Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons trek so graag grense om ons want in die wêreld bied dit 'n bepaalde en goeie ruimte vir jou om in te leef. Wees egter versigtig dat jou grense nie vir jou 'n kluisenaarslewe veroorsaak nie.
ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (11)
Outobiografie van Robey Leibbrandt:
GEEN GENADE
Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self
Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ was, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.
My opleiding in Duitsland
Aan die Ryksakademie vir Liggaamsopvoeding het ek vier Suid-Afrikaners ontmoet. M.J. Pienaar van Rustenburg was student aan die Universiteit van Pretoria en het na Berlyn gekom om 'n gevorderde kursus in liggaamsopvoeding te volg. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het hy 'n oulike Duitse nooientjie getrou. Oor die Duitse radio-omroep was hy bekend as Neef Buurman en baie Suid-Afrikaners wat na Zeesen ingeluister het, sal hom nog aan sy pittige gesegdes onthou. Dr. Danie Craven van rugbyfaam het 'n onderwyserskursus saam met nog twee ander Suid-Afrikaners gevolg.
Net soos Ling die vader van die Sweedse gimnastiek is, is Frederick Ludwig Jähn die skepper van die liggaamsopvoeding wat Nasionaal-Sosialistiese Duitsland onder die glorieryke leiding van Adolf Hitler groot en magtig gemaak het.
In die Duitsland van daardie tyd is daar konsekwent van politieke liggaamsopvoeding gepraat. Die rede vir hierdie benaming lê voor die hand. Volgens die Nasionaal-Sosialistiese opvatting is die mens 'n politieke wese en behoort hy met geheel sy hart, siel, liggaam, gees en verstand aan daardie volk waaruit, waarin en vir wie hy gebore is. Dit is derhalwe die heilige plig van elke volksgenoot om die eiendom van sy volk tot die hoogste grens van ontplooiing te ontwikkel, te staal en te smee tot eer van die volksgemeenskap. Ter verwesenliking van hierdie ideologiese stelling, is dit die Staat se plig om die nodige geriewe te skep. Onder die slagkreet: "Meer sportvelde en minder hospitale," het die Duitse volk gegroei en gebloei tot 'n sterk veerkragtige en geestesgesonde gemeenskap.
Daar is ontsaglik veel klem gelê op die oefeninge waar waaghalsigheid die botoon gevoer het. Die praktiese lewe en veral die slagveld bewys duidelik dat 'n sterk en gesonde liggaam sonder die nodige moed en durf van weinig waarde is. Deur middel van sy liggaam is die Duitser opgevoed om 'n roemryke rol te speel in die militêre verdediging van alles wat vir sy volk edel, skoon en heilig was.
Om 'n volledige beeld te skep van alles wat met liggaamsopvoeding in Nasionaal-Sosialistiese Duitsland nagestrewe is, sal 'n lywige boekdeel verg. Die vraag is egter of liggaamsopvoeding ooit 'n grootser nut kan hê as wat hier ligweg geskets is?
Die Ryksakademie vir Liggaamsopvoeding was naby die Olimpiese stadion en het deel uitgemaak van die Ryksportterrein. Dit het in alle opsigte voldoen aan die vereistes van selfs die kieskeurigste student.
Kubetska, een van my kamermaats, was die beste kameraad wat ek ooit in Duitsland leer ken het. Hy was 'n Studeten-Duitser en 'n onverskrokke vegter vir die idee van Adolf Hitler. Oor die Tsjegge en hulle uittarting en dwangmetodes kon hy nooit uitgepraat raak nie. Skuins oorkant my het Abbas geslaap. Hy was 'n Libanees uit Holland en sy vernaamste kenmerk was dat sy voete verskriklik onwelriekend was. Kort voor die oorlog was hierdie arme kêrel in 'n hewige tweestryd gewikkel. Hy kon net nie besluit met watter land en volk hy moes simpatiseer nie. Hoewel ek al 'n paar keer sy skoene en sokkies by die venster uitgesmyt het, kon ek nie help om hom jammer te kry nie. Om alles te kroon, het hy een aand twee vlaggies bokant sy bed aan die kamermuur opgehang. Dit was nie, soos ek verwag het, die vlae van Nederland en Libanon nie, maar wel die Union Jack. Hierdie gevoelsbetuiging het my woedend gemaak.
"Jy is net so domastrant en onnosel soos baie van my landgenote in SuidAfrika," het ek hom skerp toegesnou. "Jy besit geen enkele druppel Britse bloed waaragter jy en jou armsalige minderwaardigheid kan skuil nie. Die opregte Brit dink minder van jou as van 'n ridderlike en dapper vyand. In werklikheid verag hulle jou soort en dryf heimlik die spot met julle ..."
Ek het die Union Jack gegryp en dit ewe kalm in my sak gesteek. Abbas het my verslae aangekyk, maar dit nie gewaag om sy mond oop te maak nie. Die volgende dag toe ons almal in 'n luimige stemming was, het Abbas die geleentheid aangegryp om my oor die kole te haal.
"Jy het gister soos 'n orakel gepraat oor die Union Jack by my bed, maar jy het skynbaar vergeet dat die foto van Adolf Hitler aan die wand by jou bed hang. Jy is altyd so gretig om tydig en ontydig aan almal te vertel dat jy 'n Boer is, maar tog hang die foto van 'n Duitser bokant jou bed," het Abbas spottend aan my gese.
"Baie dankie, meneer die Britse vlaggie-smous," het ek my verdedig. "Net soos Christus 'n nuwe tydvak onder die heidene met sy godsdiensleerstelling ingelui het, so is Adolf Hitler tans besig om 'n nuwe idee en wêreldbeskouing aan alle volke te verkondig. In Johannes 4 vers 9 staan baie duidelik in die Bybel dat Christus 'n Jood was. Wil jy nou vertel dat alle Christene Jode of Joodse handlangers is? Net so is alle Nasionaal-Sosialiste beslis geen Duitsers nie en nog minder is hulle Duitse lakeie. Indien ek die Duitse vlag met sy swart, wit en rooi by my bed gehang het, sou ek dit as 'n teregwysing beskou het, maar om die foto van die Führer aan te haal by jou beskuldiging is belaglik."
Voordat ek nog meer kon sê, het Kubetska tussenbeide getree.
"Indien Robey Leibbrandt dit ooit sou waag om ons Duitse vlag by sy kop te hang, sou dit my walg. Sodoende sou ek alle agting vir hom verloor en sal ek hom beskou as 'n verraaier van sy volk en vaderland. Deur so 'n daad sal by alle reg verbeur om as Nasionaal-Sosialis te paradeer," het hy gesê.
Abbas het stilswyend na ons geluister en sonder woord of gebaar die studeerkamer verlaat. Later het ek gehoor dat Abbas dapper geveg het toe Duitse troepe Nederland binnegeval het. Hy was wel 'n Libanees, maar Nederland was sy geboorteland en hy het dit as sy dure plig beskou om teen enige vyand van Nederland die wapen op te neem. Langs hierdie weg bring ek hulde aan Abbas vir sy kloekmoedige optrede.
Gedurende 'n lesing in die biologie-klas wat deur bykans honderd-en-vyftig studente bygewoon is, het prof. Schultz van die Ryksakademie vir Liggaamsopvoeding'n uiters gewaagde verklaring gedoen. Hy het verwys na die Kleurlinge aan die Kaap as die resultaat van bloedvermenging tussen Boere en Hottentotte. Ongeag die ysere dissipline wat in Nasionaal-Sosialistiese Duitsland geheers het, het ek in woede uitgebars.
"Dit is 'n infame leuen," het my stem deur die vertrek gedreun. "U het geen reg om my volk so skandelik te beledig nie. Ek verwerp u beskuldiging met veragting."
"Sit asseblief, Robey. Sit! Luister tog na my. Jy gaan geskors word uit die Ryksakademie," het Kubetska opgewonde gefluister.
"Ek gee nie 'n duiwel om nie. Ek gaan buitendien uit protes hierdie vervloekte plek verlaat," het ek hard geantwoord.
Prof. Schultz het gebloos en 'n verleë glimlag het om sy mond geplooi om sy verleentheid te verberg.
"Kom spreek my asseblief in my kantoor ná die lesing, Leibbrandt," het by gesê.
Die professor het nie weer 'n enkele woord oor die Boere gerep nie. Na afsluiting van die periode het ek reguit na sy kantoor gestap, vasbeslote om geen verdere beledigings te gedoog nie. Vriendelik het die professor my egter binnegenooi.
"Sit, Robey." Sy stem het van aandoening gebewe. "Ek is baie spyt oor wat gebeur het. Die gegewens het ek hierin gevind." Hy het 'n boek aan my oorhandig. "As u daarteen beswaar maak, vra ek om verskoning," het by bygevoeg.
Prof. Schultz se galante houding het die wind skoon uit my seile geneem. Diep in my siel het ek hom jammer gekry. Hy het lank en vertroulik met my gesels. Met 'n stewige handdruk het ons van mekaar afskeid geneem. Toe ek later aan Kubetska en die ander Duitse studente meedeel dat prof. Schultz my uitgenooi het om saam met hom en sy gesin Ou-Kersaand aan sy woning deur te bring, het hulle hul verbasing uitgespreek.
"Dit is by ons hier in Duitsland ingewortelde tradisie dat 'Heilige Abend' deur elke gesin en familie in afgesonderde geslotenheid herdenk word. Prof. Schultz bewonder beslis jou optrede vandag in die biologie-klas," het Kubetska gesê.
Die volgende oggend het my groep voor die hoofingang van die "Huis van Duitse Sport" in gelid gestaan en wag op prof. Nertz om sy verskyning te maak.
"Ek dink tog prof. Schultz het gelyk gehad oor wat hy gister in die biologieklas van die Boere gesê het," het ek iemand agter my hoor sê.
Blitsvinnig het ek omgeswaai. My regtervuis het agter die skuldige se kop verby gevlieg. Ek het my ewewig half verloor en hom in 'n koplem beetgekry. "Wat gaan hier aan?" het ek 'n stem hoor vra. Dit was prof. Nertz. "U het net betyds u opwagting gemaak, Professor. Anders sou daardie bullebak 'n lyk gewees het," het ek luid gesê.
Onderwyl ek aan prof. Nertz die hele verhaal vertel het, het my groep na die sportveld gemarsjeer.
"Wat?" het hy verbaas uitgeroep. "Is dit moontlik dat 'n sogenaamde gedissiplineerde persoon so iets kan beweer?"
Daardie selfde middag is al die Duitse studente beveel om in die reuse koepelsaal te vergader. Geen uitlander is by hierdie byeenkoms toegelaat nie. Later daardie aand het Kubetska aan my vertroulik meegedeel dat prof. dr. Wentzel, die direkteur van die Ryksakademie vir Liggaamsopvoeding, die laaste een dringend gewaarsku het dat indien enige Duitser weer 'n uitlander beledig of te na kom, so 'n persoon onmiddellik uit die Ryksakademie geskors sou word.
Baie mense sal my optrede in Duitsland as te kras bestempel, maar wie die Duitsland van Adolf Hitler so goed leer ken het soos ek, sal weet dat ek sommige Duitsers net in hulle eie munt terugbetaal het. Ongelukkig het daar tydens die bewind van Adolf Hitler 'n sekere soort Duitser ontpop wat nie kon onderskei tussen trots en verwaandheid nie. Hulle holklinkende bombasme het verset by my uitgelok. Hulle was onteenseglik die oorsaak dat die buitewêreld 'n totaal verkeerde indruk van Nasionaal-Sosialistiese Duitsland gekry het.
Elke opregte Duitser, wat sy politieke oortuiging ook al mag wees, verfoei die geringste teken van swakheid. Indien so 'n swakkeling nie oppas nie, sal die Duitser hom in die modder vertrap. Daarby besit die Duitser 'n byna heilige respek vir durf en kragdadige optrede, hoe verkeerd so 'n persoon se beskouing ook mag wees. Nie alleen het Adolf Hitler die Duitse volk met ongelooflike en fantastiese leiding na eteriese hoogtes gevoer nie, maar met die valbyl het hy hulle ook reggekap.
Oor die algemeen besit die Duitser 'n goeie sin vir humor, maar wanneer met sy volk of met sy land se militêre instellings gespot word, is daar onmiddellik moeilikheid. Dit is hierdie onpeilbare en regverdige trots van die Duitser wat 'n onuitwisbare indruk op my gemaak het.
Om enige twyfel uit die weg te ruim, wens ek onomwonde te konstateer dat ek vir die Duitse volk 'n baie tere plek in my hart het. My diepe bewondering vir die Duitse volk spruit uit my omvattende kennis van die Duitser. Ek is egter self geen Duitser nie en sal of kan ook nooit 'n Duitser wees nie. Nie alleen verbied my politieke geloof so 'n gedaanteverwisseling nie, maar is ek ook trots om die naam Suid-Afrikaner te dra. Die onverganklike liefde vir my eie volk in Suid-Afrika is gedurende die oorlogsjare deeglik getoets en duur beproef.
Die doel van my skrywe is geensins 'n powere poging om propaganda te maak vir óf Duitsland óf Nasionaal-Sosialisme nie, maar bloot om my optrede te verdedig teen die duiwelse propaganda wat so onheilspellend diep in die harte van my mede-Suid-Afrikaners ingesink het.
In Nasionaal-Sosialistiese Duitsland is die fondament van my jarelange studie in die politieke wetenskap stewig gelê. Die magiese krag van die voorbeeld, waarop daar in Duitsland soveel klem gelê is, is reeds deur die eeue oor en oor bewys. Net soos die jeug, word geen volk ter wêreld deur toesprake of koerantartikels gelei nie, maar slegs deur die aangrypende voorbeeld.
Na beëindiging van die Eerste Wêreldoorlog het 'n revolusie in Duitsland uitgebreek en die Duitse volk was verdeel in agt-en-veertig politieke partye. Uit daardie bloedige moeras het Adolf Hitler 'n magtige staat gesmee deur gedurig as voorbeeld voor die Duitse volk op te tree.
In Nasionaal-Sosialistiese Duitsland het geen instrukteur, op welke gebied ook al, die geleentheid gehad om aan die jeug voor te sê wat hulle moes doen nie. Die jeug het sonder uitsondering geëis dat die leermeester moes voorgaan en demonstreer wat hy van hulle verlang. Die alwyse teoretici se holle frases is in Nasionaal-Sosialistiese Duitsland met spot bejeën en alleen die daad het vir die Duitser waarde besit. Die saamvattende definisie van Nasionaal-Sosialisme het op sigself net louter daad beteken — opbouende dade in diens van jou eie volk en vaderland. Dit was 'n kragtige teenvoeter van óf jingoïsme óf Internasionaal-sosialisme wat 'n eufemisme vir Kommunisme is. Die mens se waarde is nie bepaal volgens wat hy weet nie, maar volgens sy vermoë om te kan doen.
Een Saterdagmiddag het 'n groep van die "Hitler-jeug" die Ryksakademie se binnenshuise swembad besoek. Prof. dr. Wentzel, die middeljarige direkteur van die Ryksakademie, het onverwags ook sy opwagting daar gemaak. Toe hy merk dat die seuns groot belangstelling toon in die tien meter hoë duiktoring, het hy hom gaan ontklee en sonder vertoon of woorde van heel bo afgeduik. Baie van die seuns was waaghalsig genoeg om sy voorbeeld te wou volg, maar is streng deur hulle bevelvoerder verbied. Indien 'n jong man dieselfde duik uitgevoer het, sou die aantrekkingskrag tot 'n minimum beperk gewees het, maar om 'n geleerde professor van diep in die veertig dit te sien doen, het die jeug geweldig beïndruk. Duitsland was 'n land waar die idioom "woorde wek maar voorbeelde trek" ten volle uitgeleef is.
Dit was vir my veral 'n plesier om te sien hoe streng die jeug dissipline handhaaf. Nie een sou dit waag om die nee in 'n ja te omskep nie. In Duitsland het ek nooit gesien dat 'n Duitser dit waag om selfs 'n stukkie botter van sy tafelmaat se afgemete porsie te neem nie, al het hy ook geweet dat sy tafelmaat nie vir ete sou opdaag nie. Geen motoris het ooit langs die reuse netwerk van motorpaaie stilgehou om die boer se vrugteboord te besoek nie. In die oorlogsjare was die hele Duitsland verdonker. Indien enigeen hom tydens die verdonkering skuldig gemaak het aan diefstal, is so 'n persoon se kop summier afgekap. Dieselfde straf het gegeld vir die diefstal van 'n pakkie wat aan 'n soldaat in die loopgrawe geadresseer was. Duitsland is met 'n ysere hand regeer. Dit is trouens al taal wat die Duitser graag wil verstaan.
Hoewel ek geensins my studies aan die Ryksakademie vir liggaamsopvoeding verwaarloos het nie, het my belangstelling in die politiek geen perke geken nie. Hoe sterker my geneentheid tot die Nasionaal-Sosialisme gegroei het, hoe groter het my liefde vir my eie volk en vaderland geword. Hierdie groeiproses het later volle wasdom bereik; ek was nie alleen 'n oortuigde en toegewyde Nasionaal-Sosialis nie, maar 'n fanatikus. Ek het geen geleentheid laat verbyglip sonder om my politieke gevoelens aan die mou te speld nie.
Een aand het ek en Kubetska 'n biersaal in Unter den Linden besoek. Aandagtig het ons gesit en luister na die toespraak van Adolf Hitler wat soos gewoonlik oor die draadloos uitgesaai is. Daar het 'n doodle stilte in die saal geheers. Elke woord van die Führer het my diep getref. Skaars het sy slotwoorde weggesterf toe ek plotseling op die tafel spring. Ek was in 'n halwe beswyming en het met vurige oortuiging gepraat. Ek is 'n Boer uit Suid-Afrika en die wêreld moes dit weet. Ek het my gehoor van die Groot Trek en van die heldedade van man, vrou en kind vertel. By my vertelling van vergiete bloed en trane, van die smart en lyding van die Tweede Vryheidsoorlog het my gemoed gedreig om vol te skiet.
"Mag God ook aan my volk 'n groot leier skenk!" het ek geëindig.
My woorde is met luide toejuiging begroet. Selfs die skoolkinders in Duitsland het in hulle geskiedenisklas van die dappere Boerevolk gehoor.
Die volgende oggend het prof. dr. Krummel, die ministeriële direkteur van liggaamsopvoeding in Duitsland, my na sy kantoor ontbied en my gelukgewens met my optrede as Suid-Afrikaanse Nasionaal-Sosialis. Ek het later uitgevind dat Kubetska al my doen en later aan prof. dr. Wentzel oorgedra het. Hy was my getroue kameraad en het nooit gefaal om my te onderskraag nie.
Enkele weke later het ek sonder toestemming die Afrikaanse studente wat op toer deur Duitsland was, in die Suid-Afrikaanse konsulaat toegespreek. Hierdie keer het ek hulle vertel hoe hulle gebeure in Nasionaal-Sosialistiese Duitsland moet sien en vertolk. Dr. Gie, die Suid-Afrikaanse konsul in Berlyn, en die leier van die studente, het my hierdie optrede kwalik geneem. Ek en dr. Gie was daarna nooit weer goeie vriende nie.
In Nasionaal-Sosialistiese Duitsland was daar geen werkloses nie; inteendeel, daar was 'n groot gebrek aan arbeidskragte. Werkers is van ander Europese lande ingevoer om hierdie leemte aan te vul. Voor die bewindaanvaarding van Adolf Hitler het miljoene Duitsers werkloos in die strate rondgedool. Binne enkele maande was die bordjies verhang. Selfs aan die Ryksakademie het vroue in die kleedkamers by die swembad gewerk.
Waar daar geen werkloosheid is, heers geen armoede nie. Die bevolking van Duitsland het nou wel nie 'n baie hoë lewenstandaard gehandhaaf nie, maar niemand het gebrek gely nie. Om te bedel, was 'n misdaad en die staat het gesorg dat elkeen 'n menswaardige bestaan maak, hoe kranklik of gebreklik hy of sy ook al was. Daar het 'n bewonderenswaardige gees van kameraderie onder die Duitse volk geheers. Die knap straatveer was hoër aangeskryf as die swak professor. Snobisme was uit die bose en is met alle middele bekamp.
Elkeen het dit as sy plig beskou om sy stad of dorp skoon te hou. Geen sigaretstompies, dooie vuurhoutjies, papiere, vrugteskille of enigiets wat 'n plek kon ontsier, is op straat of elders gegooi nie. Alles het in houers gegaan en is op die een of ander manier verwerk ter aanvulling van die Duitse verbruiksware. Die briljante Duitse tegnici het daarvoor gesorg dat Duitsland 'n selfonderhoudende en selfstandige land geword het.
Dr. Robert Ley, die minister van arbeid in Duitsland, was 'n fenomenale figuur. Hy het vir die Duitse arbeider meer gedoen as wat enige land ter wêreld ooit gedink het om vir sy eie werkers te doen.
In Nasionaal-Sosialistiese Duitsland het ek spoedig besef dat 'n gewapende botsing met die Kommunisme onvermydelik was. Die deurslaggewende faktor in tyd van stryd is egter nie soseer die wapen nie, maar wel die man, vrou en kind — besiel met die regte gees — wat agter die wapen staan. Om die regte gees te ontwikkel, moet daar gedurig gevaarlik geleef word.
Vervolg...