê. Mettertyd het hierdie storie nie meer ingang gevind nie. Ons het 'n ander plan beraam. As die gedrang groot was by die ingang, het ons onder die mense se bene deurgekruip. Ons het nooit by die deur omgedraai nie.
Einde 1918 het die Leibbrandts na Noordstraat verskuiwe. Ons het 'n dubbelverdiepinghuis betrek. Hierdie woning was nader aan die Verdedigingsmagskantore en ook nader aan die mark. Die afstand na die skool was nou heelwat groter. Dikwels is ek na die mark gestuur om inkopies te doen. Ewe manhaftig het ek penniegewys teen die grootmense op die botter gebie. My skril seunstemmetjie het die omstanders geamuseer. My moeder het geglo dat haar kinders selfstandig moet grootword.
Vroeg in my lewe het ek die waarde van geld leer ken. Wat ek egter die beste en die gouste geleer het, was om my vuiste te gebruik. Onder alle omstandighede moes ek leer om my man te staan. In ons huisgesin was en is daar geen lafaards nie.
Ek en Meyder was gedurig slaags met die klonkies. Die "Slag van Bloedrivier" moes dikwels oorgeveg word — kaalvuis. Soos uit die roemryke verlede van ons voorouers, was getalle-oorwig altyd in hulle guns. Van vlug of terugwyk was daar egter geen sprake nie. Ek het opgegroei met die idee dat ek geen nederlaag kan ly nie.
As kind het ek 'n sorgvrye en ongebonde lewe gevoer. Waar stout opgehou het, het ek begin. Strooptogte op ander mense se vrugteboorde was aan die orde van die dag.
My eerste bewuste poging om te rebelleer teen wat ek as radikaal verkeerd beskou het, was in 1922. In daardie jaar is die Voortrekkerbeweging op Graaff-Reinet in die lewe geroep. Die stigter was my klasonderwyser, dr. Japie Heese. Hy was later Uniale voorsitter van die Voortrekkerbeweging. Ek was een van die eerstes om aan te sluit.
Op 'n dag het die Voortrekkers op Tweede Fonteintjie gaan kampeer. Toe dit begin donker word, moes ek tot my ontsteltenis ontdek dat van die ouer seuns aangestel is as monitors oor ons kleintjies. Ons is verbied om tussen die bosse en bome te speel. Ek het bitter teleurgestel en uiters gekrenk gevoel oor hierdie toedrag van sake. Die gedagte dat ander seuns oor my moes baasspeel, het my tot rebelsheid geprikkel.
Ek het die aand om die kampvuur gesit en broei van boosaardigheid. Op onmiskenbare wyse het ek my misnoeë te kenne gegee. Meyder het hom by my geskaar. Die volgende oggend het vyf ander Voortrekkertjies by ons aangesluit. Ons sou wegbreek van die hoofgroep. Klein Kaltenbrünn, 'n broertjie van die beroemde fietsryer, sou ons gaan wys waar 'n bynes is. Op die terugtog huistoe die oggend het ons stilletjies weggesluip in die rigting van die Vallei van Verlatenheid. Ons het geen voorsiening gemaak vir kos en water nie. Die harde klim en die warm son het almal nou na drinkwater laat smag. Die waterkuil bo-op die berg was droog. Twee het besluit om die vaandel te stryk. Die vasbeslotenheid om voort te gaan, was egter duidelik by die ander te bespeur.
Eerder die nektar uit die aalwynblommetjies suig as om te hensop oor dors. Leonard — ons het hom altyd Baba genoem — was op agt jaar die jongste van die vyf jeugdige rebelle. Sy ouer boetie, Von Welfling Eybers, was fyn en tengerig gebou soos ek, maar 'n regte platjie. Omtrent vieruur die middag het ons by die bynes aangeland. Na veel gesukkel is die nes van al die heuningkoeke beroof en ons het aan die heuning, byewas en jongby gesmul.
Kaltenbrünn was 'n uitstekende gids. Spoedig was ons by die Sondagsrivier. Getroos het ons op die wal gesit — elkeen met 'n droë doringboomwortel tussen die vingers. Ons rook dat die dampe staan. Kompleet soos bedrewe tabakpruimers word daar kort-kort gespoeg. Die geelbruin vog van die boomwortel prikkel die tong en brand die lippe. Niemand kla nie. Die vernedering is te groot. Ons is mos manne en nie sussies nie!
Die rokery ontaard in 'n spoegkompetisie. Meyder en Von Welfling is die grootste. Hulle spoeg trek die verste. Plotseling word die pret onderbreek. Die hoof van die Voortrekkers verskyn op die toneel. Vinnig word die nog brandende toppertjies in die sand gesteek. Japie Heese se oë vonkel. Om sy mondhoeke plooi 'n ondeunde glimlaggie. Hy blaas deur sy neus. Sy rit is beloon. Die vonds is te groot om nog kwaai te wees. Hy praat nie 'n woord nie. Hy wink vir Leonard en laai hom voor op sy fiets. Die kweperlat het Maandagoggend in die klaskamer al die opgeskorte praatwerk gedoen.
My vader het in 1948 vir die eerste keer van hierdie gebeure verneem. Hy het dit in Die Brandwag gelees. In daardie jaar het sestien artikels oor my oorlogsavonture in die tydskrif verskyn. Hy was erg ontstoke. Selde het ek my vader so briesend kwaad gesien. Wat hy my alles toegesnou het, sal beter in 'n dissiplinêre kodeboek pas.
As dril-instrukteur verbonde aan die Suid-Afrikaanse Verdedigingsmag, was my vader onderhewig aan gedurige verplasings. Gevolglik het ek my skoolopleiding aan vyf verskillende skole geniet. Dr. Von W. Eybers was hoof van die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet. Dit was die eerste volbloed-Afrikaansmediumskool in Kaapland. Geen prinsipaal het soveel agting en bewondering by ons skoliere afgedwing as hierdie lang, skraalgeboude onderwyser nie. Sy eggenote, "juffrou" Tissa, was 'n genie.
In standerd drie was sy tydelik my klasonderwyseres. Elke tragiese gebeure in ons volk se lydingstryd en wordingsgeskiedenis het sy treffend realisties aan ons geskilder. Een oorlogstoneel na die ander het voor my op die verbeeldingsdoek verskyn.
In my optrede van later jare het mev. E. Eybers onwetend 'n reuse-aandeel gehad met haar geskiedenisklasse in my vormingsjare.
Tissa Eybers het my geskiedenis geleer, maar Japie Heese het my laat resiteer. Op kunswedstryde het ek menige prys verower. Eers was dit "Waghondjies" en later "Jopie Fourie" en "Die Twee Boodskappers". So 'n diepe indruk het A.D. Keet se heldesang op my gemaak dat dit my seker altyd sal bybly.
Aan al my ou speelmaatjies op Graaff-Reinet, sou ek graag my opregte dank wil betuig vir hulle onbewuste bydrae tot die vorming van my karakter. Ook 'n woordjie van waardering aan Katot. Hy was die beste bakleier onder die klonkies. Indien sy helpers net so moedig soos hy was, sou ek swaarder geleer het aan my ouers se voorskrif om nooit te kapituleer nie.
In Maart 1924 is my vader na Port Elizabeth verplaas. Ons het in NoordEinde gewoon. Die Mackayskool was digby geleë. Dit was ook die enigste Afrikaans-geörienteerde skool in die omgewing. Ek was toe elf jaar oud en in standerd vier.
Begin 1925 was ons weer terug op Potchefstroom. Die huis by Kockstraat 44 het nog aan my vader behoort. Die ou sinkgeboue op die skougronde is verdoop na die Hoër Volkskoolgeboue. Hier het ons agtien maande skoolgegaan.
My bekendstelling aan die seuns van die buurt het soos gewoonlik langs kragdadige weë geskied.
Daar is seker min plekke wat ek ken waar die seuns so maklik en Iekker baklei het soos op Potchefstroom. Niemand het ooit daaraan gedink om van skollie-metodes gebruik te maak nie. "Jy wen soos 'n held of verloor soos 'n man," was die ongeskrewe leuse van die dorp. In my ou geboortedorp was ek so tuis soos 'n sandgogga in die woestyn.
In Julie 1926 is ons na Bloemfontein. My vader was gelukkig om 'n gewese militêre-huis op Tempe te bekom. Ons het op die bult in die noordwestelike deel gewoon. Hier was besonder lekker maatjies; beter vind jy nie. Aan my was hulle so getrou soos 'n Jonathan van ouds. Ons kinders is almal na verskillende skole gestuur. Ek en Meyder het na Grey-kollegeskool gegaan.
Vervolg...