Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons kan elk dag saam met Dawid bid in Psalm 69: "o God, U weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie... Red my uit die modder en laat my nie sink nie..."
ANC- AANSLAG OP DIE KERK (9)
Prof AWG Raath
Lees reeks by Kerk as instrument van ANC-revolusie
(Let daarop dat hierdie reeks oorspronklik in 1989 geskryf is, vandaar verwysings na later-veranderde situasies.)
DIE KONSTITUSIONELE RIGLYNE VAN DIE ANC
UITVLOEISEL VAN ’N NUWE OPPORTUNISME?
"Die ANC het toenemend besef dat die verwesenliking van sy einddoel in Suid-Afrika, naamlik die vestiging van ’n Marxisties-sosialistiese gemeenskapsorde, nie deur middel van gewapende geweld alleen bewerkstellig kan word nie. Gevolglik probeer die ANC die beeld van groter “inskiklikheid” en “openheid” skep ten einde steun vir sy konstitusionele oogmerke te verkry, sonder om sy langtermyn Marxistiese doelstellings te laat vaar."
Die “nuwe konstitusionele riglyne van die ANC vir ’n demokratiese Suid-Afrika” het in die laat tagtigs reeds die lig gesien. Hierdie riglyne maak onder andere voorsiening vir:
’n onafhanklike, demokratiese en nie-rassige eenheidstaat in Suid-Afrika (klousule 1);
soewereiniteit behoort aan die bevolking as geheel en sal uitgeoefen word deur een sentrale wetgewende en uitvoerende administrasie (klousule 2);
alle regeringsorgane insluitend justisie, veiligheid en die gewapende magte sal verteenwoordigend van die hele bevolking wees, demokraties wat hulle struktuur betref, en funksioneel vir en opgedra aan die verdediging van die beginsels van die konstitusie (klousule 4);
die konstitusie sal ’n kode van menseregte bevat, gebaseer op die Freedom Charter (klousule 8);
die staat sal verseker dat die hele ekonomie die belange en welsyn van alle dele van die bevolking dien (klousule 14);
die staat sal die reg he om die algemene konteks te bepaal waarin die ekonomiese lewe plaasvind en die omvang en grense van die regte en verpligtinge met betrekking tot eiendomsreg en die gebruik van private produksievermoë vasstel (klousule 15);
daar sal ’n “gemengde ekonomie” wees, met ’n publieke sektor, ’n private sektor, ’n koöperatiewe sektor en ’n klein skaal familie-sektor (klousule 16);
en die staat sal die verkryging van bestuurs-, tegniese en wetenskaplike vermoëns van alle dele van die bevolking bevorder, in besonder di6 van die swartes (klousule 19).
Uit verskeie oorde is die beswaar geopper dat die vaagheid van die nuwe riglyne in besonder opval. In ’n artikel in die Sowetan (1988-08-24, p.8) verklaar Benny Alexander byvoorbeeld:
“One thing is certain. We are by-and-large talking about the same ‘old’ ANC which is still a far cry from the ideological clarity of its ‘rival’ the Pan Africanist Congress (PAC) which is the only liberatory group currently on the ascendency with a clear commitment to socialism, proletarian leadership, non-racialism, non-collaboration, and the priority of Africa’s material interest.”
Hiermee het Alexander die vinger op een van die strategiese werkswyses van die ANC en dié se spanmaat, die SAKP, geplaas, naamlik die opportunistiese strydmetodes van hierdie alliansie.
Die ANC se Juridiese Opportunisme en die Freedom Charter
Een van die belangrikste werkswyses van kommunistiese partye en hulle alliansies wêreldwyd is die opportunistiese benutting van elke moontlike geleentheid om ’n verenigde front (sogenaamde “popular front”) onder die breë spektrum van die bevolking tot stand te bring. Vir hierdie doel word die bekende liberalistiese slagspreuke van “menseregte” en “burgervryhede” ingespan (sien byvoorbeeld P. Selznick, The Organizational Weapon (1960, p.121). Selznick verduidelik egter die ware antagonisme van kommunistiese alliansies wêreldwyd teen menseregte en die vryheid van die burgery. Hy stel dit soos volg (pp.121-122):
“Apart from immediate gains which may be won by such activity, its most important function is the establishment of the legitimacy of the party by associating it with a traditional democratic principle.”
Selznick gaan voort:
“In the course of such operations, the party must take care to hide its real antagonism to civil rights. It does not favour freedom for its enemies, or ultimately even for those who presently consider themselves its friends.”
Hierdie Marxistiese opportunistiese benadering kenmerk die politieke en juridiese werkswyses van die ANC van 1955 af tot vandag toe. Dit getuig byvoorbeeld uit die pogings van die ANC om sowel oortuigde Marxiste as tradisionele liberaliste as deel van die “verenigde front” te behou deur standpunte in algemene en vae terme in te klee ten einde die uiteenlopende standpunte binne die breë verenigde front te akkommodeer. Enkele voorbeelde hiervan kan kortliks genoem word, met verwysing na die kenmerke van die verskillende fases van die ANC se optrede wat in hierdie verband na vore kom.
Juridiese Opportunisme en Menseregte
Vandat die Freedom Charter in 1955 te Kliptown aanvaar is, het die ANC se standpunte oor menseregte gewissel al na gelang van die feit dat die ANC se revolusionêre strydmetodes van tyd tot tyd verander het. Omdat die Freedom Charter die produk van ’n breë alliansie van Suid-Afrikaners was wat uiteenlopende politieke standpunte gehuldig het, het dit liberalisties-demokratiese sowel as sosialistiesese standpunte bevat.
Voorts is hierdie dokument so opgestel dat dit deur wye en vae formulering van die inhoud, die weg vir ’n demokraties-Marxistiese interpretasie baan sonder om die liberalisties-individualistiese opvattings van menseregte te verwerp. Alhoewel die dokument formeel in liberalisties-individualistiese terminologie geklee is, is die materiële inhoud van die dokument volkome in ooreenstemming met die beginsels van die Marxistiese sosialisme.
Hierdie dokument bied ’n goeie voorbeeld van die wyse waarop die Marxistiese sosialisme deur middel van standpunte bevorder word wat die uiterlike skyn van die humanistiese individualisme vertoon. Vanaf 1961 tot vandag het die ANC afwisselend Marxistiese en liberalistiese betekenisse aan die inhoud van die Freedom Charter gegee, namate die revolusionêre strategië van die ANC/SAKP-alliansie telkens verander het. Hiervan kan ons enkele belangrike voorbeelde noem:
(a) Tydens die vyfde nasionale konferensie van die SAKP in 1962, is die program “The Road to South African Freedom” as grondslag aanvaar. Hierdie program het daarvoor voorsiening gemaak dat die Freedom Charter as vertrekpunt van die revolusie beskou is. Reeds op hierdie stadium het die ANC aanvaar dat die Freedom Charter die politieke uitgangspunt sou wees, waardeur die, ANC sy revolusionêre doelwitte in die RSA sou kon bereik. Die Freedom Charter het die status van ’n “revolusionêre aksieprogram” gehad. In ’n artikel “In our Lifetime” (Liberation, Junie 1956) het Mandela eksplisiet verklaar dat die Charter nie bloot ’n lys van eise vir demokratiese hervorming is nie. Volgens hom is dit ’n revolusionêre dokument juis omdat die veranderinge wat beoog word, nie bewerkstellig kan word sonder om die bestaande ekonomiese en politieke orde in Suid-Afrika te vernietig nie. Ten einde die eise van die Charter te bevredig moet, volgens Mandela, die stryd van die massas op die grootste moontlike skaal georganiseer en ontwikkel word.
Volgens die ANC/SAKP-alliansie is die begrip van mensereg gesien as die hoeksteen op grond waarvan die Marxistiese revolusie teweeggebring moes word.
(b) Vanaf die Morogoro-konferensie in 1969 tot en met die Kabwe-konferensie in 1985, kan ’n paar belangrike strategiese aanpassings in die ANC se hantering van die begrip menseregte, soos dit in die Freedom Charter na vore kom, onderskei word.
Vanaf 1969 het die. ANC vir groter opportunisme in sy hantering van die Freedom Charter, as grondslag van die revolusie, voorsiening gemaak. In ’n dokument met die titel Strategy and Tactics of the ANC word hierdie nuwe opportunistiese benadering soos volg gestel:
“The Morogoro Conference worked out the art and science of political and military (armed) liberation struggle in the modern epoch and specifically related to our country, emphasizing dominance in our thinking of achievement over drama, adjusting our experience to the new situation, creating a new apparatus actually capable of clandestinely hitting the enemy and making preparations for a more advanced stage, invoking tradition and combining tradition with revolution, history with politics.”
Op hierdie basis het die ANC gepoog om die revolusionêre stryd as uitvloeisel van die konsep van mensereg in die Charter voor te stel. Gevolglik het die ANC baie aandag daaraan bestee om die spanninge wat tussen die konsep van mensereg en die gebruik van revolusionêre geweld bestaan, te oorbrug. Aldus word in die dokument Strategy and Tactics of the ANC (1969, p.6) verduidelik dat revolusionêre geweld en die politieke stryd nie van mekaar losgemaak kan word nie:
“When we talk of revolutionary armed struggle we are talking of political struggle by means which include the use of military force even though once force as a tactic is introduced it has the most far-reaching consequences on every aspect of our activities.”
Vanaf 1969 tot 1977 het die konsep van menseregte in die Charter ’n onverbloemde Marxistiese betekenis gedra. Die ANC het ’n eksplisiete Marxisties-sosialistiese betekenis aan die inhoud van die Charter geheg. Aldus is die ekonomiese regte in die Charter tot die mees fundamentele menseregte verhef. In dieselfde dokument Strategy and Tactics of the ANC (p.ll) word dit duidelik gestel dat die breë doelwit van die militêre stryd die volkome ekonomiese en politieke emansipasie van die totale bevolking is, die vorming van ’n samelewing wat met basiese vereistes van die ANC se program - die Freedom Charter - ooreenstem.
Vanaf 1977 het die aanvaarding van die nuwe konstitusie van die USSR veel daartoe bygedra dat die ANC meer klem op die Freedom Charter in sy revolusionêre beplanning gelê het.
In L. Brezhnev se toespraak voor die Opperste Sowjet van die USSR op 4 Oktober 1977 (sien Hazard Union of Soviet Socialist Republics, 1978, p.12) het hy besondere klem op die menseregte en vryhede wat in die konstitusie vervat is, gelê. Met die insluiting van hierdie regte het die USSR gehoop om sy kritici in die Weste se monde te snoer. Voorts het die USSR, gehoop om op ’n Marxistiese grondslag ’n aanvaarbare handves van menseregte aan die wêreld voor te hou. Om hierdie rede het die regte in die konstitusie ’n duideliker Marxistiese karakter gedra. So verklaar Brezhnev (Hazard, supra, p.14):
“In short, along with the development of socialist democracy our statehood is gradually being transformed into communist social self-government. This is, of course, a long process, but it is proceeding steadily. We are convinced that the new Soviet Constitution will contribute effectively to the attainment of this important goal of communist construction.”
Die onmiddellike gevolg van hierdie konstitusionele ontwikkelinge was dat benewens die revolusionêre aspek kommunistiese partye wêreldwyd groter klem op die konsep van menseregte begin lê het. Voorts het die sosialistiese standpunte sterker op die voorgrond gekom. So verklaar Thabo Mbeki te Ottawa in Kanada in 1978 (Selected Writings on the Freedom Charter, 1985, p.39) dat die Suid-Afrikaanse samelewing slegs begryp kan word indien in gedagte gehou word dat die landing van Jan van Riebeeck in 1652 die begin van ’n klassesamelewing, op die grondslag van die kapitalisme, ingelui het. In die lig van die feit dat die swartman eendag in Suid-Afrika aan bewind sou kom, behoort die rol van die swartman as produsent heromskryf te word. Hierdie “herdefiniëring” bevat in homself die teoretiese basis van die Freedom Charter soos dit in 1955 aanvaar is. Die inhoud van die Charter is hoofsaaklik sosialisties van aard en daarom moet die benaderings van die liberalisme teenoor die konsep van menseregte verwerp word (vgl. p.49).
Samevattend kan ons verklaar dat die konstitusionele ontwikkelinge in die USSR aan kommunistiese partye en hulle alliansies wêreldwyd hoop gebied het om op ’n aanvaarbare sosialistiese grondslag die konsep van menseregte polities te akkommodeer.
Hierdie hoop het egter beskaam en die USSR was sedert 1985 toenemend verplig om voor die liberalistiese eise ten aansien van menseregte te swig. Hiervan getuig die beleid van “glasnost” en “perestroika” en juridiese hervorminge in die USSR sedert 1985. Met “glasnost”, en “herstrukturering”, voer die USSR ’n groter mate van opportunisme in sy internasionale verhoudinge in, sonder om die Marxisties-Leninistiese grondslae in sy beleid te laat vaar. In sy werk Perestroika (1987, p.35) verklaar Mikhail Gorbachev byvoorbeeld:
“The essence of perestroika lies in the fact that it unites socialism with democracy and revives the Leninist concept of socialist construction both in theory and in practice. Such is the essence of perestroika, which accounts for its genuinely revolutionary spirit and its all-embracing scope.”
Van die opportunistiese werkswyses wat hieruit voortvloei verklaar hy (Perestroika, p.51):
“Of course, acting in a revolutionary way does not imply a headlong dash. Cavalry attacks are far from being always appropriate. A revolution is governed by the laws of politics, by the art of the possible. Bypassing its stages and getting ahead of ourselves must be avoided. Now the main task is to create a basis for advance to qualitatively new frontiers. Otherwise you make a mess of the whole thing and discredit the great cause.”
Ten einde sy langtermyn sosialistiese doelwitte te bereik, het die USSR sedertdien die indruk probeer wek dat dit bereid is om met groter “openheid” bepaalde liberalistiese toegewings te maak. ’n Voorbeeld hiervan is die regshervorminge wat in die USSR van stapel gestuur is. In die teoretiese tydskrif van die Kommunistiese Party van die Sowjet-Unie (KPSJJ), Kommunist (soos aangehaal in die Navosti Persagentskap se “Scanning Periodicals”, 1987-10-06) verklaar die KPSU byvoorbeeld:
“The juridical science is to translate the requirements of restructuring, its present and future into the legal language and to express restructuring in a system of state and legal norms. Economic sovereignty of the producer and the interests of the consumer, broader self-management, democracy, openness in public life, activisation of the human factor, the strict respect for the rights and liberties of all members of society, social justice and other basic elements of restructuring should be codified in corresponding legal forms.”
In ’n uitgawe van die Freedom Bulletin (no. 6, 1987, pp. 1-8) onder die opskrif “Joe Slovo: ‘The Glasnost Factor’” het die outeur oortuigend daarop gewys dat uitsprake van “hervorming” sedert 1917 dikwels deur die USSR gemaak is wanneer die internasionale magsbalans teen hom gedraai het. Tereg wys die outeur (ibid., pp. 1-2) daarop dat Lenin in hierdie verband verklaar het:
“Revolutionary experience has taught us that it is essential to employ the tactics of merciless attack when objective conditions permit... but we have to resort to temporising tactics, to a slow gathering of forces when objective circumstances do not favour a general merciless repulse.”
Perestroika en die ANC se Konstitusionele Riglyne
Die gedagte van perestroika vind ook in die ANC se konstitusionele riglyne neerslag. Die ANC het toenemend besef dat die verwesenliking van sy einddoel in Suid-Afrika, naamlik die vestiging van ’n Marxisties-sosialistiese gemeenskapsorde, nie deur middel van gewapende geweld alleen bewerkstellig kan word nie. Gevolglik probeer die ANC die beeld van groter “inskiklikheid” en “openheid” skep ten einde steun vir sy konstitusionele oogmerke te verkry, sonder om sy langtermyn Marxistiese doelstellings te laat vaar. Ook streef die ANC daarna om onder die dekmantel van ’n groter liberalisering van sy idees, groter steun vanuit die liberalistiese groeperinge in Suid-Afrika te monster. Hierdie denkwyses kom duidelik in die nuwe riglyne na vore.
Eerstens is dit duidelik dat die ANC sy Marxistiese toekomsvisie nie laat vaar het nie, vir sover die Freedom Charter steeds die hoeksteen van die ANC se konstitusionele beplanning is. Aldus word daar in die riglyne verklaar:
“The stage is now approaching where the Freedom Charter must be converted from a vision for the future into a constitutional reality.”
In klousule 8 word voorts verklaar dat ’n toekomstige kode van menseregte op die Freedom Charter gebaseer sal wees.
Tweedens skep die konstitusionele riglyne in klousule 16 die indruk dat die strakke nasionaliseringsbeleid van die ANC enigsins versag is, deur voorsiening vir ’n openbare sektor, ’n private sektor en ’n kooperatiewe sektor te maak. In dieselfde asem word hierdie “gematigde” siening grootliks ontwrig vir sover daar in klousule 15 verklaar word dat die staat die reg sal hê om die algemene konteks te bepaal waarin die ekonomiese lewe kan plaasvind, en die regte en verpligtinge ten aansien van private eiendomsreg en die gebruik daarvan kan bepaal. Hiermee word die inrigting van die ekonomie grootliks in die hande van ’n Marxisties-sosialistiese ANC-regering geplaas, wat steeds aan die beginsel van die nasionalisering van private eiendom verknog is.
Derdens poog die ANC om met hierdie riglyne die breë “verenigde front” onder veral die swart bevolking uit te brei, deur in klousule 3 voorsiening te maak dat die instelling van tradisionele leiers en stamkapteins omvorm sal word ten einde die belange van die bevolking as ’n geheel te dien, in ooreenstemming met die demokratiese beginsels vervat in die konstitusie. Hiermee probeer die ANC die indruk skep dat die tradisionele leiers in ’n toekomstige konstitusionele bedeling ’n beperkte rol sal speel. Die doel hiermee was waarskynlik om sodoende die stryd tussen die UDF en Inkhata in Natal te ontlont en laasgenoemde by die breë front van AVC-ondcrsteuners te betrek. Vir sover klousule 3 na die gelding van die beginsels in die konstitusie verwys, is dit duidelik dat die tradisionele leiers geen erkenning in ’n toekomstige konstitusionele bedeling onder ANC-bewind sal kry nie. Die antipatie van die ANC jeens die “bantustans” en tradisionele leierskapsfigure is reeds oorbekend.
Ten slotte kan ons verklaar dat die konstitusionele riglyne van die ANC om die nuwe “liberalistiese” beeld wat die ANC uitstraal, getuig van ’n juridiese opportunisme wat die ANC se standpunt jeens politieke- en menseregte-aangeleenthede sedert die aanname van die Freedom Charter in 1955 kenmerk.
Vervolg...