Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God praat met sy kinders deur siekte. Dit is dan dat jy besef dat elke oomblik van jou lewe maksimaal benut moet word, dat dit genadetyd is, en net 'n klein deeltjie van jou lewensplan uitmaak, en dat jou eintlike lewe nog by God op jou wag.
ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (4)
Outobiografie van Robey Leibbrandt:
GEEN GENADE
Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self
Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ is, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.
3. My opleiding as bokser
Op Grey-kollege het ek my eerste les in die nobele kuns van selfverdediging ontvang. My breier was sersant Walker. Ek was toe dertien jaar oud en het 'n skamele 97 pond geweeg. Hoewel dit net die tweede maal was dat ek bokshandskoene aangetrek het, was ek heeltemal tuis met die kussing op my hande. In daardie jaar het ek aan die skoolkampioenskappe deelgeneem.
Ek het in een rondte met my teenstander klaargespeel en was in die finaal. Die ander finalis het egter geweier om teen my te boks en ek was bokskampioen van die Grey-kollegeskool.
Ek het 'n eierkelkie-trofee ontvang. Onder my skoolmaats het ek skielik 'n "held" geword. Eienaardig hoe baie "helde" ons in Suid-Afrika het. Dit is sporthelde, politieke helde, taalhelde, koerantpapierhelde en die duiwel weet watter soort helde nog. Met weinige uitsondering staan hulle almal op kleipote. Is dit nie miskien omrede ons land wemel van fisiese en morele lafaards dat ons so graag praat en skrywe van helde nie? In die buiteland het ek nooit gehoor of gelees van hierdie goedkoop gefabriseerde helde nie.
Op boksgebied het ek in die loop van tyd goeie vordering gemaak. Een aand was ek weer by 'n bokstoernooi. In die finaal was dit teen Len McLaughlin. Hy was toe reeds 'n ervare, blitsige klein bokser. Hoewel drie jaar ouer as ek, was hy twee pond ligter. Ek kon eenvoudig net nie hierdie dartelende, skerpsinnige klein meester onder skoot kry nie. Len het die wenbeslissing gekry. By my was daar geen sweem van wrok, haat of afguns nie. Ek, Len en Meyder het later boesemvriende geword. Deur sy toedoen het ek daardie aand die bekende Tom Holdstock ontmoet.
Tom Holdstock het die fondament van my boksloopbaan gelê. Hy was 'n baie regverdige maar harde leermeester. Tom Holdstock het ons hard en taai geslaan. Dit is geen wonder nie dat nog ek nog Len ooit in 'n boksgeveg met die planke kennis gemaak het.
Waar ek met my bokslesse agter was, het ek met die kaalvuis ingehaal. Ek was spoedig koning onder die ridders van kaalvuisfaam. Almal by die skool het met hulle moeilikhede na my gekom. Ek was landdros en folterbank gelyk. Die afknou van jonger en kleiner kinders op skool was uit die bose en streng verbode. Hierdie wet het ek self geproklameer en self tot uitvoering gebring. So het dit gebeur dat ek in baie gevegte betrokke geraak het waarna ek nie gesoek het nie.
Op 'n dag is daar weer 'n klag by my ingedien. Een van die Grey-seuns is deur'n skrynwerker van die ambagskool toegetakel. Na verdere besonderhede het ek nie gevra nie. Die middag na skool is ek saam met die klaer. Die kêrel van die ambagskool het by 'n gebou naby die suidelike hek van ons skool gewerk. Aan toeskouers het dit nie ontbreek nie. Seuns is nou maar eenmaal so: hulle verkies 'n warm vuisgeveg bo 'n stomende bord sop.
"Daar staan hy," het my metgesel opgewonde en half histeries uitgeroep. "Jy het my mos gisteraand onskuldig geslaan. Hier is nou die man wat jy gesê het ek kan maar bring." My segsman het na 'n skrynwerker op die dak van 'n halfvoltooide huis gewys. Die ambagsman het opgehou timmer en my kwaai aangegluur.
"Met daardie vuilgoed wil ek niks te doen hê nie," het by krities teruggeskree. "Moremiddag by die dieretuin kan hy hom kom dik vreet. Ek sal sy moses vir hom bestel."
Die volgende middag was daar bykans 300 skoliere by die dieretuin in die park. Gou word daar na 'n geskikte kol tussen die bome gesoek. Vlakvoor ons in die pad hou 'n vragmotor stil, volgelaai met ambagsmanne. Almal veel ouer as ek.
Ek het reeds my boeksak afgehaal en my baadjie uitgetrek.
"Slaan hom vrek. Sy maats met hulle gestreepte skoolbaadjies kan sy lyk wegdra," het die grootste en oudste in die groep gesê. 'n Jong, frisgeboude man het van die vragmotor afgeklim en so 'n entjie regs van my gaan staan. Sy bors was half kaal, sy moue hoog opgerol. In die skadu van die boom het hy half skeel gelyk.
Ek het my hemp dieper in my broek gesteek, toe hy onverhoeds op my afstorm. Ek tree vinnig terug. Sy linkervuis slaan 'n gat in die lug. Ek gooi 'n regterhaak. Hy loop vas in die hou. Soos 'n nat beesvel slaan hy neer. Sy spoed dra hom verder. Hy skuif tot byna by die bak van die vragmotor. Sy luidrugtige aanhitsers begin vloek en raas. Nou is die gort gaar. Drie-vier uitgevrete lummels spring deur die lug. Hulle slaan met woeste vaart. Skoene en vuiste maak 'n bredie van die geveg. My broeksknope spat. Dit skop en slaan aanmekaar. My broek lyk naar van die stof. Die meeste houe is van agter teen my kop gemik. Met alle geweld slaan ek links en regs. My regterduim hang komieklik slap. Hy is gebreek. Ek voel die pyn. Dit steek soos naalde in my arm op. "Nou of nooit," bons my hart die woorde teen my borskas vas. Ek voel 'n floute oor my daal. Sonder verdediging val ek nou aan. Nog een plat. Die ander skrik.
"Dis genoeg," hoor ek vaag. Dit jubel in my hart. Almal spring op die vragmotor. Hulle ry weg. My maats wil my klere help afstof. Ek weier beslis. Dit doen ek alleen. My duim word met 'n nat sakdoek vasgebind. My keel is droog. My kop is vol knoppe geslaan. My gesig makeer skynbaar niks. Moeisaam klim ek op my fiets. Ek ry stadig na Tempe waar my behoeftige dog dapper maatjies woon. Hulle het nooit toegelaat dat of ek of 'n ander maat so skandelik in die steek gelaat word nie.
Van hierdie voorval het my ouers eers baie later gehoor. My duim het by gebrek aan mediese behandeling skeef aangegroei. Vandag staan die duim nog soos 'n kombuishoender se toon. Tot aan die einde van 1938 het hierdie stukkie gebreekte been my ontsaglik veel las gegee.
In 1928 was daar groot opgewondenheid by die diereskou in Bloemfontein. Uitgedos in my eerste langbroek, het ek die verrigtinge bygewoon. Kieskeurig het ek op die skouterrein rondgestap terwyl ek gedurig gedink het dat my broek nie vuil mag word nie. Waar die stof te dik lê, het ek op my tone geloop. Kort-kort is die omslag van die broekspype afgestof.
"Anybody to fight the blood-sweating kangaroo from Australia?" hoor ek die uitdagende stem van die aankondiger. Die aankondiging word tot vervelens toe herhaal. Ek stap deur die stof versigtig nader. Aan 'n popspeelhaltertjie word 'n groot kangaroe deur 'n gesette mannetjie rondgelei. Die dierasie wip lomp agter sy baas aan. Die bokshandskoentjies aan sy voorpote laat hom verspot lyk.
Die Grey-kollegeseuns drom om my saam. "Gaan boks teen die kangaroe," por hulle.
"Moenie mal wees nie," verweer ek my. "Die ding kan glad nie boks nie." Die aankondiger se woorde word later 'n eentonige refrein. Die seuns bring hulle vaders en ooms na my. Almal hits my op verskillende maniere aan. Die veglus laai in my op. Die gedagte aan my nuwe langbroek demp die drang. Liggies stof ek my broekspype af.
"As julle dan almal te bang is, sal ek self teen die kangaroe boks," sê die kort mannetjie met 'n uittartende en smalende toon in sy stem. "Hoor wat sê die klein vloek. Hy sê ons is almal te bang. Jammer ek is al te oud," sê 'n ou boer wat net langs my staan. Soos gloeiende ysters brand die woorde in my ore. Dit skroei my siel. Dit worstel met my trots. Die nuwe langbroek is skoon vergete. Met lang hale en swaaiende arms stap ek na die vermetele bog.
"Bang! Wat praat jy van bang. Ek sal teen die verdomde kangaroe baklei." In my verbeelding sien ek vir Dirkie Uys. Hy jaag met sy perd tussen die gewapende Zoeloes in. Hy wil sy swaar verwonde vader red. Besiel met hierdie gees, stap ek manhaftig na die tent waar die geveg gaan plaasvind. Die mense storm na die gevegsterrein. Die tent is in 'n ommesientjie vol. Die tentklappe word voor toegemaak.
My baadjie trek ek vinnig uit. My moue word haastig en sommer slordig opgerol. Die kort mannetjie trek my handskoene aan. Hy praat Engels. Hy waarsku aanmekaar. Ek verstaan hom goed. Op die speelgronde van die GreyKollegeskool praat ons in albei landstale. Dit hang net af hoe die keuse val.
"As jy die kangaroe hard slaan, is daar moeilikheid. Hy gaan jou aan repe skop," babbel hy een stryk deur. My maatjies kyk almal na my.
"Laat hy maar skop soos hy wil. Jy sê mos ons is bang. Ek sal hom aan stukke slaan," antwoord ek sonder sigbare wees.
Die geveg is aan die gang. Die mense skree en lag. Die kangaroe se spitsbekkie is moeilik om met reguit houe raak te slaan. Met linker- en regterswaaihoue tref ek hom keer op keer. Die kangaroe wip soos 'n slaghoender sonder kop in die met saagsels bestrooide kryt rond. Al weifelend kom hy nader. Ek bly op die aanval. Met sy voorpootjies gryp-voel-gryp hy na my. Aan sy dom boksmetodes skenk ek geen gedagte nie. Sy ogies is net 'n skrefie oop. Hy is nou dig by my. Nog 'n goeie opstopper tref hom in die maag. Hy steur hom nie daaraan nie. Ek loop nou ver voor met punte. Selfs sy eie baas sal dit nie betwis nie. Skielik trap-skop hy met sy agterpote. Hy tref my met sy een poot in die sy. Nog 'n skop. Ek voel 'n brandende pyn in my lies. Die lang naels aan sy agterpote het my stukkend gekrap. "0 so, jy skop, jou vervloekte ding," mompel ek terwyl 'n harde regter teen sy kop ontplof.
"Stop! Stop!" kerm die kort mannetjie. Hy staan binne die kryt en wys met sy arms en hande. Die kangaroe wip nou met lang spronge rond. "Nee, los my. Nou sal hy bars," sê ek en stap dreigend vorentoe. Die mannetjie kyk my verbaas aan.
"Kyk hoe lyk jou broek. Jy is half nakend," pleit hy kwaai, dog simpatiek. Ek kyk na my nuwe broek. Skuins voor aan die broek is 'n lang skeur. Op die daad is ek kwaad.
"Nee wag, so kan jy nie voor die vroumense optree nie," maan hy my. Hy vat hardhandig om my pols en probeer die handskoen verwyder. Hy staan nog steeds met sy rug na sy kangaroe. Met een reuse-sprong is die dier reg teen ons. Hy skop na sy baas. Albei pote tref hom in die holte van sy rug. Die mannetjie seil deur die toue en land op sy gesig.
"Moet asseblief nie meer slaan nie," smeek hy vir 'n verandering. "Vandag sal ek hom nooit tot bedaring kry nie."
Die "bloed" aan die kangaroe se bors was kleurstof. Dit het verskriklik gebrand in die krapplekke wat ek opgedoen het.
Daardie middag moes ek die ses myl huis toe loop. Met so 'n sleg geskeurde broek wou ek nie in die bus ry nie. By die huis het ek my broek stilletjies uitgetrek en diep weggebêre. My moeder het van my geveg met die kangaroe gehoor, maar geen woord teenoor my vader gerep nie. Sy was nie kwaad oor die skeur in die broek nie. Sy het net geglimlag oor die opmerkings wat sy by die skou oor my en die kangaroe gehoor het.
Vervolg...