Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Almal wonder een of ander tyd wat beteken die begrip liefde tussen mense werklik. 1 Kor 13 vertel dit vir ons en in alledaagse idioom beteken dit: toe ek waardeloos gevoel het, het jy tyd gehad om na my te luister; toe ek nie kon bid nie, het jy saam met my gebid; toe ek bang was, was jy teer met my; toe ek suksesvol was, het jy jou verheug in my prestasies; omdat jy jou eie beperkinge kon aanvaar, het ek geleer om myne te aanvaar; toe ek 'n klankbord nodig gehad het, was jy objektief; toe ek fouteer het, het jy gewag en gehoop ek kom tot myself; toe ek jou seergemaak het, het jy my vergewe; toe ek eensaam was, het jou geloof my ondersteun.
Slotsom: Vanweë jou teenwoordigheid in my lewe, het ek gegroei in my liefde vir Christus: hierin is jou liefde onsterflik.
NIE NET JOU GROND GAAN GEVAT WORD NIE
Die Grondwet beskerm ons nie
Andries Breytenbach
Toe F.W. de Klerk met sy "hervorming" van Suid-Afrika besig was, het hy hoog opgegee oor die wigte en teenwigte wat magsmisbruik deur die owerheid sou voorkom en almal se belange sou beskerm. Die sterkste daarvan was die sogenaamde "beste grondwet in die wêreld" met sy ingeboude Handves van Regte wat kwansuis landsburgers se regte sou beskerm.
Teen dié tyd weet ons almal wat van De Klerk se wigte en teenwigte geword het. Die "regering van nasionale eenheid" was gou tot niet (wie onthou dit nog?) en De Klerk het hom uit die voete gemaak. Nie dat enigiemand daaroor spyt is nie, maar ons volk sit vasgevang in die gemors wat De Klerk op ons afgelaai het, en om daaruit te kom, sal 'n harde en langdurige stryd verg.
Op sy "hervorming" het "transformasie" gevolg, wat in praktyk beteken dat die ganse samelewing verswart, verengels en op die waardes van die heidendom geskoei word. Inderdaad het hy Suid-Afrika onomkeerbaar verander, soos hy gesê het hy sou doen — die een keer wat hy nie gelieg het nie.
Die Grondwet, wat, soos geglo word, private eiendomsreg beskerm, bevat soveel kwalifikasies dat niemand sy eiendom deur die bepalings daarvan veilig kan ag nie. Dit het Agri-SA onlangs uitgevind toe die Grondwetlike Hof — een van De Klerk se "teenwigte" — beslis het dat die Regering se konfiskering van minerale regte toe nie ongrondwetlik was nie en dat daar ook nie kompensasie voor betaal hoef te word nie.
Hoe is dit moontlik? sou menigeen vra, en wat hou dié uitspraak vir grondeienaars in? Kan grond en enige ander eiendom nie op dieselfde basis deur die staat gevat word nie? Die antwoord is: ja, sekerlik!
Kom ons kyk bietjie na die tersaaklike artikels van die hooggeroemde Grondwet wat veronderstel is om jou reg op eiendom te beskerm:
Art. 25. (1) bepaal: "Niemand mag eiendom ontneem word nie behalwe ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif, en geen regsvoorskrif mag arbitrêre ontneming van eiendom veroorloof nie."
Beskerm dié bepaling nou ons eiendomsreg? Kyk wat volg daarna:
"(2) Eiendom mag slegs ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif onteien word –
(a) vir ’n openbare doel of in die openbare belang; en
(b) onderworpe aan vergoeding…"
Die eerste vraag wat by mens opkom, is: wat beskou die Grondwet as eiendom? Die Grondwet self beantwoord die vraag ondubbelsinnig:
"Eiendom is nie tot grond beperk nie" (subart. (4)(b)). Met ander woorde, dit is alles en enigiets wat jy besit.
Wat is 'n algemeen geldende regsvoorskrif? In praktyk beteken dit 'n wet. Dus: eiendom mag nie ontneem word nie behalwe as die Regering 'n wet maak om dit te ontneem!
Wat is in die openbare belang?: "(4)(a) Die openbare belang (beteken) ook die nasie se verbintenis tot grondhervorming, en tot hervormings om billike toegang tot al Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne te bewerkstellig."
En die vergoeding wat betaalbaar is? "(2)(b) Die bedrag en die tyd en wyse van betaling" sal wees "óf (soos) deur diegene wat geraak word, aanvaar is óf deur ’n hof bepaal of goedgekeur is." As jou eiendom dus gevat word, en jy aanvaar nie die vergoeding wat jou aangebied word nie, kan jy hof toe gaan (as jy dit kan bekostig). Die hof sal dan besluit of dit "regverdig en billik" is, en of jóú belange "’n billike ewewig toon" met "die openbare belang."(Subart. 3). Ja, die markwaarde moet in ag geneem word, maar nêrens word uitgespel hoeveel gewig dit sal dra in vergelyking met die ander faktore wat ook oorweeg moet word nie.
Ten slotte:
(8) Geen bepaling van hierdie artikel verhinder die staat om wetgewende en ander maatreëls te tref om grond-, water- en verbandhoudende hervorming te bewerkstellig ten einde die gevolge van rassediskriminasie van die verlede reg te stel nie..."
Art 25 van die Grondwet, wat handel oor eiendom, maak voorsiening vir die "wettige" uitvoering van die kommunistiese praktyk om eiendom, en veral vaste eiendom van private burgers te roof en ons besitlose slawe van die Swart Staat te maak.
Die Onteieningswet wat tans onder bespreking is, is niks anders nie as 'n algemeen geldende regsvoorskrif om uitvoering te gee aan dit wat reeds in die Grondwet vasgelê is.
Staan op en werp die slawekettings van ons af!