Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Vertel jou vreugdes aan die wêreld, maar bly stil oor jou beproewinge. Moenie by jóu pyn en jóu lyding bly vashaak nie. Fokus liewer op God se plan. Dis hoe Jesus die pyn van die kruis verduur het.
ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (16)
Outobiografie van Robey Leibbrandt:
GEEN GENADE
Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self
Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ was, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.
My landing in Suid-Afrika
Die rubberbootjie, vyf voet lank en halfpad so breed, is opgeblaas en my reistas, wat in 'n stuk rubberdoek toegedraai was om dit wagterdig te hou, is stewig op die bootjie vasgebind. In 'n seilsakkie is 'n paar stukkies droëwors, 'n hoeveelheid blokkies druiwesuiker en drie botteltjies sodawater gepak. Teen nege-uur die aand was alles gereed. Nog 'n paar uur se vaar sou ons binne enkele myle van die kus bring. Deur dieptebommetjies langs die boot af te gooi kon vasgestel word of ons nie miskien op 'n sandbank afstuur nie. Ek het intussen gaan slaap.
Sowat eenuur die nag is ek deur luide stemme gewek.
"Dis waansin en ek dra die verantwoordelikheid vir 'n veilige landing," het ek Nissen se stem gehoor.
Toe ek geklee in 'n kort broekie, 'n onderhempie en ligte rubberskoene op die dek kom, kon ek in die maanskyn 'n swart streep in die verte sien. Ek kon die land duidelik ruik.
Spontaan het ek my hakke teenmekaar geklap en die Nasionaal-Sosialistiese saluut gegee: "Heil, my dierbare vaderland! Heil, Suid-Afrika!"
"Is alles gereed?" het ek opgewonde gevra.
Geeneen van die ses manne op dek het geantwoord nie. Ek het gemerk dat Nissen senuweeagtig rondkyk.
"Alles is wel gereed, maar ons glo nie dat jy hier moet land nie," het hy gesê. "Ons het twee keer vuurpyle in die lug sien opskiet. Die kus word bewaak." Dieselfde oomblik het 'n voël 'n onaardse geluid in die verte laat hoor. "Hoor jy daar? Ons is gewaar. Die beste is om vinnig pad te gee. Miskien kan ons more 'n geskikter landingsplek uitsoek. Hier kan jy beslis nie land nie.
Hy het na die donker kuslyn beduie. "Kyk daar ... die golwe sal jou buitendien teen die rotse verpletter."
Ek het my langsamerhand begin vererg vir die spoke wat Nissen in sy verbeelding opjaag. Aangesien daar egter 'n hemelsbreë verskil tussen dapperheid en onnoselheid is, het ek my gereed gemaak vir enige gebeurlikheid. "Waar is my pistool?" het ek vir my Duitse kameraad gevra.
"In die roeibootjie."
"Kry dit vir my, asseblief."
Sonder 'n woord verder, het ek my liggaam vol vaselien gesmeer as beskutting teen die snerpende koue. Die moontlikheid dat die bootjie met my kon kantel, was glad nie uitgesluit nie. Daarna gordel ek die pistool om my lyf vas. "Laat die bootjie sak ... ek gaan land."
"Het jy mal geword?" wou Nissen ontsteld weet.
"Ja! As jy normaal is, dan moet ek mal wees. Ek het nog nooit gehoor dat 'n lafhartige idioot as mal verklaar word nie. Eerstens is hy te onnosel om vir homself te dink en tweedens is hy te lafhartig om te doen wat ander vir hom voorsê om te doen. . ." Vererg het ek voortgegaan:
"Luister, Nissen! Tot hier het jy die bevel gevoer. Nou is ons in my vaderland se waters en hier is ek baas. Laat die boot sak."
Ewe gedwee het een van die matrose 'n lang tou gevat, die een punt aan die rubberbootjie vasgebind en die ander punt om my lyf. Indien die bootjie sou omkantel, sou ek nog in staat wees om met die vrag uit te swem.
Ek het almal aan boord met die hand gegroet, op die bootjie gespring en na die roeispane gegryp.
Nadat ek die manne op die Kyloe 'n hartlike Sieg Heil! en "Die Vierkleur hoog!" toegeroep het, het 'n knaende gevoel van verlatenheid en onrus in my opgestoot. Ek het die roeispane gegryp en begin roei. Op die seiljag was die ander manne se teenwoordigheid vir my 'n uitdaging om die luitenant se besware te ignoreer en die waagstuk te onderneem, maar toe ek alleen in die dobberende bootjie op die deinende watermassa sit, het allerhande vreesgedagtes in my begin spook. Die bootjie was belaglik klein en die radiosender en my tas het feitlik al die plek opgeneem, sodat ek bo-op die sender moes sit en roei. In die ongemaklike posisie het dit krag en inspanning vereis, nie alleen om die bootjie oor die weg te kry nie, maar om my ewewig te behou.
Die see was gelukkig betreklik kalm. Ek was tussen drie en vier myl van die strand of en in die tyd wat dit my sou neem om die strand te bereik, kon baie dinge gebeur. My grootste vrees was egter die landing. Aan die strand is die branders soms gevaarliker as die golwe in die ope see en as die kus rotsagtig is, soos Nissen voorspel het, het ek weinig hoop gehad om die land ongedeerd te bereik.
Ek het egter besef dat om die gevare by voorbaat te beleef, net my onheil sou verhaas. Vasbeslote het ek voortgeroei en koers gehou met behulp van twee sterre wat dof deur die misbank geskemer het. Elke keer as die branders my bootjie skep, swaai ek my lyf in die teenoorgestelde rigting om te verhoed dat dit omkantel.
Langsamerhand het ek aan die golwe gewoond geraak en meer vertroue gekry. In die stilte van die nag kon ek duidelik in die verte die branders teen die rotse hoor breek. Ek het omtrent 'n uur geroei toe ek agter my geluide hoor soos die gepraat van naturelle. Geruisloos het ek my roeispane uit die water gelig en geluister.
Nissen was reg. Die aankoms van die jag is gewaar en die Regering se naturellesoldate het by die strand reggestaan om my te vang as ek land.
Ek het oor my skouer gekyk om te sien of ek iets kon gewaar. Behalwe die donker streep aan die kus kon ek niks uitmaak wat soos mensgestaltes lyk nie. Stadig het ek verder geroei. Hoe nader ek aan die strand kom, hoe harder was die stemme. Meteens het dit my getref dat die stemme darem te reelmatig en aanhoudend was vir mensestemme. Ek het weer geluister. Dit was die taal van suisende en klotsende waters. Dit is 'n inheemse taal. Ek het 'n sug van verligting geslaak.
Hoe lank ek geroei het, weet ek nie, maar plotseling het ek besef dat ek redelik naby die strand moes wees. Ek het skielik omgekyk en gesien hoe 'n groot brander skaars tien tree agter my skuimend teen die rotsmassa vasslaan en breek. Met al my mag het ek aan die spane gebeur om die bootjie weer terug in die see te stuur. In daardie paar oomblikke het dit my meer krag en inspanning gekos as wat ek die hele twee uur tevore gebruik het. Dit was seker een van my benoudste oomblikke en die sweet het in groot druppels op my voorhoof uitgeperel. Toe die volgende brander aanrol, het die worsteling weer van voor af begin. Uiteindelik het ek daarin geslaag om buite gevaar te kom. Ek was weer in die oop see. Na 'n rukkie kon ek in die skemerende verte 'n plekkie sien waar die branders vlak breek en ek het soontoe geroei, wetende dat daar strand moet wees. Ek het met my rug na die strand geroei. Net toe ek in die branding kom, voel ek hoe 'n koue rilling langs my ruggraat afkruip. Ek het gevoel hoe ek saam met die bootjie opgelig word. Die bootjie het gekantel en ek het onder die koue watermassa verdwyn. Soos reuse-ystange het die water om my karig geklede liggaam gesluit. Ek het geworstel en gespartel om my kop bo water te hou en na asem gesnak. Ek het probeer swem. My arms het vinnig beweeg. Die tou aan my bolyf wat vir so 'n gebeurlikheid met die bootjie gekoppel was, het skielik styf geruk. My bene het tot onder my gesak. Tot my verbasing het ek vaste grond onder my voete gevoel. Ek het regop probeer staan, maar weer neergeslaan. Na elf weke op die dobberende seiljag was my ewewig heeltemal versteurd. Dit het gevoel of die aarde onder my op en af wieg. Die water was ysig koud, maar ek het dit skaars gevoel. Angs en opgewondenheid het alle koue uit my Iiggaam verdryf. Ek het met dronkmansbene na die strand gestrompel en die swaargelaaide rubberbootjie met behulp van elke brander agter my aangesleep.
Om te verhoed dat die branders die bootjie weer die see insuig, het ek met die mes in my sak gate in die luggevulde kante van die bootjie gesteek. Die lug het ontsnap en die bootjie het stewig geanker op die nat sand gelê. Ek het waggelend, soos'n gekweste wildsbok, teen die naaste sandduin uitgehardloop. Ek het al verder genael. Voor my het die een duin dieselfde as die vorige gelyk — 'n golwende see van sand en verder niks nie. Na soveel opoffering, stryd, kommer en ergernis wou ek nie nou betrap en gevange geneem word nie. Ek was vasbeslote om my nie lewendig te laat vang nie.
Soos 'n waansinnige het ek die bootjie aan stukke gesny. Agter die eerste duinwal het ek met die handgrafie, wat ek spesiaal vir die doel saamgebring het, 'n gat gegrawe. Daar mag geen teken van my landing nagelaat word nie. Die veiligheid van die manne aan boord die Kyloe moet gewaarborg wees. Ek sal nooit praat nie. Hierdie houding het ek ook later in die skadu van die galg gehandhaaf. Geen woord hoegenaamd kon deur intimidasie, regsgeleerdes, polisie, ongevraagde en stinkende advies uit verskillende oorde, of selfs die dood aan die galg, uit my gepers word nie. Ek sou met die geheim sterf. Indien ek wel opgehang was, sou die stories oor my en my oorlogsavonture, vandag nog meer verwarrend gewees het as destyds.
Met al die krag in my jong, gespierde liggaam, het ek die gat vir my rubberbootjie en ander toebehore gegrawe. Ek het diep gegrawe. Ek was bewus van die oorheersende eienskap van my ou volkie. Ons Suid-Afrikaners is geneig om, met weinige uitsonderings natuurlik, niks deeglik te doen nie. Indien daar derhalwe gegrawe word op soek na my bootjie, sou dit nie gevind word nie. Van die een roeispaan, wat vandag nog in my besit is, het ek 'n stuk afgebreek sodat dit plat in die gat kon lê.
My taak was afgehandel. Alle spore en tekens is sorgvuldig doodgevee. Ek het die sand van my liggaam in die koue seewater afgespoel en droë klere aangetrek. Volgens my skatting moes dit omtrent twee-uur in die middag gewees het. Die grawery het my moeg en baie dors gemaak. Tot my ontsteltenis moes ek ontdek dat een van die drie sodawaterbotteltjies gebreek het! Ek wis dat drinkwater in die woestynagtige streek vrywel onbekombaar was en moes my derhalwe bedwing om net een botteltjie te ledig. Aldus gelawe, het ek my bagasie, wat sowat 180 pond geweeg het, opgetel en moeisaam teen die sandheuwels uitgeploeter.
Om die dra van my vrag te vergemaklik, het ek die sender se handvatsel en dié van die reistas met 'n handdoek aan mekaar vasgekoppel. Deur onder die gekoppelde bagasie in te kruip, het ek dit so bewerkstelling dat die tas voor en die sender agter my skouer hang. Uit vrees dat 'n vliegtuig van die kuswag my onverwags kon verras, het ek besluit om onder die eerste laaggroeiende bos in te kruip en te wag totdat dit donker is.
'n Vreemde geluid digby het my uit my mymering gewek. Die werklikheid het my weer fel beetgepak en ek dink wat ek aan die mense gaan sê wat my uitvra na my koms vanaf Duitsland na Suid-Afrika. Ek moet 'n storie bedink wat nie die bemanning van die Kyloe in gevaar sal stel nie. Om bloot te swyg en te sê dat dit 'n geheim is hoe ek na my vaderland teruggekeer het, sou beslis agterdog wek. Ek moes 'n leuen versin wat almal as die waarheid kon aanvaar. Dit moes realisties en eg klink sodat niemand dit nodig sou vind om te raai en te gis nie. Die moontlikheid dat die mees populêre gedagte heel waarskynlik die regte kon wees, het my tot nadenke gestem.
Ek sou aan almal meedeel dat ek met 'n duikboot gekom het. Dit sou tegelykertyd die Geallieerdes slapelose nagte besorg om te dink dat die Duitsers oor duikbote beskik wat ongesiens duisende myle kon aflê. Ons het op die Kyloe dikwels na die Duitse nuusberigte geluister en geweet dat die Duitse valskermsoldate Kreta binnegeval het, maar van die verwagte inval van Kommunistiese Rusland is daar geen woord gerep nie. As die Russe maar net wou glo dat Duitsland oor duikbote beskik wat geweldige lang afstande onder water kon aflê, sou Stalin nie weet waar om aan sy liggaam te krap nie. Hy sou ook nie weet waar om sy vinger te druk nie. Die gedagte aan die onrus wat my storie miskien kon opwek, het my geamuseer.
Die laaste deel van my storie sou egter deels outentiek wees. Ek sou vertel dat ek die laaste deel van my reis met 'n rubberbootjie voltooi het. Aan die boom by die gat waar ek die rubberbootjie begrawe het, sou ek 'n onuitwisbare merk gekap het. Waarmee? Met die handgrafie. Na die oorlog sou ek die boom aan die Namakwalandse kus sonder moeite uitken en almal sou weet dat ek die waarheid gepraat het!
Hierdie verdigsel het ek dan ook later met soveel oortuiging aan die mense opgedis dat almal dit geglo het. Niemand het geweet dat ek in werklikheid met 'n seiljag gekom het nie — nie eens my ouers, broers en susters nie.
Dit is tog logies dat 'n geheim nooit gedeel word nie. Gedurende my verhoor in Pretoria het die man wat later Kommissaris van Polisie geword het, generaal-majoor Du Plooy, wat toe in bevel van my saak was, selfs Kleurlingvissers uit Hondeklipbaai in Namakwaland gebring om te getuig dat hulle 'n duikboot naby die kus gesien het. Ook in die Hooggeregshof het die regters bevind dat ek met 'n duikboot na Suid-Afrika gekom het.
Wat ek verwag het, het gebeur. Sersant Griffiths, later offisier in die S.A. Polisie, wat toentertyd in bevel van die polisiestasie op Hondeklipbaai was, het die hof vertel dat, volgens inligting uit 'n baie betroubare bron, hy en sy metgeselle die hele Namakwalandse kus gefynkam het op soek na die boom met die merk daaraan. Dit is nie nodig om te sê dat my landingsplek nooit ontdek is nie. Daar was geen boom naby nie.
Met die swaar pak op my rug, sou dit futiel wees om 'n rigting in te slaan waar jy myle en myle tot aan die horison net wit duinsand en laaggroeiende bossies kon sien. Dan liewer vyf-en-veertig grade suidoos langs die kuslyn op waar die moontlikheid om water te vind nie so senutergend en kleurloos was nie. Toe ek my bagasie opneem en verder stap, was die son reeds onder. Later het die mis saamgepak en die sterre verberg sodat ek nie my koers kon bepaal nie. Aangesien my bene baie swak was van die lang seerit op die klein bootjie, het dit die eerste aand maar sukkel-sukkel gegaan deur die sand met 180 pond op my rug. Ek het die hele nag deur gestap. Die volgende oggend toe dit lig word, het ek dit gewaag om my bagasie neer te sit om 'n bietjie te draf en my litte te rek. Tot my verbasing ontdek ek dat ek die hele nag in 'n sirkel gestap het. Ek was nie ver vanwaar ek die vorige namiddag begin het nie. Daar was geen ander keuse as om maar nou in die daglig te stap nie. Daar was geen tyd om my lot te sit en betreur nie. Vliegtuie en motors sou ek wel van ver of hoor sodat ek betyds kon wegkruip. Wat my veral gekwel het, was dat die botteltjie sodawater wat ek by my gehad het, vinnig begin sak het. Om die vog so lank moontlik te bewaar, het ek met my mes se punt 'n gaatjie in die metaalproppie gemaak om dan net, wanneer my tong en lippe droog word, 'n klein bietjie deur die gaatjie te suig.
Ek het die hele dag deur gestap en daardie nag omstreeks twaalfuur my vrag neergesit om 'n bietjie te rus. Met my hande agter my kop het ek op die sand gaan lê en dadelik aan die slaap geraak.
Toe ek wakker skrik, was dit omstreeks vieruur in die oggend. My voete was tot bokant my enkels dood van die koue. Ek het vinnig opgespring en in sirkels om my bagasie gehardloop. Om die bloedsomloop te bevorder, het ek op my rug gelê en oefeninge gedoen.
Gedweë het ek aangestryk ... die onbekende tegemoet. Met dagbreek het ek my dors probeer les deur die doudruppeltjies van die yl grashalmpies of te lek. Later in die dag het my tong en lippe kwaai begin swel. Ek kon alleen met moeite asemhaal. "Water! Water!" het my droë keel die woorde uitgewurg aan die dorstige sandgolwe wat stom en roerloos in die dynsige hittewaas gelê en luister het.
In my strompelgang het ek oor my eie voete gestruikel en onder 'n struikgewas inmekaar gesak. Te moeg om nog die dratuig van my skouers te verwyder, het ek my oë gesluit. Die vrolike gefluit van 'n voeltjie binne armlengte reg bo my kop, het opnuut lewe in my gebring. Toe ek afkyk, merk ek hoe 'n akkedissie vlak by my tot stilstand kom asof by aan my wou sê: "Sien jy, nog ek, nog die voëltjie is bang vir jou. Ons weet jy is 'n seun van hierdie land en jy sal ons geen kwaad doen nie. Ons heet jou welkom in ons midde." In die buiteland het ek so dikwels terugverlang na my vaderland dat hierdie ylende gedagte dat selfs die diertjies my nog ken, my diep geroer het.
Met hernieude moed het ek my vrag opgeneem en verder aangesukkel. Indien ek maar net van 'n plek geweet het waar water te vinde sou wees, sou die stryd teen die dors nie so uitputtend op my ingewerk het nie.
Omstreeks twaalfuur die middag gewaar ek in die verte 'n klipplaat teen 'n duin, wat aanloklik in die son lê en glinster. Meteens val die sender agter my op die grond. Ek sak moeg op my knieë neer en keer net betyds dat my reistas ook val. Die handvatsel van die metaalomhulsel waarin die radiosender verpak was, het uitgeskeur.
"Is dit die teken?" het ek myself gevra! "Moet ek die vervloekte radiosender hier laat lê? Ek gaan hier sterf van dors met 'n radiosender wat ek glad nie ken nie. Wie kan dit hier in Suid-Afrika in werking stel? Die ding is nutteloos! Dit is aan die marconis oorhandig en nie regstreeks aan my nie. Met 'n pistool in my hand het ek dit by Nissen afgedwing."
"Los alles," het 'n duiwelse stem hier in my gesê. "Gaan na generaal Smuts en vertel hom wie jy is. Hy en jou vader ken mekaar goed. Vertel hom dat jy die Duitse volk op byna elke terrein leer ken het. Jy was student aan die Ryksakademie vir Liggaamsopvoeding. Jy het politiek bestudeer aan die universiteit. Jy was instrukteur aan die Universiteit vir Liggaamsopvoeding in Berlyn. Jy was dosent aan die Duitse leierskool in Neustrelitz. Jy het uitgesaai oor Zeesen. Jy was soldaat. Jy was valskermspringer. Jy was vrywillige oesinsamelaar en het die Duitsers ook op agrariese gebied leer ken. Konsul-generaal Rudolf Karlowa het jou vertel dat die oorlog tussen Duitsland en Kommunistiese Rusland onvermydelik is. Rusland stel verregaande en selfvernietigende eise aan Duitsland. Nasionaal-Sosialistiese Duitsland gaan die Kommunistiese draak eersdaags aan die keel gryp. Sluit met generaal Smuts 'n verdrag. Jy weet wat in Duitsland aangaan. Sê vir hom, al weet hy dit, dat Duitsland jaarliks duisende ponde spandeer om Zeesen, die Duitse radio-omroep na Suid-Afrika, aan die gang te hou. Alles wat Zeesen uitsaai, sal jy oor die Suid-Afrikaanse Uitsaaidiens weerlê of negeer. Of jy dit nou met feite of leuens sou doen, is bysaak. Dit is oorlog en alles is toelaatbaar. Onthou, geld is tans volop en jy sal 'n groot salaris ontvang. Jy sal ryk wees en met geld kan jy alles in 'n kapitalistiese staat bekom: invloed, mag, status en morele slawe. Loop Robey, waarvoor wag jy? Die aasvoëls sal netnou op jou dooie liggaam toesak. Kapitaal olie die masjinerie van die wêreld en nie karaktereienskappe nie. Eer is niks nie; geld is alles!"
Ek het skielik luid uitgeroep en vir my eie stem geskrik. Het ek geyl of wou ek waaragtig kapituleer?
Die trots in my het egter geweier. Ek sou die vertroue in my gestel, nooit beskaam nie, het ek besluit.
Met hernieude krag gryp ek aan die handvatsel van die radiosender se omhulsel. "Kom hier, jy met jou af-oor, sleep sal ek jou, maar alleen gaan jy nie hier bly nie. Die Duitsers heg soveel waarde aan jou patent dat hulle selfs 'n stuk dinamiet in jou stert gestop het om jou te vernietig voor jy in die hande van die vyand val. As ek jou vir niks anders kan gebruik nie, gaan jy ten minste dien om my volgelinge te imponeer," gesels ek ylend met die radio-sender.
Aangesien die sender se handvatsel eenkant uitgeskeur het, kon ek dit nie meer met die handdoek aan die reistas koppel nie. My dra-kombinasie was derhalwe tot niet. Die tydrowende proses om die sender en die tas beurtelings te dra, het my later verveel. Met die tas in die een hand, het ek die sender met die ander oor die sand agter my aangesleep. Die knaende stryd teen dors het uitputtend en verlammend op my ingewerk. Nou is die klipplaat wat ek in die verte teen 'n duin sien glinster het, my doelwit. Die klipplaat is 'n uitstekende baken. Daar kan ek my sender begrawe en by die ou murasie links van my, myle ver op 'n heuwel, gaan water drink en dan weer terugkeer om die sender te kom haal. Die gedagte dat die mense juis daar weggetrek het omdat die water opgeraak het, het my amper moedeloos en waansinnig gemaak. Ek sou liewer worstel met die dood, maar lê en doodgaan soos 'n transportdonkie, sou ek beslis nie. Ek strompel moeisaam voort, want kapituleer mag ek nie.
Dit voel of ek die sender al 'n honderd myl ver gesleep het en die reistas word al swaarder en swaarder. Moeg, uitgeput en ylend van dors bereik ek uiteindelik die klipplaat. Uit pure vermoeienis sak ek op my knieë neer en prewel 'n gebed tot God, die Allerhoogste.
Onder 'n bos links van die klipplaat begin ek met my hande 'n gat vir die sender grawe. Met die grawe kom ek op patatagtige wortels af. Gulsig kou ek daaraan om my mond en lippe klam te maak. Aan die moontlikheid dat die wortels giftig kan wees, skenk ek geen gedagte nie, want sterwe gaan ek tog buitendien van dors. Ru begrawe ek die sender onder die sand. Wat daarna gebeur het en hoe lank ek daar gelê het, weet ek nie. Al wat ek weet, is dat ek koud en nat was toe ek wakker skrik.
Ek kruip op my knieë tot by die klipplaat en begin haastig soek na 'n holtetjie waarin die reënwater kon opdam. Plat op my maag lê ek die water en opslurp. Later sit ek plat in die stromende water en skeer die lang stoppels baard van my gesig af. Dit het my beter laat voel, hoewel my klere teen die tyd papnat was.
My reistas was van swak karton en om die dra daarvan te vergemaklik, het ek my handdoek deur die handvatsel gesteek en die reistas op my rug gedra. Nadat ek 'n ruk lank deur die reën aangesukkel het, haal ek my tas van my skouer en merk dat dit onder oopgeskeur het. Haastig deursnuffel ek die tas en ontdek dat die sokkie waarin ek my dollars gebere het, saam met my vulpen en tandeborsel deur die skeur geval het.
Ek het op my spore teruggegaan en agter my 'n diep streep met 'n stok getrek sodat ek weer tussen die bosse my pad na die tas sou vind. Sowat dertig tree daarvandaan het ek die vaal sokkie oor 'n bossie sien hang. My blydskap was so groot dat ek geen verdere moeite gedoen het om na die vulpen en tandeborsel te soek nie.
Nadat ek nog 'n ent gestap het, hoor ek skielik die geblêr van skape. Nie lank daarna nie hoor ek iemand fluit. Ek kyk versigtig rond. Van agter 'n vuurskerm sien ek 'n Kleurlingskaapwagter te voorskyn kom.
Ek skreeu en wink vir hom om nader te kom, maar die jong kyk my net bang-verbaas aan. Ek het destyds ook, soos die groot leier wat ek verafgod het, 'n tandeborsel-snor gedra. My hare het in die reën nat geword en ongemerk oor my voorkop afgesak. Onwetend het my voorkoms by die skaapwagter vrees ingeboesem.
Bewegingloos staan die jong my en aangaap. Ek stap nader en vra hom in Engels waar sy baas woon. Hy praat nie en kyk my wantrouig en onbegrypend aan. Dit lyk of hy wil weghardloop. Ek pluk my pistool uit. Die jong gaan staan, maar trap senuweeagtig rond. Ek herhaal my vraag in Afrikaans. Die jong se oë rek.
"Net hier onder," antwoord by in pront Afrikaans, maar bly op 'n veilige afstand staan.
"Hoe ver?" vra ek verlig.
"Dis nie ver nie, omtrent twee myl," antwoord hy.
Vervolg...