Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Pyn en lyding het al menige mens se ore vir die stem van God geopen. Dis die megafoon waarmee God ‘n dowe wêreld wakker wil maak.
FW EN SMUTS – OP DIESELFDE KLIP...
Willem Etsebeth se verhaal van arrestasie, vernedering en marteling
(Willem Etsebeth was in 1990 deel van die AWB se generale staf. In daardie tyd het die FW de Klerk-bewind genadeloos toegeslaan op regse versetstryders, en die veiligheidspolisie opdrag gegee om hulle lewens hel te maak en te vernietig. Dit is presies wat Jan Smuts tydens die 1914 Rebellie gedoen het – ons volk verniel en vermoor, u ken die geskiedenis. Mag FW, Pik, Jan Smuts, Louis Botha en al hulle meedoeners vandag heerlik braai op dieselfde klip in die hel! - RED)
Hier is Willem se verhaal van sy arrestasie en wat daarmee gepaard gegaan het.
Die Boerevolk hier aan die suidpunt van Afrika het al baie aanslae verduur. Aanslae teen ons vryheid en teen ons voortbestaan. ‘n Fisiese oorlog is twee maal gevoer teen die wêreldmag van die tyd: Groot Brittanje. ‘n Politieke oorlog is gevoer deur die heersende regering. Alles, om hierdie volkie van sy herkoms en sy fondament te vervreem. Maar met sy roer oor sy skouer en sy Bybel in die wakis, wapper die Vierkleur en word “Die Stem” versie vir versie uit die volksmond gehoor, en word die God van Bloedrivier steeds as enigste Verlosser erken.
ARRESTASIE
Op versoek plaas ek my ondervinding onder Art. 29(4), (Die wet op binnelandse veiligheid.) Geïnisieer deur John Vorster was die wet bedoel om kommunisme te bestry. Maar toe word dié wet ook toegepas op regsdenkende Blankes. Ek is aangehou in selle, sommiges net 3 meter by 3 meter groot, sonder ‘n Bybel of ander leesstof; sonder kontak met my familie. Hulle het nie geweet of ek nog lewe of dalk al dood is nie.
Op 5 Oktober 1990 (dus 8 maande en 3 dae na FW de Klerk se berugte Rooi Vrydag-toespraak, waartydens hy kennis gegee het dat die ANC en SAKP ontban word en dat alle terroriste uit die tronke vrygelaat gaan word...! Red.), halfvyf die oggend, word daar oorverdowend aan my voordeur gehamer. ‘n Stem roep: “Maak oop! Jy is onder arres!” Dit is die stem van die majoor van die veiligheidspolisie. Toe ek oopmaak sien ek dat talle polisielede my huis omsingel, elkeen gewapen met ‘n R4-aanvalsgeweer. Ook sien ek dat hulle hul gewere op my vrou en seuntjie van sewe jaar rig. My huis word van hoek tot kant deursoek. Die wasmasjien, yskas en stoof word binnekant en buitekant bevoel en bekyk, klere word uit die kaste geruk en net so op die vloer gelos. Wat ek nooit sal vergeet nie, is my seuntjie wat voor my kom staan, my in die oë kyk en vra: “Gaan Pappa nou tronk toe?” En ek: “Ja my seun, Pappa gaan tronk toe.”
Toe ek uitgeneem word, is daar ‘n lang ry polisiemotors en ‘n Casper pantservoertuig om hierdie Boer te kom arresteer! So groot was die vrees vir die regse weerstand in Suid Afrika! Toe sien ek my buurman en medestryder is ook gearresteer en sit geboeid in die motor. Dus was dié yslike konvooi ontplooi om twéé Boere te arresteer! Wat ons nie geweet het nie was dat ons die eerste blankes was wat onder Art 29(4) gearresteer is.
AANHOUDING
Die konvooi neem ons twee van Bloemfontein af na die John Vorster polisiestasie in Johannesburg. Daar word ons in eensame aanhouding toegesluit. Die hel het begin. Die sel se lig was dag en nag aangeskakel. Toiletgeriewe was ‘n stinkende toilet in die sel. Drie dae verloop voor die seldeur die eerste keer oopgesluit word. Ek word geboeid na ‘n kantoor geneem waar my eindelose ondervraging begin. Drie ure lank word ek konstant deur drie beamptes ondervra. Ek besef toe dat hulle reeds oor inligting beskik wat as basis vir die ondervraging gebruik word. Die beste wat hul uit my kry is: “Ek weet nie”. Hulle neem my terug met die woorde: “Nou kan jy in die sel opvrot”.
Ek besef dat ek uit hierdie wurggreep van eensame opsluiting moet wegkom. Maar hoe? My sel is op die vierde verdieping, en ek het geen gereedskap om die tralies van die venstertjie af te saag nie. Al wat oorbly is ‘n hongerstaking. Ek begin daarmee, maar kry eers agt dae later ‘n besoek. Teen daardie tyd het die pap al gemuf. Hulle dreig my dat hul die pap in my keel sal afdruk. Ek gee nie bes nie. Die polisie vra my om dan ‘n verklaring aan die landdros voor te lê. Die landdros self verseker my dat net hy en die hofbeamptes insae in my verklaring sal hê.
Ek stem in, maar vertrou nie wat hul sê nie. Die verklaring wat ek opstel beskryf my grootwordjare in ‘n Christelike, regsgesinde huis. Ek bespreek die invloed van so ‘n opvoeding in my latere lewe. Op pad terug na John Vorster polisiestasie vloek die polisieman my oor die twak wat ek geskryf het (hy het ‘n sterker woord gebruik!). My vermoede was dus reg, die landdros se versekering dat net hy dit onder oë sou hê, was ‘n infame leuen. Maar die ondervraging duur voort. By ‘n latere ondervraging probeer hulle my uitlok: “Wat van ‘n bietjie Russians en chips?” Ek weier. “Nou wat sal jou weer laat eet?” vra hulle. “Neem my terug Bloemfontein toe, daar sal ek weer eet," antwoord ek. Toe neem hulle my na ‘n dokter in Johannesburg toe, maar ek moet eers belowe dat ek nie my hongerstaking sal noem nie. Die dokter ondersoek my deeglik. Hy doen bloedtoetse. En hy weier dat ek vervoer word omdat daar níks in my maag is nie, omdat ek tydens die rit kan sterf. Daarop het die polisie hom ingelig van my hongerstaking en na ‘n lang gesprek met my sê hy dat as ek ‘n groot beker soet, swart koffie drink sal hy die rit Bloemfontein toe magtig. Ek stem in op voorwaarde dat my medegevangene saamgaan. Daarmee is die beamptes tevrede. Die volgende dag, weer in ‘n konvooi, is ons terug na Bloemfontein. Die plaaslike veiligheidspolisie neem oor en ons word in die Bainsvlei polisiestasie opgesluit, weer in eensame aanhouding. Ek geniet ‘n bord gekookte kos, mét ‘n mes en ‘n vurk in plaas van ‘n paplepel. My hongerstaking was verby, en die houvas wat ek op hulle gehad het, ook daarmee heen.
Ek word deeglik ingelig dat Art. 29(4) bepaal dat ‘n gevangene ses maande lank in eensame aanhouding aangehou mag word, en dat slegs die handtekening van ‘n kolonel of hoër offisier nodig is om ‘n verdere ses maande termyn te magtig. My SAP hanteerder in Bloemfontein is ‘n sersant, ‘n g(G?)odlose dronklap sonder enige genade. Op ‘n dag dreig hy: of ek verskaf die inligting wat hul soek, of hy arresteer my vrou as medepligtige en hy smyt my kind in ‘n weeshuis. Hy het alreeds my werkgewer beveel om my sonder enige betaling te skors! Hy ondervra my nie verder nie. Ek bly in eensame aanhouding. Marteling op marteling. In my alleenheid begin ek die Here verwyt: “Vader, ons is dan besig om ons Volk se verhouding met U in stand te hou, om die Volk teen vervreemding te beskerm! U laat my nou in die steek!"
Egter, enkele dae daarna, ontvang ek ‘n kaartjie met die bekende gedig: “Voetspore". Die spore in die sand is God s’n, hy dra my! Die ontvangs van die kaartjie was ‘n wonderwerk: pos aan gevangenes was nie toegelaat nie. Ek het op die sel se vloer gaan lê en huil en om vergifnis gesmeek. En toe ervaar ek hoe my krag terugkeer.
Op ‘n dag neem die sersant polisiehonde na Botshabello, net buitekant Bloemfontein, en hy neem my saam. Op pad daarheen begin ek met hom praat. Ek wys hom daarop dat hy verraad teen God se volk pleeg. Hy skree op my: “Julle ou klomp regses met julle alewige f....n Bybel! Op ‘n ander dag word ek die oggend met ‘n helikopter Upington toe geneem. Daar aangekom kry ek ‘n heerlike sny koue soutvleis. En later is ek dors. Toe ek water wil drink is die krane kurkdroog. Sonder water, in Upington se Desemberhitte! Onmiddellik weet ek dat dit so deur hulle beplan is. Ek gaan lê dadelik op die koel betonvloer om my teen ontwatering te beskerm. Drié dae later sluit hulle die sel oop: “Wil jy vir ons iets sê?," vra die offisier. My antwoord: “Draai maar julle krane oop. Julle plan het nie gewerk nie."
Op hierdie stadium het die Nasionale Party vrywaring aan die ANC gevangenes toegestaan. Die VVO het bevind dat Art. 29(4) neerkom op mense-marteling. En, toe kom goeie nuus: Regse leiers kon toe, en het toe, aangedring op amnestie vir die regse politieke gevangenes. Op 12 Desember 1990, om 12 uur die middag word ek voor my huis vrygelaat! Ek kon weer my vrou en my kind in my arms vasdruk. Al die eer aan Jesus, ons Verlosser!
Na ons vrylating het ons gehoor dat talle Boervroue onbevrees opgeruk het na Wachthuis, die hoofsetel van die polisie in Pretoria. Hulle het geëis om die kommissaris te sien om ‘n versoekskrif aan hom te oorhandig. Hulle eis die onmiddellike vrylating van hul eggenotes. Die lafhartige kommissaris het ‘n ander offisier gestuur om die versoekskrif van die kwaai protesterende vroue te ontvang. ‘n Paar dae later word die vroue en kinders toe toegelaat om ons vir ‘n rukkie te sien, om seker te maak dat ons nog leef.
Die geskiedenis herhaal homself. Met die rebellie 1914 het die Boervolk teen sy eie regering onder Jan Smuts en Louis Botha opgestaan. Nou het ons weer eens teen ons eie regering, FW de Klerk, Pik Botha en Kie opgestaan. In 1914 het Jopie Fourie sy lewe verloor. Nou het Niek Fourie vir dieselfde stryd, sy lewe gegee. Maar, met die roer oor die skouer, en die Bybel in die wakis, sál ons oorwin!
Met dank aan Die Afrikaner 9 Mei 2025