Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moses sê aan sy volk om kleinvee te slag vir die pasgaviering en die bloed aan hulle deurposte te smeer sodat die engel van die Here verby sal gaan en nie ook hulle eersgeborenes te laat sterf soos hy met die Egiptenare doen nie. Moses maan die volk ook om die pasgaviering geslag na geslag te onderhou as heilige instelling uit dankbaarheid dat hulle gered is en nie deur die dood daar in Egipte getref is nie. Presies so verwag die Here van al sy kinders, geslag na geslag, om uit dankbaarheid dat Hy ons van die ewige dood met sy kruising gered het, nagmaal keer op keer te vier as teken en seël van die nuwe lewe wat ons ontvang het.
STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (5)
LW Bienedell
Lees reeks by Stryd teen vreemde oorheersing
KP kies die middelposisie —
Dieselfde pad na ondergang as die NP
8 Junie 1983
Net so ’n waarheid as wat dit is dat in die Suid-Afrikaanse politiek daar net twee beginselbasisse is—’n nasionale en ’n liberale—net so ’n waarheid is dit dat daar tussen die partye wat die basisse beset, ’n middelposisie is wat nooit onbeset bly nie.
Met tye was dit die regerende party wat in die middelposisie gestaan het, soos die SAP tussen die Unioniste aan die een kant en, ná 1914, die NP aan die ander kant—’n soortgelyke posisie as wat die VP gaandeweg ná 1934 ingeneem het met die Arbeiderparty links en die destydse Gesuiwerde (later Herenigde) NP regs van hom.
So ’n middelposisie het ’n aantreklikheid vir pragmatiese en opportunistiese politici en omdat daar altyd in ’n volk politieke figure is wat meer begaan is oor getalle en vinnige sukses as oor die waarheid en beginsels, het die middelposisie ’n soort suigkrag wat verhoed dat hy lank onbeset bly.
Wat by ’n beskouing van hierdie verskynsel van die middelparty so opmerklik is, is dat vanuit so ’n middelposisie die beweging byna sonder uitsondering na links is. Die SAP het byvoorbeeld na sy terugslae in die 1920-verkiesing in bondgenootskap na links met die Unioniste gegaan en die VP het na die 1939-skeuring ook na links in ’n bondgenootskap met die Arbeiderparty gegaan en vandaar verder met kommunistiese frontorganisasies soos die Springbok-legioen.
Met die VP se terugslae in die skeuring van die vyftigerjare van Bailey Bekker, Arthur Barlow, Frank Waring, Blaar Coetzee en andere na regs, daarna die Progskeuring in 1959 na links en die daaropvolgende nederlae in die referendum van 1960 en die algemene verkiesing van 1961, het die party in die middelposisie al hoe meer verslae en uitgerafeld geraak en het die middelposisie vakant geword. Vir ’n pragmatis soos mnr. John Vorster het die half-ontruimde middelposisie, ná die sluipmoord op dr. Verwoerd, blykbaar ’n groot aantreklikheid gehad. In plaas van te bly staan in die regse posisie waarin die NP gebore en getoë was, het hy die NP links na die middelposisie geneem, die VP-beleid vir die NP toegeëien onder nuwe name en die VP se bestaansreg hom ontneem in die middelposisie.
Die probleem met hierdie soort politiek is natuurlik dat die geneigdheid tot die middelposisie ’n losheid van beginsel verteenwoordig en dat namate die skuif vanaf regs na die middel gemaak word, die beweging verder oor die middellyn na links gewoonlik nie gestuit kan word nie. Dit is veral omdat by so ’n skuif weg van regs, daar ’n vyandskap na regs ontwikkel vanaf so ’n middelposisie. Die vyandigheid van Samesmelters teen Gesuiwerdes in die dertigerjare en van die Vorster-bewind teen die HNP in die sewentigerjare was hiervan ’n aanskouingsles. Gepaard met hierdie vyandigheid na regs is daar natuurlik aan die keersy ’n groeiende gevoel van gemeenskaplikheid na links.
Die stadium van die politieke ontwikkeling wat tans beleef word, is ’n herbesetting van die drie erkende posisies in die Suid-Afrikaanse politiek. Die HNP het die regse nasionale basis beset. Die PFP het die linkse liberale basis beset. Die NP is in sy beweging na die middelposisie verder na links aan’t beweeg. En namate die NP onder mnr. Vorster oor die middellyn beweeg het met sy beleid van wegbeweeg vanaf diskriminasie, detente en grondwetlike planne vir veelrassige regering, het die middelposisie vakant geraak met die PFP, die NRP en die NP almal links van die middellyn. Soos in die natuur, moet die lugleegte in die middelposisie iets insuig.
Met die skeuring in die NP oor die betiteling van sy beleid as “gesonde magsdeling”, het twee moontlikhede bestaan: samevoeging van die wegbrekers met die HNP op die regse nasionale basis, of vestiging in ’n posisie tussen die HNP op regs en die NP wat reeds oor die middellyn na links beweeg het. Dr. Andries Treumicht en die ander LV’s wat weggebreek het, het verkies om ’n party in opposisie tot die HNP te stig tussen die NP en die HNP. Daarmee het die KP ’n verskansing na regs tussen hom en die HNP opgerig en in ’n middelposisie beland.
Wat beslissend vir die toekoms sal wees, is of die party nader aan die beginselbasis van die HNP sal beweeg, of steeds dieper in die middelposisie in. Twee dinge dui op ’n al groter geneigdheid van die KP tot die middelposisie. Die een is die KP-manne se jarelange vereenselwiging met die Vorster-era van uitwaarts, dialoog, wegbeweeg van diskriminasie, detente, 1977 se grondwetlike voorstelle, ens., waardeur elke faset van die KP se regse beleid ondermyn is. Die KP-leiers wil hulleself blykbaar nie hiervan losmaak nie en sal dit ook nie kan doen nie, tensy hulle sê dat hulle teen hulle oortuigings met die dinge saamgegaan het en dit nie meer kon uithou nie of, dat hulle wel die dinge ondersteun het uit oortuiging, maar tot die besef gekom het dat hulle oordeel verkeerd was. Die KP-leiers wil klaarblyklik nie een van die erkennings maak nie, om nogal begryplike redes.
Die betekenis van die versuim (of weiering) word ernstiger in die lig van die KP se onvermoë of onwilligheid om hom van mnr. John Vorster self los te maak, soos blyk uit een van die KP-pamflette en uit die verspreiding van bandopnames van een van mnr. Vorster se toesprake waarin hy die 1977- voorstelle verdedig.
Die Vorster-verbintenis van die KP-leiers is belangrik by die beskouing van die KP se toekomstige plek in die politiek, juis omdat ook die NP uiteraard aan mnr. Vorster verbind bly. Die NP se beweging na links geskied steeds op die basis wat mnr. Vorster gelê het vanaf 1967 tot 1978—hetsy oor rasse-vermenging in sport, hotelle, parke, of die gelykmaking van lone en lewenstandaarde van Wit en Swart, of veelrassige regering volgens die 1977-grondwetvoorstelle, of uitlewering van Suidwes ingevolge Besluit 435 van die Veiligheidsraad van die WO. Wat hierdie dinge betref, is mnr. Vorster ’n naelstring waaraan sowel die NP as die KP lê. Hoe verder die NP na links beweeg, hoe moeiliker sal dit vir die KP wees om nie al dieper ingesleep te word in die middelposisie, weg van die regse basis waarop die HNP staan, nie.
Met die Vorster-konneksie van die KP en die NP is die teenstelling tussen die NP en die KP geringer as die teenstelling tussen die HNP en die KP. Dit gaan nie net oor geskrewe beleid nie. Dit gaan ook oor sentimente en geneigdhede, oor benaderings en verbintenisse.
Die HNP dra onmiskenbaar die stempel van ’n party van beginsel. Hy redeneer hoofsaaklik vanuit beginsel. Die KP daarenteen, kan weens sy leiers se jarelange stryd teen die HNP vanuit die linksbewegende NP, die NP nie nou uit beginsel beveg nie en moet sy redenasie hoofsaaklik voer vanuit omstandighede, wat die kenmerk van ’n middelparty is. (Die NP se verskuiwing van regs na die middelposisie is gekenmerk deur slagkrete soos “verander omdat tye verander”, “aanpas om ons vriende in staat te stel om ons te verdedig”, “die wêreld het nie witter geword nie”, “ons het met ons rug na Afrika gestaan”, om net enkele van die tipiese NP-redenasies uit omstandighede vanuit die middelposisie te noem.)
Dit is belangwekkend dat die NP-Ieiding vroeër daarop uit was om die HNP te probeer uitwis, maar dat nou in die NP agting getoon word vir die HNP se beginselvastheid. Dit kan ’n belangrike uitwerking hê op die politieke ontwikkeling wanneer mense wat nou in die NP is, vorentoe na ’n ander politieke tuiste soek.
Net so belangrik is dit dat in die KP-leiding daar steeds opmerkings gemaak word dat die HNP vernietig moet word. Een van die gevolge van hierdie KP-poIitiek sal wees dat die KP mettertyd ’n groeiende vyandigheid na regs sal voel en toon, wat as keersy noodwendig ’n groter geneigdheid weg van die regse politiek en al meer na die middelposisie sal veroorsaak. Dit kan ernstige gevolge vir die KP hê, omdat ’n groot deel van sy huidige ondersteuners, anders as die meeste leiersfigure, beginselgerig is en nie hou van die kompromis-politiek wat al hoe meer in ooreenstemming met die middelposisie bedryf sal moet word nie.
As hierby gereken word dat die KP se samestelling hom eintlik bestempel as ’n koalisie, dan is die onstabiliteitsfaktor geredelik herkenbaar. Die KP is tans weinig meer as groepe en individue wat uiteenlopende motiewe, belange, oogmerke en ambisies het en is nog ver van ’n party wat gebind word deur duidelike beginsels en enkelsinnige doelstellings.
Die HNP kon die binding verwerf omdat hy uit die staanspoor beginselpolitiek verkies en geweier het om hom daarvan te laat vervreem en na die middelposisie te verskuif namate die NP al verder na links beweeg het. Soos tevore in ons geskiedenis, het die HNP-manne intuitief geweet dat die prys van eerlikheid en sukses op die lange duur is om uit die verleidelike middelposisie te bly. Dit is hierdie feit, meer as enigiets anders, wat die Blanke volk van Suid-Afrika in ’ n beter posisie plaas as waarin die Blankes van Rhodesië was toe die Rhodesian Front as ’n regse party na die middel beweeg het en daar nie vroegtydig genoeg ’n beginselparty in opposisie na regs gestig is nie. Toe het die argument uit omstandighede oorheersend geword.
Sover dit bloot om metode gaan, is daar nie beswaar teen die argument wat vanuit omstandighede gevoer word nie, want dit het seker ook oorredingskrag. Maar dit het die krag weens ’n wydverdeelde menslike swakheid, wat by ondersoek kortsigtig blyk te wees, soos geblyk het by die NP se aanpassings van sy sportbeleid om die buitewêreld tevrede te stel en sy hulp aan state wat terroriste huisves. Hierdie kortsigtigheid lei ’n party tot standpunte waar hy geen beleid het nie en deur ander magte beweeg word, of as hy ’n opposisie party is, dan alleen ’n beleid het wat bloot die doel moet dien om die heersende party te opponeer.
’n Party wat homself grond op omstandighede, kan die omstandighede nie lank oorleef nie. Sy aanspraak daarop dat hy kleiner foute maak as die partye links en regs van hom, sal hom nie duursame lojaliteit besorg nie, soos die VP getoon het en die NP nou ervaar. ’n Party moet sy eie bewegingsbeginsel hê en moenie tevrede wees om net as ’n rem aan die beweging van die ander te wees nie. Daar is baie getuienis dat so ’n middelposisie-benadering die resep vir onenigheid, verbrokkeling en mislukking is, soos die NP se agteruitgang en verskeurdheid weereens toon. Daar is in die middelposisie ’n onstabiliteit en verganklikheid wat nie te ontwyk is nie. Of so ’n party val uitmekaar, of dit word uit die middelposisie na links gedwing. Die argument uit omstandighede is die kenmerk van die middelposisie en omdat dit filosofies pas by die liberalis is dit noodlottig vir die konserwatisme, soos die geskiedenis van die VP en die huidige NP toon. Dit gee uiteraard voorkeur aan vinnige sukses bo vastheid van standpunt en bou die onstabiliteit en verganklikheid in die middelposisie.
Die teenstelling tussen die politikus en die party wat uit beginsel redeneer en die wat uit omstandighede redeneer, is goed saamgevat in die beskrywing van Napoleon se minister van buitelandse sake, Talleyrand, deur sy biograaf: “Liewer om te behaag as om teen te spreek, gekenmerk deur neigings eerder as menings, was hy sonder vastheid van gemoed en egte hartstogte.” Dit is tekenend van die mens en die party van die middelposisie.
EISE VAN KRISIS
Dit is ’n gemeenplaas dat daar net op iets geleun kan word wat weerstand bied. In krisistye veral, wanneer daar ook verby die duur van die onmiddellike gekyk moet word na die eise wat daarna gestel sal word, is dit vasberade en selfs ongemaklike mense en standpunte wat te verkies is bo dié waarmee maklik oor die weg gekom kan word. Die Keeromstraat-manne het in die veertigerjare byvoorbeeld adv. Strijdom as ’n ongemaklike man bestempel, net soos hulle dr. Eric Louw bestempel het. Die manne is beskou as onversetlik en hardkoppig. Maar dit was hulle vastheid van beginsel en koers wat aan die NP bewegingskrag gegee het. Hulle het geweet dat die prys van eerlikheid en welslae op die lange duur nodig is om uit die middelposisie te bly.
Beginsel- en koersvastheid gaan gepaard met ’n selfstandigheid van gees. En die metode wat daarby pas, is straf en streng, soos die poging self.
Dikwels staan teenoor sulke mense die “wysheid” van die versigtiges en die raad van die versoeners. Maar dit is die gereedheid om groot te onderneem en om wat aangepak is, deur te voer, wat die geskiedenis maak. Dit is deug waarna gesoek word in swaar tye. Diep in die hart besef alle mense die opperste waarde van selfvertroue, van vasberadenheid, van hartstogtelike toewyding aan ’n saak waaraan geglo word en van opofferende onversetlikheid.
Die HNP het ’n aard waaraan hy trou moet wees, veral in ’n tyd waarin groot magte werk om die beginselpolitiek of te vemietig, of te beweeg tot die noodlottige middelposisie. Vir Suid-Afrika kan daar op die duur niks gevaarliker wees nie as dat die HNP sy beginselbasis moet verswak ter wille van akkommodasie, byvoorbeeld ’n politiek wat mnr. Vorster en sy standpunte moet akkommodeer. Dan sal die trekkrag na regs verflou en die politiek al vinniger na links beweeg.
Die gevaarlikste politiek op die lange duur is om vanuit omstandighede te redeneer dat byvoorbeeld die tyd te kort is, dat toestande te gevaarlik is, dat bestaande eenheid bewaar moet word. Daarmee word vertroue en beginsels verwoes, daarmee word geloof verdryf deur vertwyfeling en daarmee word morele optrede ondermyn.
Beginsels, moed, eerlikheid en vasberadenheid gee vastheid en vertroue en bly te alle tye die bestanddele van suksesvolle stryd. Dit stel hoë eise, veral nou wanneer so ’n hoë prys op die spel is vir ons volk.
Vervolg...