Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

 

Een van die wonderlikste ervarings in gelowiges se lewe is dat hulle in tye van beproewing deur ʼn God van liefde vasgehou word.   Christus het nie gekom om ons leed weg te neem nie, maar om ons lewe met sy Teenwoordigheid te vul.

DIE ALTERNATIEF (1)

'n STRATEGIE vir OORLEWING

T. M. Hart

‘Klink my tot kruik waarin u Gees
Weer water vir my volk sal wees’.

G.A. Watermeyer: Die Republiek van Duisend Jaar

Kopiereg © : T.M. Hart
Uitgewer: Tobie Hart
E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Eerste Druk: 2014 ISBN: 978-1-928202-13-4

Lees reeks by Die Alternatief

Gelofteland plaas met toestemming van skrywer hierdie werk in reeksvorm. Dit is ‘n eerlike en praktiese besinning oor aspekte van 'n strategie om in die veeleisende 21ste eeu te kan oorleef. Sake soos nasionalisme, die ekonomie, politiek, godsdiens, die media, apartheid en ander word onder die loep geneem. Ná deeglike navorsing het skrywer besin oor wat 'n alternatiewe en volhoubare Suid-Afrikaanse leefwyse sou kon wees. Al sou lesers nie noodwendig met elke sienswyse saamstem nie kan elke volksgenoot in vandag se Suid-Afrikaanse omstandige voordeel hieruit put.

Met 'n luukse braaivurk in die hand het hy nader gestaan. "'Sure'. Ek maak geld, baie geld. En ek betaal my belasting. En dis meer as wat baie ouens kan sê. Oorweeg ook nie om te 'pack for Perth' of te gaan 'settle in Seattle' nie. Party van daai ouens kom terug. En 'sure'. Soms raak ek ook gatvol en dan wens ek dinge kon anders wees."

Hy het nog 'n paar treë nader gegee en met die een oog op die TV-skerm en met die vurk in die lug, maar darem nie dreigend nie, gevra: "Wat is die alternatief?"

 Wat hier volg is die resultaat van baie gesprekke en die dink oor juis wat 'n alternatiewe en volhoubare Suid-Afrikaanse leefwyse sou kon wees. Sinvol, kleurvol en volhoubaar, sonder om 'n getoi-toi of klippe en riool in die strate te sien of met plaasbesetting gedreig te word.

In die vaarwater van 'n egoïstiese en veral ook toenemende materialistiese globalisme wat 'n verslawende gelykmaking nastreef, word enige eiesoortigheid bedreig. Veral ook aan die suidpunt van Afrika. 'n Kontinent wat oor baie eeue aanvanklik veral die Westerling se aandag getrek het en waarheen hy sy, vir Afrika, vreemde siening en leefwyse versprei het.

Die sg Eerste-wêreldse samelewing wat hier gedurende nagenoeg 300 jaar gevestig het, sou in een opsig radikaal van soortgelyke koloniale ontwikkelinge elders verskil. Hier sou nl 'n aparte volk met 'n eie taal en kultuur vanuit verskillende groeperinge in Europa en die Britse Eilande ontwikkel en gedy en as iets van 'n 'Europa in Afrika', toenemend teenoor inheemse Afrika te staan kom. 'n Afrika wat intussen ook tot sy ernstige nadeel verander en verslaaf word.

In 'n gees van 'ubuntu' en die erkenning van 'n onderlinge gelyke menswaardigheid, is hierdie 'n poging om nugter en eerlik, maar ook indringend te kyk na die ontstaan en verloop van die lewensomstandighede wat tot die huidige spanning en botsings aanleiding gegee het.

Die insluiting van die enkele opmerkings oor evolusie was nodig omdat dié 'moderne religie' in perspektief gesien moet word as die behoudende en postmoderne mens sy historiese en religieuse ankers wil behou en versterk.

Teen die agtergrond van 'n toenemende en woekerende globalisme is die ekonomiese materialisme wat van begeertes behoeftes maak en wat deur die inligtingsmedia aan ons opgedring word, verder 'n ernstige bedreiging wat in perspektief bekyk moet word.

In die lig hiervan is dit nou die tyd om, ipv mekaar 'n menswaardige bestaan te ontsê, verby goedkoop propaganda, slagspreuke en selfs leuens, vir almal 'n lewenswaardige toekoms te bedink.

1. ORIëNTERING

Terwyl baie Europees-georiënteerde Suid-Afrikaners en veral miskien 'Boere' en of Afrikaners, ná 1994 met 'n gevoel van verlammende ontkenning ('denial') sit, het dit tyd geword om weer op te kyk en vir die, of 'n, toekoms te beplan. Om op die ashoop van die verlede te bly sit – of ook net daarin rond te krap – is teenproduktief. Nogtans is dit nodig om te probeer bepaal wat verkeerd geloop het en dan op die goeie en noodsaaklike van die verlede 'n toekoms te probeer bou.

Een van die niksseggende cliché's wat 'n mens dikwels hoor – maar dan ook net hoor – is:

GENOEG IS GENOEG!

Uit die sinsverband waarin dit gewoonlik gebruik word, is meestal redelik duidelik af te lei waaroor dit gaan, maar dan ook niks meer nie. Wanneer dit wel geskryf word, verander die situasie ook nie veel nie, omdat die geskrewe of gedrukte weergawe ook meesal net die sensasionele waarde van die frase beklemtoon.

Die daadwerklike aksies om die verandering wat die frase veronderstel, te bewerkstellig, bly meesal uit. Gelukkig ook maar, omdat enige oorhaastige en dikwels dan ook emosioneel-gedrewe verandering, selde lewensvatbaar en standhoudend is. Selfs en miskien veral op polities-staatkundige gebied, lei die een revolusionêre verandering net maar weer tot die volgende soortgelyke aksie met telkens rampspoedige gevolge vir die 'verloorders'.

Om deel van die koor te word en te volstaan met 'genoeg is genoeg' in die moderne en veral postmoderne tyd en situasie wat ons beleef, is dus nie genoeg nie. In wat hier volg wil dit immers juis gaan oor 'n kritiese kyk na die verlede en om in die lig daarvan 'n bepaalde strategie en daarby een vir oorlewing te bedink.

Nogal wye en diep-lopende begrippe dié, wat duidelik verdere omskrywing noodsaak. Hopelik sal dit geleidelik duidelik word wie en wat in 'n oorlewingstryd gewikkel is.

My woordeboek, (Pharos) sê 'strategie' is 'krygskunde', 'veldheerskuns', 'sorgvuldige beplanning' of 'aanvalsplan'.

Miskien kort daar nog 'n paar begrippe, want wat hier volg wil nie veglustig wees nie, maar eerder 'n besinning oor enkele aspekte van 'n strategie om in die veeleisende 21ste eeu te kan oorleef. Hoewel dus nie onder 'n bepaalde vryheidsvaandel of met 'n krygslied nie, word vertrou dat die erns van die saak nietemin besef sal word. Maar voordat ons verder kan gaan is daar nog 'n paar begrippe wat eers van nader bekyk moet word.

Oorlewing

Waarop sou die begrip 'oorlewing' bv alles of veral kon dui? Dieselfde woordeboek noem dat dit oa beteken: 'om met jou lewe daarvan af te kom'. Letterlik dus nie daardeur gedood of vernietig te word nie. Collins "Concise English" voeg iets van 'endure', dus 'verduur' by, wat daarop kan dui dat oorlewing ook 'saamleef met' dus bloot 'fisiese oorlewing' kan beteken. Iets wat juis die Westerse pioniermens se koms na Afrika, in die gedrang sou bring.

Baie Suid-Afrikaners en miskien meer bepaald Afrikaners of Boere, sou nie te vinde wees vir 'n fatalisties-ontkennende volstruispolitiek, wat 'n eie kulturele bestaan ontken nie. Blote fisiese voortbestaan onder vreemde en selfs vyandige en haglike omstandighede, kan tog ook nie sondermeer aanvaarbaar wees nie.

Aan die ander kant het algemene en vae bangmaakstories selde die effek dat dit mense aanspoor om daadwerklik, strategies en paraat, vir 'n toekoms te beplan. Dit gaan dan juis ekonomies-materialisties so goed met ons (ons het immers as ons dit verkies, meestal nog werk) terwyl die massa- en elektroniese media in haas al ons ander behoeftes, selfs kultureel en religieus, ruim voorsien. – Of die moderne mens (nog) enigsins religieuse behoeftes het, word natuurlik ook in sekere kringe en veral onder 'bewys-aanbidders' erg bevraagteken.

Vir diegene wat in die moderne wetenskaplike wêreld dikwels ook die geloof wil vervang met wetenskaplike bewys, sou 'n mens oa na Izak de Villiers (1936-2009), predikant, joernalis en koerantredakteur kon verwys. In die beskeie digbundeltjie Jerusalem tot Johannesburg, Tafelberg 2005 staan daar (p 11):

"Die nie-begryp-nie buig 'n reënboog in die lug;
die wéét bly bloot die wolke oor Johannesburg".

Oor die algemeen word die begrip oorlewing gekoppel aan die voortbestaan van 'n individu, maar dan ook aan dié van 'n groep, 'n samelewing of 'n nasie as 'nation', maar tog ook in die betekenis van 'volk'. Die wesenlike verskille tussen die begrippe volk as veral 'n kulturele entiteit en nasie as staatkundig-politieke begrip, sal gaandeweg vollediger duidelik word. Voorlopig is dit voldoende om slegs ondersoekend, na die volgende te kyk en enkele begrippe nader te omskryf.

Wat is 'n volk?

Dit is nie hier die eerste keer dat dié vraag selfs net in Afrikaans gevra word nie. Was dit dan nie juis ook hieroor dat daar, jare gelede in 1966, op hoë vlak verskil is nie? Ek verwys na die Eerste Minister van destyds wat 'n vooraanstaande woordkunstenaar tereggewys het toe dié in die feesstuk "Die Pluimsaad waai ver" juis die vraag filosofies aan die orde gestel het of, soos ons seker vandag na vreemde voorbeeld sou wou sê: op die tafel geplaas het.

Die herrie wat na aanleiding van die verwysing na 'n kunstenaar wat 'huiwerend vra wat ‘n volk is', losgebars het, was onnodig. Nogtans was dit tipies van dié amper-volkie wat veeleerder wil baklei – verkieslik onderling en dus met mekaar – as om saam te staan. Veral as sy eie perswese die voortou neem en van krakies klowe maak.

Nog nie naby 'n oplossing vir die baie probleme waaraan 'n mens kan dink en wat jy daagliks ervaar nie, word enkele buitelyne van 'n moontlike gesprek hopelik hiermee darem al sigbaar. Die doel met hierdie beskouing is immers oa om deur die gewaande of werklike politieke wandade van die verlede, die Suid-Afrikaanse situasie te bekyk en 'n roete vir 'n toekoms vir alle inwoners van dié streek te probeer bepaal. Hetsy as 'n enkele saamgesnoerde reënboognasie of dan, andersins, as aparte volk(e), vir daardie groep(e) van die samelewing wat dit sou verkies.

'n Kortpad sou wees om dié deel van die huidige samelewing wat moontlik 'n eie identieit sou nastreef, sonder meer as dié Afrikaners of Afrikanervolk te beskou. Ruimte behoort egter ook gelaat te word vir ander sodanige groeperinge aangesien daar ook nog ander 'nasionalismes' werksaam is. Dat daar oor die algemeen en globaal gesproke, bepaalde middelpuntsoekende kragte aan die beweeg is, is immers duidelik.

In Wes-Europa en by name in die stamlande van die Afrikanervolk waaroor dit primêr hier gaan, waai daar ook reeds weer 'winde van verandering'. Juis ook in die Engelse wêreld van waar 'n vorige Britse premier, Harold Macmillan, met sy 'winds of change'-toespraak op 3 Febr. 1960 in die Suid-Afrikaanse Parlement, storms ontketen het, is daar nou nuwe dwarrels aan die vorm. Aansluitend by soortgelyke bewegings op die Europese vasteland en elders, is die 'Skotse-aksie', (vgl later) moontlik iets om van kennis te neem. Alle Engelssprekendes is immers nie, kultureelgesproke, Engelse nie.

Wat die Afrikanervolk betref, sou dit ook nie werk om enige Afrikaanssprekende as deel van die volk te beskou nie. Ook hier is immers, weerskante toe, voorbehoude. Om enigsins die dink te rig, moet dus eerder versigtig, maar tog ook vollediger, gevra word:

Wat is 'n volk en wie en wat is die Afrikaner- of 'Boervolk'?

'n Slim en geleerde politikus het eendag vertel dat 'n mens nie moet vra wie of wat 'n Afrikaner is nie. Volgens hom weet iemand as hy ‘n Afrikaner is en basta. Of die betrokke persoon nog mooi weet wat hy is, is nie duidelik nie, maar sy stelling bevat nogal iets van die waarheid. 'n Definisie is in elk geval te eng om 'n mens, 'n groep, 'n volk van ander te onderskei en kan jou maklik verlei om van samestellings of adjektiewe gebruik te maak om presies te probeer sê wat jy bedoel. As vertrekpunt sou ons kon volstaan deur te sê dat 'n Afrikaner 'n mens is wat Afrikaans as sy of haar moedertaal erken en gebruik, met die voorbehoud dat alle Afrikaanssprekendes nie noodwendig Afrikaners (of 'Boere'} is of selfs wil wees nie.

Sjoe! Daar waag ek dit sowaar. Jammer vir diegene wat nie verder wil lees nie. Hopelik loop ons mekaar vorentoe weer raak, maar indien nie, vertrou ek opreg dat diesulkes op die een of ander manier sal kan oorleef. Vir dié 'andersdenkendes' wat dit tog wil waag om te probeer vasstel waarheen die argument voer, word aanbeveel dat hulle eers kyk na die latere hoofstuk oor die 'Kultuurgoedere van 'n Volk'.

Intussen konsentreer ons hier eerder op ooreenkomste as werklike of gewaande verskille. Ook noodgedwonge, omdat vooraf groepering en versnippering juis in die verlede enige moontlike sukses in die kiem gesmoor het. Met dié stelling is hopelik ook, in liefdevolle meegevoel, die herrie rondom die baie ander benaminge vir die 'splintervolkie', voorlopig besweer.

Terwyl dit enigeen vrystaan om hom en sy eie of dan die groep of groepie waarmee hy hom wil vereenselwig, te noem wat hy wil, sou dit tog ook net billik wees om te vra dat diegene nie moet voorgee dat hulle namens 'die volk' praat en groepeer nie. Of moet ons aanvaar dat die Afrikanervolk se huidige 'toekomstrek', soos in die verlede noodwendig uit verskillende trekke moet bestaan? Tydelik en voorlopig sou dit kon werk, maar vorentoe sou dit dan weer heelwat aanpassing en stryd verg om as 'n eenheid te probeer funksioneer. Aan die ander kant is daar miskien tog ook vir sommige troos te put uit die feit dat enige volk ook uit groepe en strata bestaan al hoef dit nie eksplisiet aangedui of beklemtoon te word nie. Ons is immers, selfs in volksverband, nie almal eners nie.

Die Afrikaner in die engtes

Nog 'n begrip wat half ongemerk sover ingesluip het, is 'post-modern'. Hoewel nog nie oral en in elke vakgebied waarin daarna verwys word, behoorlik gedefinieer nie, wil dit tog dui op 'ná die moderne tyd', wat op sigself weer gevolg het op die Westerse uitbreidingsaksies en die vestiging van markte ná die Franse Politieke van die 18de en veral die Engels-Europese Industriële Revolusie van die 19de eeu. Die aard van die postmodernisme (hoewel daar tog ook 'n positiewer kant is) word enigsins duideliker in die ou, maar nuut-ingekleurde slagspreuk van 'vryheid, gelykheid en broederskap', wat nou ook ekonomies en veral materialisties tot breekpunt gedryf word.

Die wekroep om vryheid, gelykheid en broederskap, min of meer al gehoor sedert Voltaire (1694-1778) maar veral vanaf Robespierre (1758-1794) en die Franse Revolusie (1789) baie populêr, het deur die jare baie betekenisse gekry. Dikwels is dit bloot egoïsties aangewend om opponente te troef en so die eie doelwitte te bevorder. Selfs in die verligte tyd van die 21ste eeu word die onhoudbaarheid van die stelling wanneer tot sy volle konsekwensies deurgevoer, blykbaar nog nie oral duidelik besef nie. Soms kom ons darem daarby uit om bv te erken: vryheid sonder etiese(?) verantwoordelikheid, lei tot chaos. Tussen en teenoor ander mense, groepe en volke, is absolutisme altyd riskant.

Om eties, en 'Christengelowig' - vir sover dit (nog) as kenmerke van die Afrikanervolk beskou kan word - te probeer oorleef, is nie maklik nie. Met die oog daarop moet van al die gevaarpunte kennis geneem word as 'n mens enigsins wil hoop om 'n behoudende volksbootjie tussen soveel meer as die spreekwoordelike 'Simplégades' in die antieke Bosporus te help stuur. Soos destyds volgens die Griekse mitologie met Jason en sy manne op pad na die goue vag, is beplanning en tydsberekening waarskynlik ook weer eens van die grootste belang. Daarby sou 'n mens seker ook met reg kon beweer dat die huidige altyd die beste tyd is om iets gedoen te kry. Al sou dit ook net wees om sommige en selfs ook net enkele persone bewus te maak van die dreigende en selfs versmorende gevare.

Die aard van die bedreiging

Met 'n bul van 'n biefstuk op die hardehoutkole, 'n stewige dop-en-dam of self al 'n 'scotch' met 'n donkerkleurige of swart etiket in die hand en die muurskerm-op-wiele staangemaak op die lapastoep, is dit uiters moeilik om gevare raak te sien en baie pretbederwend om daaroor te wil praat. So asof ons onsself nie eers 'n bietjie weelde en die vrug van vreemde arbeid waarvoor ons immers betaal, mag gun nie.

Sprekende voorbeelde van dié soort rustigheid straal uit die bydraes in Don't Panic van 2008 wat volgens die webblad 'Fig-Jam' weer sedert Des. 2013 aangevul word. Dankbaar oor die bemoedigende stories daarin tov Suid-Afrika, is daar ook ander wat vreemd voorkom en 'n allesinsluitende internasionalisme verkondig.

Terwyl ons rustig spog en soms ook kla oor duur klub- en visumgelde, kosmetiese chirurgie en mekaar met multimonoloë oor ons eie prestasies probeer troef, glo ons blykbaar dat die toekoms vir homself sal sorg.

Nog met my plooie en genadiglik redelik sonder 'n kitskos- en bierpens, word hiermee ook op die manne en vroue onder 60 en selfs onder 30 'n beroep gedoen om ook volgens húlle sieninge, aan 'n oorlewingsaksie mee te doen. Die toekoms behoort immers juis aan julle en julle kinders.

Ontkenning as skans

Die eerste wesenlike feit tov die bedreiging is dat dit ontken word en enige tromslaner of 'fluitjieblaser' in dié verband as 'n 'moaner' uitgekryt word of op sy beste as 'n pretbederwer. 'n Ander reaksie wat al beleef is, is dat mense hulle bloedig vererg. Waarskynlik omdat hulle deur verwysings na probleme, in hul kunsmatige gemaksone bedreig voel en dan verwoed en verward na 'n sigbare vyand soek om te beveg terwyl die eintlike gevaar so naby en wesenlik as die eie gesig in die spieël is. Deur materiële voorspoed het daar dikwels 'n maerte in die siel gekom wat hom op talle lewensterreine laat geld en selfs op die mens laat wreek.

Met die begrip 'Afrikanervolk' pertinent genoem, is dit veral dié volk se taal, leefwyse, godsdiens, maar ook fisiese voortbestaan wat nou ernstig bedreig word. In 'n vreemde en selfs vyandige vasteland en die globale gemeenskap van 'andersheid' sal dié volk hom uit die penarie waarin hy beland het - dikwels ook deur sy eie toedoen - menslik gesproke, self moet red. Dis te sê as hy gered wil word.

Ten einde perspektief hieroor te kry, is dit noodsaaklik om te probeer bepaal hoe dit gekom het dat die volk in die huidige situasie beland het. Een manier sou wees om bepaalde begrippe en verskynsels en die rol wat dit gespeel het van nader te bekyk. Voorbeelde is begrippe soos, nasionalisme, konserwatisme, die ekonomie, die media en dan ook apartheid as verskynsel en beleid.

Omdat 'Apartheid' nog steeds na 20 jaar van 'bevryding' meesal as totaal boos voorgehou word, is dit miskien wenslik om juis daarmee te begin.

Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 3498 gaste aanlyn