Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Voel jy soms onwaardig om jou mening oor jou geloof te lug omdat jy dink jy is nie geleerd genoeg nie?
Geloof word nie deur boekekennis of geleerdheid verwerf nie – God skenk dit aan elke uitverkorene. Jou geloof is net soveel 'n genadegawe van God as wat die geloofsreus Paulus s'n was.
KOGNITIEWE AGTERUITGANG IN ’N WÊRELD VAN KI...
... IS DIT DIE VOLLE VERHAAL?
Prof. Ludi Koekemoer
DIE ARGUMENT
Prof. Jared Horvath van die Harvard Universiteit in die VSA, het die impak van digitale tegnologie en Kunsmatige Intelligensie op kognitiewe vermoë nagevors. Hy het gevind dat jongmense en swaargebruikers van KI,’n afname in kognitiewe vermoë toon. In kort: hulle word dommer omdat kritiese, hoërvlak-redenering deur KI vir hulle gedoen word. Hy noem Gen Z’s “’n skare zombies wat aan hul skerms vasgeplak is”.
Prof. Jonathan Haidt van die UNY Stern School of Business stem hiermee saam. Hy het bevind dat die jaar waarin die VSA se handboeke met tablette en skootrekenaars vervang is, ook die jaar is waarin toets- en eksamenuitslae begin daal het. En dit daal steeds.
Meno Siebinga, ’n voormalige wêreldkampioen in vegkuns en ‘n fisioterapeut, wys daarop dat sogenaamde SuperAgers – volwassenes ouer as 80 wat geleidelik by hoë tegnologie aangepas het en KI slegs af en toe gebruik – hoër kognitiewe vermoë en geheue toon, terwyl die KI-generasies aan verminderde breinverbinding, breinmis (die sogenaamde “Brain Fog”) en ’n reeks ander geestesgesondheidsuitdagings ly.
Mens kan realisties aanvaar dat die uitdagings wat die “Silent Traditional”-generasie, die “Baby Boomers”, die “Gen X” en “Gen Y/Millennials” ervaar het, minder ingewikkeld en ernstig was as dié wat “Gen Z”, “Gen Alpha” en die toekomstige “Gen Beta” sal moet trotseer. Ons oueres praat van die “goeie ou dae” terwyl hulle ander uitdagings moet trotseer. Trouens, Siebinga stel dit soos volg:
“Ouer generasies het onseker, dubbelsinnige, soms wisselvallige en komplekse probleme ervaar. Die nuwe generasies sal egter ander uitdagings in die gesigstaar: onbegryplik hoë tegnologie, brose verhoudings, onbeheerbare geopolitieke en klimaatsonsekerheid, en selfs nuwe vorme van werk in ’n wêreld wat deur KI aangedryf word.”
Laat ons dus die kernvraag stel:
Sal die KI-gedrewe generasies die toekomstige uitdagings kan hanteer as hulle inderdaad dommer word?
KRITIESE DENKE ONDER AANVAL DEUR KI
Benjamin Bloom, ’n opvoedkundig-sielkundige van die Universiteit van Chicago, het 70 jaar gelede in 1956 sy ses vlakke van kognitiewe vaardigheidsontwikkeling gepubliseer. Hy het dit Bloom se Taksonomie genoem.
Kom ons kyk na hierdie ses vlakke en hoe KI elke vlak moontlik kan beinvloed:
➤Vlak 1: Onthou
In vlak 1 word kennis opgedoen, herroep, onthou en teruggegee. KI lei tot ’n aktiewe vermindering in die behoefte om self te lees, kennis te soek en te memoriseer. Gevolglik skop luiheid in en ly die langtermyngeheue daaronder.
➤Vlak 2: Verstaan
Duidelikheid word in vlak 2 gesoek. Die doel is om te verstaan en te beskryf. KI lei egter daartoe dat mense inligting aanvaar sonder om dit krities te verwerk. Die gevolg? Mense lees, maar verstaan nie noodwendig wat hulle lees nie.
➤Vlak 3: Toepas
Vlak 3 word gekenmerk deur verdere berekeninge, illustrasies, aanpassings en probleemoplossing. KI verskaf egter oplossings sonder dat die gebruiker moeite doen, en gevolglik vind min of geen leer of toepassing plaas.
➤Vlak 4: Analiseer
Hier word inligting ontleed, vergelyk, ondersoek en getoets. Hoe meer ingewikkeld die inligting, hoe beter die leerproses. KI behels egter die uitkontraktering van analise en denke, wat lei tot ’n gebrek aan analitiese redenasie en minder kognitiewe ontwikkeling.
➤Vlak 5: Evalueer
Op hierdie vlak word inligting geëvalueer en beoordeel, en oordele word gevorm op grond van deeglike argumente, debat en verifikasie. KI-antwoorde word dikwels as gesaghebbend aanvaar, en ’n kritieke komponent van kognitiewe ontwikkeling nl. Onafhanklike kritiese evaluering, gaan verlore.
➤Vlak 6: Skep
Vlak 6 gaan oor konstrueer, saamstel, ontwerp, uitvind – om iets nuuts en unieks te skep. KI het nie die vermoë om oorspronklik of kreatief te dink nie. Soms lyk KI-uitsette baie kreatief of oorspronklik, maar dit is bloot ’n statistiese kombinasie van groot hoeveelhede data. Ware kreatiwiteit word gedryf deur emosies, bewussyn en persoonlike ervarings – eienskappe wat KI nie besit nie.
Gevolgtrekking:
KI is ’n uitstekende kognitiewe medewerker en versterker, ’n briljante bron van inligting, maar ’n swak plaasvervanger vir kognitiewe ontwikkeling. Ja, KI kan oorspronklike denke vervang en gereelde gebruikers dommer maak.
DIE GROTER PRENTJIE
Mens moet versigtig wees om aan te neem dat kognitiewe ontwikkeling slegs plaasvind wanneer die brein in ’n leeromgewing uitgedaag word.
‘n Goeievraag is: Watter faktore beïnvloed kognitiewe ontwikkeling werklik?
Kognitiewe ontwikkeling is ’n lewenslange wisselwerking tussen die volgende 4 faktore: genetiese-, omgewings-, biologiese- en geestelike faktore en stimulasie.
Hier is ’n samevatting van die 4 belangrikstefaktore:
➤Oorgeërfde genetika
Ongeveer 50-70% van kognitiewe vermoë word bepaal deur genetiese faktore soos jou IK, aanleg en persoonlikheid. Die neuro-wetenskaplike Paul MacLean noem die deel van die brein wat jou aangebore, outomatiese en selfbehoudende gedrag beheer, dit wat oorlewing verseker, die Reptielbrein. Inherent aan die mens is jou Reptielbrein asook jou veerkragtigheid en die vermoë om aan te pas.
➤Omgewingsfaktore
Die brein word gestimuleer deur jou kulturele omgewing, sosio-ekonomiese status, kwaliteit van voeding, toegang tot aktiwiteite en sosiale ervarings, gesondheidsrisiko’s en uitdagings, ouer-kind-interaksie, portuurgroepverhoudings en vriendskappe, kwaliteit van onderwys, interaksie met mense insluitend sportdeelname, die maak van foute, aktiwiteite soos lees, speel, en selfs slaap.
➤Biologiesefaktore
Biologiese faktore sluit moederlike en voorgeboortelike gesondheid in, asook breinontwikkeling tydens vier kritieke lewensfases:
- Van geboorte tot 9 jaar wanneer neurale netwerke gevorm word;
- 10 tot 32 jaar wanneer witstof groei en breinnetwerke georganiseer word;
- 33 tot 66 jaar wanneer intelligensie en persoonlikheid ’n plato bereik;
- en 66 tot 83 jaar wanneer breinnetwerke begin agteruitgaan.
Kognitiewe ontwikkeling word ook beïnvloed deur fisiese en geestesgesondheid, emosionele intelligensie (EQ), gesonde verstand, asook stres en angs wat deur biologiese en eksterne faktore veroorsaak word.
➤Geestelike faktore
Om in God te glo en op Hom staat te maak vir ondersteuning, leiding, troos en verlossing gee hoop. Hoop bring vreugde. Bybelse riglyne vestig ’n mens se waardestelsel. Meditasie en gebed verbeter fokus, geheue en kognitiewe veerkragtigheid. Dit verminder ook stres, angs en depressie.
VERSKILLENDE GENERASIES, VERSKILLENDE UITDAGINGS
Oor‘n tydperk van 120 jaar het verskillende generasies verskillende uitdagings ervaar.
Die Silent Traditionalists het voedsel-, veiligheid-, sekuriteits- en stabiliteitsuitdagings ervaar. Dit word Eksterne Oorlewing genoem.
Die Baby Boomers het op loopbane en welvaartskepping gefokus – bekend as Eksterne Prestasie.
Gen X het balans en onafhanklikheid gesoek – vandag beskryf as Persoonlike Lewenstylbeheer.
Gen Y (Millennials) het interne betekenis en doel gesoek. Dit is Interne Oorlewing.
Gen Z fokus sterk op persoonlike identiteit en outentisiteit. Dit is Interne Beheer.
Gen Alpha enGen Beta, die KI-generasies, sal uitgedaag word deur grootskaalse aanpassing aan mens-tegnologie-integrasie, outomatisering, klimaatonstabiliteit en hiperverbinde digitale eko-sisteme. Dit is KI gedrewe Oorlewing.
’N FINALE WOORD
Sal die KI-generasies die toekomstige uitdagings kan hanteer? Of gaan hulle te dom wees?
Ja, hulle sal, maar op ‘n ander, unieke manier.
KI is slegs een van baie faktore wat kognitiewe ontwikkeling asook die vermoë om goeie besluite te neem, en om te oorleef, beinvloed.
Die uitdagings sal anders wees, maar die vaardighede wat benodig word, sal ook anders wees. Hulle wêreld, speelterrein en hulpmiddels sal verskil. KI sal as ’n hulpmiddel vir kognitiewe ontwikkeling gebruik word wat ook die brein sal stimuleer.