Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Het jy geweet dat jou lag, en jou klein bewyse van dankbaarheid, 'n baie sterk invloed op die lewens van jou naaste het? Jy is by magte om sy lewe draaglik en goed te maak, selfs in moeilike omstandighede.

DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (40)

Dr Eschel Rhoodie (1984)

Lees reeks by Die ware inligtingskandaal

Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling.

IN VRYWILLIGE BALLINGSKAP

Ek het ’n voorlopige bespreking gehad om op 8 Desember 1978 na Suid-Afrika terug te vlieg. My vrou moes ’n week vroeër terugkeer om by ons dogter te wees en daarbenewens moes sy ook ’n reeks inspuitings van ons goeie vriend en geneesheer, dr. Boet Kloppers, ontvang. Voordat ek egter die reëlings vir my vertrek kon finaliseer het ’n vriend my vanuit Nice geskakel en gevra of ek daardie oggend se International Herald Tribune gelees het. Indien nie, moes ek dit so gou moontlik in die hande kry. “Die Regering van Suid-Afrika het ’n verklaring aan die pers uitgereik dat hulle jou paspoort gaan terugtrek. Geen rede daarvoor word verskaf nie”.

Ek kon eenvoudig nie glo wat ek gehoor het nie en het onmiddellik die gehoorbuis teruggeplaas sonder om eers dankie of totsiens te sê. Ek het dadelik by die trappe afgehardloop na die naaste nuustalletjie op die hoek en ’n koerant gekoop. Daar het dit duidelik gestaan, net soos my Franse vriend in sy goeie Engels aan my gesê het.

Ek het Katy dadelik geskakel. Volgens haar het die Regering geensins ’n poging aangewend om met haar in verbinding te tree nie, ook nie met ons prokureurs of my reisagent nie. Hulle het almal geweet dat ek in die Inter-Continental Hotel tuisgaan. Indien die Erasmus-Kommissie ’n eenvoudige versoek via my vrou of prokureurs aan my gerig het dat hulle my vir verdere getuienis benodig, sou ek onmiddellik na Suid-Afrika teruggekeer het. Maar daar was nie so ’n versoek nie.

Slegs ’n verklaring aan die pers.

Hierdie stap is geneem voordat die Kommissie sy verslag afgehandel het; voordat die Parlement die verslag gesien het; voordat ooreenstemming deur die Parlement bereik kon word dat die Kommissie se aanbevelings na die Prokureur-Generaal verwys word. Inderwaarheid, voordat die Prokureur-Generaal die verslag kon gesien het.

Hoe meer ek hieroor gedink het hoe meer woedend het ek geword.

Ek het gereken dat iemand in my posisie wat vir 14 jaar in die buiteland en vir ses jaar lank in Suid-Afrika vir Volk en Vaderland geswoeg het, soms teen geweldige persoonlike risiko en selfs sy familie in die proses verwaarloos het, beslis iets beter verdien as om in die pers te lees dat sy paspoort gekanselleer is.
Ek het voorheen my reis onderbreek en op eie koste na Suid-Afrika teruggekeer om voor die Erasmus-Kommissie te getuig. Die Kommissie het toe goedgedlnk om te verklaar dat slegs die Staatspresident en die Eerste Minister vrywillig getuig het. Ek was nie van plan om vir 'n tweede keer na Suid-Afrika terug te haas om uit te vind wat aangaan nie. Ek het in elke geval 'n reeks sake-ontmoetings in Parys en Londen gehad wat ek moes nakom en my ervaring voor die Kommissie was nie iets wat my laat voel het dat ek enigsins regverdig aangehoor sal word nie.

Ek het die Regering se optrede - sonder twyfel op aanbeveling van die Erasmus-Kommissie - verregaande en beledigend gevind. ’n Voorbedagte handeling om my in die oë van die publiek te diskrediteer en te benadeel. Die Regering sou, soos gewoonlik, nie verduidelik waarom my paspoort onttrek is nie. Ek was dus alreeds in absentia veroordeel en opgehang.

’n Paar dae later, kort voordat ek vanaf Parys na Johannesburg sou vlieg, het my vrou my geskakel en gesê dat die Erasmus-Kommissie se verslag ter tafel gelê is en dat ek vir alles behalwe die spreekwoordelike droogte in Namakwaland geblameer word.

Sy het gedeeltes uit die verslag aan my voorgelees en ek kon my eie ore nie glo nie.

John Vorster wat beweer dat generaal Van den Bergh, Connie Mulder en ek almal leuens vertel en dat hy nooit van The Citizen geweet het nie! Owen Horwood het dieselfde gesê! Die Erasmus-Kommissie wat verklaar dat ek dokumente vervals het aangaande ’n stuk grond wat in Plettenbergbaai gekoop is, terwyl dit absoluut onwaar was. Nie net dit alleen nie! Ek het aan hulle die name van twee getuies gegee wat hulle kon bereik deur net eenvoudig die telefoon op te tel en wat my verklaring onmiddellik sou kon bekragtig! Toe een van die getuies later vrywillig ’n beëdigde verklaring via amptelike kanale by hulle ingedien het om my onskuld in hierdie saak te bewys, het die Kommissie dit met opset uit hul derde en finale verslag weggelaat. Om van my, om van enige verstandelik-gesonde en intelligente persoon te vra om te glo dat die Kommissie in hierdie geval maar net onbekwaam was en daarvan vergeet het is belaglik!

Vir die eerste keer het ek besef dat ek tot my ore toe in die moeilikheid was; dat daar ’n emstige poging aangewend word om Mulder, myself en Van den Bergh die sondebokke vir elke “onreëlmatigheid” wat die Erasmus-Kommissie as sulks omskryf het te maak. Ek het nie langer aan hierdie Kommisie as 'n “Geregtelike Kommissie” gedink nie. Al wat hulle nodig gehad het om die prentjie vir my te voltooi was Russiese pelshoede. Ek het eers later ontdek dat daar geen gronde bestaan het om na die Kommissie as ’n “Regskommissie” of ’n “Geregtelike Kommissie” te verwys nie. Die feit dat een van die lede ’n Regter was, was totaal irrelevant. Maar die koerante het dit gebruik om aan die trio gewig te verleen.

Ek het aan Katy gesê dat ek die Erasmus-Kommissie se bevindinge dat The Citizen as ’n party-politieke koerant gestig is en dat Vorster en Horwood nie van die stigting daarvan geweet het nie, summier verwerp. Ek het geweet dit is nie waar nie. Ek het ook daar en dan besluit dat ek nie terug sou gaan nie tensy ek amptelik deur die Erasmus-Kommissie gevra word en ek sou eenvoudig die koerantberig oor my paspoort ignoreer. Indien die Regering wou hê dat ek my paspoort moes teruggee dan kan hulle my deur die korrekte kanale nader. Ek het beslis nie die Sondagkoerante in Suid-Afrika as ’n amptelike of gepaste kanaal beskou nie.

Kort daama het ek skokkende nuus ontvang wat my oortuig het dat die Regering daarop uit is om die hele Rhoodie-familie, mans, vrouens en kinders, ongehoord te kruisig.

Gedurende die laatnag-ure het twee polisiemanne in private drag feitlik by my huis in Menlopark ingebars waar my vrou alleen gewoon het, en haar beveel om haar paspoort te oorhandig. Daardie optrede, meer as enigiets anders, het my so woedend gemaak dat ek besluit het dat die Regering en al wat daarmee saamgaan na die duiwel kon vlieg. Om Katy se paspoort weg te neem en haar derhalwe effektief tot Suid-Afrika te beperk, gevangehouding is ’n beter woord, was byna die laaste strooi. Sy was die een persoon wat standvastig kapsie gemaak het omdat ek vir die Regering gewerk het en wat my besluit om die pos as Sekretaris van Inligting te aanvaar, heftig teengestaan het.

Sy was die een wat geweier het om meer as ’n handjievol van die amptelike en sosiale funksies van ander hoofde en ander departemente en vrouens van Kabinetsministers by te woon, net om haar teenkanting te bewys. Die Erasmus-Kommissie self het haar nooit gevra om voor hulle te getuig nie, want sy het niks te sê gehad nie. Hulle het dit geweet. Maar sy was aan die ongemanierdste ondervraging aan die kant van die Kommissie se advokate onderwerp waaraan ’n mens kan dink. In haar eie huis moes sy, soos ’n kind, voor haar persoonlike lessenaar staan terwyl advokaat Klem agter haar lessenaar gesit en haar oor geheime dokumentasie en ander sake uitgevra het wat vir haar absoluut Grieks was. Hulle het haar ook probeer kry om teen my te getuig ten spyte van haar prokureur se proteste dat dit teen die wet is. “Ons kan enigiets doen”, het die Kommissie se een advokaat gesê.

Wat Katy in daardie stadium moes verduur, het sy uiteengesit in haar boek: Agter ’n Marmerskans. Ek gaan nie daaroor uitwei nie want Katy se boek is een wat elke man en vrou wat vir die Regering of vir enige Regeringinstansie of -Korporasie werk behoort te lees. (Perskor Uitgewery, 1982)

Vanaf die dag wat die Erasmus-Kommissie se eerste verslag verskyn het, het die pers haar dag en nag vir drie maande lank agtervolg. Dat sy die onophoudelike ondervraging, die beledigende telefoonoproepe, die dreigemente, die gelui van die deurklokkie op alle ure, die fotograwe op die tuinmuur, in die bome, in geparkeerde motors, dag en nag voor die huis verduur het sonder om een van hulle te skiet, spreek boekdele vir haar selfbeheersing.

Vir die daaropvolgende jaar moes ons die ergste soort joernalistiek verduur wat ’n mens kan aan dink. “Lynch-mob Journalism”, het iemand gesê. Dio-taktiek wat hulle toegepas het was net so kwaadwillig as wat dit vuil was.

’n Persoon uit Johannesburg wat voorgegee het om ’n familielid te wees, het ’n vriend van my in Jerusalem geskakel om te sê dat iemand in ons familie dodelik siek was. Ek het onmiddellik aan my moeder gedink en sonder om te huiwer ’n telefoonnommer gelaat waar hulle my kon vind. Toe die persoon deurgeskakel is, was dit ’n jong dame van The Rand Daily Mail. Toe ek hoor wie dit was het ek gesê: “Jou leuenagtige feeks! Hulle behoort mense soos jy te skiet!”, en die gehoorbuis neergegooi. Mervin Rees het later bevestig dat hy haar opgesteek het om dit te doen en, gesien in retrospek, dat hy nie daaroor baie trots op homself is nie.

’n Verslaggewer van Beeld, of so het hy gesê, het my broer geskakel en aan hom vertel dat ek in New York gearresteer is en toe selfmoord gepleeg het. 'n Verslaggewer van die Sunday Times het weer gebel om te sê dat hy hoor dat ek in ’n motor ongeluk dood is en wat Katy daarvan dink!

Mnr. Alwyn Schlebusch, destyds Minister van Binnelandse Sake, wat vir die veragtelike paspoortaksie verantwoordelik was, het Katy se innerlike krag heeltemal onderskat. Sy het saam met Mervin Gross na Johannesburg gegaan om ’n senior advokaat te spreek - ’n man wat later ’n Regter van dio-Hooggeregshof geword het. Hy het haar onomwonde vertel dat die Regering seker sou maak dat ek in die gevangenis beland, deur hul hele saak rondom gebeure op te bou waar die belangrikste getuies of dood was of een of ander rede nie geroep kon word nie. Dan sou alles voor ’n sogenaamde “Hanging Judge” eindig. Ek het beslis nie voor so ’n Regter beland nie, maar die res van sy voorspellings was verbasend korrek.

Sy advies aan haar was dat ek nie moes terugkom nie. Teen daardie tyd was ek ook al in besit van kopiee van die Erasmus-Verslag wat Mervin Gross vir my in Frankryk gebring het en ek het geweet dat ek as die sondebok vir slagting voorberei word. Die enigste ding wat ek op daardie tydstip nie geweet het nie was hoe dit gedoen sou word en wat die presiese aanklagte sou wees.

Nadat ek die eerste Erasmus-Verslag gelees het, het ek nog steeds lus gevoel om huis toe te gaan en die Kommissie kaalvuis aan te pak. Katy het my argumente kortgeknip (na haar gesprek met die advokaat in Johannesburg) deur emstig te dreig dat sy ’n egskeiding sou aanvra indien ek ooit uit vrye wil 'n voet in Suid-Afrika sou sit. Dit kon ek in der ewigheid nooit toelaat nie, dus het ek gebly waar ek was. Sy sou my veel eerder nooit weer wou sien nie, as om my in die gevangenis te sien.

Die owerhede het ongetwyfeld geglo dat indien my vrou lank genoeg van my weggehou word ek mettertyd uit vrye wil na Suid-Afrika sou terugkeer. Dit was standaard KGB-filosofie. Wat hulle met die Jode in Rusland doen. Op eie bodem, was dit soortgelyk aan die beleid wat die Britte gedurende hulle imperialistiese oorlog teen die Boere-Republieke gevolg het toe hulle die vrouens en kinders in konsentrasiekampe gesit het in die hoop dat hulle die moraal van die manne in die veld sou breek. Die staat het probeer om my moraal te breek en mnr. Schlebusch moes die vuilwerk doen. As politikus het hy dan ook nie gehuiwer om P. W. Botha se opdragte uit te voer nie, selfs teen ’n weerlose vrou nie.

Vanuit hoë bronne in die Polisie het ons gehoor dat daar nog nie eens ’n dossier vir my saak oopgemaak is nie, nogtans, daar het ek gesit; my paspoort gekanselleer, my vrou s’n ook en die Regering het al ons bates bevries. Moonlik het ek op daardie tydstip onherroeplik besluit dat ek nie na Suid-Afrika sou terugkeer nie en nooit uit vrye wil my paspoort sou opgee nie. Ek het geglo dat dit enige persoon se basiese reg is, totdat hy behoorlik volgens wet aangekla is, om vrylik te kon rondgaan, net waar hy wou.

Die Suid-Afrikaanse Regering het my hierdie fundamentele reg ontsê.

Ek het die Franse Immigrasie-Owerhede gaan sien wat aan my gesê het dat ek wettiglik in Frankryk was. Ek kon vir drie maande aanbly. Hulle sou nie die kansellasie van my paspoort erken nie en tot tyd en wyl daar nie ’n polisiebevelskrif tot aanhouding teen my uitgereik is nie, het hulle nie in my saak belanggestel nie.

Kort daama het Katy ons seun vanaf Bloemfontein laat terugkom waar hy op Grey College skool gegaan het. Ek was stom toe ek hoor dat etlike ouer kinders hom oor die R12 miljoen uitgetart het wat dr. Connie Mulder en ek kwansuis sou gesteel het. Dit is die soort nuus wat hulle slegs tuis van hul ouers kon gehoor het wat dit op hulle beurt weer uit die Erasmus-Kommissie se verslag verkry het of uit die sensasionele, onbekookte wyse waarop elke storie oor Inligting en die Rhoodies deur die pers aan die publiek opgedis was.

Katy het aan my seun die keuse gestel om of in Suid-Afrika aan te bly, of om by my in Frankryk aan te sluit waar hy gedurende Desember sy vakansie kon deurbring voordat hy die volgende jaar na ’n skool in Engeland kon gaan. Klein Eschel het onmiddellik besluit dat hy by my wou wees. Ek glo dat hy bedreig gevoel het omdat sy eie moeder feitlik ’n gevangene in Suid-Afrika was.

In daardie stadium het hy openlik geglo dat die Regering sou probeer om hom in die gevangenis te stop, of hom te martel. Op 15-jarige ouderdom kan die
verbeelding verwoesting saai onder wat realisties of onrealisties is. Gevolglik het Eschel sy tasse gepak en op eie houtjie na Londen gevlieg. Mervin Gross het hom daar ontmoet. Mervin was ook op pad om my te kom sien. Die volgende dag het hy in Cannes by my aangesluit waar ek in vriende se woonstel tuis gegaan het. Net na Nuwejaar het my vriende se vrou vir Eschel na Londen en vandaar na sy skool in die noord-ooste van Engeland geneem.

My 15 jaaroue seun Eschel het na die Inligtingsdebakel ’n moeilike tyd op skool gehad. Sy vriende het asemrowende stories, wat hulle ouers in die pers gelees het, by die skool aangedra. Die pers het in hierdie tyd skynbaar sy begrip vir balans totaal verloor. Daar was wel enkele uitsonderings maar dit was maar min. Geen wonder dat hy sy keuse uitgeoefen het om liewer na Europa te vlieg en by my in Frankryk aan te sluit nie. Hy was so ontsteld oor die heksejag in S.A. teen die Rhoodiefamilie en teen veral sy moeder, dat hy verkies het om liewer Amerikaanse burgerskap, waarvoor hy deur geboorte gekwalifiseer het, te aanvaar. Hy het later in die V.S.A. in ruimte -ingenieurswesegaan studeer, nadat hy drie eensame jare in 'n klein privaat kamertjie in Noord-oos Engeland deurgebring het, waar hy tot 1982 op skool was.

Katy het in Suid-Afrika agtergebly, nie meer alleen nie. Benewens ons dogter Annemarie en haar vriend, Chris Kem (met wie sy in 1980 getroud is kort nadat die Appèlhof eenparig die Regering se aanklagte teen my verwerp het) het ander vriende hulle aan haar sy geskaar. Nog ander “vriende” weer het in die bosse verdwyn, veral die vrouens van manne wat in die Staatsdiens werksaam was, en by uitstek in die Departement van Inligting.

As voormalige hoof van ’n regeringsdepartement en met die wete wat die staat aan ’n amptenaar se loopbaan kan doen as hulle wou, kan ek my nie so ver kry om hierdie eertydse “vriende” te haat nie. Hulle het lafaards geword, want hulle was brood-en-botter werkers. Mense wat hul werk kon verloor, wat bevordering ontsê kon word, na afgeleë plekke verplaas kon word en ondergeskikte take kon kry waar hulle intellektueel sou stagneer. Mense wat veral nie maklik buite die staatsdiens werk sou kon kry nie. Maar al haat ek nie hierdie mooi-weer-vriende nie, sommige van hulle wat so bang was dat hulle nie eens wou toelaat dat my vrou hul telefoon gebruik nie, wil dit nie sê dat ek hulle nie minag nie.

Die uitsonderings was wel daar. Selfs binne in die Departement van Inligting waar Pik Botha duidelik laat blyk het dat enigeen wat met die Rhoodies assosieer sy loopbaan in gevaar stel. Jenny Basson was een. Sy was hoof van die Kulturele Afdeling van die Departement en het grootliks bygedra dat in Inligting meer gedoen was om Suid-Afrika se kultuur in die buiteland te bevorder as al die kulturele attaches van die Departement van Hoër-Onderwys, soos dit destyds bekend gestaan het, tesame. Almal het saamgestem dat sy puik werk gedoen het. Die Suid-Afrikaanse pers en haar kollegas het sekerlik so gedink en so gesê. Sy het botweg Pik Botha se instruksies verontagsaam. Sy het my pleidooi dat sy versigtig moes wees, geïgnoreer. Sy het ons nie alleenlik by die huis kom besoek voordat die hof in Pretoria my tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis het nie, maar nog meer dikwels terwyl ek gewag het dat my appèl in Bloemfontein aangehoor moes word. Sy het openlik ons ete-uitnodigings na restaurants in die stad aanvaar en selfs in die Departement het sy geen doekies om haar gevoelens teenoor ons gedraai nie. Die Direkteur het gereageer deur haar uit haar pos, wat sy haar eie gemaak het, oor te plaas na een wat eintlik deur ’n junior-amptenaar beklee moes word. Maar Jenny Basson het in haar vriendskap volgehou. Openlik. Ons harte het gebloei toe sy in September 1982 aan kanker oorlede is.

Daar was en is nog steeds vriende wat naamloos sal bly, want ek wil nie aan Pik Botha die bevrediging gee om hul loopbane te probeer vernietig nie. Miskien sal hulle nou verstaan waarom ek uit my pad gegaan het om nie met hulle in aanraking te kom nie en ook nie hulle telefoonoproepe wou beantwoord nie. Hulle sou wel gelees het hoedat die Botha-kamp se spreekbuis, Beeld, dit nie kon weerstaan om selfs by haar vroeg en tragiese dood aan kanker, die beskuldiging na haar te slinger dat sy ’n Rhoodie-aanhanger was nie. Dit het my skoon siek gemaak toe ek daardie stukkie gelees het. En dit in ’n Afrikaanse koerant. Mens verwag eerder so iets in Pravda.

Uiteindelik het die realiteite mnr. Alwyn Schlebusch en die Erasmus-Kommissie ingehaal. Laasgenoemde se advokate, mnre. Van Zyl en Klem, het byna elke Nazi-taktiek in die boek probeer, behalwe liggaamlike marteling, om Katy sover te kry om iets te sê wat die Regering se optrede teenoor haar kon regverdig. Hulle het misluk om die eenvoudige rede dat sy nie genoeg van die geheime projekte geweet het nie en wat sy wel geweet het, het sy verfoei omdat sy geglo het dat dit my loopbaan in gevaar gestel het. Die Erasmus-Kommissie se advokate, met die Staatsprokureur se verteenwoordiger, mnr. Thys van Heerden as handlanger, sowel as ’n dwergagtige kreatuur van die Reserwebank, genaamd Hamlin, en ene Kaptein Kriek van die polisie het ons huis gefynkam. Hamlin het my vrou se onderklere deurgegaan, op soek na geheime of
buitelandse bankrekeninge. Kaptein Kriek het selfs die liefdesbriewe gelees wat ek aan haar geskryf het nog voor die Departement van Inligting eens in my verbeelding bestaan het - of in Hamlin s’n. Niks was heilig nie. Nie eens die nota aan my privaatsekretaris oor die herstelwerk aan die dreineringspype in ons tuinhuis het ontsnap nie en wat Van Zyl en Klem gereken het een of ander geheime kode was nie! Dit is ook met hulle meegeneem.

Ek kon my voorstel dat toe die gekombineerde verslag van mnre. Van Zyl en Klem, tesame met die polisieverslae, die Reserwebank se onderklere-spesialis en die Staatsprokureur se verslag aan Regter Erasmus oorhandig is, dit hom ’n akute aanval van slegte spysvertering moes besorg het. Ek kan my ook die aard van die bespreking in die Kabinet voorstel toe mnr. Alwyn Schlebusch aan hulle moes rapporteer dat daar nie eens ’n verbanne boek of tydskrif in ons huls gevind is waarvoor hulle Katy kon aankla nie.

Omdat sy niemand se gek was nie, het Katy besef dat aangesien daar so 'n verregaande stap soos die konfiskering van haar paspoort geneem is (asof sy een of ander ANC-terroris was wat laat in die nag oor Lesotho-grens sou vlug), die Regering enige strooihalm sou vasgryp. Dit is waarom die Erasmus-Kommissie se advokate, die Polisie en die Staatsprokureur soos Hitler so Gestapo op ons huis toegesak het. Daarom het sy kalm en bedaard elke boek en tydskrif wat ons gedurende ons 14 jaar verblyf in die buiteland gekoop het en wat moontlik verdag kon voorkom, sommige van hulle groot en duur klassieke werke, bymekaar gemaak en verbrand. Een vir een. Haar “samesweerder" in hierdie “misdryf’ was ons bejaarde buurman, wyle Piet Lotz, ’n wonderlike ou man met ’n goeie sin vir humor en wat seker heimlik geniet het wat hy gedoen het. Mnr. Schlebusch was dus genoodsaak om aan die Kabinet te vertel dat Katy Rhoodie so skoon was soos - wel, so skoon soos mev. Elize Botha.

In daardie stadium het die Progressiewe Party snuf in die neus gekry van wat aan die gang was. Katy het ook so half vriende met ’n paar verslaggewers van verskeie opposisie-koerante geword wat seker aan die Opposisie die ware stand van sake oorgedra het. Die Opposisie het toe besluit om ’n vraag in die Parlement te stel ten einde die Minister van Binnelandse Sake te dwing om een of ander antwoord oor die kwessie van Katy se paspoort te verskaf. Mnr. Schlebusch was met die probleem gekonfronteer dat hy nie veel langer Katy se paspoort kon terughou nie, want vroeër of later sou die Erasmus-Kommissie sy finale verslag ter tafel lê, en indien dit geen aanklagte of aantyging teen haar bevat nie, sal hulle almal kwaadwillig of selfs simpel voorkom. Die Regering het dus koue voete gekry en, ongelooflik soos dit mag klink, Katy vooruit in kennis gestel (deur middel van ons prokureur) dat haar paspoort teruggegee sou word.

’n Klein afdeling van Veiligheidspolisiemanne is selfs beskikbaar gestel om haar deur die lughawe, onder die neus van die pers, op die vliegtuig te kry.

Voordat mnr. Harry Schwartz die vraag aan die Minister in die Parlement kon stel, het die Regering sonder om te blik of te bloos, aangekondig dat die paspoort alreeds teruggegee is. Die Kremlin het al dieselfde ding met die paspoorte van vrouens van Joodse uitgewekenes gedoen. Daar is ’n verskil in die inhoud, maar nie in die styl van optrede nie.

Sedert daardie dag het daar ’n doodse stilte oor die aangeleentheid geheers. Ek het van ’n oud-Minister vemeem dat mnr. P.W. Botha in die Kabinet gesê het dat iemand ’n kollosale gek van die Regering gemaak het deur sondermeer die advies van die Erasmus-Kommissie te aanvaar om Katy se paspoort te konfiskeer. Katy se paspoort is weggeneem en kort daarna dié van generaal Van den Bergh, dr. D.O. Rhoodie en mnr. Jan van Zyl Alberts, maar eienaardig genoeg, nie dié van hul vrouens nie. Dit is dus belaglik om te beweer dat die Kommissie haar nie as ’n soort samesweerder gesien het nie. Mnr. Erasmus het waarskynlik gedink dat hy met ’n soort Bonnie en Clyde-situasie te doen gehad het en, sonder om hom met die feite te bemoei, Katy skuldig bevind. Hy het haar nooit self gesien of met haar gepraat nie. ’n Heer sou haar ná die tyd minstens ’n bos blomme gestuur het!

Nadat haar paspoort teruggegee is, het die Kabinet besluit dat nie een van hulle ooit sou reageer nie - maak nie saak hoe ons hulle ookal uittart nie. Dit is hierdie morele dwerge wat veronderstel is om Suid-Afrika uit die internasionale wildernis te lei en ons sosio-politieke probleme op te los. Een woord van verskoning aan Katy sou aan hulle eer besorg het, in plaas van die van baie mense.

Mervin Gross het dus na Frankryk gevlieg om die verknorsing te bespreek waarin ek myself bevind het. Ek het aan hom ’n memorandum oorhandig wat my antwoorde op die beskuldigings in die Erasmus-Kommissie se verslag bevat het. Ek het ook ’n brief vir Pik Botha gegee waarin ek my standpunt verduidelik het. Hoe ontsteld ek was omdat my vrou se paspoort weggeneem is nog voordat die Kommissie se verslag eens die Parlement kon bereik het. Vir my om na Suid-Afrika terug te keer, het ek geskryf, nadat ek alreeds deur die Regering as skuldig gebrandmerk is (anders sou hulle nie my paspoort gekanselleer het nie) en met die daaropvolgende bloeddorstige publisiteit is om my verdediging totaal voortydig te veroordeel. Ek het ook aan hom geskryf oor die dilemma waarin ek myself in my eie verdediging bevind. Hoe kon ek myself behoorlik verdedig sonder om al die geheime projekte bloot te lê? Ek was in die posisie van ’n man wat verdoem was of hy nou praat of stilbly. In die lig van die feit dat die Prokureur-Generaal nog nie tot ’n besluit aangaande vervolging gekom het nie, waarom stuur hulle dan nie iemand met die nodige magtiging na Europa om die saak met my te bespreek nie, het ek aan hom gevra. My aktiwiteite in Inligting, in sy geheel, was so sensitief dat dit op ’n ander manier hanteer moes word. Baie projekte kon moontlik geraak word. Ek het, as voorbeeld, 22 hoogs geheime projekte genoem. Ek het daarop gewys dat in die implementering van hierdie projekte die Regering my bonafides een honderd persent aanvaar het. Nou, voordat ek die geleentheid gehad het om myself te verdedig, voordat enige poging aangewend is om my te kontak en my te vra om na Suid-Afrika terug te keer, word my paspoort weggeneem asof ek ’n vyand van die Staat is. Alreeds veroordeel. Ten einde myself in die openbaar teen die aantygings wat die Erasmus-Kommissie teen my gemaak het te verdedig, sou ek die betalings aan en die rol van uiters prominente persone in Suid-Afrika en in die buiteland moes onthul. Dit sou hul toekomstige doeltreffendheid totaal vernietig. Ter afsluiting van my brief het ek aan hom gevra om die saak met sy kollegas te bespreek en te sien of die hele besigheid nie op ’n ander basis hanteer kon word nie.

Ek het Pik Botha duidelik laat verstaan dat in die lig van die Regering se veroordeling van my saak ek geensins van voorneme was om na Suid-Afrika terug te haas soos die vorige keer om weer voor die Erasmus-Kommissie te kom getuig nie.

Die antwoord wat ek langerlaas van Pik Botha ontvang het was pure kaf en die enigste noemenswaardige punt was sy geloof in die regverdigheid van ons howe. Alhoewel ek heelhartig hiermee kon saamstem was die regsadvies wat ek ingewin het dat die Staat nooit al die getuienis in die Erasmus-Kommissie se lêers openbaar sou maak nie. Ek sou dit ook geensins regkry om die Staatspresident, die Eerste Minister of Owen Horwood in die getuiebank te kry sodat hulle, in plaas van in die geheim en agter geslote deure, in die openbaar onder kruisverhoor geneem kon word.

Ek het geweet dat ek net so min kans het om mnr. Vorster, P.W. Botha of Owen Horwood in die getuiebank te kry as wat die Biko-familie se regsadviseurs gehad het om sê maar, die destydse Minister van Polisie, Jimmy Kruger, in die hof te kry. Inderwaarheid, Kruger was ’n goeie voorbeeld, want toe ek hom later genoem het as een van die manne wat van The Citizen geweet het, het hy dit nie net eenvoudig ontken nie; hy het onmiddellik probeer om te verhoed dat The Rand Daily Mail my bewerings publiseer. Die volgende dag het die koerant verskyn met ’n gedeelte van sy voorblad net ’n leë spasie. Toe die saak uiteindelik in die hof besleg is, het Kruger verloor en moes hy die koste van die saak dra. Die Regters het bevind dat Kruger in sy persoonlike hoedanigheid betrokke was en gelas dat hy persoonlik die koste moes dra.
(Die Kaapse Hooggeregshof, Regters J.P. van Zijl en J. van Winsen.)

Kruger was die man wat ek van ’n gewisse politieke dood gered het toe ’n redakteur van Le Point (Parys) aan een van my personeellede, mej. Marsja Retief, belowe het dat hy nie ’n bandopname van ’n onderhoud met Kruger sou gebruik waartydens hy op nog ’n mees onbesonne en selfs ongevoelige wyse na Steve Biko verwys het nie. Sy is as tussenganger gebruik omdat sy vlot Frans kan praat. Agterna het Kruger, wat my amper elke dag gedurende daardie week getelefooneer het, gesê: “Indien daar ooit ’n skaduwee oor jou lewe val sal ek berge versit om jou te help.”

Kruger het inderdaad net die teenoorgestelde gedoen nadat ek die staatsdiens verlaat het en in die kloue van die Erasmus-Kommissie beland het.

Terwyl ek in Frankryk aan my studie oor diskriminasie in die konstitusies van die wêreld op grond van ras, godsdiens en geslag gewerk het, het Mervin Gross alle pogings aangewend om die Regering sover te kry om my te ontmoet sodat ons my probleme kon bespreek. My betoog was nie omdat ek vir Suid-Afrika miljoene Rande bespaar het deur bv. oorsese vakbond optrede teen die land te voorkom, dat ek daarom spesiale bedagsaamheid verdien nie. Dit was die owerhede se Gestapo-agtige manier van optrede asof ek ’n vyand van die land was. Daar het by my ook weinig twyfel bestaan dat ná die eerste Erasmus-verslag, die Regering bloed gesoek het, my bloed, om my as sondebok in die openbaar op te offer. Net asof so ’n bloedverspilling hulle van alles skoon kon was. Dit was die hooftema van ’n brief wat ek aan dr. Connie Mulder uit Quito, Ecuador geskryf het. Ek het ’n pos daar by ’n maatskappy met internasionale verbintenisse aanvaar. Dit was ook hier waar ek al my kennis van die geheime program wat ek vir die Regering geïmplementeer het op band vasgelê en waar ek die eerste konsep van hierdie boek voltooi het.

Voordat ek Frankryk verlaat het om na Ecuador te gaan, het daar ’n pakket per registreerde lugpos uit Suid-Afrika aangekom. Dit het ’n aantal fotostate van geheime briewe en ander materiaal, insluitend bandopnames, bevat. Ooglopend het iemand in die Pretorius of Kemp-Komitee soos ek gevoel en aan my materiaal gestuur wat ek kon gebruik om myself te beskerm en my naam skoon te maak.

Ek het later, uit vrye wil, hierdie dokumente aan die Staatstrustraad terugbesorg.

Vanaf Ecuador het ek ’n tweede brief na Pretoria gestuur. My prokureur het na Kaapstad gevlieg en dit aan die Eerste Minister se sekretaris oorhandig. In hierdie brief het ek dieselfde punte opgehaal as dié wat ek aan Pik Botha gestel het en versoek dat my vrou se paspoort teruggegee word en dat my pensioen in die buiteland uitbetaal word.

Daar was geen antwoord nie. Maar hulle het ook nie ‘nee’ gesê nie.

Na sowat ’n maand het ek ’n boodskap ontvang dat Katy haar paspoort sou terugkry en dat my pensioen in die buiteland uitbetaal sou word. Die boodskap het vanaf die Eerste Minister se kantoor via die kantoor van die Sekretaris vandie Tesourie na my prokureur, Mervin Gross gekom. Die ander deel van die boodskap aan my kon ek ook nie miskyk nie; bly weg, hou jou mond, vat die blaam, laat Connie Mulder en Van den Bergh vernietig word, los die Eerste Minister uit en dit sal met jou goed gaan!

Ek kon nie destyds nie en ek kan nou ook nie aanvaar dat dr. Mulder, generaal Van den Bergh en ek al die blaam moes dra om P.W. Botha, Owen Horwood en die res van die Kabinet, asook mnr. Vorster, te beskerm nie. Indien mense geoffer moes word dan moes hulle ook onder diegene tel wat die prys moes betaal. Maar ek was oortuig dat niks wat in Inligting gedoen is, korrup of strafbaar was nie. Ek dink nou nog so.

Toe ek die nuus ontvang dat Katy haar paspoort sou terugkry en na Switserland sou vlieg, het my emosies my verstik. Woorde kan nie my verligting beskryf nie. Dit was een van die min kere in my lewe dat ek onbeheersd gaan sit en huil het. Sy het eers na Holland gevlieg, om die pers teontduik, en toe na Switserland. Ons hereniging na maande van skeiding was een van suiwer en intense geluk. Indien moontlik, het ek haar meer as ooit liefgehad.

Eers laat in Februarie 1979 het die volle implikasie van wat die regering aan my en my familie gedoen het tot my begin deurdring. In daardie gemoedstoestand het dit baie min geneem om my oorboord te stuur. Kort na haaraankoms het ek vemeem dat die regering ’n nuwe ooreenkoms wou aangaan waarby hulle my pensioen in enige land in die wêreld sou uitbetaal indien ek sou wegbly, stilbly en nooit weer na Suid-Afrika terugkeer nie.

Net asof ek ’n gevaarlike politieke agitator was wat in permanente ballingskap gestuur moes word.

Ek het botweg geweier.

Daar was nog ’n uiters verontrustende faktor.

Daar het boodskappe na my vanuit verskeie bronne begin kom van mense wat nie ligtelik waarskuwings rig nie, dat sekere lande baie ongelukkig sou wees indien ek, as gevolg van die Suid-Afrikaanse Regering se druk op my, sou begin praat.

Dit was die ou-ou storie. Raak ontslae van iemand wat ’n “bedreiging vir nasionale belang” inhou en te veel geweet het. Daar was net een manier waarop ek myself teen die dreigemente teen my lewe kon beskerm en dit was om reg onder die soeklig van die wêreld-pers te gaan staan. Indien iets snaaks met my sou gebeur sou die wêreld daarvan weet.

Maar selfs op daardie tydstip het ek gehuiwer om na die pers te gaan, totdat ek een aand ’n oproep van Mervin Gross ontvang het. Hy het my vertel dat die Regering wetgewing gaan passeer wat hulle in staat sou stel om my pensioen weg te neem.

“Beteken dit dat, indien ek sou sterf, my vrou geen voordele sal ontvang nie?” het ek gevra.

“Dit is waarop dit neerkom. Ek het dit op goeie gesag dat hulle ’n voorstel in die Parlement gaan indien wat spesifiek op jou gemik is.”

Ek was lamgeslaan. Dit was die laaste strooi.

Ek het Mervin Rees van The Rand Daily Mail geskakel, ’n man wie ek goed leer ken het en as joernalis gerespekteer het. Ek het aan hom gesê dat indien dit die spel is wat hulle gaan speel, ek alles oor The Citizen en die kabinet se rol in die geheime program op die lappe gaan bring, dan kan die publiek self oordeel of die nuwe Afrikaner-Leier mnr. P.W. Botha en die Staatspresident, mnr. Vorster, so onskuldig was as wat hulle gedink het.

Hierin het ek geen fout begaan nie.

Ek het nie my rasionaliteit verloor toe ek oorboord gegaan het nie.

Ek het nie iets gedoen wat ek gedink het onnosel was nie, of wat ek nie weer sou doen indien ek myself in dieselfde omstandighede bevind nie. Per slot van rekening, dit is dieselfde Regering wat in die openbaar aan ondersteuners vertel het dat hulle nooit enige ooreenkomste met my sou aangaan nie, wat inderdaad in die geheim ’n tweede ooreenkoms wou aangaan. En die voorgestelde transaksie was nie om dinge vir my makliker te maak nie. Dit is aan my gestel in die hoop dat ek uit vrye wil die rol van die sondebok en permanente ballingskap uit my geliefde Vaderland sou aanvaar, nie om geregtigheidshalwe nie, maar sodat hulle as politici staande kon bly. Uit hulle oogpunt was dit ideaal. Die boeke sou afgesluit wees en hulle kon weer die bordjies uithang: “Oop vir besigheid”. Uit my oogpunt was dit die gemeenste transaksie ooit en toon hoe ver hulle desperaatheid en lafhartigheid gestrek het. Die feit dat die voorstel vanaf ’n Regeringskantoor in Kaapstad gekom het waar die vlag van “Skoon Administrasie” gehys was het dit intellektueel smerig gemaak.

Nou dat ek geweier het om hul aanbod te aanvaar, het hulle eenvoudig besluit om ’n Wet te passeer om my pensioen weg te neem.

Sonder my bates in Suid-Afrika, sonder my pensioen en sonder my paspoort, het hulle geweet dat dit vir my uiters moeilik sou wees om ’n goedbetaalde pos te vind sodat ek my vrou en twee kinders kon onderhou. En indien ek te sterwe kom sou Katy sonder ’n sent nagelaat word.

Ek was van plan om aan Rees ’n reeks artikels te gee wat ek geskryf het en wat tesame met dokumentêre getuienis en sommige van my bandopnames in ’n bankkluis in Frankryk opgesluit was. Per blote toeval was die slot aan die persoonlik kluis defektief en by ons aankoms in Nice op ’n Vrydag, kon ek nie die data daardie dag bekom nie. Ons moes tot die volgende oggend wag om die kluis oop te kry. Dieselfde aand het ek ’n telefoonoproep van generaal Van den Bergh uit Pretoria ontvang om te sê dat hy na Frankryk op pad was met ’n dringende boodskap en dat ek horn die volgende dag by die Hotel Sofitel, naby Charles de Gaulle Lughawe, moet ontmoet. Hy het my gevra om met niemand te praat nie, minste van almal die pers, totdat hy my gesien het.

Ek het onmiddellik my besprekings met Rees afgestel en na Parys gevlieg. Generaal Van den Bergh het oor die telefoon gesê dat hy na Kaapstad gegaan het om verskeie Ministers te sien. Dr. Piet Koornhof en ander wie se name ek nie nou kan onthou nie. Dr. Koornhof het gerigte gehoor dat ek bandopnames en ander dokumente in my besit het wat dinamiet was. Generaal Van den Bergh was veral oor die aankoop van sekere kiste “teeblare” bekommerd waarna in ’n hoogs geheime dokument verwys word wat deur Brand Fourie onderteken en deur mnr. Vorster goedgekeur is en waarvan ek geweet het. Ek het die dag goed onthou toe ek met ’n vliegtuig in Johannesburg saam met die eerste besending “teeblare” aangekom het. Dit was nie iets wat hy oor die telefoon kon bespreek nie, maar hy wou uitvind of ek daardie inligting het en of ek van plan was om dit openbaar te maak. Kon hy my kom sien?

Ek het aan hom gesê om nie bekommerd te wees nie, dat indien die saak gegaan het oor wat ek vermoed het, hy hom inderdaad glad nie hoef te bekommer nie. “Ek is so die duiwel in as kan kom vir John Vorster, vir Erasmus, P.W. Botha, Owen Horwood en andere, maar in my denke is hulle en die Nasionale Party nie sinoniem met Suid-Afrika nie en ek sal nie iets doen wat die hele land in gevaar kan stel nie”. Ek het ook aan hom belowe dat ek verskeie ander sake, net so geheim, nie openbaar sou maak nie en waarvan die publikasie ewe vernietigend vir Suid-Afrika sou wees.

Ek het baie van hierdie hoogs geheime inligting bekom vir die eenvoudige rede dat ek een van die mense was wat die weg vir spesiale verhoudings met sekere buitelandse state gebaan het, en direk ’n hand in sekere uiters belangrike ooreenkomste gehad het. Daardie lande het my met hierdie inligting vertrou en ek het aan Van den Bergh gesê dat ek daardie vertroue sal eerbiedig. Hy was egter nie tevrede nie. Dit was noodsaaklik dat hy my moes kom sien. My reaksie kon die Regering se algehele sienswyse affekteer.

Op hierdie tydstip het ’n sekere Josias van Zyl op die toneel verskyn. Hy het, net soos die generaal, gehoor dat al my bates bevries was; dat daar sprake wetgewing was om my pensioen weg te neem en dat ek toe net sowat $12 000 per jaar in die buiteland verdien het. Indien ek nie my pensioen sou kry nie, sou my vrou, ons seun en ek eenvoudig nie in Europa kon bestaan nie.
Hy het die generaal verseker dat hy honderd-duisende kon uitbetaal. Aan die begin het hy die generaal R1 miljoen vir sy eie storie aangebied en toe die generaal dit met ’n ongelowige glimlag van die hand wys, het hy aangebied om my ten minste R70 000 per jaar vir die volgende vyf jaar te betaal indien ek vir hom sou werk. Dan hoef ek nooit bekommerd te wees waar my brood en botter vandaan sou kom nie.

Van Zyl het die generaal na sy luukse stel kantore in die Carlton Sentrum in Johannesburg uitgenooi en het ongetwyfeld ’n indruk gemaak. Die uiteinde was dat hy aangebied het om ’n besoek van die generaal en sy vrou, Kotie na Frankryk te finansier sodat hulle my daar kon sien. Van Zyl self was van sy prokureur, Brian Kahn, vergesel. Daar was geen geheimhouding oor die ontmoeting nie. Die generaal het by Charles de Gaulle gearriveer, openlik agtervolg deur ’n dosyn koerantmanne, sommige van wie ek as Suid-Afrikaners herken het.

’n Verslaggewer en fotograaf van die Argus-groep het na my kamer gekom om foto’s te neem. Ek het geweier, maar die Argus-man het die deur oop geforseer sodat die fotograaf ’n foto kon kry. Toe Van Zyl hiervan hoor het hy onderneem om die film te kry. Hy het dit laat klink asof hy suikerklontjies van ’n baba gaan wegneem. Later het hy na my kamer gekom met ’n breë glimlag en met die rol film in sy hand.

“Moenie bekommerd wees nie”, het hy gesê. “Jy is in bedrewe hande. Ek weet hoe om hierdie spul ape te hanteer”.

Min het hy geweet dat die fotograaf aan hom ’n ongebruikte film oorhandig het. Die Argus-koerante in Suid-Afrika het daaropvolgend die foto gepubliseer.

Die generaal en ek het eers ontmoet en vir sowat ’n uur gesels. Terwyl sy vrou, Kotie, op die bed gerus het, het ons in die badkamer gesels. Die wasbakkraan was as voorsorgmaatreël teen elektroniese afluistery sterk
oopgedraai. Ek het hom van die Regering se optrede teen my vrou en my pensioen vertel (waarvan hy geweet het) en dat ek van plan was om aan die wêreld te vertel dat Vorster, P.W. Botha, Horwood en Jimmy Kruger ook van
The Citizen en ander projekte bewus was en wat hulle nou ontken het. Ek wou ook vertel hoe Piet Koornhof, net soos hy die generaal gevra het, my versoek het om Inligting se geheime fonds te gebruik om die Natal Mercury te koop. Was dit nie vir die onverantwoordlikhede van Koornhof se tussenganger,
Lawrence Morgan (Kodenaam Hippo) nie, sou die
Mercury nou in hul hande gewees het. Ek het ook aan hom vertel dat omdat die Erasmus-Kommissie se verslag die indruk skep asof al wat ons gedoen het was om rond te ploeter en die belastingbetaler se geld te verkwis, ek van plan was om ’n beperkte aantal van die geheime projekte aan die pers te onthul sodat mense vir hulself kon oordeel of ons gewerk het om Suid-Afrika se belange te bevorder, of net om onsself te verryk. Of ons party-politiek met die staat se fondse gespeel het, soos die Erasmus-Kommissie ook beweer het en of ons ander redes gehad het. Ek het hom egter verseker dat die projekte waaroor hy bekommerd was nooit vrygestel sal word nie, tensy ek ’n onnatuurlike dood sou sterf. Onder daardie omstandighede, het my vrou en my prokureur in Europa instruksies gehad om sekere bandopnames en dokumente aan ’n ander bevriende staat vry te stel.

Die generaal was tevrede.

Daarna het mnr. Josias van Zyl en sy prokureur, Brian Kahn, die kamer binnegekom. Van Zyl het aan my gesê dat hy verstaan dat ek finansiële probleme het omdat my bates bevries is en die regering my pensioen gaan wegneem. Hy het ook verstaan dat ek van plan was om inligting aan die pers te verkoop.

“Nee”, het ek gesê, “Jy verstaan verkeerd. CBS-TV in New York het my wel $250 000 aangebied indien ek bereid sou wees om aan hulle al die informasie te gee wat ek tot my beskikking het - wat ek nie van plan is om te doen nie”.

Van Zyl het daarop aan my vertel hoe ’n geweldige ryk man hy was. Kahn het al die tyd sy kop instemmend geknik en daarom het ek hom geglo. Hy sou my sowat $50 000 betaal om sy maatskappy in Europa te verteenwoordig, maar het dit toe na $70 000 verander. “Wat de hel is ’n ekstra $20 000 nou", het hy gesê. “Ek sal dit oor ’n jaar moontlik $100 000 maak, maar laat ons met $70 000 begin. Hier is R2 000 as blyk van vertroue”. In ruil daarvoor wou hy net hê dat ek eenvoudig daarvan moes vergeet om enigiets aan die pers te vertel en liewers te help met die bemarking van sy rewolusionêre afsnymasjien. Hy het aan my ’n brief van ’n maatskappy in Engeland oorhandig wat bevestig dat hulle namens hom optree en dat ek deur hulle met hom in aanraking kon kom.

“Terloops, hoeveel maatskappye het ons nou Brian?”, het hy aan sy prokureur gevra.

“O, ek skat sowat 46 in 40 lande”, het Kahn ongeërg gesê.

“Wat van die dinge wat die Erasmus-Kommissie se eerste verslag alreeds openbaar gemaak het? Ek gaan nie daaroor stilbly nie. Ek wil daardie sake regstel”, het ek gesê.

“Daaroor bekommer ek my nie”, het hy geantwoord, “maar sê my, het jy regtig geheime inligting en bandopnames by jou?”

“Nee, ek het geen bandopnames by my nie, maar ek het ’n paar dokumente waarna jy kan kyk, net om te bewys dat Horwood en Vorster van The Citizen en al die ander geheime projekte geweet het”. Ek het noukeurig ’n paar dokumente uit my aktetas uitgesoek en aan hom gewys.

Hy en sy prokureur het in geen stadium na enige bandopnames geluister nie, maar later, terug in Suid-Afrika, het hy aan die pers vertel dat hy na die bandopnames geluister het en dat hulle “uiters plofbaar” was. Inderwaarheid, die enigste persoon wat na drie van die opnames geluister het was generaal Van den Bergh. Van Zyl en Kahn was nie teenwoordig nie.

Terwyl die generaal op die bed in die kamer geslaap het, het Kahn ’n dienskontrak vir my opgestel. Tien maande later sou Van Zyl aan Die Transvaler moes beken dat die kontrakte “nie die papier werd was waarop dit geskryf was nie.” Dit was inderwaarheid nie ’n kontrak nie, maar hoofpunte waarop ons ooreengekom het. Tot vandag toe skuld Van Zyl my nog R17 000 omdat hy nie die volledige kontrakte onderteken het en aan my voor die bepaalde tydperk oorhandig het nie. Van Zyl het aan Die Transvaler vertel dat die hele reis niks meer as ’n reklame-truuk was om die rewolusionêre staal afsnymasjien te adverteer wat hy, na bewering, ontwikkel het. Twaalf maande daama het die masjien glo nog geen hond haaraf gemaak by enigiemand nie.

Van Zyl was uiters gretig om die bandopnames in die hande te kry wat vanaf Frankryk na ’n bankkelder in Engeland verskuif is. Ek het gereël dat generaal Van den Bergh een sleutel sou ontvang terwyl ek die ander een gehou het. Derhalwe sou dit onmoontlik vir enigeen wees om alleen daar in te kom. ’n Gedeelte van my ooreenkoms met van Zyl was dat die opnames nooit vrygestel sou word nie, tensy my nuwe “werkgewer” daartoe instem. Wat hy nie geweet het nie is dat ek nooit sou toelaat dat hy die bandopnames in die hande kry nie, want twee dinge wat hy die volgende dag aan my gesê het, nadat ons die “kontrakte” onderteken het, het my uiters suspisieus gemaak.

Ek het na mev. Van den Bergh gegaan en gevra: “Kotie, is jy seker dat die generaal hierdie man werklik ken?”

“Ek weet nie hoeveel hy van hom weet nie”, het sy gesê, “maar ek weet dat verskeie prominente sakemanne in Johannesburg aan Hendrik gesê het dat Van Zyl geloofwaardig is”.

Ek was al te lank in die land om nie te besef wanneer ek met ’n snuffelaar te doen het nie. Retief van Rooyen het my om die bos gelei, maar Van Zyl het te ooglopend opdragte ontvang om op die generaal se rug te ry om my te sien en uit te vind wat ek het, en hoeveel ek geweet het.

Wat my agterdog gewek het, was Van Zyl se aandrang om self na al die bandopnames te luister, terwyl hy die vorige aand aan my gesê het dat hy net belanggestel het om my van werk te voorsien sodat ek nie aan die versoeking om my geheime te verkoop sou toegee nie. Hier moet kennis geneem word dat ek tot vandag toe nooit persoonlik ’n sent van enige koerant in die buiteland of in Suid-Afrika ontvang het terwyl ek in Europa was nie. Die Huisgenoot het aan my vrou R3 000 vir ’n eksklusiewe artikel belowe waarvoor hulle Petrovna Mettlerkamp na Europa gestuur het. Die artikels was die gemeenheid self. Op die ou end het Petrovna aan my geskryf dat die redakteur haar storie “gekook” het. Dit het ’n smeerartikel geword en my vrou het net die helfte van die geld ontvang. Dit het my nie verbaas nie omdat die artikel self net die halwe waarheid was.

Die ander ding wat Van Zyl gesê het was dat alhoewel hy alles van my aktiwiteite in Israel geweet het, hy sou verkies het om alles by my te hoor sodat hy kon sien of sy inligting korrek is. Ek het geweet dat die generaal hom niks van Israel vertel het nie (en sou ook nooit) en dat net vyf ander persone in Suid- Afrika geweet het wat aangaan.

Heelwat later het ek uitgevind dat Van Zyl ’n manie oor pers-publisiteit gehad het. Elke groot storie in die Suid-Afrikaanse pers het hom soos ’n mot na ’n vlam aangetrek. Toe daar in die pers sprake van ondersteuning aan Kleurling-rugby was, het Van Zyl R100 000 aan dr. Danie Craven belowe. Toe daar sprake was dat sommige van die Britse Leeus wat na Suid-Afrika sou kom, hul inkomste tuis sou verloor, het Van Zyl gesê hy sal hul salarisse betaal. Niks het skynbaar ooit hiervan gekom nie, net soos sy staal afsnymasjien nie wou werk toe dit aan die pers gedemonstreer was nie.

Die kersie op die koek was die lotgevalle van die Amerikaanse gyselaars in Iran. Volgens ’n koerant-vriend van my het Van Zyl aan hom telekse gewys wat hy aan die Amerikaanse President en die Ayatollah Khomeini gestuur het dat hy, Van Zyl, die antwoord op die probleem gehad het. Hulle moes hom na Teheran laat kom dan sou hy die saak uitsorteer.

Tot vandag toe glo ek dat die Ayatollah ’n fout begaan het deur Van Zyl nie na Iran te laat kom nie. Hulle twee sou mekaar se geselskap geniet het. Nogtans was daar koerante wat Van Zyl ernstig opgeneem het, soos Die Vaderland en Beeld. Deesdae maak hulle of hulle nooit van so iemand gehoor het nie. Gerieflike geheueverlies.

Generaal Van den Bergh het skaars die hotel verlaat toe ek ’n oproep na vriende in Pretoria en Johannesburg deurgesit het. Binne 24 uur het ek alles van mnr. van Zyl en sy besigheid geweet. Ek het Katy gevra om na Londen te gaan, die bankkluis leeg te maak en een sleutel by die generaal te laat. Ek sou later besluit of ek die oorsponklike stel met duplikate sou vervang. Ek wou Van Zyl net nie naby hulle hê nie.

Daar is met die generaal gereël dat Katy hom in Londen sou ontmoet en die sleutel oorhandig. By haar aankoms by die bestemde hotel, kon sy die generaal nêrens sien nie. Katy, wat nie geweet het waar die generaal was nie, was besig om sy kamer te skakel toe iemand haar op die skouer klop en sê. “Ek is die een na wie jy soek. Kan ek die bandopnames kry asseblief’.

Geen sprake nou van die sleutels nie, maar van die bandopnames.

Van Zyl het aan haar vertel dat ek hom persoonlik vanaf Parys geskakel het en hom gevra het om haar te ontmoet en die bandopnames af te haal - iets wat ek nooit gedoen het nie. Katy se hart het byna gaan staan, want Van Zyl het nie geweet dat sy alreeds die opnames gaan haal het en dat sy hulle op daardie oomblik by haar in haar handsak gehad het nie. Maar omdat sy so skerp en opmerksaam oor mense se karakters soos ’n snydokter se skalpel was, het sy daar en dan besluit dat sy nie enigiets aan “hierdie klein mannetjie met die dik lippe”, soos sy hom beskryf het, sou gee nie. Nie eens ’n sneesdoekie nie. Dit was vroulike intuïsie op sy beste.

Van Zyl het met leë hande weggestap, hoogs die duiwel in, maar dit het my vermoedens dat hy in werklikheid agter die bande aan was bevestig. Ek het nooit uitgevind wie sy opdraggewers in Suid-Afrika was nie en het nooit weer enige kontak met hom gehad nie. Een keer het ek ’n brief van sy prokureur ontvang waarin hy gesê het dat hulle my gaan vervolg omdat ek met die pers sonder Van Zyl se toestemming gepraat het. In die lig van sy latere verklaring aan Die Transvaler, dat die hele ding ’n publisiteit speletjie was, wonder ek net hoe Van Zyl ’n prokureur van die Hooggeregshof oorgehaal het om so ’n brief te skryf, terwyl hy self openlik aan die pers erken het dat hy nooit die geld gehad het en my nooit sou kon betaal nie.

By sy terugkeer in Suid-Afrika, het generaal Van den Bergh gevoel, en met reg ook, dat hy goeie werk gedoen het. In daardie stadium was hy nog onbewus van Van Zyl se duur waagstuk. Daarom was ek stomgeslaan toe ek hoor dat generaal Van den Bergh se paspoort ’n paar dae na sy terugkeer gekonfiskeer is. Die polisie het, soos gewoonlik, laat in die nag opgedaag. Hulle was nie baie bedrewe nie, want die paspoortnommer wat hulle aangegee het was nie die van dié generaal nie. Hy het nietemin syne aan hulle oorhandig.

Dit slaan my nog altyd dronk waarom die polisie juis om middernag na ordentlike mense moet kom as hulle iets het om af te haal byvoorbeeld in die geval van generaal Van den Bergh en my vrou. Waarom dit aan ’n vrou doen wat alleen in haar huis slaap? Waarom nie om sewe-uur in die aand, of sewe-uur in die oggend nie?

Intimidasie is die woord. Dit is hoe hulle dit nog steeds in Rusland doen en in Hitler se Duitsland gedoen het. Die polisie doen dit nie omdat hulle daarvan hou nie, maar omdat dit hulle opdrag is.

Van Parys het ek na Cannes gegaan waar ek Mervin Rees en Chris Day van The Rand Daily Mail ontmoet het. Ek het aan hulle vertel dat ek nie meer al die materiaal gaan vrystel wat ek hulle reeds gegee het, of van plan was om aan hulle te gee nie, maar ek sou aan hulle ’n verdere reeks onderhoude toestaan, soortgelyk aan die wat ek aan hulle in Quito, Ecuador gegee het ten einde die name van Ministers en amptenare bekend te maak wat van die geheime projekte en die finansiering daarvan geweet het.

The Rand Daily Mail was die enigste koerant wat ek geken het wat die moed sou hê om te publiseer wat ek te sê gehad het. Dit was ook die enigste Suid-Afrikaanse koerant wat werklik internasionale status gehad het.

’n Maand tevore het ek in Nice ’n verteenwoordiger van Rapport ontmoet en aan hom sekere getikte verklarings oorhandig. Dit was nooit gepubliseer nie. Rapport het net in die menslike hoek belanggestel, nie in verdere onthullings en kritiek op die Regering nie. Baie van my vriende wou weet waarom ek nie na die Afrikaanse koerante gegaan het nie - wel, die treurige waaheid is, Afrikaanse koerantredakteurs is minder vry as ander. Hulle is aan politieke- en Regeringsdruk onderhewig en gee meer aan hierdie druk toe as wat hulle graag sou wou erken. Mense soos Carel Noffke kan aan u vertel hoe dikwels die Eerste Minister (Vorster) self geskakel het. Groot sakeondernemings in die Afrikaanse gemeenskap, die Broederbond en ander instansies is gedurig op hul nekke. Dit is ondenkbaar vir ’n Afrikaanse koerant om in ’n aanval op die geloofwaardigheid van Vorster, P. W. Botha, Horwood en ander saam te werk. Selfs toe P. W. Botha ’n growwe flater begaan het en op onkonstitusionele wyse Suid-Afrikaanse soldate diep in Angola ontplooi het (’n optrede wat Suid-Afrika onherstelbare skade aangerig het) kon Schalk Pienaar, die mees uitgesproke Afrikaanse rubriekskrywer van sy tyd, maar net sê dat die episode “’n klein mystykie” was - ’n opmerking wat ’n klassieke joernalistieke onderbeklemtoning geword het.

Dit is nie ’n geval dat individuele Afrikaanse koerantredakteurs opsetlik oneerlik is nie, maar dat hulle nie mag skryf en publiseer wat hulle wil nie. Enige ingeligte individu weet dat die trust wat Perskor beheer (Die Transvaler, Die Vaderland, Rapport, ens.) verbied dat enige van sy werknemers, direkteure of koerante die Nasionale Party mag kritiseer of beveg, veral nie sy leiers. nie. Of mnr. P. W. Botha en sy Ministers nou die grootste stommiteite begaan het of nie, die redakteurs mag hulle en hulle party nie aanval nie. Redakteurs van Nasionale Pers word aangestel met die duidelike verstandhouding dat die Nasionale Party, en veral die Eerste Minister, hulle brood en botter is. Val jy die Eerste Minister of die party aan dan word jou bord pap van jou weggeneem en gaan jou vrou en kinders honger ly. Gaan soek gerus in die koerante van die afgelope jare ’n kritiek op P.W. Botha of sy ministers in Die Burger, Die Volksblad of Beeld. Die engel Gabriel kan nie ’n beter persbeskerming as die NP en sy Eerste Minister geniet nie. Vandaar die skreiende onreg wat teenoor ander Afrikaner politici en Afrikaner kiesers en koerantlesers gepleeg word. Dit is ’n monumentale joernalistieke bedrogspul wat onder die dekmantel van “verantwoordelike verslaggewing” ’n breinspoeling van die Afrikaner bewerkstellig. Die wyse waarop die Afrikaanse koerant slaafs die Eerste Minister en die NP dien vind mens, as ’n eweknie, slegs in totalitêre lande soos die Russiese blok en in Afrika lande soos Zambië, Zaire, Mosambiek en Tanzania.

Die Mail, daarenteen, het nie in my as persoon of in enige menslike oogpunt belanggestel nie, maar of Owen Horwood en ander Ministers beskerm was en of daar ’n verdere toesmering was, hierdie keer deur die P.W. Botha Regering. Die reaksie op my reeks onderhoude met die Mail het die dak in Suid-Afrika gelig.

“Verraad”, het Horwood vanuit die veilige hawe van die Parlement geskreeu.

“Kruisig hom!” het talle Suid-Afrikaanse koerante geskryf.

Kort nadat die Mail met hulle reeks artikels begin het, het ek die BBC-televisiespan van Daw Dimbleby en David Harrison in Zurich ontmoet. In ’n onderhoud met hulle het ek weer eens nie geheime projekte onthul nie. Ek het slegs herhaal dat ek oortuig is dat ek polities vervolg word en dat P.W. Botha, Horwood en Vorster alles van The Citizen en van die geheime finansiering van verskeie propaganda projekte geweet het. Dit was die kern van my verklarings op die beeldradio program.

Die BBC-TV onderhoud en ook die artikels in The Rand Daily Mail het internasionale voorbladnuus geword. My foto het op die buiteblad van Newsweek verskyn, tesame met ’n lang onbekookte artikel oor geheime
projekte wat ek na bewering sou hanteer het.

Soortgelyke verslae het in The Guardian, The Observer en ander internasionale koerant verskyn. Ek het by myself gedink: “Wel, indien ek van ’n rotswand naby Cannes sou aftuimel gaan niemand vir een oomblik glo dat dit ’n ongeluk was nie”.

Binne ’n paar dae nadat die artikels in The Rand Daily Mail verskyn het en kort na die BBC-TV onderhoud, het P.W. Botha in die Parlement aangekondig dat ’n lasbrief vir my inhegtenisname uitgereik is. Die blote feit dat die Eerste Minister dit nou op homself geneem het om persoonlik in die Parlement aan te kondig dat daar ’n lasbrief vir my inhegtenisname op aanklag van bedrog of diefstal uit was, is veelseggend. Om die waarheid te sê, dit was ongehoord. Waarom nie die Polisie nie, of die Prokureur-Generaal nie? Waarom nie die Minister van Justisie nie? Waarom in die Parlement? Hoeveel maal het dit al in die Parlement in Suid-Afrika gebeur?

Dit was so duidelik soos daglig dat die arrestasie beveel was omdat ek dit gewaag het om die Regering aan te val en hulle toesmeerdery aan die kaak gestel is. Dit maak vir my baie min saak dat die Erasmus-Kommissie, in ’n interim verslag bevind het dat P.W. Botha, Horwood en die res van die Kabinet nooit van enigiets “onreëlmatigs” geweet het nie. Die beste grap van daardie tydperk was dat al die witkalk in Pretoria deur die firma Erasmus, Lategan, Smallberger en Kie., opgekoop was.

Niemand sal my ooit kan oortuig dat Vorster, P.W. Botha en Horwood nie van die geheime projekte geweet het nie wat die Erasmus-Kommissie as “ondemokraties” of sogenaamd “onreëlmatig” bevind het nie. Hoe kan ek dit ooit aanvaar, terwyl ek Vorster persoonlik oor die vordering van The Citizen ingelig het? Hoe kan ek die Erasmus-Verslag aanvaar, terwyl ek Owen Horwood nog langs my in die konferensiekamer van die Eerste Minister kan sien sit, terwyl hy die agenda deurgelees het wat ek opgestel het en waar The Citizen heel bo-aan gestaan het? Van Owen Horwood wat in 1975 saam met Vorster en Mulder reg voor my gesit het en oor al die geheime projekte vir 1976 ingelig is? Hoe kan ek aanvaar dat P.W. Botha niks van die geheime projekte geweet het nie, terwyl ons lêers ’n brief bevat het wat die Kabinet se besluit oor projek Cherry aanhaal.

Ek het nog altyd vermoed dat indien ek stilgebly en die blaam gedra het wat die Erasmus-Kommissie my so ryklik toebedeel het, die Regering, soos hulle aangebied het om te doen, my werklik met rus sou laat. Maar dit was meer as net ’n vermoede. Dit was ’n feit, want die Franse owerhede het my goedgunstiglik die hele Suid-Afrikaanse Polisie-dossier laat sien. Die eerste lasbrief wat vir my aanhouding uitgereik was (gedateer 15 Maart 1979) was in April (1979) op bevel van ene Generaal Kleinhaus gekanselleer.

Op die volgende bladsy van die dossier was daar ’n dagboek-inskrywing dat daar geen poging aangewend moes word om my op te spoor nie.

“Keep on ice”, het dit gelees. As ’n prokureur, behoort Mervin Gross teen hierdie soort van dinge immuun te gewees het maar hy het van verbasing gefluit toe hy die fotokopie uit die dossier aan hom oorhandig is.

Die saak is van die ys afgehaal twee dae nadat ek met The Rand Daily Mail en die BBC gepraat het. Selfs toe was die nuwe lasbrief onwettig. Die lasbrief was gebruik nog voordat die hof dit goedgekeur het. Die datums bewys dit. Daarom was selfs my inhegtenisname onwettig. Voor die tyd was ander pogings van ons kant om die Regering in Europa te ontmoet, alles tevergeefs. Die Erasmus-Kommissie het wel probeer om my te ontmoet. Ek het egter geweier en in ’n brief aan hulle verduidelik waarom. Die Pretorius-Komitee wat die geheime projekte van Inligting geëvalueer het (die opvolger van die Kemp-Komitee wat weer die Van den Bergh-Ondersoek opgevolg het) het alreeds ’n datum en bymekaarkomplek vasgestel om my te ontmoet toe die Eerste Minister dit gekanselleer het. Na my verklarings aan die pers moes daar geen ontmoetings met my wees nie, geen kontak nie, geen besprekings nie.

In Suid-Afrika het dramatiese gebeure mekaar met ongelooflike spoed, een na die ander, opgevolg.

Die eerste verslag van die Erasmus-Kommissie is gedurende die eerste week van Desember 1978 aan die Staatspresident voorgelê. Soos reeds genoem, het die Kommissarisse die getuienis van dr. Mulder, generaal Van den Bergh en myself oor die belangrikste politieke kwessies verwerp en onvoorwaardelik die van die Staatspresident en voormalike Eerste Minister, mnr. John Vorster, aanvaar, inter alia, dat hy geen kennis van die stigting van The Citizen met staatsfondse gedra het nie. Mnr. Vorster het met rosegeur uit die verslag getree. Retief van Rooyen ook.

Die stigting van The Citizen, met staatsfondse was, meer as enigiets anders, as die grootste onreëlmatigheid en “skandaal” gesien: Dat staatsfondse, die belastingbetaler se geld, gebruik was om “’n party-politieke koerant” te stig, soos die Erasmus-Kommissie dit gestel het. Ek het geweet dat dit eenvoudig nie waar was nie. Dit was nooit ons bedoeling om ’n party-koerant te stig nie en indien die Kommissie die redaksionele handves wat ek persoonlik opgestel het, asook die intree hoofartikels van die koerant se eerste twee redakteurs, Martin Spring en Johnny Johnson gepubliseer het, was dit meer as genoeg bewys dat die koerant onverbonde sou wees. Vir duistere redes het die Kommissie nie
hierdie belangrike getuienis gepubliseer nie en hulle het nooit eens die twee redakteurs geroep om te kom getuig nie. Was dit nie die logiese, korrekte en sinvolle ding om te doen nie? Om hulle te vra of hulle hul bevele van Pretoria ontvang het nie?

Die eerste Erasmus-Verslag het baie ander aantygings bevat, maar vir die hiperkritiese opposisie-pers was The Citizen die enkele allesoorweldigende kwessie.

Volgende op die Inligtingskandaal, het die pers in Suid-Afrika, net soos die pers in die VSA ná Watergate, ’n heilige koei geword. Die redakteurs het ’n gulde geleentheid gesien om hulle politieke slaankrag en invloed in Suid-Afrika te verstewig. Dit was Suid-Afrika se Watergate, het hulle dit in een hoofartikel na die ander uitbasuin - sonder om aan hulle lesers te verduidelik waarom Watergate in die VSA nou werklik gegaan het. Die verskille is eenvoudig legio. Heelwat later, in Februarie 1980, het die Regering van mnr. P.W. Botha in die Parlement beskuldig gestaan dat hulle die apparaat van die Nasionale Intelligensiediens gebruik het om die pos te onderskep en telefone van politici, koerantredakteurs, vakbondleiers, studente en, die ergste van alles, Parlementslede, te tap. Dit was na my mening die ware Watergate. Maar toe het die Afrikaanse pers stilgebly, veral, Beeld, en Die Burger, alhoewel die dokumentêre bewyse oorweldigend was.

In enige ander land sou die verantwoordelike Minister, in hierdie geval die Eerste Minister self, bedank het. Maar P.W. Botha het ’n Kommissie van Ondersoek geweier (wat hy oorgretig in die geval van Inligting goedgekeur het) omdat, so het hy onbeskaamd beweer, “dit nie in die openbare belang was nie”. “So ’n ondersoek”, het hy gesê, “sal die doeltreffendheid van die diens ondermyn”.

“Natuurlik, net soos die Erasmus-ondersoek die werk van die Departement van Inligting vernietig het, sou so ’n ondersoek van die Intelligensiediens (wat deur Mnr. Botha beheer is) die diens en moontlik Mnr. Botha self vernietig het,” het ’n oud NP senator later in 1980 aan my in die Carlton Hotel se kollie-huis gesê.

Mnr. P.W. Botha se standpunt in hierdie saak was ’n klassieke toesmeerdery en die L.V. wie se pos onderskep is, mev. Helen Suzman, het dit saaklik opgesom toe sy gesê het: “Watergate in Amerika het gegaan oor ’n Regering wat op sy opposisie gespioeneer het- en die poging om dit agterna toe te smeer. In die VSA het dit die President sy bewind gekos. Hier sit ons Eerste Minister in sy groen bank en lag daaroor”.

Ek het eenmaal aan ’n buitelandse korrespondent op televisie gesê dat daar nooit ’n Watergate in Suid-Afrika kon wees nie. Ek was verkeerd. Ek weet hoe die Nasionale Intelligensiediens werk, miskien beter as vele van sy eie personeel. Wat in Januarie en Februarie in die Suid-Afrikaanse pers onthul is, was inderdaad bewyse van ’n Watergate. Nogtans, in 1979 het veral die Afrikaanse pers die Erasmus-Kommissie gebruik om hul verwysing na die Inligtingskandaal as ’n Watergate te regverdig. Deur die naam van die betrokke Minister, dr. Mulder, te gebruik het die Engelse pers daarna as Muldergate verwys. In 1980 was daar geen verwysing na Bothagate nie. Dit was nie dat die omstandighede verskillend was nie, maar dat die nuwe Regering die reëls van die spel verander het. ’n Toesmeerdery was nie langer nodig nie. Nou het ’n Wet die dekmantel verskaf sodat verantwoordelike politici oor pos-onderskeppings en telefoonafluistery kon sit en lag.

Die name Muldergate en Watergate het nie te lank bly kleef nie. Die Erasmus-Kommissie het in 1978 toestemming gevra om sy ondersoek voort te sit. My eie verklarings aan die pers, plus die getuienis wat generaal Van den Bergh verskaf het, het die Kommissie uiteindelik gedwing om in sy laaste verslag te bevind dat John Vorster, Staatspresident van Suid-Afrika, wel van The Citizen geweet het, van die geheime finansiering geweet het en van sy kollegas in die Kabinet geheim gehou het Die Groot Inligtingskandaal was gebore.

In Junie 1979, net nadat die verslag aan hom oorhandig is, moes mnr. Vorster noodgedwonge as Staatspresident bedank, die eerste keer in die geskiedenis van Suid-Afrika dat so-iets gebeur.

Net soos generaal Van den Bergh voorspel het, het mnr. Vorster se swakhede in die hantering van die Inligtingsdrama hom uiteindelik vernietig. Hy kon nie die magte wat hy self ontketen het beteuel nie. Op daardie dramatiese dag het mnr. P.W. Botha en etlike ministers, bewapen met die Erasmus-Kommissie se finale verslag, na mnr. Vorster se huis gemarsjeer en hom met die “getuienis" van die Kommissie, wat hy self aangestel het, gekonfronteer.

Die enigste man wat geweier het om hiermee saam te gaan was mnr. Louwrens Muller, die invloedryke Minister van Vervoer. Muller se beloning vir sy lojaliteit aan Vorster was ’n besluit van P.W. Botha dat die Nasionale Party hom nie as hul kandidaat vir Staatspresident sou nomineer om John Vorster op te volg nie. Tot op daardie tydstip was dit deur almal algemeen aanvaar dat Louwrens Muller die volgende Staatspresident sou word.

Na sy ontmoeting met die Kabinet, het Vorster sy tasse gepak en dieselfde dag nog vertrek. Die publiek in Suid-Afrika was geskok en die implikasies van die bevindinge het die verstand te bowe gegaan. In ’n monargie sou dit gelykstaande wees aan koningin Elizabeth se abdikasie as gevolg van die bevindinge van ’n kommissie wat sy self aangestel het.

As Staatspresident het mnr. Vorster my vroeër, in die openbaar, op televisie beskuldig dat ek “leuens verkoop het” toe ek gesê dat hy van die finansiering van “The Citizen” bewus was en hier het sy eie Kommissie teen hom gedraai en gevind dat ek nie gelieg het nie.

Ek het nie opgetoë of selftevrede hieroor gevoel nie, net hartseer. Wat ’n boemerang. Wat ’n tragedie! Mnr. Vorster het eens 24 uur van die dag net vir Suid-Afrika gelewe. Indien hy in die Info-drama met “Suid-Afrika eerste” in sy gedagtes opgetree het in plaas van John Vorster, politikus, kon hy die land en homself groot verleentheid en verdriet gespaar het.

’n Algeheel nuwe dimensie is in die drama rondom die ou Departement van Inligting bereik. Die Groot Inligtingskandaal het nou Die Groot Regering-skandaal geword.

Kort nadat die nuus van Vorster se bedanking bekend gemaak is, het ek ’n middagete saam met twee verslaggewers van The London Daily Mail geniet. Hulle was baie uitgesproke in hulle ontleding van die situasie:

“Jy en Van den Bergh het soveel bewyse van Vorster se betrokkenheid by The Citizen verskaf dat die Kommissie nie langer kon bekostig om die feit te ignoreer dat Vorster inderdaad skuldig was en die platform van die Erasmus-Kommissie gebruik het om julle te beskuldig nie. Om dit ’n bietjie onverfynd te stel, en dit is nie iets wat ’n mens maklik in Suid-Afrika kan sê nie, die eerste verslag van die Kommissie was ’n triomf vir hom. Maar hierdie laaste verslag? Skielik word al die getuienis van generaal Van den Bergh, wat in die Kommissie se eerste verslag geheel en al verwerp was, nou aanvaarbaar gevind. Wat ’n volte-face”.

Die twee verslaggewers was die eerste persone wat aan my vertel het dat Owen Horwood homself gedek het deur te beken dat hy wel ’n sewe-bladsy dokument, wat al die geheime projekte bevat, geteken het. Hy het egter bygevoeg dat hy die dokumente met ’n stukkie papier toegemaak het sodat hy nie kon sien wat hy teken nie!

“Waarlik”, het die een verslaggewer gesê, “in Engeland sou ’n man wat in die Kabinet met so ’n belaglike verskoning vorendag kom, gouer in die straat sit as wat jy kan sê, George Brown”.

Aan die einde van Junie het my seun en vroeg in Julie 1979 my dogter, Annemarie, in Juan les Pins gearriveer om die somervakansie saam met ons in Europa deur te bring. Teen daardie tyd het ek reeds geweet dat daar ’n lasbrief vir my inhegtenisname uitgereik is en dat Interpol moontlik ingeroep is om my te vind.

My standpunt was dat ek nêrens heen gaan hardloop nie. Ek was onskuldig aan die klagtes van die Erasmus-Kommissie. Ek het nie eers geweet wat die spesifieke aanklagte teen my sou wees nie. Ek sou nie bedags of snags wegkruip nie. Ek het bedags deur die strate van Nice en Cannes, Juan les Pins en ander dorpe langs die Cote d’Asur geloop. Ek kon nie glo dat die Franse my op grond van die Erasmus-Kommissie se bevindinge sou uitlewer nie, want ek kon bewys dat sover dit my aangaan, hul bevindinge vol foute en wanvoorstellings was. Ek het ook geglo dat dit aan enige Franse Hof baie duidelik sou wees dat daar ’n sterk politieke wraakmotief in die Regering se optrede teen my was. “Nietemin”, het ek aan verslaggewers gesê, “indien ek teen my wil gedwing word om na Suid-Afrika terug te keer sal ek die artikels wat ek oorspronklik vir Rees van The Rand Daily Mail geskryf het, aan dr. Ferrie Hoogendijk, ’n ou vriend van my in Holland vrystel. Hy is ’n welbekende kommentator op die Europese politieke toneel en hoofredakteur van Elseviers, die grootste Hollandse politieke weekblad.”

Met hierdie moontlikheid in gedagte, het ek aan Hoogendijk ’n handgeskrewe persoonlike boodskap oorhandig wat hy moes publiseer en wat tot ’n mate sou verduidelik waarom ek besluit het om sommige van ons projekte openbaar te maak. Ek wou hê dat die hele wêreld moes weet dat ek soos ’n slaaf gewerk het om Suid-Afrika se belange te bevorder. Indien ek nou gedwing sou word om na Suid-Afrika terug te keer, sou dit hoofsaaklik wees omdat die Botha-Regering ’n sondebok moes hê om die verantwoordelikheid van P.W. Botha, Horwood, Pik Botha, Magnus Malan en Koornhof in die geheime projekte van Inligting te dra.

Die Groot Inligtingskandaal, het hulle en hul ondersteunende koerante dit genoem.

’n Regeringskandaal, het ek dit genoem en ’n skandalige manier om manne soos Van den Bergh en my te behandel, non-politici, staatsamptenare, wat ’n taak onderneem het waarvoor hulle eie Eerste Minister sy persoonlike goedkeuring gegee het en waarvoor die kabinet die fondse voorsien het.

Generaal Van den Bergh, wie aangestel was om die geheime projekte te evalueer, was vernietig lank voordat sy opvolgers se evaluasie nog afgehandel was.

In enige demokrasie in die wêreld sou P.W. Botha en Owen Horwood moes bedank en ’n verkiesing uitgeroep het. Maar in Suid-Afrika is politici ’n ander soort nasie. Jare gelede het Hendrik van den Bergh by ’n dinee ter ere van ’n groep besoekende generaals uit Taiwan aan my gesê dat dit nie Kommunisme sou wees wat Suid-Afrika op sy knieë sou bring nie. Ons sou ook nie in ’n konvensionele militêre aanval oorrompel word nie. Ons sal op ons knieë deur ’n vertrouenskrisis in ons eie leiers, in Afrikaner-leierskap, gebring word en dat party-politiek, die sinnelose vasklou aan party-politieke mag, die lont sal wees wat daardie krisis aan die brand gaan steek.

Daardie lont is nou in Suid-Afrika aangesteek.

In die klassieke “coup d’ etat” in Afrika, word die Regering deur ’n kolonel en gedeelte van die leër omver gewerp. Die ou President of Eerste Minister gaan in ballingskap. Indien hy in die land sou aanbly, word hy gearresteer. Daar is ’n geheime verhoor en hy word tereggestel. Soms word hy lewenslank gevange gehou. Toe mnr. Vorster Staatspresident geword het, het die teenstanders in die party-politieke magspel gestalte aangeneem. Dr. Mulder, generaal Van den Bergh en ek was aan die verloorkant. Ons sou nie tereggestel of verban word nie, alhoewel ons “verhoor” tog in die geheim plaasgevind het. Ons sou nie eens gevange gehou word nie, maar dit is waar die verskil met ander Afrika-state eindig. Buite die wete van die massa van Suid-Afrikaners, het die land die eerste “coup d’ etat” van sy geskiedenis beleef. Die datum was Donderdag 28 September 1978. Die leiers van die staatsgreep was P.W. Botha, Pik Botha, Chris Heunis en Alwyn Schlebusch. Dit was nie ’n staatsgreep in die militêre sin van die woord nie, maar ’’n politieke staatsgreep met die doelstelling om die konserwatiewe vleuel van die Nasionale Party vir ewig te vernietig. Verkiesings sou nog onder die NP vaandels geveg word maar dit was nie meer die NP van Malan, Strijdom, Verwoerd en Vorster nie.

Ek beskou myself as die slagoffer van daardie politieke staatsgreep. ’n Slagoffer van politieke weerwraak en die sondebok vir die nuwe Regering se toesmeerdery van hulle rol in die Inligtingsaak. Die kriminele aanklagte teen my was slegs die wyse waarop die Regering voornemens was om wraak te neem.

Ek het geweet toe ek met die BBC en Mervin Rees van The Rand Daily Mail gepraat het dat die Regering nou sou probeer om my in die hande te kry om my te vernietig. Nietemin, selfs met hierdie vooraf-kennis en verwagtinghet die werklike oomblik van arrestasie my yskoud geskok.

Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 2582 gaste aanlyn