Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geen volksleier is bo die reg verhewe nie. Dit wat vir die volk geld, geld ook vir hom. Hy durf nooit die regsbevoegdhede as ‘n persoonlike besitting gebruik nie. Slegte volksleiers misbruik graag die reg om vir hulself naam te probeer maak deur vrees by onderdane in te boesem. Dis sleg om iemand uit vrees te moet eerbiedig. Ongelukkig maak ‘n donkie met ‘n leeuvel aan ook mense bang!
STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (12)
LW Bienedell
Lees reeks by Stryd teen vreemde oorheersing
GENL VILJOEN EN OORLOGVOERING
17 September 1993
GENL. Constand Viljoen se onlangse uitspraak in ’n SATV-uitsending in verband met hedendaagse oorlogvoering moet van nader beskou word. Hy het gesê dat oorloë deesdae nie geveg word om te wen nie. Dit sluit aan by sy vroeëre stelling dat die oorlog om Suidwes-Afrika nie militêr deur een van die twee kante gewen is nie.
Genl. Viljoen is kennelik baie selektief met sy gegewens wanneer hy die bewerings maak, want hy verontagsaam sommige hedendaagse oorloë wat groot aandag geniet het. Dit is die VSA-Israel-oorlog teen Irak en die Britse oorlog teen Argentinië om die Malvina-eilande.
Albei hierdie oorloë is deur die VSA en deur Brittanje geveg om die vyande te verslaan. Hulle getuig dus opvallend teen genl. Viljoen se verklaring. En dit is vreemd, want genl. Viljoen sal as gepensioeneerde weermaghoof uiteraard hiervan kennis dra.
Daar was wel ander oorloë wat anders geveg is: Korea, Viëtnam, Mosambiek, Rhodesië, SWA-Angola — die sogenaamde “no-win wars”. Dit verg geen diepgaande begrip om die verskil te sien tussen dié groep en die Malvina-Irak-gevalle nie. Dit is eenvoudig dat oorloë teen Kommunisties-geleide terroriste nie geveg mag word om te wen nie. En genl. Viljoen aanvaar klaarblyklik die voorskrif.
Dit is in elk geval tot die letter gevolg in die Suidwes-Afrika-Angola-oorlog. Op 20 Februarie 1981 het Die Transvaler berig dat die bevelvoerder van die rnagte in Suidwes-Afrika, genl. Charles Lloyd, gesê het: “Die veiligheidsmagte van SA en SWA kan Swapo totaal vernietig as dit nie was vir politieke en ander beperkings nie”.
Op 3 Augustus 1981 het genl. Lloyd aan Die Transvaler gesê dat sy “troepe Swapo se basisse maklik kan uitwis, maar dit is nie die oplossing nie”.
Hieruit is dit duidelik dat die Kommunisties-geleide terroriste nie verslaan moes word nie. “Die oplossing ”, het genl. Lloyd gesê, “sal op die politieke front gevind moet word”. En die politieke beperkings wat belet het dat Swapo vemietig kan word, was “dat Angola nie as ’n vyand behandel word nie”.
Dit is die soort oorlog wat onder genl Viljoen as Weermaghoof geveg is — ’n oorlog teen Kommuniste wat nie gewen mog word nie, want die voorskrif is dat die Kommuniste nie militêr verslaan moet word nie, sodat hulle die stryd by die onderhandelings kan wen. Daarom moes SA en SWA se veiligheidsmagte Swapo nie “totaal vemietig” nie, soos genl. Lloyd gesê het.
Wat die skok van die benadering veelvoudig laat styg, is genl. Lloyd se stelling in bogenoemde berig dat dit “soos ’n paal bo water staan dat Swapo niks anders as ’n wapen in die hand van Rusland is om Suider-Afrika uiteindelik op sy knieë te dwing nie. Dus, die SA regeringsleiers en die SA Weermaghoofde het geweet die Kommunistiese oorlog om SWA het daarom gegaan dat “Suider-Afrika op sy knieë gedwing” moet word. En tog is die oorlog van SA kant geveg om nie deur ’n militêre oorwinning dit te verhoed nie.
As ’n mens kyk na die toestand wat in Suid-Afrika ontstaan het na die uitverkoping van Suidwes-Afrika aan die Kommuniste, herinner dit aan wat die Amerikaanse politieke leier, Barry Goldwater, gesê het: “Boonop — tensy jy verraad in gedagte het”, het hy gesê, “sal jou doelwit, soos die vyand s’n, oorwinning wees. Nie ‘vrede’ nie, maar oorwinning”. En hieraan geoordeel dra die verloop van die oorlog om Suidwes-Afrika die stempel van bedagte verraad deur die politieke leiers.
Genl. Viljoen het ook in die TV-gesprek gesê dat na ’n oorlog daar in elk geval onderhandel moet word. Dit sê niks nie, want die onderhandelings word bepaal na gelang van die uitslag van die oorlog. Die kant wat wen, stel die vredesvoorwaardes, en die verloorder moet buig. Dit is eenvoudige oorwegings wat genl. Viljoen blykbaar opsetlik buite rekening laat.
In die huidige geval is dit duidelik dat die ANC-SAKP die voorwaardes gestel en die SA Regering toegegee het oor vrylating van Mandela en ander, ontbanning van die ANC en SAKP, herroeping van wette, verwerping van apartheid, terugkeer van terroriste, ens, terwyl die SA Regering se eise aan die ANC oor sy bande met die SAKP en sy metodes van geweld deur die ANC verwerp is. Die ANC is dus in die posisie van oorwinnaar.
Klaarblyklik aanvaar genl. Viljoen die situasie. As selfbetuigde militêer onderhandel hy nou in die geheim met die SA Regering en met die ANC, soos blyk uit nuusberigte. In die aksie, sê hy, is hy steeds “’n militaris”, nie ’n politikus nie.
Die basis waarvandaan hy onderhandel, is dat toegegee word aan die ANC-SAKP se aanspraak dat hulle Suid-Afrika verower het. Genl. Viljoen wil nie veg om Suid-Afrika nie: hy wil net 16% van die ANC-SAKP terugvra vir ’n Afrikaner/Boere-volkstaat. (Die NP wil ’n stukkie van die mag met die ANC-SAKP deel).
Dit is ’n ernstige saak dat genl. Viljoen oor wesenlike politieke sake ’n standpunt verteenwoordig wat ooreenstem met dié van die NP, of wat vlak daarnaas lê. Hy aanvaar byvoorbeeld die voorskrif van “geen-wen-oorlog” teen Kommunisties-geleide terroriste; hy aanvaar vredesonderhandelings met die ANC-SAKP in hulle posisie van oorwinnaars; hy verwerp alle diskriminasie op grond van ras en kleur; hy veroordeel apartheid as ’n groot fout, ens.
Genl. Viljoen ondersteun nie dr. Ferdie Hartzenberg in sy uitspraak dat instelling van ’n Uitvoerende Oorgangsraad ’n oorlogsverklaring sal wees nie. Hy sê dr. Hartzenberg het “as politikus met sy ondersteuners gepraat”, maar as hy, genl. Viljoen, so-iets sou sê, sal dit ’n ander saak wees. Hy wil nie as politikus bestempel word nie, hoewel hy ’n politieke rol speel. Hy wil steeds “militaris” wees, maar wil nie ’n militêre rol speel nie. Dit kom baie na aan die soort benadering van die tagtigerjare: die owerheid wil nie ’n militêre oorwinning behaal nie, en die militêre wil ’n politieke oorwinning bewerkstellig — die voorwaarde vir ’n Kommunistiese oorwinning by die onderhandelings.
Vervolg...