Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom is ons bang vir die dood as ons weet dat ons geliefdes op ons wag? Om met hierdie wete te sterf, is in werklikheid ʼn wonderlike avontuur!
DIE ALTERNATIEF (7)
T. M. Hart
'n STRATEGIE vir OORLEWING
‘Klink my tot kruik waarin u Gees
Weer water vir my volk sal wees’.
G.A. Watermeyer: Die Republiek van Duisend Jaar
Kopiereg © : T.M. Hart
Uitgewer: Tobie Hart
E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Eerste Druk: 2014 ISBN: 978-1-928202-13-4
Lees reeks by Die Alternatief
Gelofteland plaas met toestemming van skrywer hierdie werk in reeksvorm. Dit is ‘n eerlike en praktiese besinning oor aspekte van 'n strategie om in die veeleisende 21ste eeu te kan oorleef. Sake soos nasionalisme, die ekonomie, politiek, godsdiens, die media, apartheid en ander word onder die loep geneem. Ná deeglike navorsing het skrywer besin oor wat 'n alternatiewe en volhoubare Suid-Afrikaanse leefwyse sou kon wees. Al sou lesers nie noodwendig met elke sienswyse saamstem nie kan hulle in vandag se Suid-Afrikaanse omstandige hierby baat.
7. RELIGIE of bloot ETIESE BEGINSELS?
In 'n oorlewingstryd en dan ook op soek na 'n strategie wat dit moontlik sou maak, is dit vanselfsprekend dat 'n mens ook by iets soos die opskrif hierbo sou moes uitkom. Sonder om verstrik te raak in al die vrae wat rondom die bestaan van die mens op aarde gevra kan word, is dit nodig om ook vertikaal na ankerpunte te soek.
Die blote bestaan van verskeie godsdienste in die wêreld is genoegsame bewys dat die mens as 'dualistiese wese' nie anders kan as om ook 'boontoe' - soos 'n sokkerspeler wat 'n doel aangeteken het (?) - te kyk nie. Wat en wie die mens so 'sien' of erken is nie nou hier hoofsaak nie. Feit bly egter dat dit 'n lewensbehoefte is waaraan deur die eeue op velerlei wyses uiting gegee is. Selfs deur Solzhenitsyn met sy bekende uitspraak tov die ateïstiese Russiese revolusie: "Men have forgotten God" wat waarskynlik al veralgemeen kan word tot 'man(kind) has forgotten God.'
Religie en geloof
Gewoond daaraan om die dink op dié wyse te rig, word daar weer na omskrywings of definisies van die begrippe gekyk. Hoewel 'n mens tov hierdie saak ruimte moet laat om eerder intuïtief te weet, eerder as om te verstaan, sou religie omskryf kan word as 'n geloof of vertroue op of vashou aan die 'onsienlike'. So 'n vashou kan net spruit uit die bewuste aanvaarding dat daar meer in die lewe is as wat ons kan ken, verklaar, bewys of meet.
Aansluitend hierby word religie deur verskillende bronne gekoppel aan 'kultuur' wat weer eens beklemtoon dat die mens vanuit 'n bepaalde agtergrond of kultuur waarin hy noodwendig geanker is, uitreik na die onbekende en selfs intellektueel die 'nog-nie-kenbare' waarvan hy darem al miskien die bestaan vermoed. Iets soos 'n nuwe ster of planeet of nano-gegewene wat volgens alle bestaande inligting 'moet bestaan', maar waarvan die 'meet om te kan weet' nog ontbreek.
'n Mens sou natuurlik ook na Paulus (1 Kor. 13:9 en 12-13) kon verwys en na Hebr. 11:1 – selfs volgens die '33-vertaling' of die 'KJV' en met sy 'evidence' (='bewys') en al, kon saam stem, maar dit is nie hier nodig nie. Ook omdat persone wat enigsins in oorlewing as sodanig - maar veral ook in 'n bepaalde volksverband – belang stel, reeds op die een of ander manier religieus-eties verbonde sou wees.
Op soek na of in dankbare erkenning van religieus-etiese bindinge, is dit dus nie nodig om menslik-kerkisties mekaar te verwyt of by voorbaat te probeer pootjie omdat 'jy' nie reg glo nie of in die 'verkeerde kerk' is nie. Deur so 'n houding in te neem, is die gevaar groot dat 'n mens in die hand van 'n vyand kan speel (en daar kan baie vyande wees) en juis daardeur enige sinvolle optrede fnuik en so tot niet maak.
Hervormers of Jukskeibrekers?
In 'n tyd en lewensomstandighede waarin haas alles bevraagteken en aan 'n toets of argument onderwerp word, maak dit miskien tog sin om 'eie waarhede' en oorleweringe ook weer eerlik te bekyk. In alle billikheid sou 'n mens seker kon verwag dat as 'n persoon sou besluit om die eie kring of kraal te verlaat, hy of sy, sy of haar motiewe eers deeglik sal ontleed. Indien die verlaat, opgee of wegloop enigsins verband hou met 'n persoonlike 'eina' wat in die ou kraal ervaar is, is dit miskien goed om alles weer 'n slag rustig te oorweeg. Die ou wêreld het seker altyd ware hervormers nodig, maar te veel 'jukskeibrekers' beland in stormwaters wat hulle nie kan hanteer nie en raak dan verbitterde irritasies – vir hulleself en ook vir hulle medemens.
Die Internet bied weer eens heelwat rigtinggewende inligting tov religie en etiek. Onder die soeksleutel 'religion' word daar duidelik uit verskillende gesigspunte na die begrippe gekyk. Soms is daar selfs ook oorvleueling en eenstemmigheid.
'About.com' begin deur die term 'religie' etomologies te probeer naspeur en kom dan tot die gevolgtrekking dat dié begrip, soos ook etiek, inderdaad moeilik te definieer is. Nogtans is dit duidelik dat sekere kenmerke van religieuse begrippe soos geloof in bonatuurlike wesens of 'n wese en dus gode of God, sekere rituele gebruike of aksies, gebede en of pogings tot kontak maak met die bonatuurlike en as gevolg daarvan, die uitleef van 'n bepaalde lewens- en wêreldbeskouing, 'n belangrike rol speel of behoort te speel.
Vir die Christengelowige Afrikaner is die voorgaande wydlopende poging tot 'n verduideliking hopelik nie nodig nie. Ons weet immers vanuit ons kultuur en wat ons as mense is en graag wil wees, al hierdie dinge. Nogtans sou dit kon help om vir onsself rekenskap te gee en vir ander wat ons daarna mag vra, te verduidelik waarom ons optree soos ons wel optree en doen wat ons wel doen, met iets van die erkende hervormer, Martin Luther, se: 'Hier staan ek. Ek kan nie anders nie', in die agterkop.
Die waarde van 'n verankerde geloof, moenie in 'n oorlewingstryd onderskat word nie en moet daarom deel uitmaak van enige strategie in die verband. Om paraat te wees sou ook beteken om weer onvoorwaardelik te glo.
Etiek en Moraliteit
Om hier die etiek afsonderlik te bekyk is eintlik nie nodig nie. Nogtans word dit gedoen om die gewaande verskil tussen etiek en moraliteit teen die lig te hou.
Die meeste bronne wat geraadpleeg kon word, is dit eens dat etiek en moraliteit eintlik op dieselfde neerkom. Soms wil dit egter lyk asof moraliteit gereserveer word vir godsdienstige sake waar mense praat van iets wat bv moreel verkeerd of reg kan wees, terwyl etiek meer 'n wysgerige formulering veronderstel. Soms wil dit selfs lyk of mense met einas eerder die begrip moreel vermy en liewer praat van iets wat eties of oneties sou wees. Feit bly dat of ons nou die woord 'eties' of 'moreel' verkies, die onderliggende begrip, iets wil sê van bv 'n optrede of aksie wat normatief ruimte laat en dus ook nie egoïsties is nie. Toegegee, 'n mens kan nie selfloos probeer wees nie en daar word ook nie in Christelike sin van jou verwag om jou naaste liewer te hê of om vir hom of haar meer om te gee as vir jouself nie. Juis nie, want dit sou tot onverantwoordelike selfvernietiging kon lei.
Dié moeilike begrippe word nie hier aangesny om voorskriftelik of selfs voorligtend te wees nie, maar bloot om die neerdrukkende en meestal onnodige skuldgevoel, waarin ons sorgvuldig aan die hand van verskeie tegnieke, waaronder die openbare mening, op ons knieë gedwing is, aan die kaak te stel. Miskien het dit tyd geword dat die wat werklik glo, steeds knielende, ook dié saak voor hul Skepper en Heer sal uitklaar.
Vervolg...