Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Onthou: God sal jou nooit ‘n kruis gee wat te swaar is nie. En as jy ‘n baie swaar een dra, weet Hy dat jy dit kan dra.  Dank Hom daarvoor!

DIE NUWE SUID-AFRIKA (4)

Lees reeks by Die Nuwe Suid-Afrika (1990 en verder)

Onderhandeling in plaas van oorwinning

(Hierdie artikel het in DIE AFRIKANER van 13 Maart 1985 verskyn. Daarin is voorspel dat Mandela vrygelaat sou word en dat die Regering nie die terroriste-oorlog sou wil wen nie).

In hoë regeringskringe word daar gerasionaliseer waarom daar met die ANC onderhandel moet word. En die rasionalisasie, uit ’n regstreekse mededeling, lui soos volg:

“Dit is waar, soos DIE AFRIKANER geskryf het, dat Mandela ’n gewelddadige omverwerping van die orde in Suid-Afrika beoog. Maar wat is die oplossing?”

 

Wat dan uit hierdie hoë Regeringskringe volg, is ’n siening van sake wat gladweg na die slotsom lei dat Suid-Afrika ’n verlore stryd stry en daarom moet “onderhandel”.

“Elke land in die geskiedenis van die wêreld wat teen ’n oormag baklei het, het verloor, selfs die dappere Rhodesië”, lui dit.

“Nie eens Iran met al sy tenks en Mirages (tien maal meer as wat Suid- Afrika het) kon teen ’n klein oormag staande bly nie.

“Wat bly oor? Daar moet onderhandel word”.

Die implikasies van hierdie beskouing is onmiskenbaar. Dit is dat Suid-Afrika moet erken dat hy die stryd sal verloor en daarom met vredesonderhandelings moet begin. (Hieroor sal later uitgewei word).

Die selektiwiteit van voorbeelde om die vooringenome standpunt te steun, is hier alte sigbaar. ’n Eietydse voorbeeld soos Afganistan wat al vyf jaar lank die Russiese oormag weerstaan, word buite rekening gelaat; so ook historiese voorbeelde soos Amajuba, die Tagtigerjarige Oorlog van Holland teen Spanje, die Spaanse uitdrywing van die More, die oorwinnings van die Germaan, Herman (Arminius), eers oor die Romeinse generaal Varus en later oor Nero se neef, Germanicus — om net enkele grepe oor ’n wye historiese veld te maak.

Na hierdie enigsins wilde bewering dat elke land verloor het wat teen ’n oormag baklei het, volg dan ’n aanklag teen die Rhodesiese regering dat hy nie betyds sou onderhandel het nie.

“Die institute vir strategiese studies van talle lande, trouens die hele wêreld, het bevind dat Rhodesië se tydsberekening verkeerd was en dat hy vroeër moes onderhandel het terwyl hy in ’n posisie van krag was. Dan sou ’n gematigde Muzorewa aan bewind gewees het en nie Mugabe nie. Toe Rhodesië wou praat, was dit reeds te laat en almal het dit besef, daar­om dat Engeland die oorname probeer versag het (deur sy betrokkenheid).”

In die bewerings en beskouings wemel dit van aanvegbaarhede.

Die institute vir strategiese studies is oral in hoë mate afhanklik van of die regering van die betrokke land, of groot finansiële instellings wat linkse simpatieë het. Sulke institute se bevindings moet altyd gelees word in die lig van die spreekwoord: “Wiens brood men eet, diens woord men spreekt”.

As ’n bewys van Rhodesië se versuim kan hierdie institute se uitsprake gerus eenkant gelaat word. Hulle het bowendien gefungeer in ’n propagandistiese dampkring wat vanuit Brittanje swaar teen Rhodesië gelaai was, en hulle bevindings was so na as moontlik in ooreenstemming daarmee.

Geen enkele staat ter wêreld wou amptelik erkenning aan Rhodesiese onafhanklikheid gee nie. Suid-Afrika het die naaste aan erkenning gekom. En Suid-Afrikaners se houding teen Rhodesië was uiters vriendskaplik en welwillend, in teensteling met die vyandigheid wat vanuit Brit­tanje teen Rhodesië gevoer is.

Dit is verregaande om te beweer dat die Engelse die oorname probeer versag het. Hulle het van die staanspoor geëis: Geen onafhanklikheid sonder meerderheidsregering nie. (Die sogenaamde Nibmar). Hulle het geweier om die Muzorewa-bewind te erken, en het self die voorwaardes geskep vir die Mugabe-oorwinning.

Is dit optrede om die oorname te versag, soos die segsman beweer?

Vorster en Botha laat Rhodesië val

Dat die Suid-Afrikaanse Regering se houding ná die sluipmoord op dr. Verwoerd al hoe meer oorgeskuif het na die Britse houding, is ’n feit wat lank verdoesel is, maar nou algemeen bekend is.

Mev. Margaret Thatcher het verlede jaar in Augustus tydens mnr PW Botha se Europese rondreis uitdruklik verklaar: “Suid-Afrika was destyds met die Rhodesiese kwessie besonder behulpsaam. Sonder hulle sou Zimbabwe nooit tot stand gekom het nie”.

Hierin lê reeds die algemene weerlegging van die bewering oor tydsberekening. Rhodesië se Blanke bewind is tot ’n val gebring deur die behulpsaamheid van die Suid-Afrikaanse Regering van mnr. BJ Vorster en PW Botha teenoor die Britse en Amerikaanse regerings. Die drie het aktief saamgewerk om die Blanke bewind van mnr. Ian Smith tot ’n val te bring, en dit was die doen en late van die Suid-Afrikaanse Regering, meer as enigiets anders, wat tot die Blankes se onderwerping aan ’n Swart Re­gering en die vestiging van ’n Kommunistiese regime in Zimbabwe gelei het.

Hierdie ondermyning van die Blanke Rhodesiese regering het oor ’n lang tydperk gestrek vanaf kort na die sluipmoord op dr. Verwoerd.

Dr. Verwoerd se standpunt is duidelik gestel in die Volksraadsdebat vroeg in 1966. Die hooftrekke daaroor was:

  • Suid-Afrika sal nie as bemiddelaar tussen Brittanje en Rhodesië op tree nie.
  • Suid-Afrika sal normale betrekkings met Rhodesië voortsit en nie deelneem aan enige boikot nie.
  • Suid-Afrika is besorg oor die voortbestaan van die Blanke gemeenskap van Rhodesië en sal niks doen om dit in gevaar te stel nie.

® ’n Swart regering in Rhodesië sal tot vernietiging en chaos lei. (en sien ons dit vandag!)

(Dit was dr. Verwoerd se presiese woorde).

Binne drie maande ná die sluipmoord op dr. Verwoerd het mnr. Piet Cillie van Die Burger begin om Rhodesië aan te val. In Desember 1966 het hy geskryf dat Rhodesiese onafhanklikheid ’n leë dop is en dat Rho­desië ’n verleentheid vir sy vriende geword het.

Hierop het baie mense skerp gereageer, maar mnr. Vorster het opvallend geswyg. Opvallender nog, het hy nie lank daarna nie na Rhodesië verwys as die “vlieg in die salf”. En toe het mnr. Vorster in die geheim onder Britse invloed die rol van bemiddelaar tussen Brittanje en Rhodesië begin speel, maar ’n bemiddeling wat uit die staanspoor in die guns van Brittanje was.

Vorster help Wilson

Mnr. Vorster het reeds binne twee jaar na die sluipmoord op dr. Verwoerd by ’n Broederbond-byeenkoms daarop geroem dat hy mnr. Ian Smith en die destydse Britse Eerste Minister, Harold Wilson, bymekaar gebring het op die slagskip Tiger. Daarna het hy bemiddel vir die byeenkoms van die twee op die Fearless. (Dit, ondanks Wilson se betuigde vyandigheid teen Suid-Afrika).

Intussen het Suid-Afrika voortgegaan om Rhodesië militêr te steun — sekere beramings is dat Suid-Afrika die helfte van die Rhodesiese militêre koste gedra het. Agteraf is egter teen Rhodesië gekonkel, en in 1974 het sake ’n nuwe wending in Suider-Afrika geneem.

Die omverwerping van die Portugese regering van Caetano deur ’n Kommunistiese geïnspireerde opstand in April 1974, met die ydele genl. Spinola as front, het die sneller getrek.

Die ongelooflike welbehae waarmee Nasionale Partykoerante hierdie opsigtelike linkse staatsgreep in Suid-Afrika verwelkom het, die late­re nuus dat die Suid-Afrikaanse Regering lank voor die tyd van die beplande opstand geweet het, die uitvoerige berriggewing oor hoe ’n sender van die SAUK gebruik is om die kode uit te saai wat die teken vir die link­se opstand teen die regse Caetanobewind gegee het; en die ongewone haas waarmee die Suid-Afrikaanse Regering die nuwe revolusionêre Por­tugese bewind erken het, het ’n hele nuwe toestand in Suider-Afrika geskep.

Enkele maande later (Oktober 1974) het mnr. Vorster sy “te aaklig om te bedink”-toespraak in die destydse Senaat gehou waarin hy detente met die vyand verklaar het op grond daarvan dat die prys van meerdere konfrontasie hoog sal wees, na sy mening te hoog vir Suider-Afrika. (Dit is wesenlik dieselfde as wat nou in hoë Regeringskringe gesê word, soos aangehaal aan die begin hiervan).

Tegelyk het mnr. Pik Botha voor die Veiligheidsraad van die VVO ’n toespraak voorgelees wat deur die Regeringskoukus goedgekeur is en waarin gemeld is dat “diskriminasie op grond van ras en kleur onverdedigbaar is en die Suid-Afrikaanse Regering alles in sy vermoë sal doen om daarvan weg te beweeg”. (In antwoord daarop het die WO se Algemene Vergadering Suid-Afrika se sittingsreg in die WO beëindig).

In die onmiddellike Suider-Afrikaanse situasie was Rhodesië verplig om ingevolge die beleid van detente ’n wapenstilstand te aanvaar toe, volgens ’n latere mededeling van genl. Walls, die Rhodesiese bevelvoerder, daar net sowat 70 terroriste oor was in die Rhodesiese grondgebied, en die Rhodesiese magte besig was om hulle posisie te versterk. Kort hierna het Rhodesië nog ’n klap ontvang deur die aankondiging in Januarie 1975 dat die Suid-Afrikaanse Polisie aan die operasionele gebied onttrek word — die voorbereiding vir algehele onttrekking ’n rukkie later.

Dit het gepaard gegaan met die verhewiging van die terroriste aanslag teen Rhodesië vanuit Mosambiek onder die nuwe linkse Portugese rege­ring wat toe reeds besig was om Frelimo as die “ wettige regering” van Mo­sambiek te vestig.

Samehangend hiermee het die Suid-Afrikaanse Regering openlik druk uitgeoefen op die Rhodesiese regering om die terroristeleiers Nkomo, Sithole en Mugabe vry te laat, sodat die Rhodesiese regering met hulle in onderhandeling kon tree, wat toe ook gebeur het.

Daarna het die Frelimo-regering in Mosambiek ’n staat van oorlog met Rhodesië verklaar en die spoorlyn tussen Rhodesië en Mosambiek gesluit. Toe die Smith-regering later die spoorlyn tussen Zambië en Rho­desië gesluit het weens Zambiëse vyandigheid, het die Vorster-regering tussenbei getree om te eis dat die spoorlyn oopgestel moet word.

Vorster en Kissinger teen Smith

Al hoe meer het die Britte in die agtergrond geraak en het die geknoei teen Rhodesië plaasgevind in die driehoek Kissinger van die VSA, Kaunda van Zambië en Vorster van Suid-Afrika. Dit het gekulmineer in die Kissinger-geknoei met Vorster in Pretoria in Augustus 1976, waaroor The Star se voorbladberig verskyn het onder die opskrif: “South Africa has Rhodesia in the corner: Smith must say yes”.

Mnr. Ian Smith is by dié geleentheid afgedreig dat as hy nie instem tot Swart meerderheidsregering nie, Suid-Afrika alle hulp aan sy land sou onttrek. Later het dit geblyk dat die Suid-Afrikaanse Regering die spoor­lyn tussen Suid-Afrika en Rhodesië gesluit het tydens die Kissinger-samesprekings; dat Rhodesiese uitvoer ter waarde van R72 miljoen by die grens opgehoop het en dat Rhodesië se olievoorraad net 19,6 dae lank sou hou. Daarby is wapenvoorsiening aan Rhodesië weerhou (Daar is ’n notule van ’n Rhodesian Front-vergadering waarin basiese feite deur mnr. Ian Smith self verstrek is). So is Ian Smith gedwing om Swart meerder­heidsregering te aanvaar. Mnr. Smith het in ’n verklaring na die Kissin­ger-Vorster-intimidasie gesê dat hy dit anders wou gehad het, maar aan hom geen keuse gelaat is nie. Rhodesië het nie die oorlog verloor nie; hy is, soos mnr. Ian Smith later gesê het, deur sy vriende in die rug gesteek.

Hierdie bullebak-politiek van die Vorster-era is voortgesit deur die PW Botha-regering, wat miljoene rande ingepomp het om Abel Muzorewa as regeerder van Rhodesië gevestig te kry nadat Ian Smith sy gesag prysgegee het. Muzorewa het dan ook ’n een mens-een stemverkiesing gewen, maar die Britte en die Amerikaners het geweier om sy Regering te erken en het ’n nuwe verkiesing onder Britse toesig geëis, wat toe ook afgedwing is en waarin Mugabe gewen het met die slagspreuk: “As julle nie vir my stem nie, gaan die oorlog voort”.

So is die Kommunistiese bewind van Robert Mugabe in Zimbabwe ge­vestig, waartoe die Suid-Afrika van die Vorster-Botha-era “besonder be- hulpsaam was” soos mev. Thatcher gesê het. “Sonder hulle sou Zimbab­we nooit tot stand gekom het nie”, was haar slotsom.

Enigiemand wat hierdie historiese feite buite rekening laat en die oorsaak van Rhodesië se val aan verkeerde tydsberekening toeskryf, wil nie die werklikheid onder oë sien nie. So ’n persoon kan nie aanspraak maak op ’n eerlike en nugtere vertolking van die geskiedenis nie.

Die vestiging van ’n Kommunistiese regering in Zimbabwe vloei regstreeks voort uit mnr. Vorster se verwerping van dr. Verwoerd se standpunt in verband met Rhodesië; mnr. Vorster se gebrekkige geo-politieke sin; sy misvatting dat as hy Rhodesië opoffer, welwillendheid teenoor die Frelimo-bewind bewys en die WO se eise oor Suidwes-Afrika sou toegee in terme van Besluit 435, hy vyandigheid teen Suid-Afrika sou afkoop en as ’n groot staatsman erken sou word. In November 1974 het hy gesê: “Gee Suid-Afrika ses maande, en u sal verbaas wees waar hy sal staan”.

So is hy wysgemaak dat sy detente-beleid die wêreld sou verander!

Van Rhodesië na Suid-Afrika

Rhodesië se oorgang tot ’n Kommunistiese staat was net ’n stap na die groter mikpunt, naamlik Swart meerderheidsregering in Suid-Afrika (on­der die ANC). Kissinger het in Oktober 1976 gesê: “Ek wil Swart regering in Suid-Afrika hê”. Carter het dit ’n maand later herhaal. En dr. Crocker, toe onderminister van Buitelandse Sake vir Afrika, het dit ewe duidelik gestel.

Mnr. PW Botha het die detente-beleid van die Kissinger-Vorster-era voortgesit in dieselfde waan dat dit hom in die buiteland verhoogde aansien sou gee. In plaas daarvan is hy tydens sy Europese rondreis van Au­gustus 1984 met sigbare minagting behandel in Brittanje en Wes-Duitsland.

Dit was nodig om hierdie geskiedenis rondom Rhodesië weer in breë trekke te skets ten einde die bewering te weerlê dat Rhodesië se tydsbere­kening verkeerd was.

Die pit van die saak is dat die Britte en die Amerikaners die Suid-Afrikaanse regeerders gebruik het om hulle oogmerke te bevorder.

Dit is die omstandighede waarin die “logiese” volgende stap moet wees om in Suid-Afrika die onderhandeling met die terroristeleiers te begin. Om soos in hierdie hoë regeringskring gedoen word, te beweer dat daar, aan die hand van die Rhodesiese voorbeeld, geen ander keuse is nie as om te onder­handel (met die ANC) voordat dit te laat is, is ’n ernstige misleiding. Dit is ’n bewuste poging om die aandag af te trek van die veragtelike rol wat die Suid-Afrikaanse Regering in die geval van Rhodesië gespeel het ten einde die Bothabewind se voorgenome onderhandeling met die ANC onder Amerikaanse en Britse druk goed te praat deur ’n wanvoorstelling van die Rhodesiese geskiedenis.

Onderhandeling vir vrede

Met dit uit die pad, moet die gesprek teruggevoer word na die kern van die saak, naamlik ons moet “onderhandel” voordat dit te laat is.

Die eerste feit wat onder oë gesien moet word, is dat die Kommunisties aangevoerde ANC, saam met Swapo, Suid-Afrika die oorlog aangesê het. Onderhandeling beteken dus vredesonderhandeling met die vyand, net soos die Rhodesiese regering onder druk van Suid-Afrika met sy militêre vyande onderhandel het om vrede te bewerkstellig (asof dit tot vrede gelei het!)

Hierdie enkele waarheid moet sterk beklemtoon word, anders word aan “onderhandeling” ’n soort onskuldige, maar valse, betekenis gegee wat dit moet laat lyk na ’n eenvoudige verstandige optrede om ’n versoening met die ander kant te bereik. Onderhandeling in ’n oorlogsituasie is vredesonderhandeling.

Wat net so belangrik is, is dat vredesonderhandeling midde-in ’n oor­log nie begin word deur die kant wat meen dat hy gaan wen nie. Inteendeel, dit is die kant wat meen dat hy gaan verloor, wat wil begin onder­handel. En in die konteks van die beskouing hierbo aangehaal, word onmiskenbaar getuig dat onderhandeling (vredesonderhandeling) begin moet word, omdat Suid-Afrika besig is om die stryd te verloor teen “die oormag”.

Dit was reeds in Oktober 1974 die ratio vir die detente-beleid. Mnr. Vorster het as Eerste Minister in die betrokke toespraak gese dat die prys van meerdere konfrontasie te hoog sou wees vir Suider-Afrika, en die alternatief vir vrede te aaklig om te bedink.

Hoe ook al beskou, was dit die tentatiewe hysing van die wit vlag. En die vyand kon hieruit net een afleiding maak, naamlik dat die Suid-Afrikaanse Regering nie die stryd sal verhewig om die oorlog te wen nie. Wat tans in hoë regeringskringe verkondig word, is net ’n variasie op hierdie tema.

Daar sal onthou word dat mnr. PW Botha in September 1979 verklaar het dat met “die militêre stryd tyd gewen word, sodat op die diplomatieke, ekonomiese en politieke gebied oplossings gevind kan word”.

Dit is militêr gesproke seker een van die mees onvanpaste uitlatings wat nog ooit gemaak is deur ’n Eerste Minister wat boonop tegelyk Mi­nister van Verdediging was.

Baie betekenisvol is natuurlik dat mnr. PW Botha deur hierdie uitlating impliseer dat die oorsaak van die oorlog nie te soek is by Kommunistiese aggressie nie, maar by die orde in Suid-Afrika, wat verander moet word, dit wil sê, die aggressors het regmatige griewe teen Suid-Afrika, en om die oorlog te beëindig, moet die griewe uit die weg geruim word, of soos mnr. Botha sê, “oplossings” moet gevind word. En die oplossings? Rassegelykmaking uit naam van wegbeweeg van diskriminasie, afskaffing van skeidingsmaatreëls, veelrassige regering, aanvaarding van die linkse politieke idioom wat die grondslag lê vir die terroriste se strewe na Swart meerderheidsregering.

As gevolg van hierdie houding is Suid-Afrika gaandeweg al magteloser om met oortuiging te veg en word hy in ’n tipiese geen-oorwinning- oorlog (no win war) betrek, wat hom duisende-miljoene rande kos, baie kosbare jong lewens, enorme sosiale ontwrigting — en dit om “tyd te wen”, nie om die oorlog te wen nie.

Vorster se misvatting

Die primêre fout het gekom toe mnr. John Vorster as Eerste Minister in die vroeë sewentigerjare gedreig het om terroriste wat oor die Suidwesgrens gekom het, te agtervolg tot by hulle basisse, en die volgende dag kortom gespring en ontken het dat hy dit gesê het. Watter invloed daar op hom ingewerk het om hierdie ommeswaai te maak, is van groot belang. As dit vasgestel kan word, sal dit die sleutel verskaf tot ’n verklaring van vele dinge wat daarna in die Suid-Afrikaanse politieke bestel plaasgevind het tot nadeel van Suid-Afrika.

As die Suid-Afrikaanse Weermag by daardie eerste skending van Suid-Afrika se grondgebied die terroriste op hakkejag geneem en uitgewis het, sou die terroriste-oorlog waarskynlik nooit ge-eskaleer het nie, veral as Suid-Afrika sy noordelike buurstate gewaarsku het dat hy met el­ke middel tot sy beskikking teen hulle sou optree as hulle terroriste sou huisves.

Dit beteken dat die hele aard van die oorlog verander is na ’n uitgerekte stryd waarin daar nie na ’n beslissende militêre oorwinning gestreef sou word nie, maar na ’n beëindiging deur onderhandeling.

Hierdie wending het enorme gevolge gehad, wat die terroriste bevoordeel het. Trouens, daarvandaan is die oorlog op die voorwaardes van die terroriste en hulle liberalistiese en kommunistiese borge voortgesit. Vir Suid-Afrika was dit noodlottig. Dit het die ratio geskep om die Weermag al hoe meer uit te brei, diensplig te verleng, Suid-Afrika se ekonomie in hoë mate op militêre voet te stel en gaandeweg ’n 80% militêre inset te hê teen die terroriste se 10%.

Dit is die bestanddele van ’n uitgerekte oorlog, streng volgens die handboek. Dit skep die toestande waarin demoraliserende propaganda ’n vrugbare teelaarde vind — byvoorbeeld “die oorlog duur al agtien jaar, en Suid-Afrika is nog nie na aan ’n oorwinning nie; ons kan nie wen nie”; en “kyk wat kos die oorlog ons aan geld en lewens en internasionale vriendskap; enigiets is beter as voortsetting van die oorlog”, ens.

Dit is wat geleidelik deurwerk tot die regeringsinstansies en die militêre geledere; dan begin die rasionalisasie dat dit beter is om te onderhandel as om te veg in “’n oorlog wat nie gewen kan word nie”.

Twee voorbeelde, naas die van mnr. Vorster en mnr. PW Botha self, is die van ’n politieke figuur, mnr. Harry Schwarz, en ’n militere figuur soos genl. Charles Lloyd wat die Bevelvoerder in Suidwes-Afrika was.

Oorlog kan gewen word

Mnr. Schwarz het op 29 April 1980 in die Volksraad gese: “Soldate sal nie hierdie oorlog wen nie. Hierdie oorlog sal gewenof verloorword deur die politici”.

Wat dit beteken, word in perspektief gestel deur die verklaring van genl. Lloyd aan Die Transvaler van 20 Januarie 1981, “Die veiligheidsmagte van Suid-Afrika en Suidwes-Afrika” het hy gesê, “kan Swapo totaal vernietig as dit nie was vir politieke en ander beperkings nie”.

Hieruit is dit duidelik dat die PFP en die “Nasionale” Party se leiers dit eens is dat die oorlog nie militêr gewen moet (of mag) word nie. Dit is ’n benadering wat die vyande soos ’n handskoen pas, want dit skep die voorwaardes vir langdurige druk van buite en van binne om toestande in Suid- Afrika te verander volgens die linkse voorskrifte.

Wanneer daar dus, soos nou, gepraat word van “onderhandeling” is die omstandighede alles behalwe gunstig vir Suid-Afrika. Hierdie stelling moet gemaak word in die lig van die bewering dat Suid-Afrika tans kan onderhandel uit ’n posisie van krag, en krag dan gedefineer word as “sterk ekonomie, sterk moreel, sterk weermag”.

Militêr is Suid-Afrika se posisie oneindig verswak deur die Kommu­nistiese oomame van die buurstate aan Suid-Afrika se noordelike grens, en sal die posisie verder verswak as Suidwes-Afrika onderwerp word aan Besluit 435 van die WO se Veiligheidsraad waartoe die Suid-Afrikaanse Regering ingestem het. Ekonomies is Suid-Afrika in die swakste posisie waarin hierdie land ooit was, soos blyk uit die swak ruilvoet van die rand — nie net teen die Amerikaanse dollar nie, maar selfs ook teen Botswana se pula — die knellende belastings, die hoë rentekoerse en inflasie-koers, die bankrotskappe en werkloosheid, die wegraap van ’n deel van die amptenary se bonusse ... Moreel is die Blanke volk verswak deur die aanhoudende aandrang op verandering en die suggestie dat die orde wat ons voorouers tot stand gebring het, onregmatig, onchristelik en verwerplik is, met die implikasie dat die wat daarteen veg, eintlik vir reg en regverdigheid en christelikheid veg. Die Afrikanervolk word stelselmatig gedemoraliseer om nie te veg vir sy reg nie.

Om dus te beweer dat Suid-Afrika moreel, militêr en ekonomies sterk is en daarom vanuit ’n posisie van krag kan onderhandel, het ’n baie beperkte en uiters relatiewe betekenis. Suid-Afrika is wat dit betref, in meer as een opsig veel swakker as toe die terroriste-oorlog in 1967 begin het.

Nou is die oorlog agtien jaar aan die gang en nou word onderhande­ling in regeringskring gepropageer “omdat ons die oorlog nie kan wen nie”. (Dit is reeds die ergste demoralisasie wat daar kan wees). Om in sulke omstandighede met onderhandeling te begin, is nie om uit ’n posisie van krag te praat nie, maar van verwagte nederlaag. Dit is die hensopper- mentaliteit.

Wat word reeds bedoel met onderhandeling? Soos reeds gesê, is dit vredesonderhandeling met die vyand, naamlik die ANC, met sy Kommunistiese inslag en leiding. Die eerste eis van daardie kant sal wees dat Man­dela vrygelaat moet word om die ANC as leier te verteenwoordig. Wanneer dit gebeur, sal alle veiligheidsoptrede teen die ANC gestaak moet word. Mandela sal eis dat ’n Nasionale Konvensie belê moet word om ’n nuwe grondwet vir Suid-Afrika uit te werk. Hy sal die steun van die PFP en ’n deel van die “Nasionale” Party hê. As dit geweier word, sal die hele linkse Engelse en Afrikaanse pers die Regering in die ongelyk stel en daarop aandring dat die onderhandelings op die grondslag gevoer moet word, liewer as om die oorlog te hervat.

As die Regering volhard in sy weiering, sal rasseonluste in die nywerheid en skole groot afmetings aanneem onder ANC-leiding, en die VSA en Brittanje sal die Suid-Afrikaanse Regering daarvoor kwalik neem en die weiering van ANC-eise as die oorsaak van die onluste aandui.

Die media sal die atmosfeer skep waarin die Blankes gaandeweg sal voel dat onderhandeling by ’n Nasionale Konvensie beter sal wees as voortgesette onluste en geweldpleging.

En mettertyd sal die Regering onder druk van sy Hoggenheimer- vriende en Amerikaanse base kopgee en die ANC-eis van ’n Nasionale Konvensie aanvaar.

Dit is wat propagandiste van “onderhandelings” moet begryp en moet laat besef met watter gevaarlike dinge hulle besig is.

Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1993 gaste aanlyn