Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Om afskeid te neem is dalk die moeilikste opdrag wat die mens voortdurend moet verwerk solank hy hier op aarde leef. Afskeid van geliefde mense sê: aanvaar die pyn en groei daardeur sonder om van binne te sterf en hou 'n dankbare herinnering oor om verder mee te leef sodat jy vir ander mense weer meer kan beteken.

DIE ALTERNATIEF (6)

T. M. Hart

'n STRATEGIE vir OORLEWING

‘Klink my tot kruik waarin u Gees
Weer water vir my volk sal wees’.

G.A. Watermeyer: Die Republiek van Duisend Jaar

Kopiereg © : T.M. Hart
Uitgewer: Tobie Hart
E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Eerste Druk: 2014 ISBN: 978-1-928202-13-4

Lees reeks by Die Alternatief

Gelofteland plaas met toestemming van skrywer hierdie werk in reeksvorm. Dit is ‘n eerlike en praktiese besinning oor aspekte van 'n strategie om in die veeleisende 21ste eeu te kan oorleef. Sake soos nasionalisme, die ekonomie, politiek, godsdiens, die media, apartheid en ander word onder die loep geneem. Ná deeglike navorsing het skrywer besin oor wat 'n alternatiewe en volhoubare Suid-Afrikaanse leefwyse sou kon wees. Al sou lesers nie noodwendig met elke sienswyse saamstem nie kan elke volksgenoot in vandag se Suid-Afrikaanse omstandige hierby baat.

6. NUUS, REKLAME en PROPAGANDA

Hoe ookal beskou, bly nuus, reklame en propaganda en die hantering daarvan, een van die vernufstigste hefbome waarmee aksie en reaksie bewerkstellig word. In die 'verkeerde hande' is dié spreekwoordelike pen inderdaad magtiger as die swaard.

Die meeste bronne is dit eens dat, Sigmund Freud se neef, Edward Bernays, (1891-1995) as die vader van moderne Openbare Skakelwerk, verderaan afgekort tot OS in navolging van die Engels-Amerikaanse en selfs Nederlandse ('PR=Public Relations'), beskou kan word. Volgens sommige was Bernays nie die eerste of enigste nie, en word die name van Ivy Lee (1877-1934) en Ernest Dichter (1907-1991) ook in die verband genoem.

Waaroor daar wel algemene eenstemmigheid is, is dat hierdie nuwe geestesdissipline, nl OS, 'n wye en daarby ook 'n ingrypende invloed op die moderne samelewing uitoefen. In 'n sekere sin kan dit selfs as die knooppunt van die drie komponente hierbo genoem, beskou word. Een van die mees verwoestende aksies in die verband is seker die moderne idee van 'building the brand' waar 'n handelsmerk, produk, konglomoraat, politieke konsep, en selfs leefwyse, voortdurend deur woord, klank en beeld beklemtoon en so bevestig word. Met hierdie ontwikkeling in gedagte, is selfs die nuus van die dag, dikwels ook nie meer nuus nie, maar eerder 'n vorm van propaganda.

Die definisie van wat nuus is, is so skokkend-eenvoudig dat 'n mens dit maklik by jou laat verbygaan. In haas alle Europese tale bevat die moderne begrip iets van wat 'nuut' is, 'n "novelty" of iets wat nou, "now", of "nu" gebeur het. Seker kort nadat wette en wetenswaardighede deur 'n roeper in die strate letterlik uitgeroep is, is 'nuus' ook op klip-, klei- en in China selfs sy-plakkate vertoon om die mense bewus te maak van wat hulle moes weet en van dinge wat hulle miskien ook graag sou wou weet. Later het koerante en joernale gevolg en het die ambag van die joernalis ontstaan.

Nuus en Sensasie

By die betekenis van nuus as iets wat nog nie bekend is nie, dus onlangs gebeur of bekend geword het en wat 'n mens veral interessant sal vind, het iets anders ook gaandeweg 'n rol begin speel. Naas die noodsaaklike en die wetenswaardige het die sensasionele en selfs irrasionele al hoe belangriker geword en het die lesende publieke so behae gevind in wat vir hulle aangebied is, dat 'n totaal nuwe of bykomende vorm van wat as nuus beskou kan word, ontstaan het.

In die moderne tyd word veral die sensasionele sentraal gestel. Dink maar aan die bekende 'hond byt man' teenoor 'man byt hond'. 'n Ware storie uit eie ervaring is dié van die joernalistiekstudent wat na nagdiens by 'n koerant, vroegoggend oppad huistoe op 'n ongelukstoneel afkom. Toe sy van omstanders verneem dat die man nie dood is nie, was haar ietwat, volgens haarself, ongevoelige antwoord: "Aag, dan is dit nie nuus nie".

Die ander algemene kenmerk van wat nuus is, nl dat dit belangrik moet wees, bring baie ander aspekte na vore soos: belangrik vir wie, vir wie almal, en hoe belangrik tov ander nuuswaardige gebeure. Veral vir die 'sub' in die ou gedrukte media, wat tussen bv koerantbeleid, adverteerdersbelang en die algemene publiek, moes kies, het dit dikwels 'n probleem geskep. Gelukkig is joernaliste oor die algemeen redelike en selfs hoogs-intelligente mense, wat meesal die hoë stresvlakke wat die beroep ontketen, oorleef. Daarby is hulle dikwels ook ekstreem in hul optimisme wat na vore kom in hul ingesteldheid, soms noodgedwonge aangeleer, om iets aan te gryp of totaal te verwerp. By wyse van spreek sou 'n mens kon sê: grys is selde nuus, maar swart of wit – en veral teenoor mekaar gestel, meesal wel.

Gekamoefleer in die altruïstiese opvatting van om mense in te lig, is dit 'n kortpad na om inligting of nuus, selektief en dan selfs ook gekleurd aan te bied. In die dae voor video- en selfoonkameras - en nou is dit selfs makliker - is die bywoning van politieke vergaderings bv gewoonlik erg selektief geskat om steun vir die bepaalde party meer of minder te maak. Daarby is persfoto's ook gewoonlik uit die mees vleiende of onvleiende hoek van sprekers geneem om die lesers 'in te lig' oor hierdie of daardie persoon.

Hoewel moontlik onnodig subjektief om die aanbieding van nuus sonder meer as propaganda te beskou, vervaag die grens dikwels ernstig wanneer daar meer as 'hond byt man' op die spel is. Vrae soos waar, wanneer, waarom is immers juis die handelsmerk van wat nuus is en dit sou seker onbillik wees om dit ook tov die hond of die man, nie te vra nie.

Namate die vereiste om in te lig, ook die aspek van om voor te lig, bygekry het, het begrippe soos nuuswaardigheid en voorkeur ook 'n rol begin speel. Dit het meegebring dat nuus nie net aangebied is soos dit gebeur het nie, maar is die spreekwoordelike man of die hond en selfs die byt so belig, dat 'n vooropgestelde doel daarmee bereik kon word. Van onskuldige sensasie soos waar is die man gebyt, tot dié soort mans byt graag honde, tot honde wat die of daardie soort kos gevoer word, byt gereeld/nooit die of daardie soort man nie.

Deur die jare het die veeleisende nuusbedryf ook ingrypend verander. Deesdae is die joernalis (die mens is darem nog nodig) en 'n selfoon met 'n kamera en 'n gewone sleutel- of tikbord, 'n gedugte kombinasie. Vanaf haas enige plek of vanuit enige situasie kan so 'n kombinasie, woord- en beeldkopie skep wat deur 'n immer onversadigde media opgeslurp sal word. Met 'tweets' en 'twitters' ingeklits, kan letterlik miljoene, soos alreeds bewys, binne ure inligting of nuus wêreldwyd bekom en met ander deel.

Een van wat 'n mens die meer etiese vorme van manipulasie van die nuushonger publiek kan noem, is die sg nuusvrystellings en nuuskonferensies. Gedurende sulke sessies word dikwels met groot omsigtigheid inligting oor 'n bepaalde saak, gebeure, produk, toekomsplanne en selfs 'n politieke beleid bekendgemaak aan die hand van 'n geskrewe dokument sodat almal wat belangstel gesamentlik en gelyktydig oor die ware feite beskik. Omdat almal nie alles eerstehands kan hoor of sien of selfs kan verstaan nie, moet die inligting ongelukkig ook eers verwerk en in dié vorm gepubliseer word.

Kopie en reklame

Dikwels is dit net daar waar dinge soms erg on-eties en vertroebel raak en nuus ook maklik reklame en selfs propaganda word. 'n Voorbeeld hiervan sou wees die nugtere aankondiging van bv sportspanne wat op 'n bepaalde tyd en plek teen mekaar gaan meeding. Indien die berig verdere mededelings bevat van die kwaai stryd wat verwag word en dat selfs fisiese botsings tussen mededingers nie uitgesluit is nie, of hoe vol die pawiljoene gaan wees, is die grens reeds oorskry en is dit eerder 'n gratis advertensie. 'n Werklike voorbeeld hiervan is die volgende.

'n Vooraanstaande koerant wat normaalweg nie te geel of pienk is nie, het êrens in 2011 'n hele voorblad – aksiefoto's en al - gewy aan die lakenkaperjolle van, of eerder rondom, 'n redelike vooraanstaande sportpersoonlikheid en dié se naby-skakels. Vir 'n toe nog gereelde leser was die tydsberekening 'n bietjie uit omdat die smeerberigte, waarheid of nie, reeds in omloop was en klaarblyklik geen nuwe 'feite' in die betrokke berig genoem is nie. Met 'n effense verroeste nuushond-instink, maar tog 'n gesonde agterdog, het die waarheid later oor hom gedaal. Regs onder aan die einde van die professionele en gebalanseerde voorblad (bladuitleg is skeppende werk) het die onderrok lelik uitgehang, in die vorm van 'n kort saaklike mededeling: So-en-so se boek verskyn binnekort by die eie-stalse uitgewers. Effens naar oor die - sou 'n mens dit moontlik verkragting of uitbuiting van 'nuus' vir eie of groepsvoordeel kon noem - is die produk toe maar daarna liewer, hoewel, toegegee tydelik, vermy. Die boek is egter nooit gekoop nie.

Waar nuus maklik en selfs gereeld ook reklame en propaganda word, is laasgenoemde twee begrippe nog moeiliker van mekaar te skei en selfs te onderskei. In die moderne opset pas die twee begrippe ook in by wat bekend geword het as openbare skakelwerk of 'public relations' waarna reeds verwys is en as aparte studieveld van kommunikasiekunde funksioneer. Reklame of advertensie (wat soms as uitruilbegrippe gebruik word), is egter ook nie altyd so tuis in die rustiger geselskap van skakelwerk nie.

Omdat dit egter in die praktyk nou daarmee verweef is en uit die sielkunde-benadering van Freud en die aksies van Bernays voortvloei, is dit nodig om tog tov veral reklame en advertensie daarna te verwys. Aan die hand van verskillende bronne wil dit egter voorkom asof OS as sosiale wetenskap, 'n eie onafhanklikheid gehandhaaf kry en word dit bloot tov die meer militante vorme daarvan wat eerder naakte propaganda vir bepaalde konsepte is, hier betrek.

Die Stert wat die Hond swaai

Reklame, waarby die begrip advertensies ingesluit is, word primêr aangewend om vebruikersgedrag te beïnvloed. Omdat dit daarop ingestel is om voortdurend verhoogde verbruik te stimuleer, is dit soos 'n hond wat sy eie stert jaag. Eenmaal geaktiveer is daar geen keer aan nie en jaag die aksie voort totdat iets of iemand (bv die bankrot-geleende verbruiker) inplof en dié dan weer oorgehaal of verlei moet word om weer verder mee te doen.

Hoewel elkeen van ons soms iets moet adverteer en probeer verkoop, al is dit ook net om knellende opgehoopte skuld te betaal, is die voortdurende aansporing om eerder hierdie of daardie nuwer produk te koop 'n selfvernietigende aksie indien dit nie met oorleg, integriteit, verantwoordelikheid en goeie smaak gedoen word nie.

Met die een 'verouderde' produk na die ander in die vorteks (draaikolk klink te sag) van voortrollende vernuwing ingesuig, word alhoemeer produkte onnodig vervaardig en ons enigste aarde so, stelselmatig, vernietig. Vir geleidelike beïnvloeding en oorreding is daar sekerlik, 'in diens van die publiek', altyd plek, maar oordonderende advertensies wat tot oombliklike aksie opsweep, moet lief vermy word.

Die impak wat advertensies en die verkoop van advertensietyd op die verbruiker en die media het, is enorm. In ons moderne geblikte samelewing is daar haas niks wat nie gadverteer word nie. Die motivering daaragter is byna uitsluitlik met die oog op geld en telkens weer meer geld. Uitsaaityd en koerantspasie word sodoende toenemend deur reklame van die een of ander aard opgeneem. Dat adverteerders op die ou end ook beleid sal bepaal, is seker nie uitgesluit nie.

Die inskryf van rolle in sepies vir hierdie of daardie persoonlikheid en die besoeke aan of onderhoude met kundiges, skrywers en kunstenaars is ook nie altyd los te maak van advertensie en reklame nie en word dikwels, vroeër of later aan die koop van 'n poduk of 'n professionele diens gebind. Selfverrykers met kitsoplossings vir haas enigiets en kitsresepte en videos op internet is meesterlik in dié moderne kulkuns.

Plaaslike advertensies van pille "wat nie medisyne is nie" en dus nie streng beheer word nie, en sg gesondheidsmiddels, vir enige kwaal onder die son, is blykbaar dawerend suksesvol. Hoewel 'n alles-slukkende publiek natuurlik ook skuld het, is die gewildheid van die alfa en veral omega-bevattende wonderkure iets om te aanskou. Dit is selfs soms hartverskeurend om veral skuifelende seniors in konglomeraatwinkels te sien saamdrom. Skynbaar in een groot en uitmergelende poging om selfs net een el, tydsgewys, by hul lewe te probeer byvoeg. – En dit ten spyte daarvan dat dit nie sonder meer aanvaar kan word dat die poeiers en pille en veral duur kapsules enigsins help nie.

Byna terloops is by die volgende op 'WebMD' uitgekom. Volgens 'n artikel deur ene Goran Bjelakovic, MD, DrMedSci en Christian Gluud, met dieselfde indrukwekkende kwalifikasies, en ander kollegas, kan die gebruik van voedsel-aanvullers wat oa Beta-Carotene en Vit. E en A bevat, 'n persoon se sterf-risiko verhoog.

Nadat hul toetsresultate skynbaar deur 'n portuurgroep of ander instansie bevraagteken is, is die saak hersien. Ipv die resultate van die 68 groepe waarby byna 'n kwartmiljoen persone betrokke was, het die navorsers op slegs 47 groepe met "low bias risks" en met 'n totaal van net ongeveer 181 000 mense gekonsentreer. Selfs die gesuiwerde groep het, na bewering, nog tov sekere bestanddele (oa Vit. A.) 'n verhoogde sterf-risiko van tot 16% geregistreer. In harde syfers beteken dit dat byna 30 000 van dié mense vanweë die gebruik van die wondermiddels wat soms op lagwekkende wyse opgehemel word, vroeër as andersins, gesterf het of kon sterf.

Billiksheidshalwe moet 'n mens darem ook in die verband verwys na die standpunt van 'n voedselkundige, ene Andrew Shao, PhD, vise-president van 'n 'Council for Responsible Nutrition' (is die 'responsible' al nodig?) wat die bevindinge van Bjelakovic en Gluud bevraagteken. Die verwysing in die 'WebMD'-artikel is egter veelseggend. Daarvolgens sou Shao dit so gestel het: "Consumers can feel confident… they can continue to take (the supplements) knowing they provide the same benefits" – Wat die 'benefits' sou wees, word egter nie uitgespel nie. – Maar dit terloops. In hoofsaak gaan dit immers hier bloot oor die wyer waarde of nadele van advertensie en reklame.

Die enkele massiewe terrein, naas die gesondheidsbedryf, waarop rou manipulasie dikwels die kluts totaal kwyt raak, is die sinlik-seksuele. Nie heeltemal verstok nie en steeds met groot waardering vir vroulike skoonheid en wat daarmee gepaard gaan, staan 'n mens tog dikwels verstom by die aanskoue van die uitbuitende en degraderende aanbieding van die menslike en veral vroulike liggaam. Bloot ter wille van sensasie en prikkeling, maar veral ook om iets vanaf 'n hoenderborsie tot 'n motor of 'n knyptang te adverteer. Met Hollywood vooraan en nou ook verwilderend vertak deur die internet, is niks meer snaaks of taboe nie. Die gevaar bestaan selfs al dat geïndoseerde impotensie en algemene kilheid skrikwekkend kan toeneem. As die regte mense as gevolg daarvan by hul poeiers en pille sou kon bly, mag dit selfs die wêreldbevolking in toom hou. Oplaas dus dalk tog 'n positiewe uitkoms agv uitbuiting van iets wat so totaal anders bedoel was.

Skakelwerk as bedryf

In 'n Net-artikel (alweer Wikipedia) is daar nogal heelwat interessanthede te lese oor OS as sodanig. Interessant genoeg, veral in moderne' Nederlands waarin gewoon na 'Publieke Relasies' of dan kortweg, PR. verwys word. Ongelukkig is sekere I.P.-('Intellectual Properties') kwessies, anders as wat 'n mens van Wikipedia gewoond begin raak het, hier skynbaar ook bedrywig en moet 'n mens maar liefs volstaan met frases soos 'stelselmatig bevorderen van het wederzijds begrip, interne en externe communikatie om te informeren of te beinvloeden met behulp van tekst, advertenties, publiciteit, promosies', en dan ook nog 'speciale gebeurtenisse'. 'n Endjie verder volg dan: "Aan de andere kant heeft pr ook een signaalfuntcie om trents en issues uit de buitewereld op te merken en ernaar te handelen." – Oor die algemeen nie juis I.P.-waardig nie, maar tog nogal 'interesting' vanweë die besondere taal en woordgebruik wat nouliks nog as Diets beskryf kan word. -Die Nederlanders se stryd is voorwaar nie net teen fisiese water wat dreig om oor hulle te spoel nie.

Die darem nog, sover ek so vinnig kon vasstel, aanvanklike 'oop' artikel, vertel hoe die pr-aksies in organisasies en buro's met betaling vir hul 'expertise' te werk gaan om (ryk en invloedryke) mense en of instansies en hul belange, in of ook buite die 'publieke belangstelling' te hou. Kort hierna neem IP-belange in tipiese pr-gesindheid oor. Gelukkig darem met 'n verwysing na Edward Bernays waarvan 'n mens darem al elders ook gehoor het.

Die vader van misleiding via die media

Edward Bernays is inderdaad 'n merkwaardige mens, na wie soms ook as die 'father of spin' verwys word en oor wie selfs 'n video bestaan, getitel: "Edward Bernays and the Art of Public Manipulation". In 'n leeftyd van meer as 'n honderd jaar is dit darem seker ook te verstane. As vader van OS en propaganda – en miskien selfs van die moderne gedrukte en elektronies-verspreide 'gekleurde waarhede', is manipulasie seker nie uitgesluit nie. Soos oa Keynes is Bernays ook as een van die honderd invloedrykste Amerikaners van die 20ste eeu vereer. In sy geval deur Life Magazine.

Gebore in Wene, Oostenryk as seun van Anna, Freud se suster en Eli, broer van Freud se vrou, Martha, word hy argitek, maar verkies toe eerder die joernalistiek. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914-18) bevind hy hom in die inligtingsafdeling van die Amerikaanse president, Woodrow Wilson, se administrasie.

 

Die afdeling se hooftaak was om Amerika se toetrede tot die oorlog vir die publiek aanvaarbaar te maak. Die veldtog onder die vaandel van die 'demokrasie vir die hele Europa' was baie suksesvol. Na die vredeskonferensie in 1919 in Parys, wat Bernays ook bywoon, bly hy hom verwonder aan die sukses en die gemak waarmee die oorredingswerk gedoen is en begin hy dink aan die moontlikheid om ook in vredestyd mense so te beïnvloed. Waarskynlik het die boek van Wilfred Trotter: Instincts of the Herd in Peace and War (1916) as verdere aansporing gedien en kon hy sy idees tov die gedrag van 'n massa en veral van hoe om sodanige gedrag te verander of te manipuleer, verder ontwikkel. In 1928 word sy eie boek, Propaganda, gepubliseer waarin sy sieninge soms kru gestel word.

Reeds vroeg in die boek is dit duidelik waarheen Bernays op pad is as hy (vry vertaal) beweer: 'die doelbewuste en intelligente manipulasie van die gewoontes en opinies van die massa, is 'n belangrike element in 'n demokratiese samelewing'.

 

Hieruit volg dan dat hoewel enige persoon in bv 'n verkiesing sy eie keuse kan uitoefen, die werklike seggingskap of politieke beheer, in die hande van onsigbare 'agente' ('governors') setel.

Eintlik kan dit nie anders in 'n stelsel van sentrale beheer wees nie, want om enigsins te kan funksioneer, moet die opinies en wense van verskeie enkelinge deur wat genoem word konsensus, saamgevoeg word tot 'n gesamentlike 'demokratiese' besluit wat alle betrokkenes, min of meer tevrede stel. In so 'n gewone demokratiese bestel, beweeg die hele proses op 'n natuurlike wyse van meer na minder tot waar selfs 'n enkele leier. namens 'n groep, volk of samelewing, 'n finale besluit neem.

'n Totale boosheid ontstaan egter as die proses omgekeer word en die massa, polities of ekonomies, met 'n beleid, standpunt of produk gekonfronteer word en deur nuus, reklame of rou propaganda, gemanipuleer word om dit te aanvaar. Op die alledaagse gebied van die handel is sukses toenemend afhanklik van die beïnvloeding van die massa om bv 'n bepaalde produk te verkies en by herhaling te gebruik.

Om dit te bewerk, word wat gewoonweg reklame genoem word, ingespan.

Stompies vir Vryheid

In die proses om mense te oorreed om bepaalde aksies te neem, word haas geen grense erken of taboes gerespekteer nie. Vroeg in sy loopbaan reeds het Bernays bv vroue geleer om te rook. Deur hollywoodmodelle in 'n veldtog vir 'n bepaalde sigaretmaatskappy te gebruik, het hy probeer om die ander helfte van die bevolking te leer dat rook, ook en miskien veral in die openbaar, die 'inding' is en daardeur - hoe anders – uitstekend daarin geslaag om so die 'swakkere vat' in dié se opmars na 'gelyke regte' totaal te begogel. En dit teen 'n sosiale agtergrond waarin so iets aanvanklik as totaal uit die bose beskou is.

Voorheen en veral rondom die eeuwending, is rokende vroue geassosieer met prostitute en in 1904 is ene Jennie Lasher na bewering vir 30 dae tronk toe gestuur omdat sy voor haar kinders gerook het en hulle so 'moreel benadeel' het. – 'n Skamele 100 jaar later is ons amper weer daar, in die sin dat rook inderdaad nadelig bevind is vir kinders - veral ook in die baarmoeder van 'n geëmansipeerde skoorsteen.

As 'n mens kyk na die lomp houdings van baie van Bernays se advertensiemodelle is dit duidelik dat hulle die veronderstelde rokery nie geniet het nie en is dit onverklaarbaar dat die nuwe gier tog aanneemlik gemaak kon word vir die publiek. Dat die sg emansipasie van die vrou ook 'n belangrike rol gespeel het, blyk uit die sukses wat die "Easter Sunday Parade", nogal, in 1929 in New York met as slagspreuk: "Torches of Freedom" behaal het.

Manipulasie van die massas

Teen 1947, na nog 'n wêreldoorlog, was OS as manipulerende mag reeds stewig gevestig. In sy boek: The Engineering of Consent, wat in dieselfde jaar verskyn, verwys Bernays na "The art (nogal) of manipulating people"… (en veral die Amerikaanse publiek) wat beskryf word as "fundamentally irrational people… who could not be trusted". - Wikipedia ongeverifieerde aanhaling. Die eintlike angel volg egter eers later as beweer word: "entire populations which were undisciplined or lacking in intellectual or definite moral principles, were vulnerable to unconscious influence and thus susceptible to want things that they do not need". (Beklemtoning TH)

Om dié doel te bereik nl om mense, produkte en dinge te laat begeer en dus te probeer bekom wat hulle nie nodig het nie, word die produkte en konsepte gekoppel aan mense se onbewuste begeertes. Daarmee is ons egter ook natuurlik in die domein van die ou psigo-analitiese konsepte van Freud self en by die volgens hom, bepalende rol wat die seksuele en by implikasie die uitspattige en selfs nie net die a-morele, maar ook die immorele aspekte daarvan speel.

In navolging van en soos Ernest Dichter, het Bernays toenemend Freud se psigo-analitiese konsepte en tegnieke op besigheid en veral reklame toegepas. Dit is veral gedoen deur 'n studie te maak van verbruikersgedrag in spesifieke situasies.

Een van seker die kruuste voorbeelde in dié verband kom uit 'n skrywe van die bekende Vance Packard (1914-1996) oor Ernest Dichter waarin hy Dichter se 'lewende laboratorium' met kinders skerp veroordeel. Volgens Packard het een so 'n sessie met kinders aanleiding gegee tot die geboorte van die uiters gewilde Barbie-poppereeks aan die hand waarvan deesdae enigiets wat daarmee in verband gebring kan word soos Barbiejuwele en selfs luukse motors (dié plasiekdametjie het immers duur smaak) wyd en syd geadverteer en verkoop word.

Die nodige inligting is bekom deur kinders of kindertjies wat televisie kyk, in die geheim (seker darem hoogstens net deur pseudo-sielkundiges) dop te hou en selfs te verfilm om presies te bepaal waarop en hoe hulle reageer. Die bewering is dan dat Barbie uit die begeerte van kinders, dogtertjies, oor hoe hulle graag sou wou wees as hulle groot is, gebore is. 'n Mens wonder wat sou die voorbeeld en rol van die mammas in die verband gewees het…

Vance Packard het heelwat boeke geskryf in sy stryd teen die sg 'consumerism' wat steeds dreig om 'n hele beskawing te konsumeer of dan op te vreet en te vernietig. Soos 'n tornado in homself verder momentum opwek word ons deur 'n kunsmatige en geïnduseerde vraag en steeds intenser aanbod in 'n lugleegte ingesuig waaruit ons deur toenemend skuld aan te gaan, probeer ontsnap. Vance Packard se boeke, vanaf sy baie gewilde The hidden Persuaders (1957), The Wastemakers (1960), The Sexual Wilderness (1968) en die latere Our Endangered Children (1983) en The ultra-rich: How much is too much (1989), dra grootliks dieselfde boodskap en oproep, soos reeds uit die titels af te lei is.

Reeds in 'Persuaders' waarin die skrywer die sogenaamde dwingende behoeftes lys wat die koperspubliek, na bewering, sou dwing om te bestee, bevraagteken hy die eties-morele ingesteldheid van veral die oorreders. In 'Wastemakers' het hy dit teen die 'ingeboude vernietiging' of 'opsetlike onduursaamheid'– met dank aan Bosman, Van der Merwe en Hiemstra, - wat maak dat 'n produk, soos bv 'n duisternis onderdele, na net 'n kort tydjie nie meer te kry is nie en die hele stuk gereedskap, pomp, elektriese klitser of wat ookal, teen hoë koste vervang moet word.

Soos te verwagte het hy dit in 'Endangered Children' teen die blootstelling en soms selfs verwaarlosing van kinders deur ekonomiese en begeerte-gedrewe nuwe lewensomstandighede. Hoewel nie noodwendig deur reklame en markmanipulasie veroorsaak nie, is dit tog die direkte gevolg van die ontginning en uitbuiting van die mens se materiële begeerte wat dan omgeskakel word in gewaande behoeftes.

Nee, nee, ek het dit nie teen mammas van selfs klein kindertjies wat voltyds buitenshuis moet werk om die pot aan die kook en die huishulp, lapa en swembad aan die gang te hou nie. Aan die ander kant: dink net hoe bevrydend dit vir broodwinnerpa's (daar is darem mos nog diesulkes ook) sou wees as ma's, nadat die kinders versorg is, kon help om hier van die middeljare af vir daardie spogvakansie, of veral miskien 'n kommervrye oudag te help spaar. Inflasie, (wat sou dié moderne gogga regtig wees?) vreet blykbaar deesdae so gulsig dat selfs 'n gangbare pensioen en of polis, nie meer voldoende is vir 'n lang aftrede vanweë 'n algemene hoër lewensverwagting nie.

Wat die blootgestelde en dikwels emosioneel verwaarloosde kinders self betref, vertrou 'n mens tog dat hulle, taai en buigsaam soos sterk jong lote normaalweg is, dit ook geestelik sal oorleef. Dit is immers deel van groei en volwasse word en ten spyte van dalk effens egoïstiese ouers, die TV en rekenaarspeletjies, behoort die toekoms immers aan hulle. Enkelouers en veral enkelma's met of sonder 'n vreemdeling as substituut-pa of inwonende geselskap in die huis, het dit waarskynlik die moeilikste. Geen wonder dat probleme soos bi-polêre steurnisse en depressie by tieners, dikwels aan sulke ongelukkige toestande en wat dit veroorsaak, toegeskryf kan word nie.

Alles in ag geneem, is dit waarskynlik darem nie regtig nodig om so ver te gaan as die kru kommentaar wat ek êrens raakgelees het nie. Daarvolgens sou die moderne Amerikaanse kind (en selfs al van elders ook?) somtyds getipeer kon word met die begrip 'emosionele guerillas' wat die kryskundige, en Franse politikus Georges Clemenceau (1847-1929), glo al tov volwasse Amerikaners in 'n skrywe gebruik het. Sommige huidige gefrustreerde onderwysers mag oor die algemeen met hom saamstem, maar hopelik darem nie as hy na bewering sou sê: "(they) have gone directly from barbarism to degeneration without the interval of civilization" nie. – Dié tipering pas immers eerder die propagandiste en voorstanders van die reklame-gedrewe moderne samelewing.

Steeds gebaseer op die manipulering van die onderbewuste van verbruikers en toekomstige gebruikers, word daar in literatuur verwys na 'kultiese beïnvloeding'. Deur bv die toepassing van massa hipnose is 'n gehoor bv teruggevoer na hul kinderdae en nadat hulle weer wakker gemaak is, uitgevra oor hul eerste besoek aan 'n vulstasie. Die resultate het veroorsaak dat iets soos die gebruik van brandstof nie net aan motor-eienaars of -bestuurders bemark word nie, maar selfs aan kleuters omdat beelde en herinneringe uit hul kinderdae, soos dalk 'n wit hasie, selfs die hasie kan oorleef en ook senior persone by dieselfde maatskappy as die wat hulle ouers in hul kinderjare besoek het, nog steeds hul brandstof laat koop.

Naas sodanige goed-aardige manipulasie is daar natuurlik ook die meer aggressiewe aanvalle, wat op die mens se morele en sedelike norme gemik is.

Die legio verdere vertakkinge van die begrippe nuus, reklame en propaganda, kan verder hierin hoogstens aangestip word. Hoewel niemand die ekonomiese en werkskeppende waarde daarvan kan ontken nie, het dit die moderne leeflandskap so ingrypend verander dat 'n mens maklik daaroor paranoïes kan raak. Bewus van dié dreigende gevaar, is dit enigsins genesend om na enkele bronne van irritasie te kyk.

Hoewel gewone advertensies, na bewering, geslaagd is as dit veral luisteraars en kykers irriteer, is daar darem ook grense. As jy geïrriteerd raak, lui die argument, is jy immers bewus van die bron van die irritasie en kan jy daarop reageer. – Vir die adverteerder hopelik positief deur die produk wat geadverteer word te koop. In goed 90+% van radio- en TV advertensies, is die reaksies egter beperk tot die gebruik van die volumekontrole. Nie dat dit adverteerders sou afskrik nie, want die astronomiese koste is grootliks as uitgawes aftrekbaar en hou die media aan die gang. Op sigself dus ook so deel van die bose web wat om die verbruiker en soms oningeligte, of dan selektief ingeligte, publiek gespan word.

In alle billikheid wil 'n mens tog vriendelik vra dat jou basiese menseregte in jou eie huis of voertuig darem gerespekteer moet word en nie 'so-oordonder-word-deur-woord-kartetse-asof-die-spreker-gister-se-trein-probeer-haal-nie'. Ja-ja, lugtyd is duur, maar op dié vlak van byna barbaarse irritasie, word reklame selfs moontlik so teenproduktief dat van die of alle produkte waaroor so om jou ore geneul word, uit reaksie, eerder vermy sal word.

Om in die kolkende reklame-aksies op jou nugtere en finansiële voete te bly is nie maklik nie. Met dié seekat se tentakels - of sou 'n mens dit met 'n besondere aggressiewe kanker kon vergelyk - oral versprei, moet jy jou storie ken. Dit het al so erg geword dat 'n mens alles wat jy hoor, sien, proe, ruik en selfs soms mag tas, met 'n knippie sout of twee moet neem. In die ekonomie en die politiek, wat dikwels maar op dieselfde neerkom, kom leuens, vermorsing en misbruik immers so algemeen voor dat nog net 'n klein onskuldige outjie kan sien die koning is inderdaad, oeps… kaal.

Die moderne oop samelewing met sy blitsnelle kommunikasiemoontlikhede het ook reeds 'n ingrypende invloed op die multimedia van ons tyd. Om genoegsame perspektief te kry is dit goed om enkele tendense in die bedryf te bekyk.

Aangehaal uit PRSA se 2012 'State of The Society' blyk dit dat 470 miljoen "unique visitors" Wikipedia maandeliks besoek en dat

 PRSA betrokke is by CREWE, wat staan vir die Facebook-groep se "Corporate Representatives for Ethical Wikipedia Engagement". Dit maak Wikipedia, selfs meer geloofwaardig en dui hopelik nie op 'n geboelie nie. In die lig hiervan is in die inligting hier swaar op Wikipedia gesteun.

Volledigheidshalwe word vir die wat nie kan raai nie, uitgespel dat PRSA staan vir 'Public Relation Society of America' wat reeds in 1947 gestig is deur die samevoeging van die 'American Council on Public Relations' en die 'National Association of Public Relations Councils'. In 1967 is daar ook 'n PRSSA gevorm - met die ekstra 'S' vir studente. Tans, volgens 'n 2007-syfer, opereer die PRSA met 28 000 lede wêreldwyd.

In die verbygaan moet ook genoem word dat 'n soortgelyke organisasie ook in Suid-Afrika bedrywig is onder die naam PRISA (Afr. OSISA = Openbare Skakel-Instituut van Suid-Afrika). Volgens 'n webwerf is die benaming deesdae bloot PRISA.

Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1272 gaste aanlyn