Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
OOM LANG PIET
NOG ‘N DAPPER HELD TYDENS DIE VRYHEIDSOORLOË
Gustav Norval
Jare gelede, gedurende 1960, het skrywer as 12-jarige seun in standerd vier my oupagrootjie Lourens Erasmus se broer, oom Lang Piet, of te wel Kmdt. Pieter Lafras Erasmus se goue bruilof in Standerton se stadsaal bygewoon. Soos kinders maar is, het jy op daardie ouderdom meer belang gestel in maatjies, as wat jy belang gestel het wat ‘n ou oom te sê gehad het oor sy wedervarings in die Engelse Oorlog. Eers later het skrywer sy storie in meer besonderhede gehoor.
Oom Lang Piet (6.5.1875- 9.2.1966) was die seun van Daniël Poklenberg Erasmus wat op die plaas Uitkyk in die Standertondistrik geboer het. Hy was besig om ‘n dam te bou toe die weer hom op 25 Jauarie 1884 doodgeslaan het. Sy voetspore sit nou nog ingebrand in die sand, wat weens die hitte van die ontlading die sand in glasagtige materiaal verander het. Die spore is omhein en is bekend aan almal in die distrik. Daar was beweer dat Daniël vir God op die dag gevloek het, maar dit is pure spekulasie, aangesien hy alleen was toe dit gebeur het.
Daniël Erasmus Oom Lang Piet by sy vader se voetspore Voetspore (1963)
Langs die voetspore was die afdruk van sy elmboog, wat nog duidelik te sien was op die foto (bo regs) wat in 1963 geneem was. Op die voetspore-monument staan die volgende:
Daniël se seuns Lourens, Pieter en Wessel, was drie groot manne van oor die 1,94 meter elk. Wessel is deur sy mak perd gedurende Desember 1881 doodgeskop, terwyl hy die dier geroskam en gereed gemaak het om aan die Eerste Vryheidsoorlog deel te neem. Oom Lang Piet het aan al die gevegte in Natal en op die Hoëveld tot en met Junie 1901 o.l.v. Generaals Botha en Coen Brits deelgeneem. Namate die oorlog gevorder het, het die verwoesting, hensoppery en verraad toegeneem.
‘n Nuwe wending, naamlik die bewapening van swartes (bronne verskil, maar die getal kan so hoog as 52,000 wees) deur die Britse leër om teen die kommando’s te veg het die omstandighede drasties verander. Nadat verskeie misdade teen vrouens en kinders deur hierdie hulptroepe gepleeg was, het Genl. Botha vir Oom Lang Piet toestemming gegee om ‘n spesiale korps op die been te bring om hierdie terreur die hoof te bied. So is Kmdt. Lang Piet se verkenners in die lewe geroep, ‘n groep wat deur die “Times History of the war in SA” (deur Amery) beskryf is as ‘n “roving band of robbers and marauders.” Hulle het op die bendes toegeslaan wat ‘n skrikbewind op die Hoëveldse plase gevoer het en talle is geskiet. Kmdt. Piet se motto was “skiet eers en dan vra ons vrae”.
So het dit gekom dat die Britse owerhede ‘n £500 beloning op sy kop geplaas het : “wanted dead or alive for the murder of British troops. God save the King”. Oom Lang Piet en vier vriende het gedurende Junie 1901 Piet se plaas besoek om te sien wat se verwoesting die vyand daar aangerig het, maar ‘n joiner het hulle aan die naaste Britse kolonne verklik. Die gevolg was dat hulle in ‘n lokval gelei was en dat Ben Erasmus en Lang Piet beide gewond en gevang is. Die judasboer was £500 ryker. ‘n Britse kakiesoldaat wou Lang Piet, wat in die linker skouer gewond is, skiet, maar ‘n offisier het gekeer.
Piet en sy maat was voor ’n Britse klugspel van ‘n krygshof in Standerton ter dood veroordeel vir hul aandeel in die teregstelling van swart scouts in Britse uniform wat vrouens op hul plase gemolesteer het. Die twee gevangenes sou die volgende oggend geskiet word. Die aand is hulle in ‘n hospitaaltent in die Britse kamp op die walle van die Vaalrivier aangehou. Hulle was weerskante van ‘n tentpaal aanmekaar geboei, met die paal tussen die twee manne en met twee Kakie-wagte voor die tent. Dit was in die middel van die winter en daarbenewens was Julie 1901 die koudste maand in baie dekades. Sneeu het wit op die Transvaalse Hoëveld gelê en dit was veral die vrouens en kinders in die modderige Standerton konsentrasiekamp wat verskriklik gely het omrede hulle met een kakiekombers op die nat grond moes slaap. Kos en brandhout was skaars en ‘n masel- en longontstekingepidemie het sy wrede tol onder die kinders geëis. Oom Lang Piet se moeder, suster, skoonsuster en haar kind, asook sy vriendin Annie Liebenberg het verneem dat hy gevang was en dat hy tereggestel sou word vir moorde op “black scouts”. Hulle was in rou en het die koue nag onder sinkplate, naas hul afgebrande opstal, deurgebring.
Gelukkig vir Piet en sy vriend, het die Britse hoofoffisier die dag verjaar en ‘n geselligheid was die aand in die kamp gereël. Die twee wagte het kort-kort verversings en drinkgoed loop haal, terwyl die twee gevangenes die tentpaal gelig en hulself so bevry het. Steeds aanmekaar geboei, het hulle uit die tent gekruip en in die ysige Vaalrivier gespring. Kort voor lank is alarm gemaak, Britse troepe het langs die oewer met soekligte na hulle gesoek en die nag het gedreun soos hulle in die water gevuur het. Piet en sy maat het tussen die riete onder die water geskuil, terwyl die koeëls soos haelkorrels in die water geval het. Al wat van hulle gewys het, was hul pype wat bo die water uitgesteek het en waardeur hulle moes asemhaal.
Die oomblik toe die geskiet by hulle deel van die rivier bedaar en verder weg beweeg, het Piet en sy maat, nog steeds aan mekaar geboei, ooswaarts beweeg in die rigting van Piet se familieplaas. Nat, moeg, honger en koud, het hulle deur die ysige winternag vir 25 kilometers na Piet se plaas voortgestrompel. Nodeloos om te sê, maar die vrouens se rou het skielik in vreugde verander toe Piet springlewendig by hulle opdaag. Piet het ‘n bediende na sy korps gestuur om hom te kom haal. Piet het tot die einde van die oorlog met sy taak voortgegaan en teen die terreurbendes opgetree. Vandag kan ons hulde bring aan hierdie brawe man en sy korps van “robbers and marauders” wat ‘n doring in die vlees van die Britse leër was. Manne van sy kaliber skop jy nie onder elke bossie uit nie.