Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer jy sekerheid het wat God se take vir jou hier op aarde is en jy jou met oorgawe daaraan toewy, kan geen mens met watter kwade bedoelings ookal, jou ontstig en ontwrig nie want dit is nie belangrik nie – die Here sê ons moet rustig voortwerk, Hy is in beheer. Glimlag dan en doen jou dagtaak in die gemoedsvrede wat God jou skenk.
ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (13)
Outobiografie van Robey Leibbrandt:
GEEN GENADE
Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self
Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ was, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.
Ek word valskermsoldaat
Vroeg die volgende dag het die bevel oor die telefoon gekom: "Meld jou more aan by die valskerm-opleidingsentrum in Stendal. Van die offisier in bevel sal jy verdere opdragte ontvang. Onthou: die strengste geheimhouding word van jou verwag."
Hierdie waarskuwing het ek beslis nie nodig gehad nie. Dit was teen elke muur opgeplak en in elke film vertoon: "Duitsland, die geboortegrond van Nasionaal-Sosialisme, is in gevaar. Pas op vir spioene!"
Daar was ook talle ander vermanings om die Duitse volk te waarsku teen enige onbesonne optrede. Wat my egter die meeste getref het, was die lang stroke wit materiaal met die woorde: "ONS KAPITULEER NIE", daarop.
Hierdie drie woorde het die verlede, die hede en die toekoms van die Duitse volk op treffende wyse vertolk. Dit het 'n volk tot nadenke gemaan. Oor wat dit alles behels, kan 'n boekdeel geskrywe word. Laat ek egter volstaan met die stelling dat dit onteenseglik groots is om as oorwinnaars uit die stryd te tree, maar groter is die oorwinning vir die oorwonnene wat fanatiek weier om te kapituleer.
Om my doel te bereik, was ek genoodsaak om amptelik by die Duitse leër aan te sluit. Dit het my hoegenaamd geen gewetenswroeging besorg nie. Ek was te eniger tyd bereid om as Duitse soldaat te veg en te sterwe om die behoud van die idee van Adolf Hitler. Vir my was dit 'n keuse tussen Nasionaal-Sosialisme en Kommunisme.
Wat daar in die gedagtes van die leiers van die Geallieerdes omgegaan het, weet nugter alleen. Was dit hulle haat, nyd of afguns jeens Adolf Hitler en die Duitse volk wat hulle met blindheid geslaan het? Of was dit 'n doelbewuste poging om onder die dekmantel van valse propaganda die Weste aan die Kommunistiese monster uit te lewer?
Wat hulle uiteindelike doelstelling ook al was, is nie hier ter sprake nie. Feit is egter dat hulle later bekend sal staan as die grootste oorlogsmisdadigers wat die wêreld nog opgelewer het.
By my aankoms in Stendal het 'n voertuig gereed gestaan om my en die ander aspirant-valskermspringers na die kaserne te neem.
Vir die eerste keer in my lewe het ek die volle diepere betekenis van die woord dissipline leer ken.
Ek is saam met Max Schmeling en dr. Springer in dieselfde kamer gehuisves. Ek en Max was albei fris manne en aan die swaar kant, terwyl die kandidate vir die springkursus uitgesoekte klein Duitsertjies was. Die kontras het egter geen vrae uitgelok nie. In Hitler se Duitsland is geen vrae gestel nie.
Tog was dit duidelik dat daar 'n spesiale rede voor was. In Schmeling se geval was die rede natuurlik dat hy die voormalige swaargewigbokskampioen van die wêreld was. Sy teenwoordigheid in die "Hemelvaart-kommando" — soos dit genoem is — sou die Duitse jeug aanmoedig om daarby aan te sluit. Destyds is oral in Duitsland 'n film vertoon van hoe Max Schmeling met 'n valskerm uit 'n vliegtuig spring.
Max is 'n stil en goedgeaarde kêrel, maar ongelukkig geen soldaat nie. Die wil was wel daar, maar sy spiere was te soepel en te sag vir die harde lewe in die Duitse militêre diens. Na nege maande diens is die voormalige wêreldkampioen tot korporaal bevorder. Met die inval in Kreta in 1941, is die Duitse Ysterkruis aan Max toegeken.
Die Duitse valskermsoldate was jonk, gehard, klein en besiel met 'n onvermurfbare krygsgees. Baie van hulle se geesdrif het soms oorgehel na verwaandheid. Die gevolg was dat hulle een Duitse marslied begin verdraai het. Die juiste woorde was: "Vandag hoor Duitsland ons en more die hele wêreld." Hulle sing toe egter: "Vandag behoort Duitsland aan ons en more die hele wêreld."
Toe ek dit hoor in die troepedraer waarin ons op pad na die oefenterrein was, het ek opgespring en uitgeroep: "Julle kan die hele wêreld besit, maar Suid-Afrika sal julle waaragtig alleen oor my dooie liggaam verower."
"Halt! Geen gesingery meer nie, en jy, Leibbrandt, rapporteer aan die kommandant," het die offisier gebulder.
Ek het groot moeilikheid verwag. Die hele kommando moes by ons terugkeer op die paradeterrein aantree.
"Gaan ek nou in die openbaar deur 'n krygsraad verhoor en doodgeskiet word?" het dit deur my brein geflits. Ek het reeds die krasse strengheid van die Duitse dissipline leer ken en het geweet dat so 'n optrede glad nie onmoontlik was nie. Net enkele dae tevore het ons in die kaserne berig ontvang dat 'n soldaat, wat op sy wagpos geslaap het, betrap is. Hy is net daar deur sy eie sersant doodgeskiet.
"Aandag!" weergalm die sersant-majoor se stem oor die paradeterrein. Die kommandant tree vinnig nader. Daar heers 'n doodse stilte. Sweetdruppels pêrel op my voorhoof. Ek bewe van angs.
Ek kon voel hoe 'n lamheid oor my toesak. Dit was alleen my ingebore trots wat verhoed het dat ek enige uiterlike teken van vrees openbaar. Ek was vasbeslote om nie om genade te smeek nie. My liefde vir my volk en vaderland was op Nasionaal-Sosialistiese lees geskoei en selfs die dood kon dit nie uitwis nie.
Die kommandant het stadig en duidelik gepraat. Elke woord het deeglik deurgedring. Vandag kan ek nie meer alles onthou nie, maar die strekking van sy woorde was min of meer soos volg:
"Suid-Afrika het op 4 September 1939 teen Duitsland oorlog verklaar. Die Joodse geldmag het die hele wêreld teen ons gemobiliseer. Brittanje het die Führer se vredesvoorstelle met veragting verwerp. Daar bly vir ons geen ander
keuse oor nie as om te veg soos alleen 'n Duitse soldaat dit kan doen. Ons verlang niks meer as net daardie gebiede wat aan ons behoort nie. "Nasionaal-Sosialistiese Duitsland beoog geen imperialistiese doelstelling nie, derhalwe verbied ek iedereen om ons marsliedere te omskep in imperialistiese rowerliedere. Die sinsnede in die gewraakte lied wat in troepedraer nommer X01 gesing is, moet in die vervolg of reg gesing word, of glad nie. Ons is daarvan heilig oortuig dat nog Robey Leibbrandt, nog die Boerevolk teen Duitsland oorlog verklaar het, maar wel 'n vyandige politieke party."
Die kommandant het gepraat asof hy deur sy eie woorde in vervoering gebring is. Sy verwysing na die Boerevolk het die harde vernis wat my siel omsoom het, in 'n sagte gloed van verlange omskep. 'n Dynserige wasigheid het voor my oe gesweef.
Selde in my lewe het ek so tuis en gelukkig gevoel as onder die Duitse valskermsoldate. Daar het 'n wonderlike gees van kameraderie geheers en ek het die Duitse soldate se moed, deursettingsvermoë en taaiheid bewonder. Voor my vertrek na die sogenaamde valskermspringskool, was ek reeds by magte om onderrig te gee in die meganisme en hantering van die S.M.G. 34. Dit is die verkorting van die swaar masjiengeweer wat in 1934 ontwerp is. My vordering moet nie uitsluitend toegeskrywe word aan die deeglike en intensiewe opleiding wat ek as valskermsoldaat in Duitsland geniet het nie, maar ook aan my vorige ondervinding opgedoen aan die Militêre Kollege te Voortrekkerhoogte.
Die verpakking van 'n valskerm en die aanleer om daarmee uit 'n vliegtuig te spring, is heel interessant. Dit verg wel moed om met 'n valskerm uit die hoogte te tuimel, maar tog val die klem nie soveel op die sprong as op die landing nie. Die rekruut moet dus eers op die grond leer hoe om die val te breek. Aangesien ek 'n bedrewe beoefenaar van jioe-jitsoe aan die Polisiekollege in Pretoria was, het ek geen moeilikheid ondervind met die voorgeskrewe breekvalle nie.
Die volgende stap was om vanuit die romp van 'n vliegtuig te spring wat ses voet bokant die grond gestut was. Elke beweging van die valskermspringer binne die vliegtuig moet stelselmatig en klokslag uitgevoer word. Sodra die teken gegee word, spring almal van hulle sitplekke in die vliegtuig op en tree in enkel-gelid aan. Die voorste man beweeg vinnig na die oop deur van die vliegtuig. Die bevel om gereed te maak vir die springery, word met 'n dowwe toetgeluid aangekondig. Die voorste man gryp eers met sy linker- en dan met sy regterhand die handvatsels aan weerskante van die oop deur beet. Blitsvinnig trap hy met sy linkervoet in die linkerhoek van die deur se raamwerk. Die regtervoet volg in dieselfde tempo. Hy leun nou kragtig na vore en kyk stip na die verste punt aan die vliegtuig se vlerk. Sodra hy 'n tikkie op sy skouer kry, spring by met 'n kragtige sprong in die rigting van die punt wat hy nog altyd dopgehou het. Met arms en bene wyd oopgespalk, trek hy deur die lug. Die landing word met die voete teenmekaar opgevolg en deur 'n breekvalrol afgesluit.
Sodra die rekrute hierdie tegniek bemeester het, word hulle na 'n skuur met 'n geweldige hoë dak geneem. Hier word elke rekruut voorsien van 'n valskermtuig waaraan 'n staalring op die rug aangebring is. Oor 'n katrol in die middel van die dak hang 'n tou met 'n meganiese haak wat deur 'n dun toutjie beheer word. Teen die kant van die skuur staan 'n springtoring wat ongeveer vyf meter hoog is. Vanaf hierdie toring word die eerste fase van die sprong uitgevoer. Op die gegewe moment spring die eerste man.
Met die tou aan die ring van die valskerm word die swewende soldaat vinnig die lug ingetrek. Onderwyl hy deur die lug swaai, skreeu die instrukteur sy bevele uit. Dit is uiters noodsaaklik dat die valskermspringer weet in watter rigting die wind waai sodat hy vroegtydig die nodige voorsorg kan tref om saam met die wind te land.
Om die liggaam aan 'n hangende tou so te maneuvreer dat dit in die gewenste posisie is vir die landing, word 'n sirkelbeweging met die been onderkant die knie uitgevoer. Sonder enige teken of waarskuwing word die tou ontkoppel en die nog steeds swaaiende rekruut stort uit die hoogte neer. Tamaai matte op die vloer van die skuur breek die ergste skok van die val en daar bestaan geen moontlikheid dat die soldaat hom onnodig sal beseer nie.
Met groot omsigtigheid word die rekruut geleer om sy eie valskerm te pak. Hierdie pakkery is baie moeiliker as wat dit op die oog of lyk. Daar is 'n spesiale skuur afgesonder vir hierdie hoogs belangrike taak. Om 'n valskerm te pak, vereis die dienste van twee persone. Die een wie se valskerm dit is, dra die volle verantwoordelikheid vir die pakkery. Aangesien die lewe van 'n valskermsoldaat onafskeidbaar verbonde is aan die pak en hantering van sy valskerm, word geen ligsinnigheid of gekskeerdery gedurende hierdie proses toegelaat nie. Om begryplike redes word daar van 'n valskermsoldaat verlang om aan die oorlogsfront vanaf lae hoogtes uit te spring en word daar derhalwe net van outomatiese valskerms gebruik gemaak. Hierdie soort valskerm word, nadat dit opgevou is, netjies in 'n spesiale seilsak of valskermhouer verpak wat van 'n lang nylontou met 'n veiligheidshaak voorsien is.
Voordat die valskermspringer uit die vliegtuig spring, moet hy sorg dra dat die tou aan die valskermhouer gehaak word oor die kabeltou wat vir daardie doel in die vliegtuig aangebring is. By die uitvoering van 'n sprong kan 'n valskerm alleen oopgaan indien dit bevry word van die houer. Indien 'n valskermspringer in sy haas, opgewondenheid of geesdrif vergeet om te doen wat hy geleer is, kan by maar van 'n tweede kans vergeet.
Dit gebeur ongelukkig dikwels dat 'n valskerm om die een of ander rede weier om oop te gaan. Dit is juis die gevaar verbonde aan elke sprong wat die valskermsoldaat verhef tot die elite van elke land se weermag.
Die middag toe daar aangekondig is dat my troep die volgende oggend aan sy eerste werklike springoefening sou deelneem, was daar ongekende wedywering onder die jong mannetjies oor wie eerste gaan spring. Aangesien ek nie alleen die oudste nie, maar ook die swaarste van my groep was, is aan my die voorreg verleen om die eerste sprong te waag. As dank vir hulle toegeneentheid het ek glimlaggend belowe om elkeen wie se valskerm nie oopgaan nie, in my arms te vang voordat hy die grond raak.
Aangesien die leërowerheid alle beskikbare valskerms opgekommandeer het vir die inval in Engeland, het net die oues en gehawendes agtergebly. Dit was net ná die slag van Duinkerken toe die Geallieerdes 'n mislukte poging aangewend het om Europa binne te val. Adolf Hitler het egter beslis dat Engeland gespaar moes bly om later saam met Duitsland die Kommunistiese draak van die aardbol te vee. Dat die Führer hom met die vegterstemperament van die Brit misreken het, is reeds geskiedenis. Ook ek het my misreken met die skeur wat daar in my valskerm was.
Ewe manhaftig het elkeen van ons, met 'n valskerm op die rug, ons plekke in die vliegtuig ingeneem. Ons het geleidelik hoër en hoër die lug ingestyg. Elkeen was besig met sy eie gedagtes.
Dit is eienaardig hoe lafhartig 'n mens soms kan wees as daar nie 'n edele dryfkrag teenwoordig is om jou na hoër gedagtebane te voer nie. Die wete dat ek my voorberei om na my vaderland terug te keer, het elke sweem van vrees uit my boesem verdryf.
Die bevele van die instrukteur het kort op mekaar gevolg. Ek het in die deur van die vliegtuig gestaan en onwillekeurig na onder gekyk. Die wydse panorama met sy onbeskryflike skoonheid het my weg van die werklikheid gevoer. Skielik was die hand van die instrukteur op my skouer. Intuïtief het ek my spiere saamgetrek en my liggaam die ruimte laat inskiet. Die ruk wat ek aan my skouers gevoel het, het 'n glimlag van blydskap op my mondhoeke laat plooi. My valskerm het nie gefaal nie! Wat 'n salige gedagte!
Die eerste sprong was van 'n groot hoogte, sodat die valskermspringer hom in die gevoel wat elke sprong meebring, kon inleef. Ek kon my maats hoog agter my in die lug sien hang. Eers toe ek met 'n dowwe geplof grondvat, het ek bewus geword van die skeur in my valskerm. Dit was die eerste en die laaste keer dat ek met 'n geskeurde valskerm gespring het. Hoewel dit nie so gevoel het nie, het ek baie vinniger geval as wat ek my verbeel het. Die brandende pyn in my regterknie het my laat skrik. Dit was dieselfde been wat ek met ski-oefeninge in die Alpe beseer het. Gelukkig was die pyn hierdie keer maar tydelik van aard.
Na ses spronge in wind en weer is aan elk van ons die gesogte valskermwapen toegeken. Kort hierna is ek tot korporaal bevorder en is ek oorgeplaas na 'n ander regiment wat besig was met voorbereidings vir diens aan die oorlogsfront.
Een oggend het daar 'n heel onsmaaklike voorval op die paradeterrein plaasgevind. Ons was besig met driloefeninge toe die offisier in bevel op die toneel verskyn. Die soldaat langs my het op gedempte toon 'n vloekwoord geuiter wat ongelukkig hard genoeg was vir die offisier om te hoor.
"Halt! Wie het daar gepraat? Wie het daar gepraat?" het die offisier gebulder. Hy was woedend. Stadig het hy voor die troep verbygestap en elkeen by wie hy verby beweeg het, kwaai aangegluur. Sy vuiste was gebal. Sy lippe was ferm opmekaar gepers. Sy oë was wyd oopgespalk. Hy het gelyk soos 'n waansinnige wat tot enige wandaad in staat was.
"Ek gee die skuldige persoon sestig sekondes om te sê wie gepraat het. Net sestig sekondes en niks meer nie," het hy sy woorde uitgeblaf.
Almal was doodstil.
"Hierdie troep sal vir 'n hele week nie toegelaat word om die kampterrein te verlaat nie. Het julle gehoor? Het julle my verstaan?" het die offisier geskreeu. Hy het vinnig omgedraai, maar steek toe skielik in sy spore vas.
"Is dit jy wat netnou gepraat het, Robey Leibbrandt?" wou by plotseling van my weet.
"Nee, Herr Oberst," het ek oortuigend gesê.
"Weet jy wie gepraat het?"
"Ek weet nie wie gepraat het nie en al sou ek ook geweet het, sou ek nie sê nie."
Die kolonel het sy arms gevou en strak na my gekyk. 'n Paar oomblikke het ons mekaar vierkantig in die oë gestaan en kyk. Stadig, soos 'n verkleurmannetjie, het sy houding verander. Die harde glans in sy oë het heeltemal verdwyn. Ek kon duidelik sien hoe die gespanne trek om sy mondhoeke geleidelik versag.
"Ek kanselleer die bevele wat ek netnou gegee het en wat meer is, julle kan nou verdaag," het die kolonel met 'n glimlag gesê.
Daardie aand het ek soveel bier gedrink dat ek later gevoel het soos 'n dors kameel wat skielik by 'n fontein met bruisende waters uitgekom het. Hoe anders is die houding van sommige van ons land se onderwysers en onderwyseresse nie teenoor die jeug nie. In stede van die verklikker saam met die skuldige uit te looi, word die skuldige alleen gestraf en die verklikker, oftewel verraaier, beloon. Indien ons leerkragte sou uitgaan van die standpunt dat elke verraaier 'n lafaard en elke lafaard 'n potensiële verraaier is, sal SuidAfrika ontsaglik daarby baat.
Vervolg...