Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde soek nie sy eie belang nie...
DIE BROEDERBOND IN DIE AFRIKANER- POLITIEK (3)
B M Schoeman
(Lees reeks by AB in die Afrikanerpolitiek )
Met die skrywe van hierdie boek in 1982 was dit nie Beaumont Schoeman se bedoeling om verdere onthullings van die Broederbond se geheime te maak nie. Sy doel was om te illustreer watter rol die Broederbond in die Afrikanerpolitiek gespeel het. Schoeman slaag daarin om aan die hand van eie dokumentasie aan te toon dat die Broederbond, in stryd met sy eie grondwet en reglement, ‘n instrument in die hand van ‘n bepaalde politieke party was ten tye van dié publikasie. Wat Schoeman toe nog nie kon weet nie is hoe ver die grense van die Broederbond se verraderlikheid sou uitbrei tot hulle op aandrang van die internasionale geldmag Suid-Afrika aan ‘n korrupte swart regering oorgegee het. Vandag opereer en skuil die Broederbond onder die naam Afrikaner Bond (AB) en is selfs meer listig as tevore terwyl hulle steeds die toutjies agter die gordyn probeer trek.
Verdeeldheid en botsings
Dit is ’n oordrewe aanspraak dat die Broederbond deur die jare ’n saambindende faktor in die Afrikanerlewe geword het en dat dit oor partygrense heen Afrikaner aan Afrikaner gebind het. Vandag is die Afrikanerdom meer verdeeld as ooit tevore en die Broederbond is magteloos om iets daaraan te doen. Trouens, hy het ’n groot aandeel aan die verdeeldheid wat vandag bestaan deurdat hy die instrument van sekere politieke leiers en hulle liberale beleid geword het. As die Uitvoerende Raad gedink het dat hy eenheid sou bevorder toe hy aan die begin van die sewentigs die AB van andersdenkendes op politieke gebied gesuiwer het, moet die toestand tans binne die organisasie vir hom ’n bittere ontnugtering wees. Die faktore wat Afrikaners vandag in die politiek verdeel en verdeeld hou, is ook die faktore wat groot verdeeldheid in die Broederbond veroorsaak. En die stryd om heerskappy wat in die Nasionale Party woed, vind jy ook in die Broederbond.
Ook in vroeër tye sou die aanspraak dat die Broederbond volksgenote oor partygrense heen saamgebind het, erg oordrewe wees. Dit was veral die geval in die oorlogsjare toe botsende belangegroepe eerder groter verdeeldheid as eenheid bewerkstellig het.
’n Belangwekkende faset van die geskiedenis van die Broederbond is juis die samestelling en bedrywighede van sy Uitvoerende Raad in hierdie tyd. In die een kamp was daar die partymanne onder wie Verwoerd en dr. T.E. Dönges die invloedrykste figure was. Teenoor hulle het ’n groepie gestaan wat ’n afstand tussen hulle en die Party geplaas het en inderdaad in daardie tyd niks anders as politieke randeiers was nie. Hulle het hulleself nie as “partygesindes” beskou nie, maar as ’n soort onafhanklike groep wat vanuit daardie afsydige posisie nie geskroom het om die partyleiers te kritiseer en soms in skerp terme aan te val nie. Sommige van hulle se simpatiee het beslis nie by die destydse HNP gelê nie en deurgaans het hulle meer toegeneentheid teenoor die Afrikanerparty, die Nuwe Orde en die Ossewabrandwag geopenbaar. Onder hierdie sogenaamde “onafhanklike” groep het mense soos Albert Hertzog, dr. T.E.W. (Theo) Schumann, dr. A.L. (Avril) Malan, Nic Diederichs, prof. L.J. (Wickus) du Plessis en Piet Meyer getel.
Die persoon wat veral in hierdie mense se visier gekom het, was Verwoerd. ’n Moontlike verklaring hiervoor was sy noue verbintenis met Strijdom. Strijdom was nie net onversetlik in sy standpunt dat hierdie UR-lede hulle buite die politiek moes hou nie, maar sy volhardende houding dat organisasies soos die OB en die Nuwe Orde geen bestaansreg in die politiek gehad het nie, het hom beslis nie baie gewild by daardie UR-lede gemaak nie. Strijdom was vir hulle te veel die lojale partyman wat die belange van die Party voorop gestel het, terwyl mense soos Hertzog, Diederichs, Malan, Meyer en Du Plessis altyd buite om die Party wou opereer.
Die houding van hierdie persone jeens die partyleiding word die beste geïllustreer deur die geskrifte van die man wat die aktiefste onder hulle was met aksies en skemas buite die party. In sy geskrifte verwys Hertzog dikwels na hierdie mense as “ons groepie” en laat hy ook min twyfel oor hulle anti-partygesindheid in daardie tyd. Dit is trouens merkwaardig hoe Hertzog oor ’n tydperk van jare van buite die HNP opgetree het om sekere standpunte en aksies te bevorder wat totaal onversoenbaar met die amptelike partystandpunt en -beleid was.
Hertzog se verhouding tot die Party en sy leiers blyk duidelik uit sy aantekeninge op 11 Mei 1945 oor die kwessie van versoening tussen die HNP en die OB. Hy skryf onder meer:
“Die Bondsraad in Oktober 1944 het ’n definitiewe besluit geneem dat UR moet probeer om versoening te bewerkstellig tussen die twee liggame. Op hulle kragtige pleidooie daarvoor is Duke (W.J. du P. Erlank) en Schu (Schumann) op die UR gekies. Met die laaste UR-vergadering het Dönges en Verwoerd die saak van die baan gerol met die gevolg dat die Hulpsekretaris, Du Buisson, bedank het in protes teen hulle houding.
“Vandag was ek ook by, sodat die Partygesindes nie meer die meerderheid gehad het nie, en ons het weer op die saak ingegaan. Sprekende uit die houding van Dönges en Verwoerd was dat die Party die sterkste liggaam is, dat die OB vanself sou sterf en dat hulle self aan bewind van sake staan sonder die OB.
“Ons drie, saam met Nic Diederichs, het nie alleen hierdie stelling betwyfel nie, maar het hulle daarop gewys dat selfs al sou hulle aan bewind kom, hulle so ’n swak figuur sou slaan dat hulle gou gebreek sou word en plek sou moet maak vir ’n moontlike kommunistiese of Arbeidsregering.” Die betekenisvolle gedeelte van die aangehaalde stuk is die waar Hertzog hom en sy medestanders op ’n afstand plaas van daardie UR-lede wat hy as “Partygesindes” beskryf. Hy skaar hom en sy geesgenote nie by Verwoerd en Donges nie en beskou hulle nie as deel van die “Partygesindes” wat saam die bewind sou probeer verower nie.
Op die betrokke UR-vergadering het Hertzog, namens sy groep, sekere voorstelle aan die “Partygesindes” gedoen oor hoe versoening tussen die HNP en die OB bewerkstellig kon word. Twee van die vier voorstelle was vir Verwoerd en Donges aanneemlik, maar die derde en vierde nie. Hieroor skryf Hertzog dan:
“Dit was interessant om te sien die kleinlike houding wat Donges dikwels geopenbaar het... Net so het hy ook beswaar aangeteken teen die feit dat Erlank gesê het dat ons vier onpartydige UR-lede die saak met die OB sal probeer regmaak. Hy het heftig beswaar gemaak dat ons sulke aanmerkings durf maak, asof ons onpartydig is en asof hulle die Party verteenwoordig. Nadat ons vertrek het, het Duke gese dat die Party maar taamlik arm moet wees as die volgende leier van die Nasionale Party ’n man soos Donges moet wees.” Hieruit blyk dit nog eens hoe Hertzog en sy groep destyds teenoor die party gevoel het. Sy houding teenoor die HNP en die feit dat hy meer simpatie met die Afrikanerparty gehad het, word bevestig uit samesprekings wat hy op 21 Junie
1947 met Oswald Pirow gevoer het. Oor hierdie ontmoeting skryf Hertzog onder meer:
“Hy (Pirow) is nog net so rigtingvas en onaantasbar as altoos ... Hy wys daarop dat die Nasionale Party regeer word deur ’n Koukus, wat deur ’n kliek beheer word. Daarom meen hy dat dit noodsaaklik is vir ons om die Afrikanerparty te bevorder en nie die Nasionale Party nie. Want die Afrikanerparty sal buite staan en ’n sekere mate van teenwig vir die Nasionale Party wees. Hy sê egter die Nasionale Party moet nie te sterk wees nie, anders sal dit weer eiesinnig word.” En dan merk Hertzog betekenisvol in sy aantekeninge op: “Daar is nogal baie in Pirow se sienswyse.”
Hertzog was skerp veroordelend teenoor Verwoerd omdat hy ’n eie werkersorganisasie gestig het wat Hertzog geglo het in mededinging met sy eie en die van die Nasionale Raad van Trustees se pogings sou optree. Verwoerd se organisasie was bekend as die Blanke Werkersbeskermingsbond en hy wou hê dat al die verskillende werkersorganisasies moes saamsmelt om groter doeltreffendheid te verseker. Hertzog was nie hiervoor te vinde nie. Trouens, hy het politieke bymotiewe in Verwoerd se voorstel gesien. Op 23 Junie 1947 skryf hy:
“Dan sal hy (Verwoerd) kan poseer as die werkersleier en my heeltemal in die donker uitdruk, want (so lees ek hom) die verkiesing kom nader vir die Parlement en dan, om ’n grootmeneer in die politiek te wees, sal hy so iets nodig hê. Daarom ook sy idee om die Nasionale Raad van Trustees se werk oor te neem in sy organisasie waarin hy ’n bestuur sal kies op sy demokratiese manier onder sy vriende waardeur ons vir goed uitgedruk sal word,” ;
Dit moet in gedagte gehou word dat Hertzog en Verwoerd op hierdie tydstip albei lid van die UR was. Hertzog en sy groep in die UR se agterdog jeens daardie lede van die UR wat ook leiersposisies in die HNP beklee het, werp nuwe lig op die verhoudinge tussen die mense wat destyds aan die leiding van die Broederbond gestaan het.
Op dieselfde dag skryf Hertzog: “Op hierdie manier, as hy (Verwoerd) dan ons werk afgevat het, dan bestaan net een doel (so lees ek hom) en dit is om die mynwerkers te gebruik vir sy eie verheerliking. Ons geleentheid om ’n magtige sosialistiese krag te organiseer as ’n hefboom teen kapitalisme wat in die volgende geslag oor ons land gaan en ons land in ellende gaan dompel, sal dan verydel wees. Vir my is daar net een ding en dit is dat ek met alle krag hierdie pogings van Verwoerd sal stop en dat ek sal voortgaan om die werkers se kragte te konsolideer. Miskien sal die dag nie ver wees wanneer hierdie magte die redding van die Afri- kanerdom sal beteken (nie).”
Hertzog se aktiwiteite onder die werkers, veral die mynwerkers, het dus ook duidelike politieke motiewe gehad. Dit was nie ten behoewe van die Party nie, maar om die werkers as 5n krag ter bevordering van die sosialisme te konsolideer.
Hertzog was in daardie tyd ’n sterk ondersteuner van die sosialisme, hoewel hy dit nie van die dakke af verkondig het nie. Dit is verbasend dat in ’n organisasie soos die Broederbond en in sy Uitvoerende Raad idees geduld is wat so vreemd aan die Afrikaner en sy politiek was. Hiermee word natuurlik nie te kenne gegee dat al die ander persone aan die leiding van die Party en die Broederbond, wat vandag so geesdriftig die prysenswaardighede van die vrye ondernemingstelsel besing, die draers van die egte nasionalisme was en steeds is nie. Vandag is dit veral opvallend dat hierdie mense juis die swakste in die kapitalistiese stelsel, naamlik sy geneigdheid tot monopolievorming en uitbuiting van die gemeenskap, as die voordeligste en wenslikste deel van die kapitalisme beklemtoon en aanbied as ’n argument waarom die sosialisme bestry moet word. Maar die sosialisme wat deur hulle bestry moet word, is nie die slegste deel van die sosialisme, die gelykheidsdogma, nie maar die deel van die sosialisme wat te doen het met ondernemings wat deur die Staat bedryf word in kompetisie met private liggame, of wat bloot deur die Staat begin is omdat geen private ondernemer daarmee wou begin nie. In Suid-Afrika bestaan baie voorbeelde hiervan.
Die kwessie van die samesmelting van die verskillende werkersorganisasies is ook op ’n latere vergadering van die UR in 1947 geopper. Hertzog skryf op 5 Augustus 1947 dat hy hom daarteen verset het en dat die plan toe nie deurgevoer is nie. Interessant is sy beoordeling van Verwoerd wat hy op daardie dag op skrif stel.
“Verwoerd,” skryf hy, “is ’n groot individualis. Hy sonder af in sy argumente die een of ander argument en oordryf en beklemtoon dit. Dan gaan hy deur vir ’n vreeslike slim persoon, maar al wat dit is, is ’n logiese abstraksie van een faktor wat oordryf word. So byvoorbeeld het hy in hierdie bestaande geval net klem gelê op die noodsaaklikheid van eenheid — al die ander faktore van liefdeswerk, van ervaring, van onderdrukking van die mobiliteit van werk in verskillende vakbondfronte het hy alles geen ag aan geslaan nie. Dit is tipies Verwoerd se uitkyk op die lewe. In die politiek het hy ook net so een ding oordryf.”
Hier blyk Hertzog se afsydigheid teenoor die party weer duidelik. Maar die werklike rede vir sy afwysende houding jeens Verwoerd slaan nog duideliker in die daaropvolgende gedeelte van sy aantekeninge deur. Hy en Verwoerd kon mekaar nie vind nie, omdat Verwoerd altyd die sterk partyman was wie se eerste lojaliteit altyd by die Party gelê het. Daarenteen was Hertzog nie ’n partyman nie en het hom in daardie tyd nie aan die Party gebonde geag nie.
In die reeds aangehaalde stuk probeer hy verder Verwoerd se “swakhede” ontleed. Hy skryf onder meer: “Almal moet aan die Nasionale Party behoort — of hy groot vyandskap veroorsaak en of hy die Afrikanerdom opbreek en of hy homself isoleer — dit is alles faktore wat hy (Verwoerd) nie groot genoeg is om te kan in aanmerking neem nie. Die een faktor van eenheid beklemtoon hy soos ’n man wat oogklappe aan het.
Dit is die groot nadeel van Verwoerd. Hy is ’n man wie se gedagtes alleen in groepies werk. Hy stoot persone af of, soos ek vir dr. Van Rhijn gesê het, hy is ’n middelpuntvliedende krag — en dr. Van Rhijn het met my saamgestem.”
Selfs nadat Hertzog en sommige van sy UR-groep, soos Avril Malan, vader van genl. Magnus Malan, huidige Minister van Verdediging, reeds in die Parlement was, het hulle Verwoerd steeds met groot argwaan bejeën. Die verkiesing van ’n nuwe Senaat na die oorwinning van die HNP in Mei 1948 was nog ’n geleentheid waar hulle teenoor Verwoerd stelling ingeneem het. Verwoerd se naam is toe reeds as ’n moontlike senator genoem nadat hy in die algemene verkiesing in Alberton teen mnr. Marais Steyn, van die Verenigde Party, verloor het. Oor Verwoerd as aspirant-senator skryf Hertzog op 22 Julie 1947:
“Avril sien die saak waarskynlik baie korrek. Verwoerd wil ’n senator word ten einde Minister te kan word ... Avril was bevrees dat deur Verwoerd in te kry as senator, kan ons ons sake baie bemoeilik. Want Verwoerd is agterdogtig en baie ambisieus.”
Dit is ’n merkwaardige eienskap van Hertzog dat hy in daardie tyd altyd aansluiting in die politiek en op ander terreine by mense gesoek het wat nooit werklik in die sentrum van die Party gestaan het nie. Hy het nooit probeer om ’n hegte verhouding met kragfigure soos Strijdom, Swart, Louw en ook Verwoerd op te bou nie, maar het hom altyd gewend tot randeiers soos Avril Malan, Diederichs, Meyer, en andere.
Avril was in 1954 met die premiersverkiesing na die uittrede van dr. Malan een van Strijdom se grootste teenstanders in Transvaal. Hy wou hê dat Havenga vir Malan moes opvolg en het van sy invloed in die Broederbond gebruik gemaak om Strijdom se kanse te probeer verongeluk. Toe hy binne sekere afdelings van die AB openlik propaganda teen Strijdom gemaak het, het dit tot ernstige besware aanleiding gegee. Strijdom het ook hiervan te hore gekom en dit het nie daartoe bygedra om die verhouding tussen die twee te verbeter nadat Strijdom op 30 November 1954 Eerste Minister geword het nie.
Een van die stories wat Malan versprei het, was dat Strijdom nie eens ’n voorsteller met die premiersverkiesing sou kry nie. Strijdom was op daardie tydstip in die buiteland, maar hy het op een of ander manier (waarskynlik deur Verwoerd) van Malan se storie gehoor. Die dag toe hy uit die buiteland in Johannesburg aankom, was Malan ook op die lughawe. Toe Strijdom vir hom groet, was sy woorde aan hom: “Middag Avril, ek dink ek sal darem ’n voorsteller kry.” Toe dit feitlik ’n uitgemaakte saak was dat Verwoerd senator sou word, het Hertzog en Malan hom op 21 Julie 1948 gaan spreek. Hulle het blykbaar teen daardie tyd besluit om hom nie te opponeer nie en sy welwillendheid te probeer wen. Hieroor skryf Hertzog op 22 Julie 1948: “Avril en ek het toe gister oorgegaan om vir Hendrik Verwoerd te gaan sien. Ons het die saak met hom bespreek en ons het onderneem om vir hom te stem. Ons voel dat waar ons geesgenote is, dit baie beter is as ons almal sal saamwerk as wat ons teen mekaar sal werk. Die kanse dat ons iets sal bereik, is nou baie versterk. Verwoerd is nie ’n maklike man nie en al wil Strijdom en Schoeman (Ben Schoeman) ook miskien vir hom nou baie graag hê, hulle sal later dalk jammer wees.”
Steeds straal die wantroue jeens Verwoerd deur. Hoe Hertzog in een asem aan Verwoerd kan sê dat hulle “geesgenote” is en net in die volgende asem so ’n groot vraagteken oor hom as persoon kan trek, is onverstaanbaar.
Hierna gaan Hertzog voort met sy ontleding van Verwoerd. Hy skryf: “Die vorm van sy ambisie is nogal treffend. Toe ’n week gelede ’n spesiale dinee gegee was deur die kantoor van die Party om Strijdom te verheerlik en toe portrette van Strijdom afgeneem moes word waar hy sit en eet, het Verwoerd altyd geduriglik agter en naby Strijdom se stoel gestaan om ook in die portret te kom. ’n Paar keer het die portret nie geslaag nie, en elke slag as dit oorgeneem word, dan is Verwoerd weer daar agter. Opvallend is ook toe dat toe ’n portret in Die Transvaler weer van die leiers van die HNP geplaas is, daar agter in die skaduwee ook die portret van Verwoerd was waar hy weer gestaan het waar die kamera moes afneem. Hendrik Verwoerd besef dus die betekenis daarvan om die aandag van die publiek op hom te trek.”
Dat Hertzog selfs na sy verkiesing as Volksraadslid van die HNP nie baie na aan die sentrum gestaan het nie en dat die partystelsel vir hom ’n vreemde ervaring was, blyk uit ’n paar opmerkinge wat hy op 5 Augustus 1948 op skrif stel. “Dit tref my al hoe meer,” skryf hy op daardie dag, “dat die gewone Parlementslid feitlik niks te sê het nie. As hy iets wil bereik, dan moet hy met die Ministers gaan praat en hulle in die stilte probeer beïnvloed, anders bereik hy niks. Die Eerste Minister het sy Ministers gekies sonder om ons gewone Parlementslede eers te ken, sonder om ons eers ons opinie te vra. Hulle maak hulle aanstellings sonder dat hulle notisie van ons neem... Sonder ons kon die Nasionale Party nooit wen nie, maar die oomblik dat hy gewen het, het hierdie man wat hulle noem Eerste Minister, tesame met ’n paar van sy vriende oor ’n lang tyd, eenvoudiglik besluit wat hulle wil hê, die hele masjinerie in eie hande gevat, ons lojaliteit aanvaar en nou maak en breek hulle soos hulle wil. Die stelsel van die regering van die Engelse is eenvoudiglik ’n diktatorskap, maar ’n diktatorskap onder die dekmantel van ’n sogenaamde demokrasie.”
Vervolg - Hertzog se filosofieë...