Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dit is 'n hartseer werklikheid dat die viering van die nagmaal vir baie mense 'n blote gewoonte en formaliteit geword het. Met die gebruik van brood en wyn onthou ons weer opuut wat Jesus Christus in ons plek vir ons gedoen het. Wanneer u weer aan die nagmaal deelneem, kyk in die gees terug na Gólgota, sien die gebroke liggaam en vergote bloed van Jesus Christus en onthou: Dit het Hy vir mý gedoen!
DIE BROEDERBOND IN DIE AFRIKANER- POLITIEK (14)
B M Schoeman
(Lees reeks by AB in die Afrikanerpolitiek )
Met die skrywe van hierdie boek in 1982 was dit nie Beaumont Schoeman se bedoeling om verdere onthullings van die Broederbond se geheime te maak nie. Sy doel was om te illustreer watter rol die Broederbond in die Afrikanerpolitiek gespeel het. Schoeman slaag daarin om aan die hand van eie dokumentasie aan te toon dat die Broederbond, in stryd met sy eie grondwet en reglement, ‘n instrument in die hand van ‘n bepaalde politieke party was ten tye van dié publikasie. Wat Schoeman toe nog nie kon weet nie is hoe ver die grense van die Broederbond se verraderlikheid sou uitbrei tot hulle op aandrang van die internasionale geldmag Suid-Afrika aan ‘n korrupte swart regering oorgegee het. Vandag opereer en skuil die Broederbond onder die naam Afrikaner Bond (AB) en is selfs meer listig as tevore terwyl hulle steeds die toutjies agter die gordyn probeer trek.
Die Onderwys
Belangwekkend is ook watter norme op opvoedkundige gebied in die stuk omlyn word. Wat skoolonderrig betref, word teruggeval op die huidige Eerste Minister se Twaalfpuntplan wat lui: “Die aanvaarding van die beginsel van eie skole en gemeenskappe waar enigsins moontlik.” Die gevalle waar dit, volgens die Regering se beskouing nie moontlik is nie, word natuurlik nie vermeld nie.
Wat die Twaalfpuntplan betref, is dit insiggewend dat die Uitvoerende Raad hierdie stuk volledig in September 1979 as ’n spesiale omsendbrief aan AB-afdelings gesirkuleer het. Dit illustreer weer eens hoe volkome die Broederbond ’n instrument in die hande van die huidige Regering geword het.
Waar die UR “eie skole en gemeenskappe waar enigsins moontlik” steun, is dit heeltemal anders gesteld ten opsigte van tersiëre onderwys. “By die tersiëre onderwysinrigtings”, lui die dokument, “is daar egter ander faktore wat ’n rol speel. Hierdie inrigtings is duur en kan nie volledig gedupliseer word nie, sodat daar dus altyd Nieblankes aan universiteite vir Blankes sal studeer.”
Hier is nog ’n voorbeeld van die soort misleiding waaraan ’n mens tans al gewoond begin raak het. Dit word eenvoudig gestel dat Blanke universiteite nie gedupliseer kan word nie omdat dit te duur sal wees en daarom sal daar altyd Nieblankes aan Blanke universiteite wees. Die feit dat volwaardige universiteite vir Kleurlinge, Indiërs en Swartes met Blanke kapitaal gebou is, met ander woorde dat die duplisering reeds afgehandel is, word egter verswyg.
Die oopstelling van Blanke, en meer bepaald Afrikaanse universiteite aan die Nieblankes, word vanaf hierdie valse uitgangsbasis soos volg in die betrokke stuk geregverdig:
“Die permitstelsel (vir Nieblankes wat aan Blanke universiteite wil studeer) word deur die Nie-Blankes as vernederend ervaar en daar sal nie permanent daarmee volgehou kan word nie. Verder blyk dit almeer dat die Afrikaanse universiteite hulself nie langer geheel en al kan onttrek van die hoër onderwys vir Nie-Blankes nie — in die sin dat hulle instellings grootliks slegs vir Blankes toeganklik is nie. Die Engelstalige universiteite het sedert 1960 binne die raamwerk van die wetgewing wat die toelating van Nie-Blankes tot die Blanke residensiële universiteite beheer, jaarliks ’n substansiële getal Nie-Blankes as studente aanvaar. Daardeur het die universiteite, en die taal wat hulle gebruik, ’n geweldige status en invloed verwerf onder Nie-Blanke intellektuele — ook ’n hele aantal wat in buurstate invloedryke posisies beklee. Die Afrikaner het, deur homself en sy universiteite van hierdie mense af te sluit, belangrike geleenthede tot beïnvloeding en bevriending in die kiem gesmoor. Daar word oënskynlik deur Afrikaanse universiteite besef dat akademiese kontak met Nie-Blanke leiers en intellektuele die Afrikaner se langtermynbelange dien.”
Hier is nog ’n voorbeeld hoe met feite gewerk word wanneer dit sekere mense pas. Die wetgewing waarna in die voorafgaande paragraaf verwys word wat Engelstalige unversiteite dan so sou begunstig het, is die Wet op Afsondelike Universiteitsopleiding van 1959. Soos die titel van die wet aandui, was die hoofoogmerk die skepping van afsonderlike volwaardige universiteite vir Swartes, Kleurlinge en Indiërs en nie, soos die UR-stuk te kenne wil gee, om die Engelstalige universiteite in staat te stel om ’n aansienlike getal Nieblankes as studente te aanvaar nie. Die Engelstalige universiteite het voor daardie tyd altyd ’n aansienlike getal Nieblanke studente gehad, maar die regeerders van 1959 wou daaraan ’n einde maak om die beleid van afsonderlike ontwikkeling op opvoedkundige terrein ook na die tersiëre vlak deur te trek. Wat hier gebeur het, is wat met vele ander skeidingsmaatreëls gebeur het: deur die nie-toepassing daarvan het dit totaal kragteloos geword. Dit is waarom daar vandag waarskynlik meer Nieblankes aan Engelstalige universiteite is as voor 1959 en waarom die getalle aan Afrikaanstalige universiteite nou ook begin groei. Dit het niks te doen met ’n skielike besef deur die universiteite van die waarde wat akademiese kontak met Nieblanke leiers en intellektuele vir die Afrikaner sou hê nie.
Agter die toelating van byna elke Nieblanke student tot ’n Afrikaanse universiteit kan ’n politieke bymotief gesien word. Die UR verraai dit self in sy stuk wanneer verklaar word: “Met die groter volwassenheid van Afrikaners en hul vermoë om hulself en hul optrede krities maar lojaal te beoordeel — ’n vermoë wat juis deur onderwys aan skole en universiteite aangewakker is — behoort Afrikaners oor die weerbaarheid te beskik om sonder vrees vir verlies aan identiteit die hekke van die laer oop te maak.”
Die huidige Minister van Nasionale Opvoeding en vorige voorsitter van die Broederbond het begin om amptelike sanksionering aan die aftakeling van afsonderlike onderwys vir die verskillende rassegroepe te gee deur die aanstelling van die kommissie van ondersoek na onderwys in Suid- Afrika. Aan die hoof van die ondersoek was ’n prominente AB-lid, prof. J.P. de Lange, bygestaan deur ander AB-lede, persone buite die organisasie en ’n aantal Nieblankes. Die terme van opdrag wat hierdie kommissie van die Regering ontvang het, was so ingeklee dat dit ’n verslag kon uitbring wat die verbeelding van die integrasioniste aangegryp het omdat dit die weg aandui vir uiteindelik geïntegreerde onderwys. Komende so kort op die skok van die uitslag van die algemene verkiesing van April 1981, het die Regering teruggedeins om onmiddellik uitvoering te gee aan die ingrypendste aanbevelings. As egter gelet word op die algemene rigting waarin beweeg word, kan aangeneem word dat, soos op ander terreine, ook ten opsigte van onderwys in Suid-Afrika stelselmatig aan die eise van links voldoen sal word.
En hoe getrou die Regering die voorskrifte vanuit die Broederbond volg, blyk uit die aankondiging in Januarie 1982 deur die Minister van Onderwys en Opleiding, dr. F. Hartzen- berg, in verband met ’n nuwe bedeling vir die toelating van Nieblankes tot Blanke universiteite. Die permitstelsel sal verdwyn en die toelating van Nieblanke studente sal aan die onderskeie universiteite oorgelaat word. Vir die doel sal ’n kwotastelsel in werking gestel word.
Die ekonomie – vervolg...