Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Vir die Christen is sy hele aardse lewe is 'n stryd van keuses maak tussen tydelike en ewige dinge. Die gevaar is dat ons gewoonlik voorkeur gee aan die tydelike ten koste van die ewige. Veral die gevaar dat ons ons huweliksmaats, ons kinders of ouers so oormatig kan liefhê grens dikwels aan afgodery. Natuurlik mag ons hulle liefhê maar dit moet 'n tweede plek in jou hart naas die Here beklee. Pasop dat ons liefde vir ons geliefdes nie jou lewe so insluk dat die Here tweede in jou lewe kom nie. Lees weer Lukas 14 vanaf vers 25.

DIE ALTERNATIEF (2)

T. M. Hart

'n STRATEGIE vir OORLEWING

‘Klink my tot kruik waarin u Gees
Weer water vir my volk sal wees’.

G.A. Watermeyer: Die Republiek van Duisend Jaar

Kopiereg © : T.M. Hart
Uitgewer: Tobie Hart
E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Eerste Druk: 2014 ISBN: 978-1-928202-13-4

Lees reeks by Die Alternatief

Gelofteland plaas met toestemming van skrywer hierdie werk in reeksvorm. Dit is ‘n eerlike en praktiese besinning oor aspekte van 'n strategie om in die veeleisende 21ste eeu te kan oorleef. Sake soos nasionalisme, die ekonomie, politiek, godsdiens, die media, apartheid en ander word onder die loep geneem. Ná deeglike navorsing het skrywer besin oor wat 'n alternatiewe en volhoubare Suid-Afrikaanse leefwyse sou kon wees. Al sou lesers nie noodwendig met elke sienswyse saamstem nie kan elke volksgenoot in vandag se Suid-Afrikaanse omstandige voordeel hieruit put.

2. APARTHEID as MODEL en later BELEID

Ten einde enigsins aan 'n bespreking van dié aard reg te laat geskied, is dit nodig om die veld verder af te baken.

Die 'Wortels van Apartheid'

Bewus van al die meer as gewone slaggate waarin 'n mens kan trap as jy – veral sonder om te verdoem – selfs net na Apartheid verwys, is dit waarskynlik die beste om eerlik en objektief te begin deur histories-teoreties daarna te kyk. Veral, in die lig van die nuwe openheid en die gees van 'ubuntu' waarin ons begin leer om te leef.

Dat selfs kundiges en erkende geleerdes dit waag, blyk uit 'n Rapport-artikel (23 Junie 2012) van prof Hermann Giliomee, waarin dié historikus versigtig-verkennend vra of Apartheid dan net boos was. Dat prof Giliomee hom steeds indringend met die soort vrae besig hou, blyk uit 'n byna komiese artikel 'Die wortels van Apartheid' (van waar die opskrif hierbo geleen is) in die elektroniese 'Rapport' van 20/21 Julie 2013. Saam met hom voel 'n mens dat die "bog om Apartheid met Nazisme te vergelyk" gerus nou kan end kry. Selfs en miskien veral as dit van geleerdes, asook leiers op akademiese gebied kom.

Die aanloop tot hierdie tweede storie was blykbaar die ontdekking van 'n 'metaalblikkie', met haar- en oogkleurmonsters van 75 jaar gelede (van voor 1940 dus al) wat blykbaar as 'bewys' beskou is dat US-dosente van toe, die 'intellektuele onderbou' sou verskaf het van wat later as Apartheid bekend sou staan. –Beslis nie sommer 'n gewone blikkie, dié blik-blikkie, nie. En dit alles waarskynlik bloot omdat die blikkie miskien (niks is blykbaar seker nie) aan Eugen Fischer (1874-1967), 'n eugenetiese wetenskaplike 'met moontlike Nazi-bande', behoort het.

In werklikheid lê die spore van 'apart wil wees' baie verder terug in die geskiedenis. Nie net Oud-Testamenties of Westers nie, maar ook in Suid-Afrika.- Soos wat Sybrand van Niekerk in Apartheid was nie sonde nie (sj) en die bekende P.J. (Piet) Cillié in Baanbrekers vir Vryheid (Tafelberg 1990) duidelik aandui.

Die handelsbelange en die gevolglike botsings tussen Engeland en van die ander Europese moondhede, kom 'n lang pad. In die moderne tyd, na die Europese 'Donker Middeleeue' het veral seilskiptegnologie dit moontlik gemaak om dit verder en verder van die eie huis en haard en ook verder van die land af, op die oop see te waag.

Dit sou onbillik wees om die Chinese en die 'Vikings' (of Wikinge?) die skuld vir Apartheid te gee, maar in 'n bepalende sin het baie (hoewel nie alles nie) van die moderne ekonomiese en staatkundige andersheid en selfs chaos, al by hulle begin. Die Chinese se bydrae was 'n primitiewe magnetiese kompas wat reeds in ongeveer 1050 in gebruik was, terwyl die Vikings ook al vroeg begin het om Wes-Europa se kusstreke te plunder. Nader aan ons eie tyd was daar natuurlik die Portugese en by name Dias (1488) en Da Gama (1497) wat om die 'Kaap van Storms' gevaar het en so ongekende latere storms ontketen het.

Die eintlike etniese of maatskaplike konflik het egter eers byna 200 jaar later begin toe eers Nederland en later Engeland hul spore in die Kaapse sand kom trap het. Of so sê die algemene en die ou 'skoolgeskiedenis', hoewel dit nie heeltemal waar is nie. Die Engelse was ook eerste in die Kaap. Voor of hoogstens in die jaar 1613 het hulle immers al met die Khoi-kaptein, Xhore, of dan Coree soos hulle hom genoem het, slaags geraak. Na seker 'n gedwonge verblyf gedurende 1613-14 in Engeland, word die einste Xhore, 'n ernstige kampvegter in 1615-20 teen die Engelse plan om Newgate-prisoniers uit Engeland in 'n Kaapse strafkolonie aan te hou. Hoewel nog nie regtig Apartheid soos dit later sou ontwikkel nie, wou Xhore, moontlik al vanweë 'n vae gevoel van nasionalisme(?), nie sonder meer sy deel van die Kaap met wie ookal deel nie. (Inligting oa uit SAHO en 'Autshumato' –Herrie die Strandloper; 'Geni' Internet)

Die uiteinde van die stukkie humoristiese konflik was dat Australië (waar daar seker toe nie meer 'Xhores' oor was nie) die New-gaters sou huisves – en moontlik selfs nou nog 'n sportiewe voordeel daarvan ervaar.

Dis lekker in die Kaap

Kort na Van Riebeeck se koms moes die arme Xhore en Herrie-se-mense, dit ontgeld toe hulle en ander sg 'tabakdiewe' deur die stoere Hollanders van die Kaapse strandgebiede af eenvoudig verder die Vlakte in, verskuif' is.

Tot op daardie stadium was die situasie dus soos volg: Engeland wou die Kaap met 'ongewenstes' bevolk, maar moes toe kopgee, terwyl die Hollanders 'n klompie jare later doodeenvoudig diesulkes verskuif het en so vir 'n latere 'Triomf' en selfs, nog erger, 'n 'Distrik Ses' die voorbeeld gestel het. Dié situasie het min of meer tot 1795 voortgeduur met Van Riebeeck se ou amandellaning waarskynlik die enigste grens tussen Europeër en nie-Europeër, terwyl nie-Europeërs onder andere as 'minnemoere' (kyk Giliomee: Die Afrikaners) of dan soogvroue, as slawe en werkers weerskante van dié grens in menige Hollandse en Franse huishoudings, algemeen in die Kaap voorgekom het.

Verder die binneland in waar veeboere hulle toenemend, hoofsaaklik agter weiding aan, gaan vestig het, was daar soms ander botsings. Na die noordweste se kant toe hoofsaaklik met rondtrekkende Sanmense en in die rigting van Swellendam en die Visrivier naas die Khoi later ook ander, gedugter, teenstanders. Die 'Kwaaimense' soos die Xhosa deur die Khoi genoem en as kwaai beskou is, omdat hulle nie die weiding, wat volgens khoigeloof aan almal gegee is om te benut, wou deel nie. Die eerste werklike 'rasse'- en veral kultuurkonflik in Suidelike Afrika het dus oor weiding en veral privaatbesit gegaan. In wese dus hoegenaamd nie anders as in enige ander wêrelddeel nie. Dink maar aan wat die Amerikaners en die Australiërs met hulle eie inheemse bevolkings gemaak het en die Portugese, Spanjaarde en ander Wes-Europeërs in Suid-Amerika, Afrika en elders probeer doen het.

Toe kom die Engelse

Ná die koms van die Engelse in 1795 het die grensbotsings oor die dowwe Oosgrens, die vorm van werklike grensoorloë aangeneem soos vanaf die sg 3de Grensoorlog (1799-1803) toenemend bewys is. Naas al die ander ooreenkomste, oorwinnings en neerlae wat verder noordwaarts en in die binneland sou voorkom, was daar darem ook 'n 'grens'. Ná die oosgrensbotsings van byna 'n eeu en wankelrige en tydelike vredes tussenin, sou 'n lyn vanaf die Keiskammarivier-monding na Keiskammahoek, Sterkstroom, Burgersdorp en Bethulie, noord van die Gariep, wat nog in geen ander Afrikataal (behalwe Afrikaans) 'n algemeen-erkende naam gekry het nie, as 'n algemeen histories-aanvaarde grens beskou kon word. Inderwaarheid het die destydse laaste gevegte in die stryd tussen Afrikaan en Europeër so ver noord as die Basheerivier en Elliot gewoed, maar met die Keiskamma as grens sou "British Kaffraria" en sir Harry se Hintza-fiasko ook besweer kon word. In terme van die oer-oue beginsel van oorwinning en neerlaag, het die gebied wes van so 'n grens histories immers nog net aan San, Khoi, Koks en 'Afrikane' van hoofsaaklik Europese herkoms behoort.

Interessant genoeg is die gebied wes van 'n lyn vanaf Kuruman naby die Botswanagrens, oor Kimberley, Aliwal-Noord en verder suid-oos in die rigting van Grahamstad, volgens die BEVOLKINGSENSUSATLAS VAN SUID-AFRIKA (1986), tot baie onlangs nog steeds deur hoofsaaklik afstammelinge van dié groepe bewoon en bewerk. Insgelyks is dit ook min of meer die oosgrens van die Noordkaap en verder suid die skeiding tussen die Wes- en Ooskaap met insluiting van 'Blok A' volgens 'n algemene 1994/95-padkaart van die 9 nuwe provinsies.

 In 'n wetenskaplike bydrae in Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag (2012) onder redaksie van Fransjohan Pretorius, het Giliomee dit oor "Apartheid: 'n Ander Blik" (p 429+). Half skaam lees 'n mens daarin dat "In 1961, toe die latere Amerikaanse president, Barack Obama, se ma met 'n swart man van Kenia in die huwelik wou tree, het 30 van die VSA se 52 deelstate sulke 'gemengde huwelike' (p 430) verbied. Selfs nog in 1971 het die staat Louisiana 'n wet deurgevoer wat bepaal dat 'n mens met net een swart voorouer uit 32 (dus verder terug as die spreekwoordelike "3e en 4e geslag") as swart geklassifiseer moet word." – Dr Pama, hier kom 'n ding. Selfs 'n lelike een as 'n mens dié reël self ook op van ons vooraanstaande swart mense van toepassing sou maak in die sin dat van hulle dalk só wit verklaar kan word. - En sommige wittes natuurlik ook swart. (Lg bygevoeg vir dié 'volksgenote' wat hulle daarin verlekker of 'skuldig' voel).

Dat vrae soos dié van Giliomee nou reeds gevra en tussen mynstakings en verwoesting op plase om hoër lone en rioolbetogings, geduld word, is veelseggend, maar beteken helaas, seker nog nie dat daar wyd en fundamenteel oor die toekoms besin word nie. Tog wil 'n mens nav die titel van 'n verdere boek van Giliomee reeds vra: "Die laaste Afrikanerleiers"? Seker darem net tov die 'ou bedeling', want anders sou dit immers hopelik erg voortydig wees. Of het die Afrikanervolk dan reeds opgehou om te wil bestaan? Selfs die afwesigheid van sigbare leiers, hef immers nie die inherente noodsaak daarvan op nie. Die vraag sou eerder kon wees: hoe kan 'n voortbestaan sinvol bedink en bewerk word.

Daarvoor is daar seker nog 'n hele paar 'kopskuiwe' (vreemde, maar bruikbare woord) nodig. Intussen verkneukel ons ons maar in onttrekkende-ontkenning ('denial') aan iets soos die bytend-ironiese gewese Nasionale Party se advertensie tydens die berugte 1992-referendum soos dit op 16 Maart in die Nasionale (Afrikaanse) pers verskyn het en waarvan 'n afdruk in 'Laaste Afrikanerleiers' opgeneem is.

As jy bang is vir meerderheidsregering stem "JA"

Wat na dié referendum gevolg het, is 'n droewige en skokkende verhaal, waaroor daar nog moeilik rustig objektiewe kommentaar gelewer kan word.

Veel meer sin is te put uit 'n evaluering van die aanloop tot die ontstaan (en aftakeling) van 'n stelsel wat eintlik in wese op selfbehoud gerig was. In sy boeke oor die Afrikaners, wat reeds begin is met: The Afrikaners, Biography of a people (Hurst & Company 2003) verwys Giliomee na die standpunte van enkele persone wat lig op die saak werp.

Historiese Standpunte tov Apartheid

Die eerste is John David Rheinallt-Jones (1884-1953), 'n vroeëre sekretaris en direkteur van die "South African Institute of Race Relations", wat reeds in 1929 gestig is as 'n sosio-ekonomiese navorsingsinstituut. Volgens Giliomee in The Afrikaners, het Rheinallt-Jones op 14 Julie 1949 verklaar dat hy in beginsel niks verkeerd met Apartheid kan vind nie. Hy sou selfs groot of totale Apartheid kon steun indien voldoende grond vir 'natives' beskikbaar gestel sou word en genoeg kapitaal bestee word om gepaste, of voldoende ('proper') ekonomiese ontwikkeling moontlik te maak. Daarmee saam moes daar ook 'n 'free government' in die swart gebiede wees en 'n 'fixed proportion of the whites national income' (p 483) aan die ontwikkeling van dié gebiede bestee word. Hoewel seker nie 'n weeldebelasting nie, klink dié eise nie onbekend nie en wonder 'n mens wat dié Wallieser presies in gedagte sou gehad het. Sou hy miskien self toe al aan iets soos 'n tuislandbeleid gedink het?

'n Ander persoon, waarna Giliomee verwys, is die bekende en destydse NG Kerk-professor van Stellenbosch, G.B.A. Gerdener, wat kort voor 'n kerkvergadering (sinode) in 1950 sou geskryf het dat hy nie van die woord Apartheid hou nie omdat dit 'n statiese toestand veronderstel. Hy sou blykbaar meer dinamika en beweging wou sien, (sou hy dalk iets soos "selfstandige ontwikkeling" in gedagte gehad het?) maar erken nogtans dat in die gesamentlike vaderland skeiding eerder as integrasie daartoe sou lei dat elke bevolkingsgroep se bydrae gewaarborg kan word.

Hoewel 'n bietjie wollerig oa vanweë 'our common fatherland' dui sy standpunt ook in die rigting van gebiedskeiding en was dit blykbaar in ooreenstemming met die kerk se standpunt van totale skeiding en selfs die totale uitskakeling van Afrikane "from white industrial life".

Apartheid: Beleid van NP-regering?

Dat sulke ingrypende Apartheidsmaatreëls egter nie sonder meer aanvaar was nie, blyk uit 'n verklaring van Eerste Minister D.F. Malan in 1949 dat hoewel dit die ideale toestand sou wees, totale Apartheid blykbaar tog nie regeringsbeleid was nie. 'n Jaar later sou die premier volgens Giliomee (uit Hansard aangehaal) onomwonde verklaar: "The Afrikaans churches' policy of total separation is not the policy of the Nationalist Party" – Dié keer was die NG Kerk dus blykbaar nie die 'NP-in-gebed' soos dikwels kwaadwillig beweer is nie en wonder 'n mens wat presies dan op daardie stadium NP-beleid sou gewees het. Het hulle/ons toe al die 'ekonomiese toets' gedop?

Die aanstelling van die Tomlinsonkommissie (1950) is nietemin 'n aanduiding dat die destydse regering ook na 'n moontlik werkbare beleid en meer duidelikheid gesoek het.

Ander teoloë wat destyds ook bydraes gelewer het en waarna Giliomee verwys, was Ben Marais in 1952 en Bennie Keet, vier jaar later. Giliomee verwys na Marais se bevraagtekening van Apartheid op Bybelse gronde en verwys dan na sy standpunt, gebaseer op die Brasiliaanse en Amerikaanse situasie. Marais se bevinding kom daarop neer dat totale gebiedskeiding en daarmee saam ekonomiese ontknoping, die enigste oplossing sou wees. Hy betwyfel egter of die blankes die wil sou hê om dit te doen en waarsku dat daar geen ander eerbare wyse sou wees waarvolgens 'ons as Christene en demokrate, politieke en ander regte op die lange duur aan almal sou kon ontsê nie’.

'n Kunstenaar-filosoof se siening

'n Interessante standpunt wat hierby aansluit is dié van die groot Afrikaanse digter-filosoof N.P. van Wyk Louw. Volgens sy bekende Versamelde Prosa 2 (Naspers 1986) kom hy (in navolging van Ben Marais?) in 'n praatjie oor Radio Nederland op 17 Okt 1956 waarin hy na die Tomlinsonverslag verwys, tot 'n baie duidelike gevolgtrekking.

Versigtig, huiwerend selfs, verklaar Van Wyk Louw dat met dié verslag daar 'n "skrefie lig gekom het en dat wat eties juis is, as die goeie wil daar is, ook nie ekonomies onmoontlik sou wees nie". Na mate die Afrikaner begin besef "watter groot taak... ‘n taak byna te groot vir ons kragte … aan ons opgedwing is deur die saamwees van Wit en Swart in Suid-Afrika" is dit vir hom duidelik dat "geen oplossing deur die wêreld of deur ons eie gewete aanvaar sal word wat nie uiteindelik volkome vryheid aan albei, Wit en Swart bied nie". Die enigste (hoewel radikale) geneeswyse is volgens hom uiteindelik billike gebiedskeiding wat volkome vryheid vir almal waarborg... "iets wat selfs ons kwaaiste teenstanders as ten minste eties juis erken." (Beklemtoning TH)

Vandat ons ampervolkie kwaadwillig - veral as 'n mens die terme noukeurig weeg - en totaal onwetenskaplik en onnodig in opponerende kampe van 'verlig' en 'verkramp' gejaag is, het baie 'geïllumineerdes' dikwels N.P. van Wyk Louw en ander woordkunstenaars vir hulle eie doel misbruik. Selfs die bytende 'Pluimsaad'-herrie waarby selfs ook Verwoerd ongelukkig, hoewel verskoonbaar, betrokke was, was totaal onnodig en is dikwels polities-kultureel uit verband geruk. Maar toe was die skrif vir Verwoerd in elk geval, seker al aan die muur.

Keet (aangehaal deur Giliomee) probeer die saak van die ander kant af bekyk. Hy waarsku dat hoewel dit Blankes is wat Apartheid voorstaan, dit eintlik die 'Nieblankes' sou wees wat die meeste moet opoffer en ontbeer. Hy bevraagteken ook sosiale en ekonomiese Apartheid en waarsku teen die ontwrigting wat trek-arbeid op gesinne van werkers sou hê. Aan die ander kant sou 'eie-arbeid' (hoewel die term nie gebruik is nie) ook 'n negatiewe uitwerking op 'Nieblankes' hê. Dus iets van 'n halfdosyn van die een en ses van die ander, waarmee 'n volk of 'n land nie ver kan kom nie.

Giliomee se eie siening van Apartheid as 'n "flexible ideology for Afrikaner nationalism", ('Afrikaners' p 482), onderstreep die dilemma waarin nie net die Afrikaner nie, maar ook die Blanke in die algemeen beland het.

Na 300 jaar se steun op vreemde arbeid en met wêreldwye voorbeelde van hoe so 'n situasie kan werk, was daar nie werklike rede om prinsipieel oor die saak te besin nie. Materiële welvaart het die uitbuiting, waar dit wel voorgekom het, laat voortgaan en selfs laat toeneem en regverdiging (soos die van Keet) laat vind waarom die status quo gehandhaaf moes word. Waarskynlik het die regering se latere uitgesproke strewe na 'n eie onafhanklike republiek die aandag enigsins afgetrek van die dwingender vrae oor die toekoms en het ons almal maar materialisties-egoïsties voortgestu.

Interne Struikelblokke

Sedert 1958 met dr H.F. Verwoerd as Eerste Minister en veral na republiekwording in 1961, het 'totale Apartheid' soos oa beliggaam in die tuislandbeleid, momentum gekry. Veral twee sake het egter spoedig die sagte pensvel van dié stelsel blootgelê. Eerstens was daar die ander Nie-blanke, maar ook Nie-bantoegroepe wat waarskynlik nie maklik of prakties in historiese tuislande geakkommodeer sou kon word nie. In veral die Weskaap en Natal (met sy verwoestende Cato Manor-moorde) sou dié groepe waarskynlik graag deur 'n vorm van apartheid hul eie eiesoortigheid wou beskerm teen veral 'n kultuurvreemdheid en getalle-oorwig. Skynbaar is hulle egter nooit die kans gegun nie, maar eerder deur omstandighede en kortsigtigheid juis van 'n meer Westerse oriëntering weggedryf. Waarskynlik het die latere vyandigheid van dié groepe teen Apartheid juis daar beslag gekry.

Die tweede saak wat totale gebiedskeiding en selfstandige ontwikkeling geknou het, was egoïsme, materialisme en gierigheid. Hierdie manifestasies van die mens se primêre menslikheid en onvermoë om te leef en te laat leef en die Christelike beginsel van liefde tot die self en die medemens, uit te leef, het die Europeër, ook in Suid-Afrika, wreed gepootjie. Elders, waar die getalle in sy guns was en hy kon uitroei of verdryf en minder of geensins in 'n aparte kultuur-entiteit met 'n eie taal ontwikkel het, is hy nie ernstig verwyt en teëgegaan nie. In dié gebiede het hy homself ook nie verwyt as hy selfs sou moor en plunder nie. Ten opsigte van Suid-Afrika sou 'n strewe na selfbehoud, later egter totaal afgekeur word.

Juis toe die Afrikaner waarskynlik op die punt was om die skadukant van sy beleid, te hervorm en selfs tot sy eie ekonomiese nadeel plek-plek te laat vaar, is hy deur 'n sluipmoord in die wiele gery en het die groot aftakeling

begin. Waarskynlik het eerlike en selfs geregverdige simpatie en moontlik ook empatie met die 'onderdruktes' ook 'n rol gespeel, maar dat dit tot 'n sluipmoord sou lei, is te betwyfel.

Hoe 'n mens ookal daarna kyk, bly iets soortgelyk aan die Kennedymoord en verskeie 'olie-oorloë' in latere jare in jou gedagte steek. Bewus van allerlei teorieë oor mafia-agtige aksies om beheer te kry en te behou, kan 'n mens egter nie sonder meer gevolgtrekkings maak nie.

'n Verdere sekere doodskoot vir die nywerheidsontwikkeling in die tuislande was die "Yes Baas"-mentaliteit. Sommige 'stoere Boere' het daarmee te koop geloop in die ou Transvaal hoe hulle alle moontlike regeringsubsidies vir die vestiging van grensnywerhede benut het en selfs fabrieke opgerig het (wat dikwels leeg gebly het of as stoorplek gebruik is) terwyl hul luukse motors met YB-registrasies steeds veral in gegoede blanke woongebiede gehou is. - So het van dié mense selfs twee 'regte adresse' gehad.

Of die internasionale wêreld dit wil erken of nie, was en is die voortbestaan van kleinere volke en aparte kulture nie 'n bedreiging van die sg wêreldvrede nie. Wat nou veral 'n wesenlike bedreiging word, is die wrede egoïsme van internasionale koöperasies en selfs gewone individue wat volgens die eeue-oue model roof en plunder en oproer trotseer (of beheer?) om goedkoop grondstowwe en arbeid te bekom en so steeds meer wins te maak.

Kleinere 'aparthede' staan skynbaar lynreg in die pad van internasionale korporasies met oa hul 'sweat shop'-slawerny na wie se pype blykbaar selfs 'demokratiese' regerings dans. Deur die beheer van oa die media, word gesindhede geskep en verskillende groepe in selfvernietigende konflikte gedompel waaruit slegs die korporasies as die oorwinnaars tree. John Perkins se boeke: Confessions of an Economic Hit Man, (2004), The Secret History of The American Empire (2007) en Hoodwinked, (2009) spel dié situasie duidelik uit, terwyl talle internet-artikels ook sg 'terroriste'-aanvalle erg afskaal.

Of 'n mens Perkins kan glo, is natuurlik 'n ope vraag. Totdat jy van Greg Palast verneem het. In beslis een van die treffendste stukkies joernalistieke 'modderbotter' (dis slegsê én prys) wat ek in 'n lang tyd gelees het, beskryf dié woord-ghuru Perkins as a "super-slick lying little butthole … for corporate gangsters; a snake-oil saleman with…. a crooked calculator and a tooled leather briefcase full of high-blown bullshit" (Greg Palast, Internet). Later in die artikel noem hy Perkins 'n moderne dr Faust wat vergifnis ontvang deur sy belydenis en so sy siel 'only a little soiled' van die duiwel teruggekry het. Deesdae is die twee blykbaar kollegas. Of dit ook in die beoefening van 'shape shifting' is, word nie vermeld nie.

In alle billikheid moet egter ook genoem word dat Palast 'n gesiene vryskutjoernalis is wat vir die BBC en 'The Observer' skryf en video's maak. In sy BBC-bydraes het hy ook al 'n Bush bygekom en skynbaar ook Amerikaanse en Meksikaanse verkiesingsbedrog oopgekrap. Sy Armed Madhouse (2006) klink na 'n boek wat waarskynlik met vrug gelees kan word.

Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 3506 gaste aanlyn