Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jaloesie is 'n perd wat deur die duiwel gery word. Dit kyk altyd deur 'n vergrootglas wat nietige dingetjies groot laat lyk – dwergies word reuse en in jou sieke jaloesie glo jy jou agterdog is die waarheid.
DIE BROEDERBOND IN DIE AFRIKANER- POLITIEK (21)
B M Schoeman
(Lees reeks by AB in die Afrikanerpolitiek )
Met die skrywe van hierdie boek in 1982 was dit nie Beaumont Schoeman se bedoeling om verdere onthullings van die Broederbond se geheime te maak nie. Sy doel was om te illustreer watter rol die Broederbond in die Afrikanerpolitiek gespeel het. Schoeman slaag daarin om aan die hand van eie dokumentasie aan te toon dat die Broederbond, in stryd met sy eie grondwet en reglement, ‘n instrument in die hand van ‘n bepaalde politieke party was ten tye van dié publikasie. Wat Schoeman toe nog nie kon weet nie is hoe ver die grense van die Broederbond se verraderlikheid sou uitbrei tot hulle op aandrang van die internasionale geldmag Suid-Afrika aan ‘n korrupte swart regering oorgegee het. Vandag opereer en skuil die Broederbond onder die naam Afrikaner Bond (AB) en is selfs meer listig as tevore terwyl hulle steeds die toutjies agter die gordyn probeer trek.
Rol van die Cape Liberal Nats
Die oplaaiende stryd en onrus binne die geledere van die AB het nie net gegaan om tendense wat op terreine buite die AB al duideliker waarneembaar geword het nie. Meermale was daar skerp botsings as gevolg van bepaalde gebeurtenisse en optredes van sekere lede van die organisasie.
Vroeg in 1965 is in die Rhodesiese parlement aan die lig gebring dat twee sigaretmaatskappye gratis pakkies sigarette aan ingeperkte persone besorg het. Laasgenoemde was veral mense wat aan die militante Swart organisasies in Rhodesië verbonde was en die Blanke beskawing omver wou werp. Een van die maatskappye was Rothmans (Rhodesië) Beperk, wat deur die Rembrandt-organisasie van Rupert beheer word. Binne die AB was daar onmiddellik ernstige ontevredenheid omdat ’n maatskappy wat onder beheer van ’n mede-lid staan, hierby betrokke is. Klagtes is onmiddellik aan die UR gestuur.
Die sigaretmaatskappye het die berigte nie ontken nie. Inteendeel, die Rhodesiese Sunday Mail rapporteer: “Both companies said in statements issued yesterday that it was part of policies to view sympathetically requests for help from any section of the community, and the cigarettes for the restrictees was one of them.”
Die antwoord wat AB-afdelings op hulle klagtes hieroor ontvang het, is vervat in ’n omsendbrief van die UR. Dit het gelui dat lede hulle tog nie aan hierdie “gerugte” moet steur nie! Dit word gevolg deur ’n mededeling dat die Rembrandt-organisasie ’n groot bedrag geld aan die Nasionale Jeugraad geskenk het! (Die Nasionale Jeugraad staan onder beskerming van die Broederbond.)
Die opset hiervan was duidelik: die naam van Rupert moes binne die organisasie gehou word. Ironies genoeg het Rupert ’n paar jaar later self sy lidmaatskap van die Broederbond beëindig.
Dat Cillie, as redakteur van die Burger, en Schalk Pienaar, as redakteur van Die Beeld, reeds in Verwoerd se tyd dinge geskryf het wat wenkbroue laat lig het, is welbekend. Dit is egter veral na die bewindsaanvaarding van Vorster dat die koers wat hulle aangedui het, vir almal duidelik geword het — ’n koers wat onversoenbaar was met die uitgesproke ideale van die AB en dit terwyl hulle albei lede van die organisasie was. Hoe teenstrydig hulle standpunte met die van die AB is, word geillustreer as op enkele sake gelet word.
Dit is van die kant van hierdie koerante dat ’n vraagteken agter die begrip Christelik-nasionaal geplaas is. Daarteenoor verklaar Meyer nog op 1 Oktober 1968: “ ’n Broer wat nie die Christelik-nasionalisme (met die koppelteken) as grondslag van ons Afrikanerstrewe aanvaar en bely nie, is nie meer ’n broer nie.”
As Meyer konsekwent was in die handhawing van hierdie verklaring sou betrokke manne se lidmaatskap van die AB beëindig word.
Dit is ook uit dieselfde kring wat die begrip “Suid-Afrikaanse nasie” in plaas van Afrikanernasie en die gebruik van die term “Bruin Afrikaners” vir Kleurlinge gepropageer is.
Hoe vergelyk dit met Meyer se uitlatinge in sy reeds aangehaalde toespraak van 1 Oktober 1968 op die Halfeeubondsraad? “Vir ons broerskap in die jare wat voorlê”, sê hy by daardie geleentheid, “is die sentrale leiding wat reguit vanuit ons eie verlede vorentoe deurgetrek moet word, ons belofte om ons onvermoeid en doelgerig te beywer vir die altyddurende voortbestaan van die Afrikanervolk as afsonderlike taal- en kultuurgemeenskap onder die volke van die wêreld, maar dan nie as ’n mengelmoes van klanke en sogenaamde Bruin Afrikaners wat Afrikaans naas Engels praat nie en in hierdie tale die ongeloof, die humanisme en die liberalisme, wêreldintegrasie, ens, ens, verkondig en uitdruk nie ...”
Ook in die lig van hierdie stelling van Meyer moes die betrokkenes uit die AB uitgeskakel gewees het.
Daar was pleidooie in hierdie koerante in verband met die Afrikaner se verhouding teenoor die Engelssprekendes wat vreemd geklink het naas die uitspraak van Meyer oor die saak soos reeds vroeër aangehaal. Dit klink ewe vreemd naas die standpunt van Treurnicht, vervat in die notule van die 44e Bondsraad in die Dr. Viljoen-skool in Bloemfontein op 3 en 4 Oktober 1966. Dit was tydens ’n bespreking van Meyer se voorsittersrede, “Die voortbestaan van die Afrikaner”, waarvoor die Bondsraad hom Psalm 134 vers 3 toegesing het. Tydens die algemene bespreking verklaar Treurnicht, toe ’n UR-lid:
“Die noue samewerking tussen Afrikaans- en Engelsprekendes laat baie in die donker tas. Die Afrikaner is nie op te los in ’n breë Suid-Afrikanisme nie. Die Afrikaner het uit verskillende groepe saamgegroei tot ’n gemeenskaplike eenheid wat dieselfde waardes onderskryf. Die Engelssprekendes, daarenteen, is ’n verlengstuk van die Engelssprekendes in Brittanje: hy kan nie terug nie, maar het ook hier nog nie tot ’n volk ontwikkel nie. Die Afrikaner sal die Engelssprekende vir die Afrikaanse kultuur en siening moet wen. In die verband sal ’n groot bydrae deur die Afrikanerdigter, -skrywer en die Afrikaner se Kerk gedoen moet word.”
Die Afrikaanse koerante, met AB-lede as redakteurs, het die Afrikanerdom uitmekaar geskel en geskinder en duidelik op ’n skeuring afgestuur, ook op politieke gebied. Reeds op 4 Desember 1967 skryf A.M. van Schoor in Die Vaderland: “By Nasionaliste in Transvaal hoef daar na gister geen onsekerheid meer te bestaan nie dat koerante van die Nasionale Pers, insonderheid sy Sondagblad, daarop uit is om ’n skeurdery in Nasionale geledere te bewerk.”
Binne die AB het die optrede van Cillie en Pienaar ernstige ontwrigting veroorsaak. Die feit dat Vorster die twee redakteurs in sy Koffiefontein-toespraak onder sy beskerming geneem het, het sake natuurlik nie verbeter nie. Van verskeie afdelings is klagtes ontvang en onder datum 25 Maart 1968 is ’n skriftelike klag met die eenparige steun van die Pretoriase Sentrale Komitee aan die UR gestuur. Reeds in die inleiding word verklaar dat dié twee here se optrede “onses insiens nie te rym is met ons instellingsbelofte ten opsigte van die beoefening van Broerskap ‘om te midde van verskille deur liefde te bind’ en ten opsigte van ‘die opbouing en selfstandigmaking van die Afrikanervolk op kulturele, ekonomiese en elke ander terrein van die lewe’ nie. Dit is onses insiens ook strydig met die Christelike grondslag van ons organisasie.”
In die klagbrief word onder meer gehandel oor “aanvalle op en publikasie in verband met sekere persone — meestal mede-lede — wat sodoende in ’n bepaalde groep geklassifiseer en dan afgetakel word.” Daar word op gewys dat hierdie aanval selfs ook teen Meyer gerig is en dat behoudende Afrikaners as “omgedopte kommuniste” bestempel word. Dit handel oor verdraaide berigte en opskrifte wat ’n foutiewe beeld van goeie Afrikaners skep, oor die opblaas van elke meningsverskil tot ’n twis, oor die verdediging van volksvreemde organisasies soos die American Field Service, oor die skending van vertroulikheid van geslote vergaderings, oor verdraaide berigte in verband met die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans en die Christelike Kultuuraksie, oor die sensasionele aanbieding van kerksake, ens.
Die stuk is vergesel van nagenoeg dertig uitknipsels om die klagtes te staaf en sluit met die volgende af: “Uit die aangehegte stukke blyk onses insiens duidelik dat die optrede van die betrokke vriende nie te rym is met die grondslag en strewe van ons organisasie en met die instellingsbelofte nie. Om verwarring en verdeling binne die organisasie te voorkom, moet die UR aan hierdie soort ding ernstige aandag gee. Indien nodig geag, sal ons graag hierdie skrywe met ’n persoonlike onderhoud opvolg.”
Ook in hierdie geval is tevergeefs gewag vir optrede van die kant van die UR. Ondanks al Meyer se mooiklinkende uitsprake was hy klaarblyklik nie bereid om iets te doen nie.
In sy toespraak oor die AB-kwessie op die HNP-kongres van September 1972 sê Jooste na aanleiding hiervan: “Toe ek hom in Oktober 1968 by dieselfde vergadering waar hy so treffend oor broerskap uitgewei het, tydens die teepouse vra wat van die saak geword het, was al antwoord wat ek kon kry: ‘Jy moet maar nog ’n bietjie geduld gebruik. Piet Cillie sal homself uitskakel en Schalk Pienaar is ’n siek man’.” Dan gaan Jooste voort: “By geleentheid het ek dr. Treurnicht as UR-lid oor die kwessie genader en het hy my meegedeel dat dit na ’n komitee verwys is. Op my vraag of hy iets van die komitee verwag, het hy net gelag en opgemerk: ‘Jy dink tog nie hulle sal regtig aan daardie manne vat nie!’ Nieteenstaande herhaalde navrae is dan ook nooit weer iets van die saak gehoor nie.”
’n Volgende spesifieke skok vir AB-lede het gekom toe dit bekend geword het dat Rupert en A.J. van der Merwe — albei AB-lede — in die Abe Bailey Trust dien. As in aanmerking geneem word dat hierdie Trust met van die plaaslike Engelse koerante, onder andere die Sunday Times, gekoppel is en eintlik van uit Londen deur die Cecil John Rhodes Trust, wat die ekstrak van die vyandskap teen die Afrikanerdom verteenwoordig, aangestel word, dan besef ’n mens hoe direk strydig met die AB-ideale hierdie lidmaatskap is.
Nadat hieroor by die UR beswaar gemaak is, is die volgende antwoord ontvang: “Mnr. Rupert het die benoeming aanvaar op voorwaarde dat dr. Van der Merwe sy permanente plaasvervanger sal wees. Daar is ’n honorarium aan die pos verbonde en dit dien as aanvulling van dr. Van der Merwe se pensioen. Die UR is tevrede met die saak.” (Van der Merwe was die destydse Moderator van die NG Kerk.)
Vervolg...