Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Almal twyfel soms oor wat geloof werklik is, en daar sal talle definisies daarvoor wees. Maar een wat in die kol is, is die feit dat geloof eintlik beteken om te weet dat God vir jou as sy kosbare en gehoorsame kind die heel beste uiteinde vir elke saak bewerk, ongeag hoe jy graag wou hê dit moes eindig.

DIE BROEDERBOND IN DIE AFRIKANER- POLITIEK (5)

B M Schoeman

(Lees reeks by AB in die Afrikanerpolitiek )

Met die skrywe van hierdie boek in 1982 was dit nie Beaumont Schoeman se bedoeling om verdere onthullings van die Broederbond se geheime te maak nie. Sy doel was om te illustreer watter rol die Broederbond in die Afrikanerpolitiek gespeel het. Schoeman slaag daarin om aan die hand van eie dokumentasie aan te toon dat die Broederbond, in stryd met sy eie grondwet en reglement, ‘n instrument in die hand van ‘n bepaalde politieke party was ten tye van dié publikasie. Wat Schoeman toe nog nie kon weet nie is hoe ver die grense van die Broederbond se verraderlikheid sou uitbrei tot hulle op aandrang van die internasionale geldmag Suid-Afrika aan ‘n korrupte swart regering oorgegee het. Vandag opereer en skuil die Broederbond onder die naam Afrikaner Bond (AB) en is selfs meer listig as tevore terwyl hulle steeds die toutjies agter die gordyn probeer trek.

Joodse alliansie

Dit is enersyds verbasend en andersyds tog ook nie dat Hertzog in die dertiger- en veertigerjare sterk aangetrokke tot die Jode gevoel het. Hy het inderwaarheid in 'n deel van hulle 'n bondgenootskap vir die Afrikaner en die Nasionale Party gesien en het Strijdom dit erg verkwalik dat hy so onversetlik was om nie toe te laat dat Jode lede van die Party in Transvaal kon word nie. Die grondwet van die HNP in Transvaal het destyds Jode van lidmaatskap uitgesluit, hoewel die HNP in Kaapland nie so 'n verbodsbepaling in sy grondwet gehad het nie. Eric Louw se sterk standpunt teen die Jode en sy ondersteuning van Strijdom in die verband het hom ook nie in die kring van Hertzog-vriende geplaas nie. Waarvandaan Hertzog se toegeneentheid jeens die Jode gespruit het, is nie so maklik te verklaar nie. Miskien was dit die atmosfeer waarin hy in sy ouerhuis groot geword het en die vriendskappe wat hy uit die huis en daarna met sy studies oorsee opgebou het, wat hom na die vreemdes aangetrek het.

In elk geval was skrywer eendag, terwyl Hertzog nog leier van die Herstigte Nasionale Party was, teenwoordig op 'n vergadering waar hy aan Jaap Marais gesê het: "Ek kan ongelukkig nie met alles saamstem wat baie mense teen die Jode sê nie.”

In sy tyd het Hertzog 'n goeie verhouding met Schlessinger (senior) van bioskoop-bekendheid, opgebou. Schlessinger wou 'n rolprent oor genl. Hertzog maak om te toon hoe 'n groot vriend genl. Hertzog van die Jode was. Schlessinger se woorde by }n geleentheid toe hy en Albert Hertzog oor so 'n rolprent gepraat het, was: "Want generaal Hertzog was 'n eerbare man — nie soos Smuts en sy span nie — hy was toeganklik teenoor elkeen wat verontreg was, en as hy sy woord gegee het, dan was dit wet." (Aangeteken deur Hert­zog op 2 Desember 1945.)

Hertzog skryf daardie dag voorts: "Dikwels vra hulle hom (Schlessinger) waarom hy in Die Transvaler adverteer; dan antwoord hy net dat hy weet dat die Afrikaners nie teen die Jode is nie. Schlessinger sê hy ken die Afri­kaner. En as die Nasionale Party die anti-Joodse propa­ganda verstaan, dan sal die Nasionale Party binnekort aan bewind van sake wees en sal hy verewig aan bewind bly. Al wat nodig is, is dat dr. Malan moet verklaar dat elke Jood wat Suid-Afrika as sy land aanneem, veilig sal wees. Want niemand begryp nie, sê Schlessinger, dat die Jode doodbang is vir die Nasionale Regering. Hulle meen dat as die Nasionale Party aan bewind van sake kom, sal hulle almal of in tronke gegooi word of doodgemaak word of die land uitgesit word. En hulle meen daarby dat al hulle goedere gekonfiskeer sal word."

Hertzog se aantekeninge oor die ontmoeting lui dan: "Toe ons gegroet het, het Schlessinger my genooi om enige tyd en te alle tye na hom te kom as ek so voel. Ek sal altyd welkom wees. Hy wil ook hê sy seun moet my ontmoet en hy sal sy seun eendag aan my kom voorstel, het hy gesê."

Kort na hierdie ontmoeting het Hertzog met Stals, die latere Minister van Gesondheid, gaan gesels en hom van sy gesprek met Schlessinger en die moontlikheid van 'n oorname van sy bioskope vertel. Stals het gesê hy besef die enorme betekenis van die bioskoop en al moes hulle selfs 'n miljoen pond bymekaar maak, sien hy kans om dit te doen as dit sou beteken dat hulle die bioskope in die hande kon kry. (Stals was ook in daardie tyd 'n lid van die UR.)

"Ek het aan dr. Stals verduidelik my sienswyse oor die toestand van vandag: die Nasionale Party het almal as vyande en hy sal nooit aan bewind van sake kan kom as ons nie 'n plan kan maak om die losstaande man en die vyande, ten minste van ons vyande af te skei nie. Dr. Stals besef die fatale fout. Hy voel net soos ek. Hy voel dat ons die Engelse onder mekaar moet laat baklei en dat ons neutraal moet staan teenoor die Jode. Waarom sou ons hulle vuil werk doen as hulle met mekaar wil veg?

"Ek vra toe dr. Stals om saam met my vir oulaas Schlessinger te gaan sien. Op Januarie die tweede (1946) was dr. Stals en ek na Schlessinger. Ons het oor die Nasionale Party en die Jode gepraat. Schlessinger het alles herhaal wat hy die eerste keer gesê het. Dr. Stals voel iets moet gedoen word, maar hy wou homself nie heeltemal kompromitteer nie. Hy het toe gesê dat ek met Kemp in aanraking moet kom en ek het belowe om dit te doen."

In sy aantekeninge vind 'n mens nie onmiddellik weer enige verwysing na 'n moontlike alliansie tussen die Jode en die Nasionale Party nie. Eers in 1948 rondom die algemene verkiesing slaan die saak weer uit. Dit bevestig dat Hertzog baie ernstige oorweging daaraan geskenk het.

Dit is egter betekenisvol hoe Hertzog die verloop van sake gesien het. Op 4 Desember 1946 skryf hy oor "Strijdom en samewerking" en as hy by die kwessie van kiesafdelings vir die Afrikanerparty van Havenga kom, teken hy soos volg aan: "Selfs al het hulle in hul (die HNP) kiesafdelings baie meer lede as die Afrikanerparty, dan moet hulle nog in elke twyfelagtige geval die setel aan die Afrikanerparty gee. Dit beteken dat die Afrikanerparty sal slaag waar hulle (die HNP) nooit sou slaag. Want die Afrikanerparty sal baie Jodestemme, Engelse stemme en selfs vakstemme trek wat die Nasio­nale Party (HNP) nooit sal trek nie."

In 1948 kom Hertzog terug na die Jodekwessie en die moontlikheid van 'n alliansie met 'n sekere deel van die Jode in Suid-Afrika. Die gedagtes het reeds duidelik voor die algemene verkiesing van 26 Mei 1948 begin vorm aanneem. Sy gedagte was om Strijdom by adv. Kuper, wat hy beskou het as die leier van die "konserwatiewe" Jode, uit te bring, sodat Strijdom oortuig kon word van die "wenslikheid" om die Jode as bondgenote in die stryd teen die Verenigde Party te betrek.

Op 5 Maart 1948 merk Hertzog op: "Volgens die nuutste aanwysings sal die parlementêre verkiesings waarskynlik plaasvind teen die middel of kort na die middel van Meimaand, dit wil sê oor twee en 'n half maande. Die Joodse stem is vir ons almal van groot belang. Maar die klompie anti-Jode in die Nasionale Party, soos Eric Louw, het nog steeds daarin geslaag om die Jode as 'n blok teen die Afrikaners te hou. En daar is omtrent 45 000 Joodse stemme op die Rand alleen ... Die grofste belediging teenoor die Jode is nie net wat gesê was gedurende die oorlogsjare nie, maar is veral die artikel in die Transvaalse Party (die HNP waarvan Hertzog toe ‘n kandidaat was) wat belet dat 'n Jood lid van die Party mag word."

Drie weke later, op 26 Maart 1948, roer Hertzog weer die Joodse kwessie en die HNP aan en skryf: "Die verkiesing is oor ‘n paar maande en ons staar dit in die gesig dat die Nasionale Party nie aan bewind van sake kan kom nie; dat die Engelse grootskeepse emigrasie gaan bewerkstellig en dat ons van nou af aan vir ewig 'n nietige minderheid gaan wees. Ons nasionale leiers is so dom dat hulle nog die laaste klomp stemme wat ons aan bewind kan help, ook nog in die gesig slaan, naamlik die Jood. Ons staan voor ons ondergang en ons moet nog met 'n klein groepie rusie maak wat vir ons aan bewind van sake kan bring."

Hertzog het bereken dat in dertig kiesafdelings genoeg Joodse stemme was om die deurslag na die een of ander kant te gee. "Hulle gee gevolglik die deurslag en dit is van die uiterste noodsaaklikheid om hulle aan ons kant te probeer kry," merk hy op.

Hy behandel dan die verdeling destyds onder die Jode. "Daar is onder die Jode vandag," skryf hy, "weer twee baie sterk seksies. Die een is feitlik die O.B. van die Jode, naam­lik die Revisioniste. Hulle het ‘n koerant met die naam van die Jewish Times en 'n georganiseerde groep van 10 000 in die land. Teenoor hulle is wat 'n mens kan noem die Nasionaliste onder die Jode, naamlik die Zioniste. Hulle het as koerant die Zionist Record en het 'n georganiseerde ledetal van ongeveer 12 000. Die Revisioniste is baie anti-Brits en dit sal baie min kos om hulle na die Afrikaner oor te bring. En met 'n klein bietjie takt sal dit ook geslaag word om 'n groot gedeelte van die Zioniste te bring. In enige geval sal sn mens baie van die Rand se setels kan wen as die Jode net gedeeltelik vir die Nasionale Party steun.

"Deur Gleisner (‘n vakbondman) het ek kontak gemaak met die voorsitter van die Jewish Board of Deputies. Sy naam is Kuper en hy is n advokaat. Hy is tegelykertyd ‘n besadigde kêrel. Ek kon egter nie vir hom sien nie en Avril (Malan) en Wim (Burhrmann) het hom gaan sien in Johannesburg. Die idee was dat ons moet probeer bewerkstellig om die Jode te kry om nie meer 'n vyandige houding teenoor die Afri­kaners in te neem nie, maar 'n seënende houding."

Hertzog vertel vervolgens van die ontmoeting tussen Malan en Buhrmann en Kuper op 22 Maart 1948. Adv. A.I. Maisels, nog 'n lid van die Jewish Board of Deputies was ook teenwoordig.

"Hulle was baie goed ontvang," skryf Hertzog, "en het mekaar baie mooi verstaan. Hulle het ook duidelik laat blyk dat die Afrikaner uit die aard van die saak nooit die vyand van die Jood was nie ... Al wat die Jode wil hê, is dat hulle ook so billik soos ander behandel word en hulle vereis geen voortrekkery nie. Nou is dit die beleid van die Nasionale Par­ty om die Jode billik te behandel en daar is geen sprake van om van hulle sondebokke te maak nie. Die vraag is nou net dat die Nasionaliste te bang is om te erken en so laat hulle vir Smuts toe om geweldige vyandigheid teenoor Afrikanerdom te kweek in sy eie guns. Hulle sal nog net 'n onderhoud met dr. Malan wil hê om die versekering te kry van wat die beleid van die Nasionaliste teenoor die Jode is."

Hertzog vertel voorts dat Stals dr. Malan oor die saak sou inlig, maar blykbaar nagelaat het om dit te doen. Hyself het, na 'n gesprek met Avril Malan en Buhrmann oor die ontmoeting met Kuper en Maisels telefonies met dr. Malan op Stellenbosch in verbinding getree. Dr. Malan het hom meegedeel dat hy op 7 April in Johannesburg sou aankom en dat hy die volgende dag beskikbaar sou wees vir 'n onder­houd met Hertzog en sy vriende.

"Ek het hom gesê dat sekere vriende van die ougeloof met hom 'n onderhoud wil hê en of hy gewillig sal wees om dit te doen. Hy het nie definitief gesê nie, maar na ons samespreking sal ons definitief die saak met hom kan reël."

Onder die subhoof "Noodsaaklikheid om Strijdom te wen" skryf Hertzog dan: "Dit is noodsaaklik dat mens die leiers van die Nasionale Party kan wen vir die noodsaaklik­heid om 'n mate van goedgesindheid van die Jode teenoor die Afrikanervolk te verkry. Strijdom en Verwoerd en Eric Louw en Swart is die mense wat nog in die pad staan. Daar is nog net twee maande voor en dit is dringend nodig dat ons daardie mense tot hul verstand moet bring om te help anders verongeluk hulle die Afrikanervolk vir ewig. Avril sal met Strijdom in aanraking kom. Dit is ook wenslik dat ons nou Joon van Rooy en Totius se kragte moet byroep. As ons daarin kan slaag om die Joodse steun tot 'n groot mate op die Afrikanerdom kan verenig, dan is ons volk gered."

By die ontmoeting met dr. Malan oor die Joodse kwessie was benewens Hertzog ook Avril Malan en Buhrmann. Hertzog het spesiaal van Ermelo af gekom vir die ontmoeting. Nadat hulle dr. Malan by die Grand Nationalhotel gekry het, is hulle daarvandaan na die koffiekamer van die Langhamhotel waar die drie die posisie in verband met die Jode volledig aan dr. Malan verduidelik het.

Oor die ontmoeting skryf Hertzog: "Eers het hy (dr. Malan) koud en logies gelyk. Hy het verwag dat ons iets groots van horn gaan vra. Maar ons het nie. Ons het net gevra dat hy 'n verklaring moes doen en dat hy 'n paar van die Joodse leiers daardie selfde middag moet ontmoet om die beleid van die Nasionale Party aan hulle te verduidelik."

Die onderhoud met dr. Malan was sowat 'n uur lank en volgens Hertzog was hulle baie tevrede met die verloop daarvan. Hulle het aan horn verduidelik dat hulle vir hom 'n afspraak daardie selfde middag met Ettlinger, die destydse president van die Jewish Board of Deputies, en Kuper, die voorsitter, gemaak het. Die twee Joodse leiers sou dr. Malan om vyfuur die middag kom spreek het.

"Avril en ek," skryf Hertzog, "het dit wenslik geag om nie teenwoordig te wees by die bespreking nie. Ons het gevoel dat waar ons ons nou in die politiek begeef, Verwoerd en Strijdom en daardie seksie uit hul pad sal gaan om ons te probeer benadeel. Daarom het ons vir Wim en dr. Malan agtergelaat om met die Joodse leiers afsonderlik te praat. Ons het vooraf die gevaar van die posisie ingesien. As ons die Joodse stem op die Afrikanerdom vir 'n groot gedeelte kan trek en die Nasionaliste kom aan bewind, kan ons seker wees dat hulle vir ons sal wil uitskel en wil aanval as Jodeboeties. Dit sal baie maklik wees om ons af te krap deur so 'n geroep.

"Wim en Avril het toe vir Strijdom gaan sien. Hulle het hom vertel van die posisie van die Jode op die Rand en vir hom die syfers verduidelik. Maar Strijdom is so onkundig, al is hy die leier van die Nasionale Party in Transvaal, dat hy nie eers geweet het wat die syfers is nie en hy wou gevolglik nie ook ons syfers glo nie. Maar hy was darem baie versigtig."

Uit die onderhandelings met Malan het klaarblyklik nie veel voortgevloei nie behalwe 'n verklaring in algemene terme wat bedoel was om die Jode tevrede te stel. Watter versekerings, indien enige, hy aan die Jode gegee het, is nie bekend nie, want Hertzog teken niks verder daaroor aan nie. Hyself het egter ook ander planne in verband met die kwessie van Joodse samewerking bedink.

Op 3 Maart 1948, terwyl hy kandidaat vir die HNP in Ermelo was en 'n grondwet onderskryf het waarin 'n antiJoodse klousule ingeskryf is, meld hy: "Die Jodevereniging (Jewish Board of Deputies) het 'n voltydse amptenaar en 'n hele staf om die Jodedom in die goeie guns by die Afrikaners en die Christendom te bring. Waarom sal ons Afrikaners dan nie amptenare hê om die goeie gesindheid van die Jode teenoor die Afrikaner en die Nasionalis te kweek nie? As ons dit gaan doen, dan sal ons die valse propaganda van die vyande wat ons wil voorhou as die onderdrukkers van die Jood, en van die nasies wat beplan om die Jodedom te vernietig, dan sal daardie wanidees uit die wêreld uitgeroei word.

"Die gedagte het opgekom of dit nie die moeite werd sal wees om 'n 'Goodwill Club' te stig nie. Die doel hiervan moet wees naamlik om alle manne van blanke rasse wat gewillig is om die Afrikaner se volkstrewe te eerbiedig en help bevorder, om 'n klub te stig waarby almal kan aansluit en waar op watter basis goedgesindheid teenoor alle seksies gekweek word. Die Afrikaner kan net hierdeur baat, hy kan nie verloor nie. Daarom het ek vir Gleisner aan die hand gegee dat ons so 'n klub stig. Hy het dit toe volmondig onderskryf. Hy was na Saaron, die Sekretaris van die Jewish Board of Deputies, en het die gedagte met horn bespreek. Saaron was baie ten gunste daarvan en die volgende keer het Gleisner vir my gesê dat al die nodige geld van die Jode verkry sal word as ons soiets aanpak. Die Jode sal dit doen omdat hulle graag goedgesindheid teenoor hulle wil hê.

"Ons moet egter baie versigtig wees in wat ons doen. Noudat die wolke swaar teen die Afrikanerdom hang en daar 'n dreigement is dat daar 300 000 Engelse ingevoer word om ons te vernietig deur stemme, sal almal gewillig wees en sal almal die noodsaaklikheid daarvan insien om goedgesindheid te probeer verwerf. Maar as die Nasionaliste eers aan bewind is, dan kom die verandering. Dan sal begin die ekstremiste en dan sal elke man wat matig probeer wees en die toekoms wil probeer beveilig, uitgeskel word as 'n verraaier, soos vader uitgeskel was. Dit maak dat ons almal tog baie versigtig moet loop in hierdie geval. Dit sal beter wees as die ouer leiers so 'n skema wil ondersteun en dat die jonger kêrels glad nie eers daarin gehoor word nie."

Op 29 Augustus 1948 roer Hertzog weer die Jodekwessie in sy aantekeninge aan. Op daardie dag skryf hy: "Die afgelope verkiesing het ons gewen nieteenstaande die feit dat die Jode vir amper 'n 99 persent of wat teen ons was, of afsydig was in die verkiesing. Die Jode is teen die Afrikaners gemaak eerstens as gevolg van die Afrikaanse simpatie met Duitsland en sy vyandskap teenoor Engeland, dan as gevolg van 'n sekere groepie van ons midde wat die Duitse idees versprei het, en in die derde plek as gevolg van die klousule in die Transvaalse konstitusie wat sê dat 'n Jood nie lid van die Nasionale Party mag word nie."

Dit blyk ook uit die volgende paragraaf dat Hertzog die gedagte in verband met die Jode al in wyer kringe uitgedra het as net Malan, Strijdom en Stals en dat hy ook sekere UR-lede daaroor bearbei het. In die verband skryf hy: "Al vir 'n geruime tyd is Avril en ek en Schu en Wim besig om te probeer om die Jode te keer daarvan dat hulle hul almal konsolideer in die VP. Ons moeilikheid is nou om daardie klousule verwyder te kry, Ons het aan die hand gegee dat die Nasio­nale Party van die verskillende provinsies moet probeer om 'n eenheidskonstitusie op te stel en dan kan mens vir die Transvaal sê dat hul konstitusie moet so wees dat dit nie verskil van Kaapland nie — in Kaapland is daar nie 'n klousule teen die Jode nie. Op hierdie manier sal mens miskien op taktvolle manier kan wegkom van die diskriminasieklousule sonder om jou eie Afrikanerdom te verwar deur 'n twisappel in te gooi waaroor 'n klein klompie gaan baklei. Maar dit sal nog lank vat om dit reg te kry. Mense soos Strijdom en Verwoerd sal liewers die saak so laat staan en die toekoms vir die Afrikaner verongeluk, as om die moed te hê om teen so 'n ding op te tree.”

Hertzog verwys vervolgens na die verklaring wat Malan voor die verkiesing uitgereik het waarin hy aan die Jode gesê het hy wou so optree dat daar nooit weer 'n Joodse vraagstuk in Suid-Afrika kan ontstaan nie. Dan gaan hy voort: "Maar die Jode is nie tevrede nie en nadat hy aan bewind is, wil hulle weer 'n verklaring van hom hê. Hul ekskuus is nou dat hul die vorige versekering gekry het van die hoof van die Nasionale Party en nou wil hulle dit hê van die hoof van die Regering. Hulle is vir twee dinge bang. Eerstens dat daar diskriminasie teen hulle gemaak gaan word wanneer hulle binne in die land is in verband met betrekkings of professies, ens. In die tweede plek wil hulle nie hê dat daar teen hulle gediskrimineer moet word wat betref immigrasie nie."

Dan vertel Hertzog van 'n tweede besoek aan Malan oor die Joodse kwessie: "Ons (hy en Avril Malan) het lank met hom oor die saak gesels. Hy het net soos ons gevoel, maar wou nie Jode laat immigreer na Suid-Afrika nie. Ons het op die standpunt gestaan dat ons geen immigrante wil he tensy die wat voordelig vir Suid-Afrika is nie, en daarom sien ons nie waarom hy dit nie op almal gelyk toepaslik kan maak nie. Hy het egter nog moeilikhede gesien. Ons het toe vir hom gevra dat ons die Joodse Sekretaris Saaron moet vra om hom weer in Pretoria te gaan sien en om dan die saak tot sy bevrediging met dr. Malan te bespreek. Doktor het toegestem. Ondertussen hoop ons dat hy sal probeer om 'n formule te vind om die Jode ook tevrede te stel oor hierdie punt. Dan is daar nog net een moeilikheid vir ons en dit is die verbanning van die Jode uit die Nasionale Party van Transvaal (hier het Hertzog die skraping van die verbodsbepaling teen Joodse lidmaatskap in die grondwet van die HNP van Trans­vaal bedoel)."

Dat Hertzog en sy vriende in die Broederbond nie veel sukses by Strijdom en Verwoerd oor die kwessie van die Jode behaal het nie, word bevestig deur die feit dat na die eerste poging Hertzog nooit weer enige poging aangewend om Strijdom by die saak te betrek nie. Strijdom was onversetlik oor hierdie saak en die antiJoodse klousule het jare lank nog in die grondwet van die NP in Transvaal bly staan. Malan het egter uit sy pad gegaan om die welwillendheid van die Jode te wen en in 1949 bring hy besoek aan Israel, die eerste Afrikanerpremier wat dit doen. Na hom sou Vorster, toe hy Eerste Minister geword het, ook Israel besoek en selfs ernstige oorweging daaraan skenk om 'n tussenregeringse kabinetskomitee vir Suid-Afrika en Israel aan te stel om oor bepaalde sake, soos die lewering van dienste, te beraadslaag.

Hoe Hertzog sy houding jeens die Jode kon rym met wat hy as AB-lid en ses en twintig jaar lank UR-lid bely het, is moeilik te verklaar. Die UR het agter die skerms dikwels sterk standpunt teen die Jode ingeneem.

Piet Meyer en Nic Diederichs – Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 835 gaste aanlyn