Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Omdat dit makliker is probeer ons om te vergeet sonder om te vergewe. As jy geestelik volwasse wil wees, bid dat God jou eers sal help om jouself en diegene wat jou te na gekom het, te vergewe. Dan eers sal jy heeltemal kan vergeet.
VERDEELDHEID VAN AFRIKANERS
TAFELGESPREK
Hoe die Afrikaners erg verdeeld geraak het sedert die laat sestigerjare, veral in die onmiddellike jare wat gevolg het op die sluipmoord van die eerste minister van Suid- Afrika, dr HF Verwoerd, word vandag selde meer onder die loep geneem. Tog is dit presies waar die groot omwenteling in die maatskaplike en politieke bestel van Suid-Afrika begin het. Kennis oor die politieke spanning in daardie tydperk (1960-1970) en die optrede van verskillende Afrikanerleiers is ook skraps. Dit ontdek mens in die politieke diskoers onder Afrikaners van vandag. Ons kyk vlugtig na ’n paar bladsye uit die geskiedenis.
Reeds nadat die uitslae van die algemene verkiesing in Suid-Afrika in 1958 bekend geword het, ’n verkiesing waarin die Nasionale Party onder advokaat JG Strijdom die Verenigde Party beslissend verslaan het en nogmaals die NP se meerderheid in die Volksraad opgestoot het, het Amerikaanse ontleders (waaronder die bekende skrywer oor Afrika, Edwin S Munger) besef dat kritiek op die beleid van die Afrikaner-regering van binne die NP sal moet kom. Hulle het ’n belangrike verstelling in Amerika se benadering voorgestel.
Professor CW de Kiewiet van die Universiteit van Rochester het in 1961 tot die slotsom gekom dat verandering van die regering in Suid-Afrika nie meer deur opposisiepartye bewerkstellig sou kon word nie.
Daar sou volgens De Kiewiet voortaan gewerk moet word aan verandering van binne die Nasionale Party self. Vanaf 1960 is die skroewe met mening aangedraai en het hulle ’n houvas binne die Kaapse NP-mondstuk, Die Burger, gekry; naamlik in die persoon van die redakteur Piet Cillié. Heel gou het Cillié met dr Verwoerd gebots oor die liberale rigting wat in Die Burger bevorder is. Dié invloedryke dagblad is uitgegee deur Nasionale Pers wat sterk op die voorgrond getree het vir veranderinge in die beleid van die Nasionale Party en die strewe om kleurlinge deel van die blanke parlement te maak. Nasionale Pers het in 1965 ’n Sondagkoerant in die Transvaal gevestig met die doel om die konserwatiewe Afrikaners in die noorde se koppe na links te draai. Lang Dawid de Villiers, voorsitter van Nasionale Pers, was later ’n leidende figuur in die United States-South Africa Leaders’ Exchange Program (bekend as USSALEP). USSALEP het permanente kantore in Johannesburg, Durban en Kaapstad gevestig en het sakelui, joernaliste en akademici se besoeke aan Amerika gefinansier. Sodoende is talle belangrike meningvormers beïnvloed om Amerika se beleid van nie-rassigheid (geen onderskeid tussen rasse) simpatiek te benader en selfs aktief te bepleit.
Binne slegs elf jaar is die spanning tussen konserwatiewe en liberale Afrikaners in die NP so hoog opgejaag dat dit tot ’n ernstige skeuring in die geledere van die regerende party gelei het, reeds in September-Oktober 1969. Dié agitasie van liberaliste binne die Nasionale Party onder mnr John Vorster en die volgehoue druk van die Amerikaners om die beleid van die NP te verander, was deurentyd sigbaar. Piet Cillié, redakteur van Die Burger, het in hierdie tyd teenoor ’n LV in ’n vertroulike gesprek opgemerk: ”Daar moet ’n klein skeuring na regs kom”. Daarmee het hy bedoel dat sekere leidende konserwatiewe volksraadslede uitgewerk moes word. Dit sou die weg open om ’n meer liberale rigting onder John Vorster van binne die Nasionale Party te propageer, sonder dat daar verset sou kom.
In ’n ongepubliseerde studieverslag, wat op 25 April 1977 opgestel is in verband met die strategiese uitdagings vir die Afrikanervolk, word die metodiek van ondermyning toegelig. Hierdie metodes is veral ter sake wanneer die veranderinge wat gevolg het, ontleed moet word. Ons haal enkele gedeeltes daaruit aan.
Die 1977-verslag beklemtoon o.a. dat dit noodsaaklik was om die doelwitte van die vyand te verstaan. Anthony Harrigan definieer die oogmerk van die sielkundige aanslag teen Suid- Afrika soos volg :
The objective of the psychological warfare against South Africa is beyond question; it is to remove from the ranks of the Western World a nation that is enormously well ondowed by nature and which, because of this endowment, is destined to play a major role in the world in the decades and centuries ahead. It is fear of the South African destiny that drives the Communists of the world to apply every effort to bring South Africans to their knees.
Harrigan gaan voort:
Today, however, wars frequently are fought inside nations by psychological means. The aim of such internal subversive wars is to destroy a country’s will to win, its national unity and its sense of national destiny. If the leadership elements in a free country can be demoralised, deprived of confidence in the rightness of their mission in life, then it is a simple matter to dissolve the power of the state. ... Modern revolutionary war, which is warfare between people, involves a struggle for the spirit of the nation.
Die verslag gaan voort: Dit gaan in die stryd om die hart en siel van ’n volk. Wat sal die aard van die Afrikanervolk wees? Wat sal hy glo? Wie sal hom volg? Teen wie en waarvoor sal hy veg? In hierdie sin word ons strategie bepaal deur die patroon en mikpunte van ’n vyandelike aanslag gerig op die vernietiging van die Afrikaner se wil om te bly leef en te veg vir sy eie. Die vyande van die Afrikaner besef goed, soos die linkse skrywer John de St Jorre dit in die Council on Foreign Relations se lyfblad gestel het: ”White power in the Republic of South Africa is Afrikaner power.” Daarom word die aanslag by uitstek geloods via die paar invalspoorte wat deur die toe huidige bewind (die NP-regering onder John Vorster) in Afrikanergeledere geopen is. Die verligte-verkrampte stryd, volgens John de St Jorre, ”...has produced an ideological fissure in Afrikanerdom which has recently shown signs of acquiring new dimensions.”
Hierdie opmerkings in Foreign Affairs toon dat die Amerikaners se doelwit om vastrapplek in die Nasionale Party te kry, teen 1977 as ’n voldonge feit beskou is, en dat die ideologiese skeuring waarna hulle verwys het verder gevoer kon word. Waar Anthony Harrigan die sielkundige aanslag vanuit die kringe van die kommuniste sien aankom het, was dit juis die Amerikaanse weergawe daarvan wat ’n deurbraak binne die Afrikaner-bewind sou maak.
Die 1977-verslag stel dit duidelik dat nie die militêre bedreiging nie, maar die verligte ’change agents’ die invalsleër verteenwoordig het. Die verligte veranderingsagente was die Trojaanse Perd binne die vestingmure van die Afrikaners. Andermaal word De St Jorre aangehaal:
The verligte vanguard is to be found in the Afrikaans press, the universities, the think tanks and the quasi-government research institutes.
Die bewoording is interessant, want dit was presies dié mense wat deur USSALEP geteiken is as meningvormers wat gunstig gestem moes word jeens die Amerikaanse gelykheidsideologie.
Hulle word selfs in tipiese militêre terme beskryf as die verligte voorfront (a vanguard). Die vals-vlag spook van ’n sogenaamde verkrampte aanslag wat deur prof Willem de Klerk van Potchefstroom en Die Burger versprei is, het in die praktyk geblyk net ’n rookskerm te wees vir die verligte aanslag. En die verligte aanslag (met slagkrete soos kontak en dialoog, uitwaarts, aanpassing en verandering) was op sy beurt die voorfront vir Amerikaanse liberalistiese en integrasionistiese politiek. Die 1977-studie kom tot die gevolgtrekking:
Dit is hierdie front wat verandering deur klein klemverskuiwings en klein toegewings te weeg wil bring, wat hoofsaaklik opereer deur middel van sielkundige oorlogvoering.
Dit is opvallend dat in die aanloop na die algemene verkiesing van 30 November 1977, dit juis die Nasionale Party se taktiek was om die kiesers op een hoop te kry met bangmaakstories oor die erge “buitelandse bedreiging.” Dit was berekende vreestaktiek, wat Nasionaliste en oud VP-lede in die ope arms van die regering moes injaag. Die moord op dr Robert Smit enkele dae voor die verkiesing het ’n onheilspellende aksent daarop geplaas.
Die NP-regering was egter binne maande na die 1977-verkiesing diep in die moeilikheid toe die Inligtingskandaal in skokkende paaiemente oopgevlek is. Andermaal het dit ’n geleentheid geskep om die Nasionale Party na links te druk, en dit is gedoen onder die vaandel van PW Botha met sy hervormingsbeleid. Die bangmaak-taktiek het reg uit die mond van die nuwe eerste minister gekom toe hy gedreig het met: ”Adapt or die”. Onder PW se leiding het die verligtes in die NP hulle houvas op die regering verstewig. Die verligte aanslag, direk gekoppel aan die Amerikaners se aandrang op interne verandering, het sodoende binne 14 jaar na die sluipmoord op dr HF Verwoerd die amptelike beleid van die regering geword.
Intekening op Tafelgesprek:
- Stuur slegs u naam, met u voorkeur e-pos adres (vermeld asb ook die naam van die streek, die dorp of stad waar u woon) aan die volgende adres:
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
- U inskrywing op hierdie nuusbrief is gratis. Voorsien ons asseblief van adresse van vriende of familie (in die RSA of oorsee) wat in hierdie skrywe mag belangstel.