Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kennis van die Woord verhoed dat jy dwaal of in sinnelose gesprekke beland. “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus …. dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ’n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, nuttelose stryery van mense wat verdorwe is in hul verstand en van die waarheid beroof is…Onttrek jou aan sulke mense” (1 Tim.6:3-5).
EGIPTE SE BEURT VIR REWOLUSIE
BERIGTE VAN AKTUELE BELANG
Verlede week was dit Tunisië, nou is dit rewolusie in Egipte. Dit laat mens dink aan Hongarye in 1956 en Tsjeggo-Slowakye in 1968, albei deur die Russe onderdruk. Dit herinner ook aan die bevryding van Oos-Europa in 1989 na die val van die Berlynse muur.
Egipte met sy sowat 80 miljoen inwoners word net soos die hele Arabiese wêreld, deur een diktator onderdruk, Hosni Mubarak. En hy moet weg, skreeu die skare.
Net soos Tunisië het Egipte 'n sterk middelklasbevolking wat goed opgelei is maar meesal sonder werk as gevolg van die korrupsie en onderdrukking. As hier van menseregte gepraat durf word, kan mens maar net sê dat dit 'n skande is.
In die drie groot stede Kaïro, Alexandrië en Suez, is daar duisende betogers sedert Vrydag. Dit lyk soos 1848 toe Europa deur erge rewolusies bedreig is. Nou mag dit dalk Egipte, Tunisië, Jordanië, Jemen en Algerye se beurt wees want dinge is warm en minstens 1 050 is reeds gewond terwyl die dodetal tot vandag, 1 Februarie, reeds ver oor die honderd is.
Intussen betreur Mubarak glo die dooies en gewondes maar gee geen aanduiding van wat hy van plan is om te doen nie. In een verklaring het hy egter te kenne gegee dat hy hom glo vir die bevolking beywer en hulle die vryheid van spraak gun soverre hulle die wet respekteer. Hy het ook beloof dat hy die regering sal herrangskik maar dit blyk of hyself as president wil aanbly. Hiermee is die volk nie gediend nie en Saterdagmiddag om half drie was daar reeds sowat 50 000 betogers op Tahrirplein in Kaïro met plakkate wat Mubarak se gesig met 'n kruis uitgekrap aantoon.
Volgens 'n woordvoerder, Al Jazeera, was Hosni Mubarak met sy adviseurs daartydens besig in 'n krisisberaadslaging. Die hoof van die geheime diens, Omar Suleiman, is toe ingesweer as visie-president.
Sondag was daar nagenoeg 'n honderdduisend mense op straat terwyl vliegtuie bo die stad gesirkel het en geen persone in of uit die stad mag gegaan het nie.
Die meer gematigde opposisieleier, Elbaradei, het by die betogers op die plein aangesluit en dring daarop aan dat Mubarak onmiddellik uittree en die land verlaat. 'n Regering van Nasionale Eenheid was tevore in die vooruitsig gestel maar besware om eenheid met die aanhangers van die huidige president te bewerkstellig, veral om nie in Moslembroederskap te gaan nie, het die oorhand gekry.
Daar word vandag meer as 'n miljoen betogers in die strate van die betrokke omgewing verwag wat die rewolusie teen Mubarak verder sal voer.
MET BETREKKING TOT SUID-AFRIKA:
Talle van SA probeer uit Egipte vlug
Erika Gibson skryf in Die Burger:
Pretoria - Dosyne Suid-Afrikaners het gister vervaard probeer om alternatiewe vlugte uit Egipte te kry te midde van dreigemente dat minstens ’n miljoen betogers vandag na Kaïro se strate kan opruk.
Terselfdertyd het al hoe meer lande begin planne maak om hul burgers uit die land te kry in die lig van waarskuwings dat die situasie ná ’n week van protesoptogte teen pres. Hosni Mubarak gaan vererger. Minstens 150 mense is reeds in die optogte dood.
’n Groep jong sendelinge is onder die meer as 30 Suid-Afrikaners wat die afgelope twee dae kamp opgeslaan het op Kaïro se lughawe.
Volgens mnr. Wicus Joubert van Klerksdorp is sy dogter Natasha (24) en haar aanstaande, mnr. Ian Mocke, deel van ’n groep van agt sendelinge wat die afgelope 80 dae onder die vaandel van die sendingorganisasie Global Challenge verskeie lande besoek het.
Mee. Marisa Fourie (Oudts-hoorn), Mareli Froneman (Pretoria), Sumien Wood (Johannesburg) en mnre. Nicholas Burke (Kroonstad), Tjaart Louw en Rudi Alewyn van der Merwe (albei van Potchefstroom) is ook in die groep.
Hulle was juis onderweg terug na Suid-Afrika toe hulle op Kaïro vasgeval het nadat Egypt Air verskeie van sy internasionale nagvlugte opgeskort het.
Boonop het die Egiptiese regering sedert die naweek internet- en selfoonverbindings laat afsny, wat veroorsaak het dat die Suid-Afrikaners en ander buitelanders sonder enige kontak vasgekeer is.
Selfs die Suid-Afrikaanse ambassade se telefoonlyne was grootliks buite werking, het mnr. Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, gister gesê.
Dit is onbekend presies hoeveel Suid-Afrikaners hulle in Egipte bevind, maar Monyela het dit as ’n “beduidende” getal beskryf. Baie is gestrand nadat hulle van ander buitelandse bestemmings via Kaïro na Suid-Afrika onderweg was.
Volgens Joubert kon sy dogter soms ’n teksboodskap van die lughawe af na hulle stuur. Sy het laat weet dat Egypt Air vir hulle kos bring en ook vir elkeen van die gestrande passasiers ’n slaapsak gebring het. “Die kinders is doodbenoud, want die lugdiens het hul paspoorte gevat en hulle is bang hulle kry dit nie terug vir ’n ander vlug nie,” het Joubert gesê.
Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel het gistermiddag gehelp dat al die gestrande Suid-Afrikaners op die lughawe met ’n vlug via Istanboel na Suid-Afrika kon vertrek (vlug MS737). Die vlug kom vanoggend in Johannesburg aan.
Volgens hom was die families in Suid-Afrika se grootste frustrasie dat hulle nie met hul geliefdes kontak kon maak om hulle te vergewis dat alles in orde is nie.
Me. Marianne van der Laarse van Pretoria se broer, dr. Christiaan Mostert (52), kon gistermiddag ná twee dae op die lughawe ’n vlug op Emirates Air na Doebai kry. Hy is ’n bestuursopleidingspesialis wat opleiding in Egipte gedoen het toe die protesoptrede die afgelope week losgebars het.
“Mense begin bekommerd raak omdat dit lyk of die situasie handuit kan ruk. Niemand weet wanneer alle vlugte dalk opgeskort kan word nie.”
Monyela het gesê as mense nie na die Suid-Afrikaanse ambassade in Kaïro kan deurkom nie, kan hulle die departement se operasiekamer in Pretoria by 0012351 1000 bel.
- Die Burger