Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons weet dat God sy kinders eerste liefgehad het. Ons het by Hom geleer wat liefde is en Hom ook liefgekry. Hoe kan mens aan iemand sien of hy God liefhet? Aan sy leefstyl – om God se gebooie te gehoorsaam. Dit is skrikwekkend om te sien hoeveel mense wat aanspraak maak op kindskap van ons Drie-enige God, se leefstyl wys geen liefde vir hulle Vader nie.
ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (31)
Outobiografie van Robey Leibbrandt:
GEEN GENADE
Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self
Voor die Hooggeregshof
Die doodvonnis word oor my uitgespreek
Van hierdie geleentheid het ek gebruik gemaak om my voor te berei vir dag waarop ek, soos ek verwag het, tot die dood veroordeel sou word. Saans net voordat die ligte uitgedoof is, het ek aandagtig gelê en luister na stories van 'n sekere "held" van die Ossewabrandwag wat nie alleen sy goeie dade uitgebasuin het nie, maar ook luid verkondig het hoe hy in die hof optree. Gelukkig het hy sy heldhaftigheid afgesluit met die sing van populêre Afrikaanse liedjies.
Toe die hoofbewaarder een aand beswaar maak teen die harde geselsery van die gevangenes, het ek hom laggend vertel dat die akoestiek van die tronk maar bra sleg is. Soos wel te verwagte, het van die O.B.-held se optrede in hof niks tereggekom nie.
Of hierdie persoon deur die speurders aangesê is om my te probeer besiel om saam met hom my verlede uit te lap, weet ek nie; tog was dit opvallend dat daar voorheen nooit oor en weer gesels is nie.
Twee dae lank het ek die toespraak, wat ek in die hof wou afsteek, noukeurig voorberei. Elke woord en elke sin is sorgvuldig gewik en geweeg. Terwyl ek geworstel het met die gedagte van selfbehoud of ondergang, het ek 'n leuse gevind: "Dit is beslis geen kuns om te sterwe nie, want self tweebenige wurms kry dit reg, maar hoe en in watter gees die stryder sterf is deurslaggewend en plaas die seël op die inhoud van sy lewe."
Uit my eie skepping het ek krag geput. Dit het my denke bevrug en my gesterk.
Op 10 Maart 1943 is nie alleen my sel deeglik deurgesnuffel nie, maar is die biltong voor my kamervenster verwyder.
Om enige verwarring te voorkom, is dit nodig om te meld dat verhoorafwagtendes wel toegelaat word orn eetware van buite te kry. As gevolg van hierdie regulasie het 'n groep dames dit so bewerkstellig dat die politieke gevange gereeld 'n heerlike dis ontvang het. Ons het hierdie opoffering baie waardeer en ek wens langs hierdie weg my hartlike dank aan hulle almal te betuig
Die bedrywighede van die tronkpersoneel het onmiddellik my agterdog wek. Om my nuuskierigheid te bevredig, het ek daardie aand op my katel geklim en agter deur die klein venstertjie geloer. Die wag agter my sel is aansienlik versterk.
Die volgende oggend is ek dan ook in kennis gestel om my gereed te maak om na die Hooggeregshof te gaan. Hierdie keer was daar meer motors en speurders as ooit gedurende my verhoor. Twee verkeerskonstabels het met huilende sirenes ons stoet vooruitgegaan. Strachan en Geyser het langs my in die vangwa gesit en die hele tyd grappies gemaak. Ek het nie 'n woord gepraat oor my voorgenome plan om in die hof 'n toespraak te lewer nie...
Dit is 11 Maart 1943. Die hooggeregshof is stampvol. Mense verdruk mekaar by die deur. Regter Schreiner is besig om op te som. Die atmosfeer in die hof is gespanne. Almal sit en wag op die regter se uitspraak. Skielik staan een van die advokate op. Hy versoek die hof om toe te laat dat die beskuldigde Le Roux mediese behandeling ontvang. Die regter vererg hom half vir hierdie sonderlinge versoek, maar staan dit tog toe.
Gedurende die etenspouse word my suster, Ray, toegelaat om my te besoek. Soos in die verlede, word sy vergesel deur twee speurders wat sit en luister na alles wat ons sê. Die ander gevangenes is toegelaat om vryelik, sonder enige luistervinke, met hulle besoekers te gesels.
Na die middagpouse het die hofsitting op dieselfde toon voortgegaan. Baie mense staan soos muurplate agter in die hofsaal. Daar is geen plek vir 'n muis nie. Regter Schreiner is nog steeds besig om op te som. Plek-plek klink die regter se bevinding vir my na 'n tirade wat spoedig afgewissel word met fiksie en koue logika.
Vier van my mede-strydmakkers word vrygespreek. Ek wens hulle geluk en salueer met uitgestrekte regterarm. Net drie van die oorspronklike agttien het oorgebly. Le Roux en Olwagen kry elk vyf jaar gevangenisstraf. Ek, wat die mantel van leierskap omgehang het, gaan die tol betaal.
Ek skrywe gou iets op 'n strokie papier en oorhandig dit aan speurdersersant Lucas Strachan. Hy lees en gee dit aan die volgende een. Aan my versoek word voldoen en die twee snelskriftiksters neem kennis van die inhoud daarvan. My skrif is duidelik en my taal verstaanbaar.
"Ek beskou dit as belaglik om 'n toespraak uit te skrywe en dit aan die publiek voor te lees. In hierdie geval het ek dit wel gedoen omrede ek vermoed dat sekere dinge aan my toegedig gaan word wat ek nie gesê het nie," staan daar geskrywe.
Hierdie geskrewe toespraak was ook my behoud. Dit het gedien as fondament waarop ek later my verdediging in die Appèlhof gebou het. Die regter is eindelik klaar met sy opsomming. Die spanning in die hof laai vinnig op. Die hof is so stil soos 'n graf; net die regter se woorde in die gedempte atmosfeer.
"Wens jy enigiets te sê voor die vonnis oor jou uitgespreek word?" vra hy my in Engels.
Ek spring vinnig op en antwoord: "Eers wens ek 'n verklaring te doen en daarna sal ek my volk toespreek."
Ek vervolg: "Ek verklaar voor die Almagtige God en voor die Afrikanervolk dat ek nog nooit deur enige persoon of persone, binne of buite die ryk van Adolf Hitler, genader is met die doel om my in enige moontlike denkbare rigting te probeer beïnvloed betreffende my optrede, binne of buite die grense van my vaderland, Suid-Afrika nie.
"Ek en ek alleen dra die verantwoordelikheid vir wat ek gedoen het en gaan doen. Die Vierkleur hoog!"
By hierdie woorde het ek met uitgestrekte arm die Nazi-saluut gegee. Ek het voortgegaan:
"Kamerade, kameradinne, volksgenote en huurlinge."
Regter Schreiner: "You must not address the public, you have only the right to address the Court. If you continue to address the public, the Court will have you removed and the proceedings will continue in your absence."
Ek ignoreer die regter se waarskuwing en gaan voort met my toespraak:
"Ek is bewus van die leuens van die staatsgetuies, in groot formaat geprakseer in hierdie saak Ons is onskuldig aan hoogverraad. Die huidige demokratiese regering het egter besluit dat dit 'n verraderlike oortreding is om as Afrikaner jou volk en vaderland met die daad lief te te hê. Nie dat ek verwag het dat enige vorm van geregtigheid uit die baarmoeder van 'n lafhartige onverantwoordelikheid en bloedige onreg gebore sou word nie; nee, dit beslis nie, want in welke lig die demokrasie ook al in hierdie aan die Afrikaner voorgestel word, so is en bly dit die jonger broer van verpestende Kommunisme met die ewige Jood as vader van beide."
Hier het regter Schreiner my weer in die rede geval: "This is not an add to the Court. The Court has no wish to interfere with your rights, but rights are to address the Court on the question of the sentence."
"Ja, sekerlik is dit ... dit is beslis," het ek gesê.
"We have no wish to interfere with your rights, but you must not use this occasion for a propagandist speech. If you do, you will be removed and I proceed to deal with your case in your absence."
Uit vrees dat ek wel uit die hof verwyder sou word voordat ek my hart gepraat het, het ek net gesê: "Ek verstaan." In werklikheid het ek nie daaraan gedink om gehoor te gee aan die regter se dreigemente nie. Tydens die voorlopige verhoor in die tronk het ek ruiterlik erken dat ek 'n trotse soldaat van die idee van Adolf Hitler is en ek was beslis nie nou bereid om in die gesig van die galg te kapituleer nie. Ek het aangegaan waar ek opgehou het.
"In sy heilige en geheime skrifte, Die Talmoed en die Protokolle van Wyses van Sion, het die Jode die Arabier tot die dood veroordeel en hy gebruik die Kommunisme om daardie vonnis te voltrek.
"Afrikanervolk! Ek tree nie vandag voor u op as 'n karakterlose, betalende agent van Duitsland nie, maar as 'n swaarbeproefde Afrikaner en 'n trotse fanatieke soldaat van die idee van Adolf Hitler, en as sodanig het ek dit verwerf om 'n woord van dank tot die Almagtige te rig vir die wonderbaarlike wyse waarop Hy my gelei en behoed het sodat ek vandag met alle trots kan verklaar dat, naas die Afrikanerbloed wat in my are vloei, my verlede my edelste besitting is; 'n verlede gegiet uit die kelk van waaragtige liefde tot volk en vaderland, wat die stempel van Nasionaal-Sosialisme as ewige kenmerk dra.
"Soos reeds vermeld in my pamflet, gerig tot die kamerade in die Ossewabrandwag, het ek byna negentien maande skroomloos en onophoudend gesmeek by die Duitse owerheid om my asseblief toe te laat om na my geliefde vaderland terug te keer en my volk uit die hel van vernedering te verlos.
"Die Duitse vader van die Afrikanervolk, konsul-generaal Rudolf Karlowa, het my keer op keer gewaarsku dat menige hindernis en eventueel die dood op my wag hier in my getiranniseerde vaderland. Ja, ek was terdeë bewus van die feit dat ek my dood tegemoet vaar, maar dit kon my nie afskrik nie, want ek het julle — manne, vroue, seuns en dogters van my vaderland — innig lief en ware liefde ken geen perke nie. Nie geveinsde woorde nie, maar dade vertolk wie en wat ek is ... 'n Afrikaner in murg en been!
"Indien die hof belangstel, kan ek byvoeg dat ek vandag aan die hoof staan van die dapperste en mees vasberade manne wat die Afrikanervolk nog gelewer het. Dus het ek nie nou in tyd van nood en dreigende gevaar na my vaderland teruggekeer met die belaglike doel om hier met 'n soet vlei-stemmetjie vir my 'n goedkoop leierskappie te kom bedel nie; nee, maar om die idee van Adolf Hitler in die siel van die Afrikanervolk te kerf. Dat ek in my doel geslaag het, weet ek, want duisende en derduisende Afrikaners het reeds die genialiteit van my strewe en stryd erken en marsjeer vandag in ons geledere, nie in woord of in skrif nie — want dan word hulle in kampe en tronke gedompel — maar in gees en wat meer is, in opofferende dade.
"Laat ek dit hier duidelik stel dat dit eers ná my koms in Suid-Afrika was dat sekere leiers weggebreek het van die demokratiese mallemeule. Graag wil ek hierdie here egter waarsku dat Nasionaal-Sosialisme beslis geen nuwe stemparool in die lewe roep nie, maar in sigself 'n nuwe wêreldbeskouing en ideaal daarstel. Ja, die Nasionaal-Sosialisme is geen teoretiese polemiek nie, maar die lewende simbool van liefde, daad en opoffering: ja van alles wat skoon, edel en heilig is vir die opbou, bestaan en bloei van elke volk. Enige verdraaiing, afwyking of valse vertolking van die fundamentele beginsels van die idee van Adolf Hitler is verbonde aan leuens, bedrog, huigelary en verraad. Ook wil ek hier konstateer dat die Nasionaal-Sosialisme onder geen omstandighede 'n kompromisskool is nie.
"Kamerade, op 4 September 1939 en weer met die eerlose ontwapeningstirannie — tye toe die Afrikanervolk gesmag het na leiding — het die groot platformhelde van hierdie land verstik en gesmoor in die dampe van hulle eie lafhartigheid. Vandag weet hierdie selfde menere om met soetklinkende beloftes te voorskyn te tree om sodoende stemvee onder die breë massas in te same!. Ek antwoord hierop en sê: Na die hel met hulle beloftes. Met kaas vang jy wel muise, maar nie manne en vroue nie.
"Afrikanervolk! Ons heil en redding berus nie in sinlose kruisietrekkery nie, maar in daad en onbaatsugtige opoffering in diens van die volksgemeenskap soos geopenbaar deur die vaandeldraers van die idee van hom wat deur die Almagtige gestuur is om die volke van hierdie planeet uit die moeras van verdrukking en ellende te verlos ... Adolf Hitler!
"Uit my geloof in die omruimtelikheid van God skep ek die vertroue dat die Almagtige nie sal toelaat dat sy skepping, met alles wat vir die mens heilig en edel is, deur die ateïstiese monster in die gestalte van die wrede Kommunisme, vertrap en verpletter sal word nie, nee nooit! Net een kan en sal hierdie bloedige worsteling wen, en dit is die swaard van ... Adolf Hitler!
"Wat die vonnis, wat nou oor my uitgespreek gaan word, ook al mag wees, dit is van minder belang; hoofsaak is dat die vryheidsvaandel weer wapper oor groot Suid-Afrika. Van een ding kan u egter seker wees en dit is dat mag ter wêreld, selfs met die ondersteuning van die duiwel in die hel, daar niemand in staat is om hierdie Afrikanerhart te breek nie. In hierdie sin en gees roep ek uit: Na die hel met genade! Lank leef die Afrikanervolk! Lank leef Nasionaal-Sosialistiese Suid-Afrika! God met my en my kamerade. Die Vierkleur hoog!"
Hierdie toespraak was water op die meul van diegene op die regbank en regter Schreiner het gevra:
"Wil jy nog iets sê?"
"Ek weet wie my tot die dood gaan veroordeel. Moet egter nie te gerus wees nie, want hierdie optrede van jou sal weerklank vind in die harte van die jeug van Suid-Afrika."
Nog duidelik hoor ek die regter se oordeelswoorde: "Jy sal na 'n plek veilige bewaring geneem word en aan jou nek opgehang word totdat al die lewe uit jou liggaam is."
Hoewel die doodvonnis in Engels uitgespreek is, het dit hoegenaamd geen afbreuk gedoen aan die gewigtigheid van die betekenis daarvan nie. Met uitgestrekte regterarm het ek die verdoemende woorde aangehoor en toe luid geantwoord: "Ek groet die dood! Die Vierkleur hoog!" Terwyl ek hierdie woorde gebesig het, het ek gevoel of my bors van trots wou oopl Ek is behoorlik geweeg en moes nog net die laaste paar tree na die dood moedig tegemoet gaan.
God het dit so beskik dat daardie finale toets my gespaar gebly het. In Die Transvaler van 12 Maart het die volgende berig onder die opskrif skyn: Robey Leibbrandt Ter Dood Veroordeel ... Doodvonnis baie kalm aangehoor.
"Soos 'n man wat geen vrees vir die dood ken nie, het Robey Leibbrand sy doodvonnis aangehoor. Hy het die hof toegespreek soos iemand wat die dood in die oë staar en sy testament dikteer."
In die Sunday Times van 14 Maart het 'n volledige beskrywing van gebeure in die hof op daardie dag verskyn. Hier volg 'n vrye vertaling van die Sunday Times se verslag:
Robey Leibbrandt het sy das reggetrek en die doodvonnis aangehoor. "Sidney Robey Leibbrandt het na die uitspraak van die doodvonnis die beskuldigdebank verlaat en gesalueer. Toeh by die trappe afgaan, het snikkende vroue hom gesoen. Hy het gewag op die doodvonnis wat hy geweet het gaan kom. Stadig, vasberade, soos iemand wat die hele ding voor die spieël geoefen het, het hy daardie das van hom reggetrek. Hy het 'n Hitleragtige houding ingeneem, sy breë skouers orent gebring, sy ken gelig en sy arm in 'n Leibbrandt-saluut opgelig. Hierdie saluut verskil effens van die Nazi-saluut, maar is blykbaar daarop gegrond. Sy fanatieke oë het gegloei.
"Hy het soos 'n standbeeld gestaan. Hy het sy rol gespeel totdat die voorhangsel gesak het.
"Ek het al baie mense gesien wat tot die dood veroordeel is, maar nog nooit het ek so 'n mengsel van drama en melodrama beleef by enige verhoor waar 'n man se lewe in die weegskaal hang nie. Maar al die drama en melodrama was van Leibbrandt se eie maaksel.
"Terwyl regter Schreiner besig was met die opsomming wat so lank was soos in roman, het ek Leibbrandt dopgehou. Die storie het hier en daar soos 'n sprokie geklink.
"Telkens wanneer die sake van elk van die ander ses persone behandel is, is na nommer een, na Leibbrandt verwys. Die naakte opsomming het 'n sprankie lig gewerp op die misterieuse verskyning van Leibbrandt — die selferkende dissipel van Adolf Hitler — aan die kus van Namakwaland waar hy met 'n rubberbootjie vanaf 'n Duitse duikboot geland het.
"Die hof het bevind dat daar geen twyfel bestaan dat hy met 'n duikboot vanaf Duitsland gekom het nie.
"In sy `orasie' het Leibbrandt self erken dat hy van Duitsland gekom het, maar dat hy vrywillig gekom het.
"Soms het dit gelyk of Leibbrandt luister en dan weer of hy nie luister nie. Dikwels het hy geglimlag. Soms het hy sy ken uitgestoot en sy Hitlersnor bevoel. Hy het sy hare, wat nie lank genoeg vir 'n Hitlerkuif was nie, sag gestreel.
"Agter die beskuldigdebank het sewe gewapende polisiemanne gestaan. Daar was gewapende polisiemanne by die deure en in die gange. Gewapende wagte het in die strate gestaan. Gewapende speurders in burgerlike drag het oral tussen die mense gesit. Die tyd het stadig verbygegaan en menigeen het op hulle horlosies gekyk. Leibbrandt het volgehou om sy rol te speel. Ek het gewonder of hy al die tyd toneelgespeel het.
"Die verhoor het sy einde genader. Leibbrandt het hom begin regmaak. Dit het gelyk of hy vir hierdie uur gewag het om die middelpunt van die martelaarsgroep te wees. Hy het papierkoeëltjies rondgeskiet, en geglimlag of gegryns net soos Hitler ... dit was tussenbedrywe in die drama waarin hy die hoofrol vertolk het ... waarin hy die ster was.
"Net soos hy daardie Hitlersnor in die tronk gekweek en sy idees in ‘nvorm gegiet het, so ook het hy sy woorde en handgebare vir hierdie geleentheid gemodelleer.
"Hy het daar gestaan en praat volgens Hitler se resep. Sy stem was deurdringend, soms histeries ... sy vuis gebal. Met 'n stortvloed woorde het hy verklaar dat hy uit vrye wil hierheen gekom het. Woedend het hy teen Demokrasie en Kommunisme uitgevaar. Sy stem was vol en welluidend as hy Adolf Hitler prys.
"Hy het sy rol vertolk in die verbasendste verhoor wat nog in Suid-Afrika plaasgevind het..."
In hierdie trant het die verslaggewer voortgegaan en beskrywe wat hy gesien het. Volgens sy verslag, skyn dit asof ek en die skrywer albei ons roepinge gemis het. Hy moes 'n dramaturg en ek 'n Hollywood-ster gewees het.
Ek weet nie van wenende vroue wat my gesoen het nie. Daar was geen snaakse smaak aan my lippe nie. Die dagbladpers het egter die waarheid geskryf dat toe die doodvonnis oor my gevel is, het ek stadig die treetjies afgestap na die sel onder die vloer van die hof. My suster Ray is toegelaat om my te besoek. Sy is 'n beheersde en dapper vegster. Geen traan het haar verdriet verraai nie en geen woord van simpatie het haar lippe ontval nie. Sy was wonderlik. Sy was groots. Sy was 'n krag op wie ek kon bou.
Knap en behendig het die balju my vingerafdrukke op swart-omdraai vorms geneem. "Wat se gelol is dit nou weer hierdie?" wou ek weet. "Waarom wag julle nie tot na die hangery nie?"
"Dit spyt my, Robey, maar dis maar 'n deel van my onaangename werk," hy vriendelik geantwoord.
Dit was al skemerdonker toe ons by die groot hek van die Sentrale vangenis inry. Die bewaarders was boos oor hierdie oponthoud. Die klere van 'n terdoodveroordeelde is haastig aan my uitgereik. Daar is geen knope aan hierdie drag nie. Die baadjie word met swart lintjies toegebind. Dit was ‘n geval waar 'n mens rou nog voor jy sterwe. Nog nooit het ek gehoor of gesien dat 'n mens verplig word om by voorbaat oor jou self te rou nie.
Die sokkies en skoene wat ek ontvang het, was vir my te klein. "Moenie nog moeite doen nie," het ek aan die hoofbewaarder gesê.
“Ek stap sommer blootvoets hel toe — ag, ek bedoel dodesel toe."
Hierdie woorde het die spanning gebreek en al die bewaarders het glimlag.
Onder sterk geleide het ek deur die groot saal gestap, en op met die trappies na die dodesel op die eerste vloer. Tot my verbasing het ek ontdek daar in werklikheid drie selle was en dat ek nie in die galgkamer gehuisves is nie.
Die eerste twee selle was geskei deur 'n gangetjie of wagportaal wat omtrent net so lank en breed soos die selle was. Dit is hier waar die wag dag en nag op sy pos gestaan het. Dit is ook hier waar die terdoodveroordeelde geweeg en sy lengte gemeet is net voor die teregstelling. Die lengte en gewig dien as maatstaf vir die hoogte oftewel diepte van die val. By 'n teregstelling durf die kop nie van die liggaam afgeruk word nie. Waarom, weet ek nie, en niemand kon my sê nie. Dit is seker maar 'n geval van menslike wreedheid.
Daar was 'n skuifdeur tussen die tweede sel en die galgkamer. Aangesien daar nie gehoor gegee is aan my versoek om die galgkamer te besigtig nie, kan ek nie daaroor berig nie.
Vervolg...