Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Here my God, ek het tyd. Oorgenoeg tyd, al vertel ek dikwels dat ek nie alles gedoen kan kry nie. Ek het al die tyd wat U my gegee het; al die jare van my lewe, die dae van my jare, die ure van my dae; en dit alles het ek tot my beskikking om met u werk te vul.
ANC- AANSLAG OP DIE KERK (2)
Prof AWG Raath
Lees reeks by Kerk as instrument van ANC-revolusie
(Let daarop dat hierdie reeks oorspronklik in 1989 geskryf is, vandaar verwysings na later-veranderde situasies.)
Frank Chikane: " ...Christene bereid moet wees om saam met die “slagoffers van onderdrukking” in die gevangenis te wees en sy opmerkings dat ’n tyd sal aanbreek wanneer elke kerk in die land in ’n stoorkamer vir wapens van die ANC verander sal word."
DIE ANC EN DIE KERK
Kommunistiese partye en hulle fronte wêreldwyd spits hulle aandag op die eerste fase van die revolusie toe. Hierdie fase behels ’n opstand teen die bestaande staatsgesag in ’n betrokke land, teweeggebring deur die mobilisering van die massa van die bevolking. Ten einde die bevolking te mobiliseer en ’n regering te ontsetel, maak kommunistiese partye wêreldwyd van alle geoorloofde en ongeoorloofde metodes gebruik om hulle doelwitte te bevorder. Selfs die kerk is van hierdie infiltrasie en mobilisasie deur kommunistiese partye nie uitgesluit nie. Omdat die kerk ’n sterk gewetenshouvas op sy lidmate het, bied dit ’n uitstekende afspringplek aan die kommunisme om die massas van die bevolking te bereik.
Hierdie sug na die infiltrasie van, en beheer oor organisasie deur die kommunistiese partye, verduidelik P. Selznick in sy boek The Organizational Weapon: A Study of Bolshevik Strategy and Tactics (p.5) soos volg:
“The difference lies in the central aim of Leninism: the concentration of total power in the hands of a ruling group. This is not the only goal of bolshevism, but this search decisively shapes the behaviour of the communist parties.”
Om hierdie rede het die kerk in Suid-Afrika die afgelope aantal jare ’n belangrike teiken in die revolusionêre aanslag van die ANC/SAKP- alliansie geword.
Die ANC en die Kerk in Suid-Afrika
Tot dusver het die ANC probeer om die kerk op ’n indirekte wyse te infiltreer, sonder om suspisie oor die ware bedoelinge van die ANC in hierdie verband te wek. Aldus het O.Tambo ’n byeenkoms van die Wêreldraad van Kerke, gehou in Lusaka gedurende Mei 1987, meegedeel dat die ANC oor ’n lang tydperk noue verbintenisse met die kerk het, naamlik dat die ANC se verbintenisse met die kerk oor ’n tydperk van vyf-en-sewentig jaar nooit verbreek is nie.
Volgens Tambo sal die ANC enige pogings teenstaan om anti-godsdienstige opvattinge in die beweging in te voer. By dieselfde geleentheid het hy ook aangekondig dat die ANC ’n kapelaansdiens op die been bring (Sechaba, Oktober, 1987, p. 12).
Hierdie subtiele toenadering van die ANC tot die kerk het reeds daartoe gelei dat verskeie kerklike instansies noue bande met die ANC gesluit het.
Soos met alle instansies wat deur die ANC vir sy Marxisties-sosialistiese oogmerke gebruik word, bestaan die gevaar vir die revolusionêre ANC/SAKP-alliansie dat hierdie instansies met hulle eie militantheid van die ANC kan wegdrywe en sodoende die beplande Marxistiese revolusie skade kan berokken. Om hierdie rede is daar ’n voortdurende waaksaamheid by die revolusionêre alliansie om sy invloed in, en greep op die kerke in Suid-Afrika te behou.
Dit is juis in die lig van die vrese van die ANC dat hy sy houvas op die kerk kan verloor, dat die ware doel van die ANC met die kerk duidelik geword het. In ’n uitvoerige artikel in Sechaba, Junie 1988, mondstuk van die ANC, word die aap uit die mou gelaat.
Die Kerk en die Revolusie
In die betrokke artikel in Sechaba, verklaar John Lamola dat sedert die beperking op radikale organisasies in Februarie 1988, huldig vele mense in die geledere van die revolusionêre “bevrydingsbeweging” die opvatting dat die kerk die enigste instrument vir verset is. Dit is teen hierdie opvatting wat Lamola waarsku. Volgens hom het die “georganiseerde godsdiens”, soos enige ander “mag” in die stryd van die ANC, ’n definitiewe rol wat ondersoek moet word. Voorts verklaar Lamola dat die kerk ’n besondere sfeer het wat erken moet word, ten einde dit met ander “revolusionêre magte” aan te vul (p.7). Ook verwys hy na twee gevare wat die revolusionêre alliansie bedreig. Eerstens verklaar hy, mag die aktiwiteite van die kerkleiers in die geledere van die alliansie lei tot ’n opvatting dat die kerk op sigself die regering tot ’n val sal bring. Tweedens word ’n atmosfeer geskep waarin kerkleiers en -instellings tot ’n valse selfvertroue verlei word, en glo dat hulle ’n proses van politieke veranderinge kan lei, tot die mate waarin hulle mag begeer om hulle eie metodes van “stryd” en oplossings te implementeer sonder om die revolusionêre ANC/SAKP-alliansie hierin te ken (p.8).
Die Kerk en die Kairosdokument
Volgens Lamola het die Kairosdokument die standaard van revolusionêre Suid-Afrikaanse teologie gestel en die weg aangedui wat die kerk moet loop alvorens dit ’n dienaar van die revolusie kan wees. Sedert die Kairosdokument en die Lusaka-verklaring in Mei 1987, het, volgens Lamola, ernstige besinning plaasgevind ten opsigte van die rol van die kerk in die revolusionêre stryd. Die gevolgtrekking hieruit was dat die klem vanaf die gewone lidmate na die kerkleiers, soos aartsbiskop Desmond Tutu verskuif het, omdat die regering, volgens Lamola, twee keer sal dink voordat daar teen hom opgetree sal word. Hiermee saam het daar egter, volgens Lamola, ’n spanningsverhouding tussen die denke en metodes van die kerk in Suid-Afrika en die revolusionêre bewussyn van die strydende massas ingetree.
Die Belang van die Kerk vir die Revolusionêre Alliansie
Lamola beklemtoon die feit dat sewe-en-sewentig persent van alle Suid-Afrikaners aan ’n kerk behoort. Die betekenis hiervan, en die feit dat baie leiers van die “bevrydingsalliansie” aktiewe Christene is, beklemtoon dat die kerk in Suid-Afrika wesenlik ’n instelling is wat ’n groot deel van die lewe van die bevolking omvat.
Die rol wat die kerk vanuit ’n revolusionêre oogpunt, volgens Lamola, kan speel, laat twee moontlikhede:
Eerstens kan die kerk as ’n mag in die revolusionêre stryd gesien word. Hierdie opvatting berus op die persepsie dat ’n kerk ’n “bevryde zone” is, as ’n beliggaming van die stryd van die massas, met ander woorde as “the ANC at prayer”. Volgens Lamola kom dit neer op ’n oorskatting van die rol van die kerk in die stryd.
Tweedens kan die kerk as ’n “terrein van stryd” gesien word. Hierdie opvatting kom daarop neer dat net soos wat die fabriek en die skoolgronde “terreine van stryd is”, net so ook die kerk. Die kerk is met ander woorde ’n terrein waar mense byeenkom en van waaruit hulle op die “vyand” toeslaan “in die naam van die kerk” of as individue wat deur die “relevante teologie” gemobiliseer is.
Volgens Lamola is die tweede standpunt ook die een wat deur die ANC onderskryf word.
Die Kerk as Terrein van die Revolusie
Die ANC se standpunt oor die rol van die kerk vind aansluiting by die SAKP se standpunt in hierdie verband. In die African Communist, no.110, Derde kwartaal 1987, mondstuk van die SAKP, word verklaar dat die kerk nie ’n leermag is nie, maar ’n revolusionêre terrein. Volgens die SAKP is dit ’n plek waar die revolusie gevoer word, en is dit noodsaaklik om die kragte in hierdie stryd in verhouding tot die revolusie te analiseer (p.54).
Hieruit vloei, volgens die ANC, drie belangrike implikasies voort:
- Geen persoon kan vandag gesaghebbend verklaar wat “goeie Christelike teologie” is nie. Daarom sal dit ’n nekslag vir die revolusionêre alliansie wees om in ’n trusteeskapsverhouding met persone en instellinge te gaan wat hulle politieke aktiwiteit slegs uit Christelike teologiese formulering put.
- Omdat die ANCISAKP-alliansie ’n breë nasionale front tot stand probeer bring, met mense uit alle godsdienstige rigtings, sal dit rampspoedig wees om die oppergesag aan een godsdienstige rigting toe te ken.
- Wanneer kerkleiers daarop aanspraak maak dat hulle namens die massas praat, moet hulle seker maak dat hulle die ware belange van die bevolking sal bevorder.
Ten slotte beklemtoon die ANC by monde van Lamola dat dit uiters noodsaaklik is om oorlegpleging tussen die “godsdienstige strukture” en die politieke strukture van die massas te bevorder. Volgens die ANC sal dit verseker dat die kerk nie die revolusie in terme van ’n ander en verskillende “agenda” voer nie, en dat die vermoens van die kerk in die “stryd” duidelik sal blyk, sodat dit deur ander revolusionêre magte aangevul kan word (p.l 1).
Die ANC Ontmasker
By monde van Lamola het die ware motiewe van die ANC met die kerk in Suid-Afrika na vore gekom. Daar kan nou geen twyfel meer bestaan dat die verbintenis van die ANC met sommige kerkleiers bloot ’n opportunistiese toenadering is om die kerk vir die goddelose en instrumentalistiese oogmerke van die ANC/SAKP-alliansie te gebruik nie. Maar ook het die ware motiewe van ’n aantal prominente kerklui in die lig hiervan duideliker in perspektief gekom, soos die uitlatings deur Frank Chikane tydens ’n konferensie van die Belydende Kring in Oktober 1983, waarin hy verklaar het dat predikante en Christene bereid moet wees om saam met die “slagoffers van onderdrukking” in die gevangenis te wees en sy opmerkings dat ’n tyd sal aanbreek wanneer elke kerk in die land in ’n stoorkamer vir wapens van die ANC verander sal word.
Hiermee het aartsbiskop Tutu homself ook totaal gediskrediteer, soos blyk uit die feit dat hy by geleentheid met O. Tambo nagmaal gevier het en op 20 Januarie 1986 in Atlanta, Georgia, eksplisiet verklaar het:
“We hope one day to hear the leaders of the Western world say we side with the African National Congress which sought to change an unjust system peacefully, non- violently and were sent into the arms of the struggle through violence because the West abandoned us.”
In die lig van die verklaarde standpunt van die ANC oor die rol van die kerk in die Marxistiese revolusie, is die twyfel ook meteens uit die weg geruim dat talle “revolusionêre” teoloë blote oningeligte en misleide mense is. Daar behoort geen twyfel meer te wees dat hulle doelbewus met die Marxistiese revolusionisme saamgaan en dit bewustelik bevorder nie.
Vervolg...